Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Hosea 1:1-14:9
  • Hosea

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hosea
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Hosea

HOSEA

1 Dít is die woord van Jehovah aan Hoseʹa,* die seun van Beëri. Dit was in die dae van Ussiʹa,+ Jotam,+ Agas+ en Hiskiʹa,+ konings van Juda,+ en in die dae van Jeroʹbeam,+ die seun van Joas,+ die koning van Israel. 2 Toe Jehovah Sy woord deur middel van Hoseʹa begin bekend maak het, het Jehovah vir Hoseʹa gesê: “Gaan, trou met ’n vrou van prostitusie* en kry kinders van prostitusie,* want deur prostitusie* het die land heeltemal van Jehovah af weggedraai.”+

3 Toe het hy met Gomer, die dogter van Diblaʹim, getrou, en sy het swanger geword en vir hom ’n seun in die wêreld gebring.

4 En Jehovah het vir hom gesê: “Noem hom Jisʹreël,* want ek sal die huis van Jehu+ binnekort oordeel vir die bloedskuld van Jisʹreël, en ek sal ’n einde maak aan die koninklike heerskappy van die huis van Israel.+ 5 In daardie dag sal ek die boog van Israel in die Jisʹreël-vallei breek.”

6 Sy het weer swanger geword en aan ’n dogter geboorte gegee. En Hy het vir hom gesê: “Noem haar Lo-Ruhaʹma,* want ek sal nie langer genade+ aan die huis van Israel betoon nie. Ek sal hulle beslis wegdryf.+ 7 Maar ek sal genade betoon aan die huis van Juda,+ en ek, Jehovah hulle God,+ sal hulle red. Ek sal hulle nie red met ’n boog of ’n swaard of met oorlog of met perde of met perderuiters nie.”+

8 Toe sy opgehou het om Lo-Ruhaʹma te borsvoed, het sy swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee. 9 En Hy het gesê: “Noem hom Lo-Ammi,* want julle is nie my volk nie, en ek sal nie julle s’n wees nie.

10 “Die Israeliete sal so baie wees soos die sandkorrels van die see, wat nie gemeet of getel kan word nie.+ En op die plek waar daar vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’+ sal daar vir hulle gesê word: ‘Julle is die kinders van die lewende God.’+ 11 En die volk van Juda en van Israel sal verenig word+ en sal vir hulle een hoof kies en hulle sal uit die land wegtrek, want die dag van Jisʹreël+ sal ’n groot dag wees.

2 “Sê vir julle broers: ‘My volk!’*+

en vir julle susters: ‘O vrou aan wie genade betoon is!’*+

 2 Kla julle ma aan, kla haar aan,

want sy is nie my vrou nie+ en ek is nie haar man nie.

Sy moet ophou om prostitusie* te beoefen

en egbreuk te pleeg,

 3 anders sal ek haar kaal uittrek en haar maak soos op die dag toe sy gebore is.

Ek sal haar soos ’n wildernis maak,

haar in ’n waterlose land verander

en haar van die dors laat sterf.

 4 En aan haar kinders sal ek nie genade betoon nie,

want hulle is die kinders van prostitusie.*

 5 Want hulle ma het prostitusie* beoefen.+

Die een wat met hulle swanger was, het haar skandelik gedra,+ want sy het gesê:

‘Ek sal agter die mans aanloop met wie ek ’n seksuele verhouding het.+

Hulle gee vir my kos en water,

wol en linne, olie en drank.’

 6 Daarom sal ek haar pad met ’n doringheining toemaak,

en ek sal ’n klipmuur om haar bou,

sodat sy nie haar paaie kan vind nie.

 7 Sy sal agter die mans aangaan met wie sy ’n seksuele verhouding het, maar sy sal hulle nie inhaal nie.+

Sy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie.

Dan sal sy sê: ‘Ek sal teruggaan na my eerste man,+

want dit het toe beter met my gegaan as nou.’+

 8 Sy het nie erken dat dit ek was wat vir haar die graan,+ die nuwe wyn en die olie gegee het nie.

En ek het vir haar silwer in oorvloed gegee,

en ook goud, wat hulle vir Baäl gebruik het.+

 9 ‘Daarom sal ek teruggaan en my graan wegneem wanneer dit oestyd is,

en my nuwe wyn wanneer dit die tyd is daarvoor.+

Ek sal my wol en my linne wegvat wat haar naaktheid moes bedek.

10 En ek sal haar geslagsdele ontbloot voor die mans met wie sy ’n seksuele verhouding het,

en niemand sal haar uit my hand red nie.+

11 Ek sal ’n einde maak aan al haar vreugde,

haar feeste,+ haar nuwemane, haar sabbatte en al haar feestye.

12 En ek sal haar wingerdstokke en haar vyebome verwoes, waarvan sy gesê het:

“Dit is my loon, wat ek gekry het by die mans met wie ek ’n seksuele verhouding het.”

Ek sal dit in ’n woud verander,

en die wilde diere van die veld sal dit verslind.

13 Ek sal haar oordeel vir die dae toe sy offerandes aan die Baäl-beelde gebring het,+

toe sy haar met ringe en juwele versier het en agter die mans aangeloop het met wie sy ’n seksuele verhouding gehad het,

maar my vergeet het,’+ sê Jehovah.

14 ‘Daarom sal ek haar oorreed.

Ek sal haar na die wildernis lei,

en met haar praat sodat ek haar hart kan wen.

15 En van daardie tyd af sal ek haar wingerde vir haar teruggee,+

en die Agor-vallei+ sal ’n poort van hoop vir haar wees.

Sy sal my daar antwoord soos in die dae van haar jeug,

soos in die dag toe sy uit Egipte uitgekom het.+

16 En in daardie dag,’ sê Jehovah,

‘sal jy my “My man” noem, en jy sal my nie meer “My meester”* noem nie.’

17 ‘Ek sal die name van die Baäl-beelde uit haar mond verwyder,+

en hulle name sal nie meer onthou word nie.+

18 In daardie dag sal ek vir hulle ’n verbond maak met die wilde diere van die veld+

en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde.+

Ek sal die boog, die swaard en oorlog uit die land wegneem,+

en ek sal hulle in veiligheid laat woon.+

19 Ek sal jou my bruid maak,* vir ewig,

en ek sal my aan jou verbind* in regverdigheid en in geregtigheid,

in lojale liefde en in genade.+

20 Ek sal my aan jou verbind* in getrouheid,

en jy sal Jehovah beslis ken.’+

21 ‘In daardie dag sal ek antwoord,’ sê Jehovah,

‘ek sal die hemel antwoord,

en die hemel sal die aarde antwoord,+

22 en die aarde sal die graan en die nuwe wyn en die olie antwoord,

en hulle sal Jisʹreël* antwoord.+

23 Ek sal haar vir my soos saad op die aarde saai,+

en ek sal genade betoon aan haar aan wie daar nie genade betoon is nie.*

Ek sal vir dié wat nie my volk is nie,* sê: “Julle is my volk,”+

en hulle sal sê: “U is ons God.”’”+

3 Toe het Jehovah vir my gesê: “Gaan weer, gaan na die vrou wat ’n ander man se liefde ontvang en wat egbreuk pleeg+ en wees lief vir haar, net soos Jehovah die Israeliete liefhet+ terwyl hulle ander gode aanbid+ en lief is vir rosynekoeke.”*

2 Toe het ek haar vir my gekoop vir 15 silwerstukke en een en ’n half homer* gars. 3 En ek het vir haar gesê: “Jy sal baie dae myne bly. Jy mag nie prostitusie* beoefen nie, en jy mag nie seksuele omgang met ’n ander man hê nie, en ek sal ook so teenoor jou optree.”*

4 Want die Israeliete sal vir ’n lang tyd nie ’n koning,+ leiers, offerandes, pilare of ’n efod+ en terafim-beelde*+ hê nie. 5 Daarna sal die Israeliete terugkom en Jehovah hulle God+ en Dawid hulle koning+ soek. En aan die einde van die dae sal hulle na Jehovah toe kom omdat hulle hom vrees en omdat hulle sy goedheid wil ontvang.+

4 Luister na wat Jehovah sê, o Israel,

want Jehovah het ’n regsaak teen die inwoners van die land+

omdat daar geen waarheid of lojale liefde of kennis van God in die land is nie.+

 2 Valse ede, leuens,+ moord,+

diefstal en egbreuk+ is iets algemeens,

en mense hou aan om ander dood te maak.+

 3 Daarom sal die land treur,+

en al die inwoners sal wegteer.

Die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel,

en selfs die visse van die see sal vergaan.

 4 “Laat niemand teen jou stry of jou teregwys nie,+

want jy is soos iemand wat teen ’n priester stry.+

 5 Daarom sal jy in die dag struikel,

en die profeet sal saam met jou struikel, asof dit nag is.

En ek sal jou ma vernietig.*

 6 My volk sal vernietig* word omdat hulle my nie ken nie.

Omdat jy kennis verwerp het,+

sal ek jou ook verwerp sodat jy nie as my priester sal dien nie.

En omdat jy die wet* van jou God vergeet het,+

sal ek jou kinders vergeet.

 7 Hoe meer hulle geword het, hoe meer het hulle teen my gesondig.+

Ek sal hulle heerlikheid in skande verander.*

 8 Hulle voed hulle met die sondes* van my volk,

en hulle wag gretig dat hulle moet oortree.

 9 Dit sal met die volk gaan soos met die priester.

Ek sal hulle oordeel vir hulle optrede,

en ek sal hulle die gevolge van hulle dade laat dra.+

10 Hulle sal eet, maar nie versadig raak nie.+

Hulle sal hoereer,* maar hulle sal nie meer word nie,+

omdat hulle geen respek vir Jehovah het nie.

11 Prostitusie* en wyn en nuwe wyn

neem die begeerte weg om te doen wat reg is.+

12 My volk vra hulle houtafgode vir raad,

en doen wat hulle staf* vir hulle sê om te doen.

Die gees van prostitusie* laat hulle afdwaal,

en weens hulle prostitusie* weier hulle om hulle aan God te onderwerp.

13 Op die bergtoppe bring hulle offerandes,+

en op die heuwels laat hulle offerrook opgaan,

onder eikebome en storaksbome en elke groot boom,+

omdat daar goeie skaduwee is.

Daarom beoefen julle dogters prostitusie*

en pleeg julle skoondogters egbreuk.

14 Ek sal julle dogters nie oordeel weens hulle prostitusie,*

of julle skoondogters weens hulle egbreuk nie.

Want die mans gaan saam met die hoere

en bring offerandes saam met die tempelprostitute.

So ’n volk wat geen verstand het nie,+ sal tot ’n val kom.

15 Hoewel jy prostitusie* beoefen, o Israel,+

moet Juda nie skuldig word nie.+

Moenie na Gilgal+ of na Bet⁠-⁠Awen+ kom nie,

en moenie sweer: ‘So waar as wat Jehovah lewe!’ nie.+

16 Want soos ’n hardkoppige koei het Israel hardkoppig geword.+

Sal Jehovah hulle nou soos ’n jong ram in ’n oop weiveld laat wei?

17 Eʹfraim het hom verbind aan afgode.+

Los hom uit!

18 Wanneer hulle bier* op is,

hoereer hulle.*

En sy heersers is baie lief vir skande.+

19 Die wind sal hom wegwaai,

en hulle sal skaam wees oor hulle offerandes.”

5 “Luister hierna, o priesters,+

skenk aandag, o huis van Israel,

let op, o huis van die koning,

want die oordeel het met julle te doen.

Want julle is ’n strik vir Mispa

en ’n vangnet wat oor Tabor uitgesprei is.+

 2 En dié wat afvallig geword het,* maak op groot skaal dood,*

en ek waarsku hulle almal.*

 3 Ek ken Eʹfraim,

en Israel kan nie vir my wegkruip nie.

Want jy, o Eʹfraim, het gehoereer.*

Israel het homself onrein gemaak.+

 4 Hulle dade laat hulle nie toe om na hulle God terug te keer nie,

omdat daar ’n gees van

prostitusie* onder hulle is,+

en hulle erken Jehovah nie.

 5 Israel se trots getuig teen hom.+

Israel sowel as Eʹfraim struikel deur hulle oortreding.

En Juda struikel saam met hulle.+

 6 Met hulle kleinvee en hulle beeste het hulle Jehovah gaan soek,

maar hulle kon hom nie vind nie.

Hy het hulle verlaat.+

 7 Hulle was ontrou aan Jehovah,+

want hulle het die pa geword van uitlandse kinders.

Nou sal hulle en hulle eiendom* binne ’n maand verwoes word.*

 8 Blaas ’n horing+ in Giʹbea, ’n trompet in Rama!+

Roep ’n oorlogskreet uit in Bet-Awen+ – ons is agter jou, o Benjamin!

 9 O Eʹfraim, op die dag van straf sal jy iets skokkends word.+

Ek het bekend gemaak wat vir seker met die stamme van Israel sal gebeur.

10 Die leiers van Juda is soos dié wat ’n grens verskuif.+

Ek sal my woede soos water oor hulle uitstort.

11 Eʹfraim word onderdruk, deur die oordeel verpletter,

want hy was vasbeslote om agter sy vyand aan te loop.+

12 Daarom was ek soos ’n mot vir Eʹfraim

en soos verrotting vir die huis van Juda.

13 Toe Eʹfraim sy siekte gesien het, en Juda sy sweer,

het Eʹfraim na Assiʹrië gegaan+ en boodskappers na ’n groot koning gestuur.

Maar hy kon julle nie genees nie,

en hy kon nie julle sweer gesond maak nie.

14 Want ek sal soos ’n jong leeu* teenoor Eʹfraim wees,

en soos ’n sterk leeu teenoor die huis van Juda.

Ek sal verskeur en weggaan.+

Ek sal hulle wegdra, en niemand sal hulle red nie.+

15 Ek sal weggaan en na my plek terugkeer totdat hulle die gevolge van hulle skuld dra,

en dan sal hulle my goedkeuring soek.+

Wanneer hulle swaarkry, sal hulle my soek.”+

6 “Kom, en laat ons na Jehovah terugkeer,

want hy het ons verskeur,+ maar hy sal ons genees.

Hy het ons geslaan, maar hy sal ons wonde verbind.

 2 Hy sal ons ná twee dae lewend maak.

Op die derde dag sal hy ons laat opstaan,

en ons sal voor hom lewe.

 3 Ons sal Jehovah ken, ons sal alles in ons vermoë doen om hom te leer ken.

Sy koms is so seker soos die sonsopkoms.

Hy sal soos ’n stortreën na ons toe kom,

soos ’n lentereën wat die aarde natmaak.”

 4 “Wat moet ek met jou doen, Eʹfraim?

Wat moet ek met jou doen, Juda?

Want julle lojale liefde is soos die oggendwolke,

soos die dou wat gou verdwyn.

 5 Daarom sal ek hulle deur middel van my profete afkap.+

Ek sal hulle met die woorde van my mond doodmaak.+

En die oordele oor jou sal skyn soos die lig.+

 6 Want ek is liewer vir lojale liefde* as vir offerandes

en vir die kennis van God as vir heelbrandoffers.+

 7 Maar hulle het, soos blote mense, die verbond verbreek.+

Daar het hulle ontrou aan my geword.

 8 Giʹlead is ’n stad vol slegte mense,+

’n stad vol bloed.+

 9 Die groep priesters is soos rowerbendes wat mense voorlê.

Hulle pleeg moord op die pad na Sigem,+

want hulle gedrag is skandelik.

10 Ek het iets aakligs in die huis van Israel gesien.

Eʹfraim beoefen daar prostitusie.+

Israel het homself onrein gemaak.+

11 En vir jou, o Juda, is ’n oes vasgestel,

wanneer ek die gevangenes van my volk laat terugkeer.”+

7 “Wanneer ek Israel wil genees,

kom die oortreding van Eʹfraim+

en die goddeloosheid van Samariʹa+ ook aan die lig.

Want hulle tree bedrieglik op.+

Diewe breek in, en buite val rowerbendes mense aan.+

 2 Maar hulle dink nie daaraan* dat ek al hulle goddeloosheid sal onthou nie.+

Nou is hulle omring deur hulle dade.

Dit is oop en bloot voor my.

 3 Hulle maak die koning bly met hulle goddeloosheid,

en hulle maak leiers bly met hulle leuens.

 4 Hulle is almal egbrekers.

Hulle brand soos ’n oond wat deur ’n bakker aangesteek is

en wat nie gestook word vandat die deeg geknie is totdat dit uitgerys het nie.

 5 Op die dag van ons koning het leiers siek geword

– hulle is kwaad weens wyn.+

Hy het sy hand na spotters uitgesteek.

 6 Want hulle kom nader met harte wat soos ’n oond brand.*

Die bakker slaap die hele nag,

en in die oggend brand die oond soos ’n vlammende vuur.

 7 Hulle is almal so warm soos ’n oond,

en hulle verteer hulle heersers.*

Al hulle konings het geval.+

Nie een van hulle roep na my nie.+

 8 Eʹfraim meng met die nasies.+

Eʹfraim is soos ’n ronde brood* wat nie omgedraai is nie.

 9 Vreemdelinge het hom van sy krag beroof,+ maar hy weet dit nie.

En sy grys hare het wit geword, maar hy kom dit nie agter nie.

10 Israel se trots getuig teen hom,+

maar hulle het nie na Jehovah hulle God teruggekeer nie,+

en ten spyte van alles het hulle hom nie gesoek nie.

11 Eʹfraim is soos ’n dom duif, sonder verstand.+

Hulle het na Egipte uitgeroep.+ Hulle het na Assiʹrië gegaan.+

12 Waar hulle ook al gaan, sal ek my vangnet oor hulle uitsprei.

Ek sal hulle laat val soos die voëls van die hemel.

Ek sal hulle straf volgens die waarskuwing wat ek aan hulle gegee het.+

13 Dit sal sleg gaan met hulle, want hulle het van my af weggevlug!

Laat hulle vernietig word, want hulle het teen my gesondig!

Ek was gereed om hulle te verlos, maar hulle het leuens oor my vertel.+

14 Hulle het nie met ’n opregte hart na my geroep om hulle te help nie,+

hoewel hulle op hulle beddens gelê en huil het.

Hulle het hulleself gesny vir graan en nuwe wyn.

Hulle draai teen my.

15 Al het ek hulle gedissiplineer en hulle* sterk gemaak,

is hulle teen my en beplan hulle slegte dinge.

16 Hulle het ’n ander weg ingeslaan, maar nie ’n beter weg nie.*

Hulle was so onbetroubaar soos ’n slap boog.+

Hulle leiers sal deur die swaard doodgemaak word weens hulle opstandige woorde.

Daarom sal hulle ’n bespotting in Egipte wees.”+

8 “Blaas op ’n horing!+

Iemand kom soos ’n arend teen die huis van Jehovah,+

want hulle het my verbond verbreek+ en my wet oortree.+

 2 Hulle roep na my: ‘My God, ons, Israel, ken u!’+

 3 Israel het verwerp wat goed is.+

Laat ’n vyand hom agtervolg.

 4 Hulle het konings aangestel, maar nie deur my nie.

Hulle het leiers aangestel, maar ek het hulle nie goedgekeur nie.

Met hulle silwer en hulle goud het hulle afgode gemaak,+

en dit sal tot hulle vernietiging lei.+

 5 Jou kalf is verwerp, o Samariʹa.+

Ek word woedend vir hulle.+

Sal hulle dit nooit regkry om onskuldig* te wees nie?

 6 Want dit kom uit Israel.

’n Ambagsman het dit gemaak, en dit is nie God nie.

Van die kalf van Samariʹa sal daar net splinters oorbly.

 7 Want hulle saai wind,

en hulle sal ’n stormwind oes.+

Die are bring nie ryp graan voort nie,+

en daar is nie korrels waarvan meel gemaal kan word nie.

As dit wel iets voortbring, sal uitlanders* dit eet.+

 8 Israel sal ingesluk word.+

Hulle sal onder die nasies wees+

soos ’n houer wat niemand wil hê nie.

 9 Want hulle het na Assiʹrië gegaan,+ soos ’n eensame wildedonkie.

Eʹfraim het prostitute gehuur om vir hulle lief te wees.+

10 Al huur hulle prostitute onder die nasies,

sal ek hulle nou bymekaarmaak.

Hulle sal swaarkry+ weens die las wat die koning en leiers op hulle plaas.

11 Want Eʹfraim het baie altare gemaak en so gesondig.+

Dit het die altare geword waarop hy gesondig het.+

12 Ek het vir hom baie wette* neergeskryf,

maar hy het dit as iets vreemds beskou.+

13 Hulle bring offerandes aan my, en hulle eet die vleis,

maar Jehovah keur nie hulle offerandes goed nie.+

Hy sal aan hulle oortreding dink en hulle straf vir hulle sondes.+

Hulle het na Egipte teruggekeer.*+

14 Israel het sy Maker vergeet+ en tempels gebou,+

en Juda het sy versterkte stede meer gemaak.+

Maar ek sal vuur na sy stede stuur,

en dit sal die torings van elke stad verteer.”+

9 “Moenie bly wees nie, o Israel.+

Moenie vreugdevol wees soos die volke nie.

Want deur prostitusie* het jy jou God verlaat.+

Op elke dorsvloer het jy die loon van ’n prostituut liefgehad.+

 2 Maar die dorsvloer en wynpers sal hulle nie voed nie,

en daar sal geen nuwe wyn vir haar wees nie.+

 3 Hulle sal nie in die land van Jehovah bly woon nie.+

Eʹfraim sal na Egipte terugkeer,

en in Assiʹrië sal hulle eet wat onrein is.+

 4 Hulle sal nie meer wyn aan Jehovah offer nie.+

Hy sal nie hulle offerandes goedkeur nie.+

Dit is soos kos wat in ’n tyd van rou geëet word,

en almal wat dit eet, sal onrein word.

Want hulle kos is net vir hulle,

dit sal nie in die huis van Jehovah ingebring word nie.

 5 Wat sal julle doen op die dag dat julle bymekaar moet kom,*

op die dag van die fees van Jehovah?

 6 Want kyk! hulle sal weens die vernietiging moet vlug.+

Egipte sal hulle bymekaarmaak,+ en Memfis sal hulle begrawe.+

Brandnetels sal hulle kosbare skatte van silwer toegroei,

en doringbosse sal in hulle tente wees.

 7 Die dae van oordeel sal kom,+

die dae van straf sal kom,

en Israel sal dit weet.

Hulle profeet sal ’n dwaas wees, en die man wat sê dat hy onder inspirasie praat, sal mal word.

Want die vyandigheid teenoor jou is groot omdat jou oortreding groot is.”

 8 Die wag+ van Eʹfraim was by my God.+

Maar nou is al die weë van sy profete+ soos die valstrikke van ’n voëlvanger.

Daar is vyandigheid in die huis van sy God.

 9 Hulle het baie sleg geword, soos in die dae van Giʹbea.+

Hy sal aan hulle oortreding dink en hulle vir hulle sondes straf.+

10 “Soos druiwe in die wildernis het ek Israel gevind.+

Soos die eerste vroeë vye aan ’n vyeboom het ek julle voorvaders gesien.

Maar hulle het na Baäl van Peor gegaan.+

Hulle het hulle aan die skandelike ding* toegewy+

en walglik geword soos die ding waarvoor hulle lief is.

11 Eʹfraim se heerlikheid vlieg weg soos ’n voël.

Daar is geen geboorte, geen swangerskap en geen bevrugting nie.+

12 Selfs al maak hulle kinders groot,

sal ek hulle kinders van hulle wegneem totdat daar niemand oor is nie.+

Ja, dit sal sleg gaan met hulle wanneer ek hulle verlaat!+

13 Eʹfraim, wat in ’n weiveld geplant is, was vir my soos Tirus.+

Nou moet Eʹfraim sy seuns uitbring om doodgemaak te word.”

14 O Jehovah, gee hulle wat u hulle moet gee.

’n Baarmoeder wat miskrame het en borste wat droog is.

15 “Al hulle goddeloosheid was in Gilgal,+ en daar het ek hulle begin haat.

Weens hulle slegte dade sal ek hulle uit my huis jaag.+

Ek sal hulle nie meer liefhê nie.+

Al hulle leiers is hardkoppig.

16 Eʹfraim sal soos ’n boom afgekap word.+

Hulle wortel sal verdroog, en hulle sal geen vrugte voortbring nie.

Selfs as hulle geboorte gee, sal ek hulle geliefde nageslag doodmaak.”

17 My God sal hulle verwerp,

want hulle het nie na hom geluister nie.+

En hulle sal vlugtelinge onder die nasies word.+

10 “Israel is ’n slegte wingerdstok* wat sy vrugte dra.+

Hoe meer vrugte hy dra, hoe meer altare maak hy.+

Hoe groter sy land se oeste is, hoe mooier maak hy sy heilige pilare.+

 2 Hulle hart is skynheilig.*

Nou sal hulle skuldig bevind word.

Daar is iemand wat hulle altare sal afbreek en hulle pilare sal vernietig.

 3 Nou sal hulle sê: ‘Ons het nie ’n koning nie,+ want ons het Jehovah nie gevrees nie.

En wat sou ’n koning vir ons kon doen?’

 4 Leë woorde kom uit hulle mond, hulle lê valse ede af+ en maak verbonde.

Die oordele wat hulle in ’n regsaak lewer, is soos giftige onkruid in die vore van landerye.+

 5 Die inwoners van Samariʹa sal besorg wees oor die afgodskalf van Bet-Awen.+

Die volk sal oor hom treur,

en so ook die priesters van vreemde gode wat bly was oor hom en sy heerlikheid,

want hy sal van hulle weggeneem word en in ballingskap gaan.

 6 Dit sal na Assiʹrië gebring word as ’n geskenk vir ’n groot koning.+

Eʹfraim sal verneder word,

en Israel sal skaam kry weens die raad wat hy gevolg het.+

 7 Samariʹa en haar koning sal beslis aan hulle einde kom,*+

soos ’n afgebreekte takkie op die water.

 8 Die offerhoogtes van Bet-Awen,+ waar Israel gesondig het,+ sal vernietig word.+

Dorings en dissels sal op hulle altare groei.+

Mense sal vir die berge sê: ‘Bedek ons!’

en vir die heuwels: ‘Val op ons!’+

 9 Sedert die dae van Giʹbea het jy gesondig,+ o Israel.

Daar het hulle aanhou sondig.

In Giʹbea het oorlog nie die kinders van onregverdigheid heeltemal vernietig nie.*

10 Ek sal hulle ook dissiplineer wanneer ek wil.

En volke sal beslis teen hulle bymekaargebring word

wanneer hulle twee oortredings aan hulle vasgebind word.*

11 Eʹfraim was ’n opgeleide jong koei wat daarvan gehou het om graan te dors.

Daarom het ek haar mooi nek gespaar.

Nou sal ek iemand op Eʹfraim laat ry.*+

Juda sal ploeg. Jakob sal die grond gelykmaak.

12 Saai vir julle saad in regverdigheid en oes lojale liefde.

Ploeg vir julle bewerkbare grond+

terwyl daar nog tyd is om Jehovah te soek,+

totdat hy kom en julle in regverdigheid onderrig.+

13 Maar julle het goddeloosheid geploeg.

Julle het onregverdigheid geoes+

en die vrug van bedrog geëet.

Want julle het op julleself vertrou,

op julle groot aantal vegters.

14 Oorlogsgeraas sal teen jou volk kom,

en al jou versterkte stede sal verwoes word,+

soos die verwoesting deur Salman van die huis van Arbel,

op die dag van oorlog toe ma’s saam met hulle kinders verpletter is.

15 Dit is wat met jou sal gebeur, o Bet-El,+ weens jou groot goddeloosheid.

Met dagbreek sal die koning van Israel beslis aan sy einde kom.”*+

11 “Toe Israel ’n seun was, het ek hom liefgehad,+

en uit Egipte het ek my seun geroep.+

 2 Hoe meer hulle geroep is,*

hoe meer het hulle weggegaan.+

Hulle het aangehou om aan die Baäl-beelde te offer+

en om offerandes aan die afgodsbeelde te bring.+

 3 Maar dit was ek wat Eʹfraim geleer het om te loop+ en hulle in my arms geneem het.+

En hulle het nie erken dat ek hulle genees het nie.

 4 Met die toue van die mens* het ek hulle bly trek, met die koorde van liefde.+

En ek was vir hulle soos iemand wat ’n juk van hulle kakebene aflig,

en met groot sorg het ek vir elkeen kos gebring.

 5 Hulle sal nie na Egipte terugkeer nie, maar Assiʹrië sal hulle koning wees,+

omdat hulle geweier het om na my toe terug te keer.+

 6 En ’n swaard sal deur sy stede gaan+

en sy grendels vernietig en verslind weens hulle goddelose planne.+

 7 My volk is vasbeslote om ontrou aan my te wees.+

Al word hulle boontoe* geroep, staan niemand op nie.

 8 Hoe kan ek jou laat gaan, o Eʹfraim?+

Hoe kan ek jou oorlewer, o Israel?

Hoe kan ek jou soos Adma behandel?

Hoe kan ek jou soos Seboʹjim+ maak?

Ek het van gedagte verander,

en ek voel baie jammer vir julle.+

 9 Ek sal nie aan my brandende woede uiting gee nie.

Ek sal Eʹfraim nie weer vernietig nie,+

want ek is God en nie ’n mens nie,

die Heilige by julle.

En ek sal nie in woede teen julle optree nie.

10 Hulle sal Jehovah volg, en hy sal soos ’n leeu brul.+

Wanneer hy brul, sal sy kinders bewend uit die weste kom.+

11 Hulle sal bewend soos ’n voël uit Egipte kom,

soos ’n duif uit Assiʹrië.+

En ek sal hulle in hulle huise laat woon,” sê Jehovah.+

12 “Eʹfraim het my omring met leuens,

en die huis van Israel met bedrog.+

Maar Juda volg God nog,*

en hy is getrou aan die Allerheiligste.”+

12 “Eʹfraim voed homself met wind.

Hy sit die hele dag die oostewind agterna.

Hy laat leuens en geweld meer word.

Hulle maak ’n verbond met Assiʹrië+ en neem olie na Egipte.+

 2 Jehovah het ’n regsaak teen Juda.+

Hy sal Jakob oordeel volgens sy optrede,

en hy sal hom terugbetaal vir sy dade.+

 3 In die baarmoeder het hy sy broer aan die hakskeen gegryp,+

en met al sy krag het hy met God ’n stryd gevoer.+

 4 Hy het met ’n engel bly stoei* en die oorhand gekry.

Hy het gehuil en hom gesmeek om hom te seën.”+

Hy het hom by Bet-El gevind, en daar het Hy met ons gepraat.+

 5 Jehovah, die God van die leërmagte,+

Jehovah is sy gedenknaam.*+

 6 “Keer dus terug na jou God,+

hou vas aan lojale liefde en geregtigheid+

en hoop altyd op jou God.

 7 Maar die handelaar het ’n bedrieglike weegskaal in sy hand.

Hy hou daarvan om te bedrieg.+

 8 Eʹfraim bly sê: ‘Ja, ek het ryk geword.+

Ek het waardevolle dinge gevind.+

En in al my harde werk sal hulle niks vind wat verkeerd is of sonde is nie.’

 9 Maar ek is Jehovah jou God van die tyd van Egipte af.+

Ek sal jou weer in tente laat woon

soos in die dae van ’n vasgestelde tyd.*

10 Ek het met die profete gepraat.+

Ek het hulle meer visioene laat sien,

en ek het deur die profete gelykenisse gegee.

11 In Giʹlead was daar leuens en bedrog.*+

In Gilgal het hulle bulle geoffer,+

en hulle altare is soos kliphope in die vore van landerye.+

12 Jakob het na die gebied van Aram* gevlug.+

Israel+ het daar gewerk om ’n vrou te kry,+

hy het skape opgepas om ’n vrou te kry.+

13 Deur ’n profeet het Jehovah Israel uit Egipte gebring,+

en deur ’n profeet is hy opgepas.+

14 Eʹfraim het God grootliks aanstoot gegee.+

Hy bly bloedskuldig.

Sy Heer sal hom terugbetaal vir die skande wat hy oor Hom gebring het.”+

13 “Wanneer Eʹfraim gepraat het, het mense gebewe.

Hy was belangrik in Israel.+

Maar hy het hom skuldig gemaak aan Baälaanbidding+ en gesterf.

 2 Nou maak hulle hulle sonde nog groter,

en hulle maak metaalbeelde van hulle silwer.+

Hulle maak afgode met groot vaardigheid, alles soos die handewerk van ambagsmanne.

Hulle sê vir hulle: ‘Laat die mense wat offerandes bring, die kalwers soen.’+

 3 Daarom sal hulle soos oggendwolke word,

soos dou wat vroeg verdwyn,

soos kaf wat deur ’n storm van die dorsvloer af weggewaai word

en soos rook uit ’n skoorsteen.

 4 Maar ek is Jehovah jou God van die tyd van Egipte af.+

Jy het geen ander God as ek geken nie,

en daar is geen ander redder as ek nie.+

 5 Ek het jou in die wildernis geken,+ in die land van droogte.

 6 Hulle weivelde het hulle versadig.+

Hulle was versadig, en hulle het trots geword.

Daarom het hulle my vergeet.+

 7 Ek sal vir hulle soos ’n jong leeu word,+

soos ’n luiperd wat langs die pad wegkruip.

 8 Ek sal op hulle afstorm soos ’n beer wat haar kleintjies verloor het,

en ek sal hulle borskas oopskeur.

Ek sal hulle daar verslind soos ’n leeu.

’n Wilde dier van die veld sal hulle verskeur.

 9 Dit sal jou vernietig, o Israel,

omdat jy teen my, teen jou helper, gedraai het.

10 Waar is jou koning dan, sodat hy jou in al jou stede kan red,+

en jou heersers* van wie jy gesê het:

‘Gee my ’n koning en leiers’?+

11 In my woede het ek vir jou ’n koning gegee,+

en in my groot woede sal ek hom wegneem.+

12 Die oortreding van Eʹfraim is opgeteken.*

Sy sonde word bewaar.

13 Geboortepyne sal oor hom kom.

Maar hy is ’n onwyse kind.

Hy verskyn nie wanneer dit tyd is om gebore te word nie.

14 Uit die mag van die Graf* sal ek hulle loskoop.

Uit die dood sal ek hulle verlos.+

Waar is jou angels, o Dood?+

Waar is jou vernietigende krag, o Graf?+

Ek sal nie medelye* hê nie.

15 Al sou hy tussen die riete floreer,

sal ’n oostewind kom, die wind van Jehovah.

Dit kom uit die woestyn om sy put te laat opdroog en sy fontein te laat droogloop.

Dit sal die skatkamer stroop van al sy waardevolle dinge.+

16 Samariʹa sal skuldig bevind word,+ want sy het teen haar God in opstand gekom.+

Deur die swaard sal hulle doodgemaak word.+

Hulle kinders sal verpletter word,

en hulle swanger vrouens sal oopgesny word.”

14 “Kom terug na Jehovah jou God, o Israel,+

want jy het weens jou oortreding gestruikel.

 2 Kom terug na Jehovah,

en sê vir hom: ‘Vergewe asseblief ons oortreding+ en aanvaar wat goed is,

en ons sal die lof van ons lippe offer+ soos ons jong bulle sou offer.

 3 Assiʹrië sal ons nie red nie.+

Ons sal nie op perde ry nie,+

en ons sal nie meer vir die werk van ons hande sê: “O ons God!” nie,

want u is die Een wat genade aan weeskinders betoon.’+

 4 Ek sal hulle ontrouheid genees.+

Ek sal hulle uit vrye wil liefhê,+

want ek is nie meer kwaad vir hom nie.+

 5 Ek sal vir Israel soos dou word.

Hy sal blom soos ’n lelie,

en hy sal sy wortels diep afstuur soos die bome van die Liʹbanon-berge.

 6 Sy takkies sal uitsprei,

sy prag sal soos dié van ’n olyfboom wees

en sy geur soos dié van die Liʹbanon-berge.

 7 Hulle sal weer in sy skaduwee woon.

Hulle sal met graan boer en sal bot soos ’n wingerdstok.+

Sy roem sal soos die wyn van die Liʹbanon wees.

 8 Eʹfraim sal sê: ‘Wat het ek nog met afgode te doen?’+

Ek sal antwoord en oor hom waak.+

Ek sal soos ’n groen jenewerboom wees.

Jou vrugte sal van my af kom.”

 9 Wie is wys? Laat hom hierdie dinge verstaan.

Wie is verstandig? Laat hom dit begryp.

Want die weë van Jehovah is reg,+

en die regverdiges sal dit volg.

Maar die oortreders sal daarop struikel.

Verkorte vorm van Hosaja, wat “gered deur Jah; Jah het gered” beteken.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Beteken “God sal saad saai”.

Beteken “iemand aan wie genade nie betoon is nie”.

Beteken “nie my volk nie”.

Sien Ho 1:9, vtn.

Sien Ho 1:6, vtn.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “My Baäl”.

Lett. “my aan jou verloof”.

Lett. “my aan jou verloof”.

Lett. “my aan jou verloof”.

Beteken “God sal saad saai”.

Sien Ho 1:6, vtn.

Sien Ho 1:9, vtn.

D.w.s. rosynekoeke wat in valse aanbidding gebruik is.

’n Homer was gelyk aan 220 l. Sien Aanh. B14.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “ek sal nie seksuele omgang met jou hê nie”.

Of “huisgode; afgode”.

Of “stilmaak”.

Of “stilgemaak”.

Of “onderrigting”.

Of moontlik “Hulle het my heerlikheid vir skande verruil”.

D.w.s. met die offerandes wat hulle moet offer vir hulle sondes.

Of “seksueel losbandig wees; prostitusie beoefen”.

Of “Onsedelikheid; Seksuele losbandigheid”.

Of “waarsêerstaf”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “koringbier”.

Of “is hulle seksueel losbandig; beoefen hulle prostitusie”.

Of “die opstandiges”.

Dit kan na mense of diere verwys.

Of “ek sal hulle almal dissiplineer”.

Of “was seksueel losbandig; het prostitusie beoefen”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “landerye”.

Of moontlik “Nou sal ’n maand hulle en hulle eiendom verwoes”.

Of “jong maanhaarleeu”.

Of “genade”.

Lett. “sê nie in hulle hart”.

Of moontlik “Want hulle harte is soos ’n oond wanneer hulle met hulle slinkse planne nader kom”.

Lett. “regters”.

Lett. “koek”.

Lett. “hulle arms”.

D.w.s. nie ’n verhewe vorm van aanbidding nie.

Of “rein”.

Of “vreemdelinge”.

Of “onderrigting”.

Of moontlik “Hulle sal na Egipte terugkeer”.

Of “onsedelikheid; seksuele losbandigheid”.

Of “dag van julle vasgestelde fees”.

Of “skandelike god”.

Of moontlik “’n wingerdstok wat uitsprei”.

Of “glibberig; glad”.

Lett. “stilgemaak word”.

Of “ingehaal nie”.

D.w.s. wanneer hulle hulle straf dra soos ’n juk.

Of “Nou sal ek Efraim inspan”.

Lett. “stilgemaak word”.

D.w.s. deur profete en ander wat gestuur is om Israel te onderrig.

Of “die toue van goedhartigheid”, soos dié van ’n ouer.

D.w.s. na ’n verhewe vorm van aanbidding.

Of “wandel nog met God”.

Of “worstel”.

Of “is die naam waarmee hy onthou word”.

Of moontlik “’n fees”.

Of “die bonatuurlike; towery”.

Of “Sirië”.

Lett. “rigters”.

Of “toegebind”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Sien Woordelys.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel