Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Joël 1:1-3:21
  • Joël

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Joël
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Joël

JOËL

1 Dít is die woord van Jehovah aan Joël,* die seun van Petuel:

 2 “Luister hierna, o ouermanne,

en skenk aandag, alle inwoners van die land.*

Het so iets ooit in julle dae gebeur,

of in die dae van julle voorvaders?+

 3 Vertel dit aan julle kinders,

en laat julle kinders dit aan hulle kinders vertel,

en hulle kinders aan die volgende geslag.

 4 Wat die eerste swerm sprinkane* laat oorbly het, is deur die volgende swerm sprinkane gevreet.+

En wat deur hulle agtergelaat is, is deur die jong sprinkane gevreet.

En wat die jong sprinkane laat oorbly het, is deur die volgende swerm sprinkane gevreet.+

 5 Word wakker, julle dronkaards,+ en huil!

Kerm, al julle wyndrinkers,

want die soet wyn is van julle monde weggeneem.+

 6 Want ’n magtige en ontelbare nasie het my land binnegeval.+

Sy tande is soos leeutande,+ en sy kakebene is soos dié van ’n leeu.

 7 Hy het my wingerdstok verniel en my vyeboom in ’n stomp verander.

Hy het dit heeltemal kaalgestroop en eenkant gegooi.

Selfs die bas van die takkies is afgevreet.

 8 Huil soos ’n maagd* in saklinne

wat oor die bruidegom* van haar jeug treur.

 9 Graanoffer+ en drankoffer+ het uit die huis van Jehovah verdwyn.

Die priesters, die dienaars van Jehovah, treur.

10 Die veld is verwoes, die grond treur,+

want die graan is vernietig, die nuwe wyn het opgedroog, die olie het verdwyn.+

11 Landbouers is ontsteld en wingerdarbeiders huil

oor die koring en die gars,

want die oes op die land het verlore gegaan.

12 Die wingerdstok het verdroog,

en die vyeboom het uitgedroog.

Die granaatboom, die palmboom en die appelboom,

al die bome van die veld, het verdroog.+

Want vreugde het in skaamte verander onder die mense.

13 Trek saklinne aan en treur,* o priesters.

Huil, dienaars van die altaar.+

Kom in en bring die nag in saklinne deur, dienaars van my God,

want graanoffers+ en drankoffers+ word nie meer in die huis van julle God ingebring nie.

14 Roep ’n vas uit.* Kondig ’n heilige vergadering aan.+

Laat die ouermanne, saam met al die inwoners van die land,

by die huis van Jehovah julle God bymekaarkom,+ en roep tot Jehovah om hulp.

15 Daardie vreeslike dag kom!

Die dag van Jehovah is naby,+

en dit sal kom soos ’n vernietiging van die Almagtige af!

16 Is die kos nie voor ons oë weggeneem,

en blydskap en vreugde uit die huis van ons God nie?

17 Die saad* het verdroog onder hulle grawe.

Voorraadskure is verwoes.

Graanskure is afgebreek, want die graan het verdroog.

18 Selfs die vee kreun!

Die troppe beeste dwaal verward rond, want hulle het geen weiding nie!

En die troppe skape kry swaar onder die straf.

19 Tot u sal ek roep, o Jehovah,+

want vuur het die weivelde van die wildernis verteer,

en ’n vlam het al die bome van die veld verslind.

20 Selfs die wilde diere van die veld verlang na u,

want die waterstrome het opgedroog,

en vuur het die weivelde van die wildernis verteer.”

2 “Blaas ’n horing in Sion!+

Skree ’n oorlogskreet op my heilige berg.

Laat al die inwoners van die land* bewe,

want die dag van Jehovah kom!+ Dit is naby!

 2 Dit is ’n dag van duisternis en donkerte,+

’n dag van digte, donker wolke.+

Dit is soos die lig van die dagbreek wat oor die berge uitsprei.

Daar is ’n groot en magtige volk.+

Daar was nog nooit so ’n volk nie,

en daar sal nooit weer so een wees nie,

tot in die verste geslagte.

 3 Voor hom verteer ’n vuur,

en agter hom verslind ’n vlam.+

Voor hom is die land soos die tuin van Eden,+

maar agter hom is dit ’n verlate wildernis.

Niks oorleef nie.

 4 Hulle lyk soos perde,

en hulle hardloop soos oorlogsperde.+

 5 Wanneer hulle op die bergtoppe spring,+ klink hulle soos strydwaens

en soos ’n vlammende vuur wat stoppels verteer.

Dit is soos ’n magtige volk wat in gevegsformasie beweeg.+

 6 Weens hulle sal volke bewe van angs.

Elke gesig sal bleek word.

 7 Soos vegters kom hulle aangestorm,

soos soldate klim hulle teen ’n muur op.

Elkeen gaan reguit vorentoe,

en hulle draai nie links of regs nie.

 8 Hulle stamp mekaar nie,

en elkeen bly op sy pad.

As party weens die wapens val,

bly die ander op koers.

 9 Hulle storm die stad binne, hulle hardloop op die mure.

Hulle klim teen die huise op, hulle klim deur die vensters soos ’n dief.

10 Voor hulle bewe die land en skud die hemel.

Die son en die maan het donker geword,+

en die sterre het hulle glans verloor.

11 Jehovah roep hard uit voor sy leërmag,+ want sy kamp is baie groot.+

Die een wat Sy woord uitvoer, is magtig.

Die dag van Jehovah is groot en baie ontsagwekkend.+

Wie kan dit verduur?”+

12 “Daarom moet julle nou met julle hele hart na my terugkeer,” sê Jehovah,+

“en julle moet vas+ en huil en treur.

13 Skeur julle harte+ en nie julle klere nie,+

en keer terug na Jehovah julle God.

Want hy betoon medelye* en is genadig, word nie gou kwaad nie+ en is vol lojale liefde.+

En hy sal oorweeg of hy die rampspoed wel sal bring.*

14 Wie weet of hy sal omdraai en sy besluit sal verander*+

en julle sal seën,

sodat julle ’n graanoffer en ’n drankoffer vir Jehovah julle God kan bring?

15 Blaas ’n horing in Sion!

Roep ’n vas uit.* Kondig ’n heilige vergadering aan.+

16 Laat die volk bymekaarkom. Heilig die gemeente.+

Bring die ou manne* bymekaar. Bring die kinders en die babas.+

Laat die bruidegom uit sy binnekamer uitgaan en die bruid uit haar bruidskamer.

17 Laat die priesters, die dienaars van Jehovah,

tussen die portaal en die altaar+ huil en sê:

‘Voel tog jammer vir u volk, o Jehovah.

Moenie u erfdeel ’n bespotting maak

en toelaat dat die nasies oor hulle heers nie.

Hoekom moet die volke sê: “Waar is hulle God?”’+

18 Dan sal Jehovah ywerig wees vir sy land,

en hy sal medelye* betoon aan sy volk.+

19 Jehovah sal sy volk antwoord en sê:

‘Ek stuur vir julle graan en nuwe wyn en olie,

en julle sal heeltemal versadig wees.+

Ek sal julle nie meer ’n bespotting onder die nasies maak nie.+

20 Ek sal die een wat uit die noorde kom, ver van julle af wegdryf.

Ek sal hom wegjaag na ’n droë en verlate plek,

met die voorste deel van sy leërmag na die oostelike see* toe

en die agterste deel na die westelike see* toe.

En sy slegte reuk sal opstyg,

sy stank sal aanhou opstyg,+

want Hy sal groot dinge doen.’

21 Moenie bang wees nie, o land.

Wees bly en wees vreugdevol, want Jehovah sal groot dinge doen.

22 Moenie bang wees nie, o diere van die veld,

want die weivelde van die wildernis sal groen word,+

en die bome sal vrugte dra.+

Die vyeboom en die wingerdstok moet hulle volle opbrengs gee.+

23 Kinders van Sion, wees bly en wees vreugdevol as gevolg van Jehovah julle God,+

want hy sal vir julle genoeg reën in die herfs gee,

en hy sal vir julle stortreën stuur,

die herfsreën en die lentereën, soos vroeër.+

24 Die dorsvloere sal vol graan wees,

en die wynperse sal oorloop van nuwe wyn, en die olieperse van olie.+

25 En ek sal julle vergoed vir die jare

waarin julle oeste opgevreet is deur die een swerm sprinkane* ná die ander,

my groot leërmag wat ek teen julle gestuur het.+

26 Julle sal beslis eet totdat julle versadig is,+

en julle sal die naam van Jehovah julle God loof,+

wat wonders vir julle gedoen het.

My volk sal nooit weer verneder word nie.+

27 En julle sal moet weet dat ek by Israel is+

en dat ek Jehovah julle God is+ – daar is geen ander nie!

My volk sal nooit weer verneder word nie.

28 Daarna sal ek my gees op alle soorte mense* uitstort,+

en julle seuns en julle dogters sal profeteer,

julle ou manne sal drome droom

en julle jong manne sal visioene sien.+

29 En in daardie dae sal ek my gees

selfs op my slawe en slavinne uitstort.

30 En ek sal tekens* in die hemel en op die aarde gee,

bloed en vuur en rookkolomme.+

31 Die son sal in duisternis verander word en die maan in bloed,+

voordat die groot en ontsagwekkende dag van Jehovah kom.+

32 En elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.+

Want op die berg Sion en in Jerusalem sal dié wees wat weggekom het,+

die oorlewendes wat deur Jehovah geroep word, net soos Jehovah gesê het.”

3 “In daardie dae en in daardie tyd,

wanneer ek die gevangenes van Juda en Jerusalem terugbring,+

 2 sal ek ook al die nasies bymekaarbring

en hulle na die Joʹsafat-vallei* bring.

Daar sal ek hulle oordeel+

ter wille van my volk en my erfdeel Israel,

want hulle het hulle onder die nasies verstrooi

en hulle het my land onder hulle verdeel.+

 3 Want hulle het oor my volk die lot gewerp.+

Hulle gee ’n seun in ruil vir ’n prostituut

en verkoop ’n dogter om wyn te drink.

 4 En wat het julle teen my,

o Tirus en Sidon en al die streke van Filisteʹa?

Betaal julle my terug vir iets?

As julle my wel terugbetaal,

sal ek julle baie vinnig vir julle dade terugbetaal.+

 5 Want julle het my silwer en my goud geneem,+

en julle het my kosbaarste skatte in julle tempels ingebring.

 6 En julle het die volk van Juda en Jerusalem aan die Grieke verkoop,+

om hulle ver weg te neem van hulle gebied.

 7 Ek sal hulle terugbring uit die plek waar julle hulle verkoop het,+

en ek sal julle vir julle dade terugbetaal.

 8 Ek sal julle seuns en julle dogters aan* die volk van Juda verkoop.+

En hulle sal hulle aan die manne van Skeba verkoop, aan ’n nasie wat ver weg is.

Want dit is wat Jehovah gesê het.

 9 Sê vir die nasies:+

‘Maak gereed vir oorlog!* Roep die sterk manne!

Laat al die soldate optrek en aanval!+

10 Maak swaarde van julle ploegskare en spiese van julle snoeimesse.

Laat die swakke sê: “Ek is sterk.”

11 Kom help, alle nasies van die omgewing, kom bymekaar!’”+

O Jehovah, bring u magtiges* na daardie plek.

12 “Laat die nasies opstaan en na die Joʹsafat-vallei kom,

want daar sal ek sit om al die nasies van die omgewing te oordeel.+

13 Steek ’n sekel in, want die oes is ryp.

Kom trap die wynpers, want dit is vol.+

Die vate loop oor, want hulle slegtheid is oorvloedig.

14 Groot skares is in die vallei van oordeel,

want die dag van Jehovah is naby in die vallei van oordeel.+

15 Die son en die maan sal donker word,

en die sterre sal hulle glans verloor.

16 En Jehovah sal uit Sion brul,

uit Jerusalem sal hy sy stem laat hoor.

Die hemel en die aarde sal bewe,

maar Jehovah sal ’n skuilplek vir sy volk wees,+

’n vesting vir Israel.

17 En julle sal moet weet dat ek Jehovah julle God is, wat op Sion, my heilige berg, woon.+

Jerusalem sal ’n heilige plek word,+

en vreemdelinge* sal nie meer daardeur trek nie.+

18 In daardie dag sal die berge drup van soet wyn,+

die heuwels sal vloei van melk

en al die strome van Juda sal vol water wees.

Uit die huis van Jehovah sal die water van ’n fontein vloei,+

en dit sal die Vallei* van die Akasiabome natlei.

19 Maar Egipte sal ’n verlate plek word,+

en Edom sal ’n verlate wildernis word,+

weens die geweld teen die volk van Juda,+

in wie se land hulle onskuldige mense doodgemaak* het.+

20 Maar Juda sal altyd bewoon word,

en Jerusalem van geslag tot geslag.+

21 Ek sal hulle bloed* wat ek nie as onskuldig beskou het nie, as onskuldig beskou.+

En Jehovah sal in Sion woon.”+

Beteken “Jehovah is God”.

Of “aarde”.

Die Hebreeuse teks gebruik vier verskillende terme vir sprinkane in hierdie vers.

Of “jong vrou”.

Of “man”.

Of “slaan op julle bors”.

Lett. “Heilig ’n vas”.

Of moontlik “droë vye”.

Of “aarde”.

Sien Woordelys.

Of “hy sal spyt voel oor die rampspoed”.

Of “en sal spyt voel”.

Lett. “Heilig ’n vas”.

Of “die ouermanne”.

Sien Woordelys.

Die Dooie See.

Die Middellandse See.

Die Hebreeuse teks gebruik vier verskillende terme vir sprinkane in hierdie vers.

Lett. “vlees”.

Of “wonders”.

Josafat beteken “Jehovah is my Regter”.

Lett. “in die hand van”.

Lett. “Heilig ’n oorlog”.

Of “vegters”.

Of “uitlanders”.

Of “Wadi”. Sien Woordelys.

Of “onskuldige bloed vergiet”.

Of “bloedskuld”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel