Lande van die voormalige Joego-Slawië
DIE land wat voorheen Joego-Slawië genoem is, is ’n gebied van fassinerende diversiteit. Met Sentraal- en Oos-Europa in die noorde, Griekeland en Turkye in die suide en Italië in die weste is hierdie gebied ’n smeltkroes van kulture, tale en godsdienste. Maar vir baie mense roep die naam Joego-Slawië tonele van oorlog en onrus voor die gees. Vanaf die moord op aartshertog Frans Ferdinand in 1914 tot die etniese suiwering van onlangser tye het hierdie deel van die Balkan-skiereiland maar min vrede geniet. Gedurende ’n tyd waarin die volke van hierdie streek geveg het om onafhanklikheid te verkry, het republieke afsonderlike lande geword. Uiteindelik het Joego-Slawië verbrokkel, en nou bestaan die voormalige grondgebied daarvan uit Bosnië en Herzegowina, Kroasië, Masedonië, Montenegro, Serwië en Slowenië.
Teen hierdie agtergrond van politiese, etniese en godsdienskonflik het ’n merkwaardige verhaal afgespeel—’n verhaal van liefde, eenheid en vertroue. Jehovah se Getuies in hierdie streek het die vooroordeel en vyandigheid wat die Balkan uitmekaargeskeur het, te bowe gekom. Hulle interkulturele eenheid is die produk van lojaliteit aan ’n hoër regering—God se Koninkryk.
IN DIE BEGIN
Hoe het die werk van Jehovah se volk in hierdie gebied begin? Ons verhaal begin met ’n jong barbier met die naam Franz Brand, wat gewoon het in die noordelike deel van Joego-Slawië wat Vojvodina genoem word. Hy het na Oostenryk gegaan om werk te soek. Terwyl hy daar was, het hy in kontak gekom met die waarheid, wat hy in 1925 na sy tuisdorp teruggebring het. Hy het by ’n klein groepie aangesluit wat die Bybelstudiehulpe Studies in the Scriptures, wat hulle van familielede in die Verenigde State gekry het, gelees en bespreek het.
Die groep het besef dat dit nodig is om te preek, en twee boekies wat Bybelleringe verduidelik, is in Serwies vertaal. Ongelukkig het ’n invloedryke broer wat teen die organisasie gedraai en sy eie sekte gevorm het, die groep besoek voordat hierdie boekies versprei kon word. Hy het almal behalwe Franz oorreed om die Bybelstudente te verlaat.
Franz het toe na Maribor, Slowenië, getrek, waar hy in ’n barbierswinkel werk gekry het. Hy het vir die eienaar van die winkel, Richard Tautz, getuig, en dié het die waarheid aangeneem. Omdat Franz en Richard die winkel as ’n predikingsentrum gebruik het, is hulle die Bybel-barbiers genoem. Hulle klante het aandagtig geluister—hulle wou blykbaar nie roer of praat terwyl hulle geskeer word nie! Een klant was ’n politikus met die naam Ðuro Džamonja. ’n Ander klant was Rudolf Kalle, die eienaar van ’n winkel waar tikmasjiene herstel is. Ðuro sowel as Rudolf het vinnig vooruitgang gemaak en is gou gedoop. Ðuro het uit die politiek getree en het gehelp om die Vuurtoringgenootskap van Bybelstudente in die Koninkryk van Joego-Slawië te stig. Hierdie organisasie het die broers in staat gestel om vryelik te preek en vergaderinge te hou.
DIE “FOTODRAMA” BAAN DIE WEG
In 1931 het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Switserland twee broers gestuur om “Die Fotodrama van die Skepping” in groot stede deur die hele Joego-Slawië te vertoon. Gehore in stampvol sale het aandagtig geluister terwyl Ðuro die materiaal aangebied het. Die “Fotodrama” het in die hele land belangstelling in Bybelwaarheid aangewakker. Intussen het die broers in Maribor vergaderinge in Sloweens sowel as Duits gehou. En in Zagreb en omliggende gebiede het groepe vergader om publikasies te bespreek wat in Kroaties vertaal is.
Toe het die broers besluit om Die Wagtoring in Sloweens sowel as Kroaties te begin vertaal—’n skynbaar onbegonne taak in daardie vroeë jare. Nadat ’n tydskrif vertaal is, het ’n suster dit met behulp van deurslagpapier oorgetik, wat net 20 kopieë op ’n slag gelewer het. Later, toe hulle ’n mimeograaf gekry het, het produksie vermeerder tot 200 eksemplare van Die Wagtoring op ’n slag.
Toegerus met hierdie tydskrifte het broers en susters per trein na verskillende dele van Joego-Slawië gereis om te gaan preek. Soms het broers in Slowenië ’n oop vragmotor met ’n bestuurder wat nie ’n Getuie is nie, gehuur. Hy het hulle na die gebied geneem waar hulle wou preek en het die hele dag, totdat hulle klaar was, vir hulle gewag. In die vroeë dae het hierdie Koninkryksverkondigers min opleiding gehad en het hulle hulle boodskap soms op ’n taktlose wyse oorgedra; Jehovah het nietemin hulle pogings geseën deur hulle te help om diegene te vind “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het”.—Hand. 13:48.
“Ek het in 1931 by my tante, Terezija Gradič, en haar man, Franc, van die waarheid gehoor”, vertel Franc Sagmeister. “Hy was een van die eerste verkondigers in Slowenië. Hoewel Franc vroeër sterk gekant was teen godsdiens, het hy die Bybel ywerig begin lees. Dit het ’n groot indruk op my gemaak, en daarom het ek saam met hom die Skrif begin studeer. Ten spyte van familieteenstand wou ek ander van my nuutgevonde kennis vertel. Toe die plaaslike priester hiervan te hore kom, het hy my onmiddellik ontbied. Hy het vir my gesê dat ek nie ’n Bybel mag hê nie omdat ek dit nie kon verstaan nie. Ek het geweier om my Bybel vir hom te gee. Later, ná my pa se dood, het die priester my op straat genader, woedend omdat ek nie betaal het sodat daar ’n enkele mis vir my pa gesê kon word nie. Ek het vir hom gesê: ‘Ek sou vir ’n honderd, selfs ’n duisend, misse betaal het as dit my pa sou help.’
“‘Dit help, dit help!’ het die priester gesê.
“‘As hy in die hemel is’, het ek gesê, ‘het hy nie ’n mis nodig nie, en as hy in die hel is, sal dit hom nie help nie.’
“‘Maar sê nou hy is in die vaevuur?’ het die priester volgehou.
“‘Meneer die priester’, het ek gesê, ‘u weet goed dat ek baie eiendom besit. Ek sal op die daad na die prokureur se kantoor gaan en dit alles aan u oordra as u vir my uit die Bybel kan bewys dat die mens ’n onsterflike siel het wat ná die dood voortlewe, dat die hel en die vaevuur bestaan en dat God die een of ander soort Drie-eenheid is.’
“Hy het my aangegluur, ’n sigaret aangesteek en weggeloop.”
PIONIERS NA DIE VELD
In die 1930’s het toegewyde manne en vroue die weg gebaan sodat die lig van die waarheid in Joego-Slawië kon skyn. Byvoorbeeld, in Maribor, Slowenië, het Grete Staudinger, Katarina Konečnik en later Karolina Stropnik ingeskryf vir wat as vakansiepionierdiens bekend geword het. Verder suid in Mostar, die hoofdorp van Herzegowina, het ’n dirigent met die naam Alfred Tuček die klank van die waarheid herken en begin pionier. Dušan Mikić, ’n 23-jarige uit Zagreb, Kroasië, het die boekie Waar is die dode? in die hande gekry. Ook hy het vinnig vooruitgang gemaak, is gedoop en het begin pionier. Die geledere van die pioniers sou kort voor lank aangevul word deur die aankoms van ywerige Duitse broers en susters.
Terwyl die waarheid in Joego-Slawië wortelgeskiet het, is dit in Duitsland verbied. Die takkantoor in Switserland het reëlings getref om omtrent 20 ervare pioniers, soos Martin Poetzinger, Alfred Schmidt, Vinko en Josephine Platajs en Willi en Elisabeth Wilke na Joego-Slawië te stuur. Al kon hulle nie Sloweens of Serwo-Kroaties praat nie, het hierdie selfopofferende pioniers getuieniskaarte moedig gebruik om te getuig, wat die weg vir toekomstige vooruitgang gebaan het.
DIE UITDAGINGS VAN PIONIERDIENS
Hulle ywer vir Jehovah en liefde vir mense het die pioniers gehelp om probleme met die taal en ’n gebrek aan geld die hoof te bied. Om van plek tot plek te reis, was ook ’n uitdaging. Dit was niks ongewoons om 40 kilometer ver in gure weer en oor moeilike terrein te loop om afgeleë dorpies te bereik nie. Een pioniersuster onthou dat sy haar skoene uitgetrek het wanneer sy van dorp tot dorp geloop het sodat dit langer sou hou. Martin Poetzinger, wat later ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, het aangename herinneringe gehad aan die tyd toe hy met ’n rugsak vol lektuur deur die platteland gereis het en vir almal gepreek het wat wou luister.
Die vervoerprobleem is verlig toe hierdie getroue pioniers fietse ontvang het, wat ’n broer in Switserland gekoop en aan hulle geskenk het. Hierdie fietse is dekades lank in die bediening gebruik.
Hoewel die mense van Joego-Slawië bekend is vir hulle gasvryheid, was daar godsdiensteenstand, en ons pioniers moes baie vervolging verduur. Die priesters het ’n ystergreep op hulle volgelinge gehad, veral in die kleiner dorpies. Soms het die priesters skoolkinders opgesteek om agter die pioniers aan te loop en hulle met klippe te bestook. Die geestelikes het ook die owerheid aangehits om die pioniers te intimideer, hulle lektuur te konfiskeer en hulle in hegtenis te neem.
Terwyl Willi Wilke eenkeer in ’n afgeleë dorpie in Kroasië gepreek het, het hy die rumoer van ’n oproerige skare vanaf die dorpsplein gehoor. Hy en sy vrou, sowel as Grete Staudinger, ook ’n pionier, het die boekie Regverdige regeerder aangebied, wat Jesus Christus op die voorblad uitgebeeld het. “Tot my groot ontsteltenis”, vertel hy, “het ek gesien dat ’n woedende groep van omtrent 20 mense, met sekels in hulle hande, om my vrou saamdrom. Daar naby was ’n ander groep mense besig om ons boekies te verbrand.”
Die pioniers het geen idee gehad waarom hierdie nederige dorpenaars so kwaad was nie, en suster Wilke kon hulle taal nie goed genoeg praat om uit te vind nie. Maar Grete kon Duits en die plaaslike tale vlot praat. Sy het nader gestaan en gevra: “Dames en here, wat maak julle?”
“Ons wil nie koning Peter hê nie!” het hulle soos een man uitgeroep.
“Ons ook nie”, het Grete geantwoord.
Die mense was verbaas en het na die prent op die boekie gewys en gevra: “Waarom maak julle dan propaganda vir hom?”
Toe het Grete verstaan. Net die vorige jaar, in 1934, is die Joego-Slawiese koning Alexander I vermoor, en sy seun Peter sou hom opvolg. Maar die dorpenaars het selfregering bo ’n Serwiese koning verkies. Die dorpenaars het gedink die prent van Jesus Christus was koning Peter!
Die misverstand is opgeklaar en ’n goeie getuienis aangaande die Koning, Jesus Christus, is gegee. Party wat hulle boekies verbrand het, wou nou nuwes hê. Die pioniers het die dorpie vreugdevol verlaat, want hulle het gevoel dat Jehovah se beskermende hand oor hulle was.
Die pioniers moes ook let op plaaslike gebruike. Wanneer hulle gepreek het in dorpies in Bosnië wat hoofsaaklik deur Moslems bewoon is, moes hulle baie versigtig wees om nie die plaaslike mense aanstoot te gee nie. Byvoorbeeld, om met ’n getroude Moslemvrou oogkontak te maak, kon ’n negatiewe reaksie by haar man uitlok.
Destyds was daar baie min gemeentes en groepe in die land. Ná ’n hele dag in die predikingswerk in ’n afgeleë dorpie was dit soms moeilik om ’n plek te kry om te oornag. Omdat die pioniers min geld gehad het, kon hulle nie ’n kamer in ’n gastehuis bekostig nie. Josephine Platajs vertel: “In een dorpie wou niemand vir ons verblyf gee nie, want hulle was bang vir die Katolieke priester. Dit was al donker toe ons reg was om die dorpie te verlaat. Op pad uit het ons ’n groot boom met droë blare op die grond gesien—ons slaapplek vir die nag! Ons het ons wasgoedsak as ’n kussing gebruik, en my man het die fiets met ’n tou aan sy enkel vasgemaak. Toe ons die volgende oggend wakker word, het ons gesien dat ons naby ’n put geslaap het en dus water gehad het om te was. Jehovah het ons nie net beskerm nie, maar ook na ons fisiese behoeftes omgesien.”
Hierdie pioniers het gesien hoe Jehovah selfs in klein dingetjies vir hulle gesorg het. Hulle was nie oor persoonlike gerief besorg nie, maar oor die bevordering van die goeie nuus.
NA MASEDONIË
Alfred en Frida Tuček, albei pioniers, het die geleentheid aangegryp om die Koninkryksboodskap te verkondig terwyl hulle van Slowenië na Bulgarye gereis het. In die dorp Strumica, Masedonië, het hulle vir ’n winkeleienaar, Dimitar Jovanovič, getuig en vir hom lektuur geleen. ’n Maand later, op pad terug van Bulgarye, het hulle hom weer besoek. Toe hulle uitvind dat hy nie die lektuur gelees het nie, het hulle hom gevra om dit terug te gee sodat hulle dit vir iemand kon gee wat dit sou waardeer. Dit het Dimitar se nuuskierigheid geprikkel. Hy het gesmeek vir nog ’n kans om die lektuur te lees. Nadat hy dit gelees het, het hy besef dat hy die waarheid gevind het, en hy was die eerste persoon in Masedonië wat as een van Jehovah se Getuies gedoop is.
Dimitar het daarna vir twee broers, Aleksa en Kosta Arsov, van die waarheid vertel. Kort voor lank was daar drie Getuies in Masedonië. Toegerus met tydskrifte, ’n grammofoon en plate met opgeneemde lesings, het hulle begin preek. Een van die tydskrifte het uiteindelik in die hande beland van ’n predikant van ’n Evangeliese Metodistekerk, wat dit vir ’n skrander jong man in sy kerk, Tušo Carčev, gegee het. Tušo het gehou van wat hy gelees het en het die predikant oorreed om vir hom nog tydskrifte te gee. Tušo het spoedig besef dat dit nie gepas is om betaal te word om die goeie nuus te verkondig nie. Hy het dit opgewonde vir die predikant vertel, wat as gevolg daarvan opgehou het om vir hom tydskrifte te bring. Tušo het die adres van die takkantoor in Maribor in die tydskrifte gesien en het geskryf en gevra om nog tydskrifte deur die pos te ontvang. Die kantoor het met Dimitar, Aleksa en Kosta in verbinding getree en hulle gevra om Tušo te besoek. Kort voor lank is ’n groep gevorm.
In 1935 het die broers die takkantoor verskuif van Maribor, Slowenië, na Joego-Slawië se hoofstad, Belgrado, Serwië. Franz Brand en Rudolf Kalle is as opsieners aangestel.
DIE WERK WORD VERBIED
Bewys van die ywerige werk van ons broers in daardie dae kan gesien word in ’n brosjure wat in 1933 deur die Katolieke Kerk uitgegee is. Daarin is die predikingswerk van die Getuies in fyn besonderhede uiteengesit, en die kerk het voorspel dat ons werk spoedig tot ’n einde sou kom. Hoe verkeerd was daardie voorspelling tog!
In die noorde van Joego-Slawië het die ywerige werk van die klein groepie pioniers die geestelikes vertoorn. Hulle was selfs woedender toe pogings om die Koninkrykspredikingswerk te verhinder, deur die howe gedwarsboom is. Maar mettertyd het ’n Jesuïetepriester van Slowenië die Minister van Binnelandse Sake geword. Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, was om die Vuurtoringgenootskap te ontbind; en in Augustus 1936 is die werk amptelik verbied. Die owerheid het die Koninkryksale gesluit en al die lektuur gekonfiskeer. Gelukkig is die gemeentes vooraf in kennis gestel, en die owerheid kon nie veel kry om te konfiskeer nie. Sodat die werk kon voortgaan, is ’n klein uitgewersfirma onder die naam Kula stražara (Die Wagtoring) in Belgrado geopen, en die vergaderinge is in privaat huise gehou.
Noudat die verbod amptelik was, het die regering sy pogings verskerp om die predikingswerk stop te sit. Diegene in die voltydse diens het spesiale teikens geword, wat dit vir ons Duitssprekende broers al hoe moeiliker gemaak het. Baie van hierdie pioniers het na Joego-Slawië gekom weens die verbod op die werk in ander Europese lande, en nou is die predikingswerk ook hier verbied. Al is die pioniers in hegtenis geneem en in die tronk gestop, het hulle ywer nie afgeneem nie. “Soms was dit moeilik om besoekers te kry terwyl ons in die tronk was, maar Jehovah het ons nooit in die steek gelaat nie”, het een suster gesê. “Toe ’n broer eenkeer gekom het om ons te besoek maar toestemming geweier is, het hy kliphard met die tronkbewaarder gepraat sodat ons hom kon hoor. Net die klank van sy stem was vir ons ’n groot aanmoediging.”
Gedurende hierdie tyd van onrus het dit groot moed geverg om die boekie Judge Rutherford Uncovers Fifth Column, wat Katolieke kerke se rol in die ondersteuning van die Nazi-regering se politieke agenda blootgelê het, te vertaal en te versprei. Dit is in Serwies, Kroaties en Sloweens vertaal, en 20 000 eksemplare van elk is gedruk. Dit is van die begin af verbied, en die gevolg was dat buitelandse pioniers uit die land gesit is en dat die staatsprokureur ’n klag ingedien het, waarin versoek is dat die uitgewers van die boekie 10 tot 15 jaar tronkstraf opgelê word. Ondanks die risiko het die paar verkondigers in Joego-Slawië die 60 000 eksemplare vinnig versprei.
“Destyds het mense graag gelees”, verduidelik Lina Babić, wat teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog die waarheid geleer het en noue kontak met getroue broers en susters gehad het. “Aangesien ons altyd versigtig moes wees”, vertel sy, “het ek besluit om die lektuur met die hand in my persoonlike notaboek oor te skryf. As ek dan deursoek is, sou dit net lyk of dit my persoonlike aantekeninge is.”
TOLSTOI OF JEHOVAH?
Terwyl die wêreld op die randjie van oorlog gestaan het, het ’n skeuring in een van die grootste gemeentes in Joego-Slawië plaasgevind. Party het die beskouings van die Russiese skrywer en godsdiensfilosoof Leo Tolstoi begin voorstaan. Tolstoi, wat eers ’n lid van die Russies-Ortodokse Kerk was, het tot die gevolgtrekking gekom dat alle Christelike kerke korrupte instellings is wat die Christelike godsdiens heeltemal verkeerd voorstel. Party broers is beïnvloed deur hierdie agterdog teen alle godsdiensorganisasies en het ontevrede geword met Jehovah se organisasie. Die broer wat die leiding geneem het in die Zagreb-gemeente, het misbruik gemaak van die vertroue wat in hom gestel is en het die meeste van die verkondigers oorgehaal om Tolstoi se beskouings aan te neem. Die broer se invloed was so sterk dat die grootste deel van die gemeente, meer as 60, ’n resolusie aanvaar het om Jehovah se organisasie te verwerp.
Toe Rudolf Kalle hiervan te hore kom, het hy onmiddellik van Belgrado na Zagreb gereis en met die hele gemeente ’n vergadering gehou. Hy het basiese Bybelwaarhede bespreek wat Jehovah deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas geopenbaar het (Matt. 24:45-47). Toe het hy gevra: “Wie het julle hierdie waarhede geleer? Tolstoi of Jehovah se organisasie?” Rudolf het Josua 24:15 aangehaal en dié wat by Jehovah se organisasie wou bly, gevra om hulle hand op te steek. Net twee het dit gedoen.
“Dit was hartverskeurend”, het Rudolf gesê.
Dit het gelyk asof al die goeie dinge wat in die gemeente bereik is, verlore was.
Toe het Rudolf die twee getroues na die verhoog genooi en gesê: “Daar is nou net drie van ons oor. Ons verteenwoordig nou Jehovah se volk in dié stad. Ek vra al die ander om die vertrek te verlaat en hulle eie koers in te slaan. Los ons asseblief uit! Ons wil ons God, Jehovah, dien; julle kan julle Tolstoi gaan dien. Ons wil nie meer met julle assosieer nie.”
Daar was ’n paar sekondes lank doodse stilte. Toe het een na die ander hulle hand opgesteek en gesê: “Ek wil ook Jehovah dien.” Op die ou end het net die afvallige gemeentekneg en ’n paar van sy volgelinge die vertrek verlaat. Hierdie toets van lojaliteit het Jehovah se getroue knegte versterk vir die veel erger beproewinge wat vir hulle voorgelê het.
TEËSPOED TYDENS DIE OORLOG
Op 6 April 1941 het die Duitse leër Joego-Slawië binnegeval. Die takkantoor is tydens die kwaai lugaanvalle op Belgrado beskadig. Joego-Slawië is deur die Duitse troepe verdeel. Die kommunikasie tussen die broers in Bethel in Serwië en die broers in Slowenië, Kroasië en Masedonië is ’n ruk lank deur die gevegte ontwrig. Dit was selfs erger vir die broers in die verre suide van Masedonië, met wie daar eers ná die oorlog weer kontak gemaak kon word.
Skielik het die broers voor nuwe uitdagings te staan gekom. ’n Wêreld wat in internasionale konflik gedompel was, het ’n tyd van intense toetsing en sifting oor ons dierbare broers en susters gebring. Hulle geloof in en liefde vir Jehovah en sy organisasie sou op die proef gestel word.
Die kantoor in Belgrado is gesluit, en die verspreiding van geestelike voedsel onder die broers is in Zagreb, Kroasië, georganiseer. Omdat konsentrasiekampe en teregstellings die plek ingeneem het van boetes en tronkstraf, het versigtige optrede en geheimhouding al hoe noodsaakliker geword.
Toe Duitse troepe Joego-Slawië beset en verdeel het, is konsentrasiekampe opgerig. In Kroasië is hierdie kampe gebruik om verskeie etniese en nie-Katolieke minderhede, sowel as enige godsdiensteenstanders van die regime, af te sonder en te vermoor. In Serwië het Nazi-magte straf- en konsentrasiekampe opgerig. Weens hulle neutrale standpunt is meer as 150 van ons broers uit Hongarye in die kamp in Bor, Serwië, aangehou. Ook in Joego-Slawië het Jehovah se Getuies die teiken van die Nazi-regime geword. Gevolglik is die predikingswerk hoofsaaklik deur middel van informele getuieniswerk gedoen. Die verkondigers is aangeraai om net hulle Bybel en een lektuuritem saam met hulle te dra, en daar is vir hulle vertel wat om te sê as hulle in hegtenis geneem word. Hulle het hulle vergaderinge in klein groepies gehou, en hulle het nie geweet waar ander vergaderplekke is nie.
Omdat dit onveilig was om lektuur in die land in te bring, is dit ondergronds gedruk. Broers het op verskillende plekke deur die nag gewerk om tydskrifte en boekies te druk en te bind. Hulle het ook hard gewerk om geld te verdien om die drukwerk te finansier. Deur gebruik te maak van verskillende sakekonneksies, was die broers altyd in staat om te kry wat hulle vir die drukwerk nodig gehad het. Hoewel volks- en godsdiensvooroordeel in Joego-Slawië hoogty gevier het, was ons broers verenig, en hulle het hulle geld bymekaargesit om lewensreddende geestelike voedsel te voorsien. Hoe sou hulle dit by die afgesonderde groepe verkondigers in hulle gebied kry?
Stevan Stanković, ’n spoorwegwerker van Serwiese afkoms, was gereed om sy broers, ongeag hulle agtergrond, te help. Ondanks die gevaar het Stevan die taak aanvaar om lektuur in die geheim uit Kroasië na Serwië te neem, wat deur die leër beset is. Eendag het die polisie op lektuur afgekom in ’n tas wat hy gedra het. Hulle wou weet waar die lektuur vandaan kom. Maar Stevan was lojaal aan sy broers en het geweier om die inligting te gee. Die polisie het hom vir ondervraging na ’n tronk geneem en hom daarna na die konsentrasiekamp by Jasenovac daar naby oorgeplaas. Hierdie kamp was berug vir sy wreedheid, en ons getroue broer het daar gesterf.
Mihovil Balković, ’n verstandige en vindingryke broer, het gedurende hierdie moeilike tye as ’n loodgieter in Kroasië gewerk. Benewens sy sekulêre werk het hy die broers besoek om hulle aan te moedig en lektuur af te lewer. “Eenkeer”, vertel sy kleinseun, “het hy gehoor dat die trein waarop hy was, by die volgende dorp deursoek sou word. Hy het dus een stasie vroeër afgeklim as wat hy beplan het. Al was die grootste deel van die dorp deur doringdraad omring, het hy by ’n wingerd ’n opening gevind. Hy het die lektuur in sy rugsak gedra en het twee bottels rakija (tuisgemaakte brandewyn) en kruideniersware in die boonste deel gesit. Terwyl hy versigtig deur die wingerd geloop het, het hy by ’n bunker verbygeloop, en skielik het ’n soldaat geskreeu: ‘Stop! Wie is jy?’ Toe hy naderkom, het een van die soldate gevra: ‘Wat dra jy daar?’
“‘’n Bietjie meel, boontjies en aartappels’, het hy geantwoord.
“Toe hy gevra is wat in die bottels is, het hy gesê: ‘Ruik dit en proe ’n bietjie.’
“Toe die soldaat daaraan proe, het Mihovil gesê: ‘Hierdie bottel is vir jou, my seun, en die ander een is myne.’
“Die soldate was tevrede met sy antwoord en die rakija en het gesê: ‘Jy kan maar gaan, Omie!’
“En so”, sluit Mihovil se kleinseun af, “is die lektuur veilig afgelewer.”
Mihovil was beslis dapper. Sy reise het hom deur gebiede geneem wat deur strydende kante van die oorlog beheer is. Soms het Mihovil van aangesig tot aangesig gekom met soldate van die Kommunistiese Partisane, en ander kere met die Fascistiese Ustašaa of die Četnik-soldate. Hy het nooit teruggedeins nie, maar het hierdie geleenthede gebruik om ’n getuienis te gee en die Bybel se hoop vir die toekoms te verduidelik. Dit het groot moed geverg, want die lewe van ’n Getuie was altyd in gevaar. Hy is ’n paar keer in hegtenis geneem, ondervra en in die tronk gestop.
Op die aand van 9 November 1944, na aan die einde van die oorlog, het die Partisane ’n klopjag op Mihovil se huis uitgevoer, lektuur gekonfiskeer en Mihovil weggeneem. Hy het ongelukkig nooit teruggekom nie. Daar is later uitgevind dat hy onthoof is.
Josip Sabo was maar ’n seun toe hy op sy fiets lektuur in Slawonië, ’n streek in Kroasië, afgelewer het. Hy het ’n boks gemaak wat op die rooster van sy fiets gepas het, waarin hy lektuur gesit het met ’n laag vars pere bo-oor. Destyds was die ingang van byna elke dorpie versper en bewaak.
“Wat het jy in die boks?” het die wagte by elke pos vir Josip gevra.
“Pere vir my oom”, het hy geantwoord, en dan het die soldate ’n peer of twee gevat. Hoe nader hy aan sy bestemming gekom het, hoe minder pere was daar om die lektuur te bedek. Dan het Josip ’n verlate paadjie gevolg sodat sy laaste pere nog die kosbare lektuur daaronder kon wegsteek.
TOT DIE EINDE TOE GETROU
Lestan Fabijan, ’n messelaar van Zagreb, het vir Ivan Sever, Franjo Dreven en Filip Huzek-Gumbazir van die waarheid vertel. Hulle is almal binne ses maande gedoop en het begin om te preek en vergaderinge te hou. Die aand van 15 Januarie 1943 het ’n militêre patrollie na Ivan Sever se huis gekom en hom sowel as Franjo Dreven en ’n ander broer, Filip Ilić, in hegtenis geneem. Hulle het die huis deursoek, al die lektuur gekonfiskeer en die broers weggeneem.
Lestan het van die inhegtenisnemings gehoor en daarom het hy en Filip Huzek-Gumbazir na Franjo se ma en suster gegaan om hulle te vertroos. Maar die Partisane het van hulle besoek te hore gekom en Lestan sowel as Filip in hegtenis geneem. Die vyf broers het uit die Bybel verduidelik dat hulle Jehovah alleen dien en soldate van Christus is. Omdat hulle almal geweier het om die wapen op te neem en te gaan veg, is hulle ter dood veroordeel. Daarna is hulle gevange gehou.
Een nag is die vyf broers wakker gemaak, moes hulle hulle klere uittrek en is hulle in die woud ingeneem. Terwyl hulle geloop het, is hulle die geleentheid gegee om van besluit te verander. Die soldate het die broers se vasberadenheid probeer ondermyn deur op hulle liefde vir hulle gesinne te speel. Hulle het van Filip Huzek-Gumbazir se swanger vrou en sy vier kinders gepraat. Hy het geantwoord dat hy die volste vertroue het dat Jehovah vir hulle sal sorg. Omdat Franjo Dreven nie ’n vrou of kinders gehad het nie, het hulle hom gevra wie vir sy ma en suster sal sorg.
Toe hulle by die aangewese plek kom, het die soldate die broers in die winterkoue laat staan. Toe het die teregstellings begin. Hulle het Filip Huzek-Gumbazir eerste geskiet. Daarna het die soldate gewag en gevra of die ander van besluit wil verander. Maar die broers was vasbeslote. Daarna het die soldate Franjo, toe Ivan en toe Lestan tereggestel. Eindelik het Filip Ilić, die laaste een wat oorgebly het, ingegee en ingestem om by die soldate aan te sluit. Maar drie maande later het hy weens siekte teruggekom huis toe en vertel wat gebeur het. Die lewe wat hy probeer red het deur sy geloof prys te gee, het hy vroeg verloor as gevolg van siekte.
In Slowenië het baie van ons broers en susters slagoffers van vervolging geword. Byvoorbeeld, Franc Drozg, ’n 38-jarige smid, het geweier om die wapen op te neem. As gevolg hiervan het Nazi-soldate hom op 8 Junie 1942 in Maribor tereggestel. Party van dié wat daar was, vertel dat ’n teken met die woorde “Ek is nie van hierdie wêreld nie” om sy nek gehang is voordat hy geskiet is (Joh. 17:14). Sy sterk geloof kan gesien word in die brief wat hy net minute voor sy teregstelling geskryf het: “Liewe Vriend! Rupert, vandag is ek ter dood veroordeel. Moenie oor my treur nie. Ek stuur my liefde aan jou en aan almal in die huis. Sien jou in God se Koninkryk.”
Die owerheid was meedoënloos in hulle pogings om die predikingswerk stop te sit, maar Jehovah het bewys dat hy ’n God van redding is. Byvoorbeeld, die polisie het dikwels klopjagte uitgevoer en al die inwoners van ’n gebied laat aantree om hulle identifikasiekaarte te ondersoek. Almal wat verdag gelyk het, is tronk toe geneem. Intussen het ander polisiemanne die huise en woonstelle deursoek. Die broers het dikwels bewys van Jehovah se beskermende sorg gesien wanneer die polisie hulle huise oorgeslaan het, ongetwyfeld omdat hulle gedink het dat dit reeds deursoek is. By ten minste twee geleenthede was daar baie lektuur sowel as mimeograwe in die broers se woonstelle. Keer op keer het diegene wat in daardie gevaarlike tye aan die predikingswerk deelgeneem het, gesien hoe waar die Bybelse versekering is dat “Jehovah baie teer in geneentheid en medelydend is”.—Jak. 5:11, voetnoot in NW.
TER DOOD VEROORDEEL
Met die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 het een van die ergste tydperke van bloedvergieting in die mensegeskiedenis tot ’n einde gekom. Toe Hitler en sy bondgenote verslaan is, het die broers gehoop dat beperkings opgehef sou word en dat hulle weer die vryheid sou hê om te preek. Daar was rede vir optimisme: Die pas gevormde Kommunistiese regering het vryheid van die pers, spraak en aanbidding belowe.
Maar in September 1946 is 15 broers en 3 susters in hegtenis geneem. Onder hulle was Rudolf Kalle, Dušan Mikić en Edmund Stropnik. Die ondersoek het vyf maande geduur. Die owerheid het beweer dat die Getuies teen die belange van die volk en die Staat optree en selfs die bestaan van Joego-Slawië bedreig. Hulle het beweer dat ons werk uit die Verenigde State beheer word en dat ons die verkondiging van God se Koninkryk gebruik as ’n front om sosialisme te vernietig en kapitalisme weer in te stel. ’n Katolieke priester het die voortou daarin geneem om ons broers daarvan te beskuldig dat hulle Amerikaanse spioene is wat onder die dekmantel van godsdiens werk.
In die hof het die beskuldigde broers moedig hulle eie verdediging waargeneem en ’n goeie getuienis vir Jehovah en sy Koninkryk gegee. Vjekoslav Kos, ’n jong broer, het gesê: “Wyse regters, ek het hierdie godsdiens, die lering uit die Bybel, van my ma ontvang, en ek het God begin aanbid. Gedurende die Duitse besetting is my ma in die gevangenis gesit. My twee susters en my broer het aan dieselfde godsdiens as my ma behoort. Hulle is na Dachau geneem, waar hulle geskiet is omdat hulle as Kommuniste beskou is weens die manier waarop hulle God aanbid het. Weens hierdie selfde godsdiens staan ek nou hier voor die hof as ’n Fascis.” Die hof het hom vrygelaat.
Die hof het nie soveel genade vir die ander gehad nie. Drie van die beskuldigdes is gevonnis om deur ’n vuurpeloton tereggestel te word, en die res is tot tronkstraf van 1 tot 15 jaar gevonnis. Hierdie onreg het egter ’n onmiddellike en hewige protes van ons wêreldwye broederskap uitgelok. Getuies in die Verenigde State, Kanada, die Britse Eilande en Europa het derduisende briewe aan die regering van Joego-Slawië geskryf om beswaar daarteen aan te teken. Hulle het ook honderde kabelgramme gestuur. Selfs party regeringsamptenare het briewe ten behoewe van die broers geskryf. Hierdie groot golf van ondersteuning het daartoe gelei dat die doodsvonnisse tot tronkstraf van 20 jaar versag is.
Maar dit was nie die einde van die teenstand nie. Twee jaar later het die Sloweense owerheid Janez Robas en sy vrou, Marija, sowel as mede-Getuies Jože Marolt en Frančiška Verbec, in hegtenis geneem omdat hulle gepreek het. Die akte van beskuldiging het deels gesê: Die “‘jehoviste-sekte’ . . . het nuwe lede gewerf wat hulle teen ons huidige maatskaplike stelsel [en] teen diensplig opgesweep het”. Die owerheid het beweer dat die broers die verdediging van die land probeer ondermyn en het hulle vonnisse van drie tot ses jaar tronkstraf met dwangarbeid opgelê.
Weens ’n verandering in die politieke beleid is alle gevangenes in 1952 vrygelaat; en daar is voortgegaan met die verkondiging van die Koninkryksboodskap. Jehovah se belofte is waar bewys: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel.”—Jes. 54:17.
Nietemin het die regering aangehou om die vasberadenheid van die broers te probeer ondermyn. Die nuusmedia het hulle “sielsiekes” genoem, asook “dwepers wat feitlik kranksinnig is”. Volgehoue negatiewe nuusberigte en die konstante vrees dat hulle dopgehou word, het party van die broers angstig laat word. Wanneer getroue Getuies uit die tronk vrygelaat is, het ander in die gemeente hulle as spioene beskou. Maar Jehovah het aangehou om die gemeentes te versterk deur middel van lojale, geestelik volwasse broers.
Toe Josip Broz Tito aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog aan bewind gekom het, het dit duidelik geword dat die militêre owerheid ’n vername rol in Joego-Slawië sou speel. Diegene wat geweier het om diensplig te doen, ongeag wat hulle rede was, het hulle aan die verkeerde kant van die regering bevind.
TOETSE VAN LOJALITEIT
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die negejarige Ladislav Foro, van Kroasië, ’n verpligte dorpsvergadering bygewoon waar ’n Katolieke priester gepreek het. Ná die preek het die nuuskierige Ladislav agter die gordyn van die verhoog ingeloer en gesien hoe die priester sy priestergewaad uittrek. Daaronder het hy ’n uniform van die Ustaša aangehad, met ’n patroonband, waaraan ’n handgranaat was, om sy middellyf. Die priester het sy sabel geneem, uitgegaan, op ’n perd geklim en uitgeroep: “Broers, kom ons gaan maak Christene! As iemand weier, weet julle wat om te doen!”
Ladislav het geweet dat ’n man van God nie só moet optree nie. Kort daarna het hy geheime vergaderinge van die Getuies saam met sy oom begin bywoon. Al het sy ouers glad nie daarvan gehou nie, het Ladislav aangehou om vergaderinge by te woon en goeie geestelike vooruitgang te maak.
Toe Ladislav in 1952 vir diensplig opgeroep is, het hy sy standpunt oor Christelike neutraliteit duidelik gestel. Beamptes het hom aan baie ondervragings onderwerp om hom te probeer dwing om die leër se aansluitingseed af te lê. By een geleentheid het hulle hom na die kaserne geneem waar 12 000 bymekaar was om die eed af te lê. Die soldate het Ladislav voor hulle almal laat staan en ’n geweer teen sy skouer gesit. Hy het dit onmiddellik neergegooi. Die soldate het oor die luidspreker gepraat sodat almal kon hoor en het gesê dat Ladislav geskiet sou word as hy dit weer doen. Toe hy ’n tweede keer weier, het hulle hom weggeneem en in ’n bomkrater wat ’n paar meter diep was, ingestoot. Die teregstellingsbevel is gegee en ’n soldaat het twee keer in die krater ingeskiet, waarna die mans na die kaserne teruggekeer het. Maar die koeëls het die broer gemis!
Daardie nag het beamptes Ladislav uit die bomkrater gehaal en hom na ’n tronk in Sarajevo geneem. Hulle het hom ’n brief gewys wat gesê het dat ander in sy geloof op sekere gebiede toegewings gemaak het terwyl hy saam met misdadigers in die tronk krepeer. Die beamptes het herhaaldelik druk op hom uitgeoefen deur middel van lang besprekings op dieselfde trant. Maar Ladislav het geredeneer: ‘Het ek Jehovah begin dien as gevolg van ’n sekere persoon? Nee! Is ek hier om mense te behaag? Nee! Hang my lewe af van wat ander sê, dink of doen? Nee!’
Hierdie geestelike manier van redeneer het Ladislav gehelp om in die tronk getrou te bly totdat hy vier en ’n half jaar later vrygelaat is. Mettertyd het hy as ’n kringopsiener gedien, met die ondersteuning van sy getroue vrou en medeaanbidder, Anica.
BEPERKTE WETLIKE ERKENNING
Ná Tito se breuk met die Sowjetunie in 1948 het hy die regering gedesentraliseer en die volk geleidelik meer vryheid gegee. Hoewel die regering nog steeds sosialisties was, was daar groter verdraagsaamheid teenoor godsdiens.
Die regering het verteenwoordigers van Jehovah se Getuies genooi om met hulle te vergader en het voorgestel dat ’n nuwe handves opgestel word sodat die Getuies se werk gewettig kon word. Die broers het ’n handves geskryf, en op 9 September 1953 is Jehovah se Getuies weer eens wettig geregistreer in Joego-Slawië.
Terwyl ander Kommunistiese lande ons broers gedeporteer het, het die Getuies in Joego-Slawië genoeg vryheid gehad om in sale te vergader. Dit het ook vir ons broers in Masedonië die geleentheid geskep om lektuur te ontvang en met die kantoor in Zagreb kontak te maak. Maar al is Jehovah se Getuies in 1953 wettig geregistreer as ’n godsdiensgemeenskap, sou nog 38 jaar verloop voordat hulle die huis-tot-huis-bediening wettig kon uitvoer.
Daar was steeds probleme. Weens die broers se neutrale standpunt het die owerheid hulle predikingswerk as die verspreiding van propaganda beskou. Die land se netwerk van geheime polisie en informante het die predikingswerk baie moeilik gemaak. Broers wat gepreek het, is soms in hegtenis geneem en beboet. Een verslag het gesê: “Inhegtenisnemings en vervolging duur voort. Dit is veral die geval in Slowenië, waar Katolieke invloed die sterkste is en waar baie van Jehovah se knegte deur die polisie en hulle agente dopgehou word sodat hulle op heterdaad betrap kan word wanneer hulle God se Woord bestudeer. Maar die broers het getoon dat hulle vasbeslote is om die doel van die vervolging te verydel, en hulle is eerder aan God gehoorsaam as aan mense.”
“VERSIGTIG SOOS SLANGE”
Wanneer broers in plattelandse dele van Slowenië gepreek het, het hulle die huisbewoners eers gevra of hulle eiers verkoop. As die prys goed was, het die verkondigers die eiers gekoop sodat hulle nie agterdog wek nie. Wanneer hulle genoeg eiers gehad het, het hulle die volgende huisbewoners vir brandhout gevra. As dit veilig gelyk het om dit te doen, het hulle gedurende die transaksie ’n Bybelse onderwerp aangeroer.—Matt. 10:16.
In die omstreke van Zagreb, Kroasië, het die broers die gebied stelselmatig deurgewerk, maar op ’n manier wat min aandag getrek het. Een strategie was om by elke tiende huis aan te klop. As die verkondigers byvoorbeeld gesê is om by die eerste huis te begin, het hulle nommer 1, 11, 21, 31, ensovoorts besoek. Danksy hierdie pogings het baie mense van Jehovah geleer. Maar weens die uitdagings van die huis-tot-huis-bediening het die broers meestal informeel getuig.
In Serwië het die broers in privaat huise bymekaargekom. Damir Porobić vertel hoe vergaderinge ná die Tweede Wêreldoorlog in sy ouma se huis gehou is. “Tussen vyf en tien mense het dit bygewoon”, verduidelik hy. “My ouma se huis was ideaal hiervoor, want dit kon van twee strate bereik word. Almal kon onopvallend kom en gaan sonder om agterdog te wek.”
Veronika Babić is in Kroasië gebore, en haar gesin het in die middel-1950’s begin studeer. Ná haar doop in 1957 het sy saam met haar man na Sarajevo, Bosnië, getrek. Milica Radišić, van die streek Slawonië in Kroasië, is in 1950 gedoop. Haar gesin het ook na Bosnië getrek. Saam het hierdie gesinne Koninkrykswaarheid in Bosnië begin versprei. Soos in ander dele van Joego-Slawië, moes hulle versigtig wees wanneer hulle preek. “Ons is by die polisie aangegee”, vertel Veronika, “en ons lektuur is gekonfiskeer. Ons is in hegtenis geneem, ondervra, met tronkstraf gedreig en beboet. Maar dit het ons glad nie mismoedig of bang gemaak nie. Inteendeel, dit het ons geloof in Jehovah versterk.”
“Eendag”, vertel Milica, “het ’n man by die Koninkryksaal opgedaag en belangstelling getoon. Hy is verwelkom en het selfs ’n ruk lank by die broers tuisgegaan. Hy het ywerig aan die vergaderinge deelgeneem. Maar toe sien ons dogter by haar werksplek dat hy ’n vergadering van die geheime polisie bywoon. Ons het toe besef dat hy deur die polisie gestuur is om op ons te spioeneer. Aangesien sy betrokkenheid by die polisie nie meer ’n geheim was nie, het hy nie meer gekom nie.”
VROEË KONINKRYKSALE
Voordat Jehovah se Getuies by die regering geregistreer is, was dit vir hulle onwettig om in privaat huise bymekaar te kom; die broers kon dus hiervoor in hegtenis geneem word. Maar selfs nadat hulle toegelaat is om openlik te vergader, was dit ’n uitdaging om vergaderplekke te kry, aangesien baie mense nie van Jehovah se Getuies gehou het nie en geweier het om hulle geboue aan die Getuies te verhuur. Hulle het dus besluit om geboue te koop waarin hulle kon vergader.
Kort voor lank het die broers ’n werkswinkel in die middel van Zagreb, Kroasië, gevind. Hulle het dit in ’n pragtige Koninkryksaal met sitplek vir ongeveer 160 mense omskep en het ’n klein kantoor aangebou waar lektuur gedruk kon word. Hierdie Koninkryksaal is ook vir byeenkomste gebruik, en in 1957 is die eerste streekbyeenkoms vir Getuies uit alle dele van Joego-Slawië daar gehou. ’n Paar jaar later het die broers ’n huis in die middel van Zagreb in Kamaufova-straat gekoop, waarin die Bethel-gesin tot 1998 gewoon het.
In 1957 het die broers ’n gebou in Belgrado, Serwië, gekoop wat as ’n Koninkryksaal sowel as ’n kantoor vir Bethelwerk gedien het. Daarna het hulle ’n stal in Ljubljana, Slowenië, aangeskaf en dit in ’n Koninkryksaal omskep. In 1963 het hulle ’n garage in Sarajevo in ’n saal omskep, wat deur die eerste gemeente in Bosnië en Herzegowina gebruik is. Party van hierdie geboue het heelwat werk nodig gehad; maar die broers het ruimhartig van hulle tyd en middele aangebied, en Jehovah het hulle pogings geseën.
BETER ORGANISASIE LEI TOT GEESTELIKE GROEI
In 1960 is reisende opsieners aangestel om die gemeentes te help en aan te moedig. Party broers is genooi om as “naweek”-kringopsieners te dien. Hierdie broers het in daardie vroeë dae gewilliglik hulle naweke opgeoffer om te reis en die broers aan te moedig en om eenheid te bevorder.
“Ek het ongeveer ’n jaar lank saam met my vrou as ’n naweekkringopsiener gedien”, vertel Henrik Kovačić, ’n lid van die Takkomitee in Kroasië, “en later het ek voltyds as ’n reisende opsiener gedien. Die broers het in baie armoedige omstandighede gelewe, en ons het dikwels in plekke gebly waar daar nie lopende water of spoeltoilette was nie. Maar die broers het ons besoeke baie waardeer en uitsonderlike liefde en gasvryheid aan ons betoon. Hulle het gewoonlik hulle bed aan ons afgestaan en vir ons ’n ete voorberei, al het hulle self bitter min gehad. In party gemeentes het ons elke aand by ’n ander gesin tuisgegaan sodat ons nie ’n las sou wees nie.”
“Dit was die allerwonderlikste ondervinding om as ’n naweekkringopsiener te dien”, sê Šandor Palfi, wat tans op die Landskomitee in Serwië dien, “al was dit moeilik. Broers het gretig uitgesien na ons besoek. Hulle was arm, maar hulle het alles in hulle vermoë gedoen om vir ons die heel beste te gee. Vir hulle was die besoek van die kringopsiener ’n baie spesiale geleentheid.”
Terwyl hy as ’n kringopsiener gedien het, het Miloš Knežević toesig gehou oor die werk van die takkantoor in Joego-Slawië. Gedurende die dekades van die Kommunistiese bewind het broer Knežević gehelp om baie van die aanklagte wat teen ons broers gelê is, op te klaar.
HARTVERBLYDENDE VOORUITGANG IN MASEDONIË
In 1968 het ’n jong man van Kočani, Masedonië, aan ’n kollege in Zagreb gestudeer, waar hy met die waarheid in aanraking gekom het. Terug by die huis het hy sy familielede en vriende van die goeie nuus vertel.
“Daardie jong man was my neef”, vertel Stojan Bogatinov, die eerste persoon van Kočani wat gedoop is. “Ek het as ’n kelner gewerk, en soms het ek en my werksmaats oor godsdiens gepraat. Ná een van ons besprekings het iemand wat aan die Ortodokse Kerk behoort het, daar aangekom vir ’n ete. Terwyl ek hom bedien het, het ek hom gevra of ek by sy kerk ’n Bybel kon kry, want ek wou graag oor God leer. Hy het vir my gesê dat hy vir my een sou probeer bring. Kort voor lank het ek my eie eksemplaar van die ‘Nuwe Testament’ gehad. Ek was so opgewonde dat ek ná werk nie kon wag om by die huis te kom sodat ek dit kon begin lees nie.
“Op pad het ek tot my verbasing my neef raakgeloop, wat van Zagreb af teruggekeer het. Hy het my na sy huis genooi, maar ek het gesê dat ek nie kon kom nie omdat ek baie graag by die huis wou kom om my Bybel te lees. ‘Ek het iets waarin jy sal belangstel’, het my neef geantwoord. ‘By die huis het ek boeke wat jou sal help om die Bybel te verstaan.’ Ons het na sy huis gegaan, en ek was verheug om te sien dat hy die hele Bybel, ’n paar brosjures en ’n paar Wagtorings in Kroaties gehad het. Hy het vir my die publikasies aangebied, en ek het dit dadelik begin lees. Ek het net daar besef dat ek iets spesiaals lees. Ek het geen Getuies van Jehovah geken nie, maar ek wou hulle leer ken.
“Toe my neef teruggegaan het na Zagreb, het ek saamgegaan. Daar het ’n gasvrye Getuie, Ivica Pavlaković, my na sy huis genooi, waar ek drie dae gebly het. Gedurende hierdie tyd het ek baie vrae gevra, en hy het altyd die Bybel gebruik om dit te beantwoord, wat ’n groot indruk op my gemaak het. Ek het ’n gemeentelike vergadering bygewoon en is aangemoedig deur die hartlike broederskap.
“Ivica het my na Bethel in Zagreb geneem, en ek is daar weg met ’n gelukkige hart en arms vol lektuur. Ná net ’n paar onvergeetlike dae het ek na Kočani teruggekeer met die geestelike skat wat ek gevind het. Daar was geen Getuies in my omgewing nie, en ek het dus gereeld met Ivica begin korrespondeer. My briewe was vol vrae, wat hy beantwoord het wanneer hy teruggeskryf het. Ek het al hoe meer geleer en het ander daarvan vertel, en my vrou en kinders het ook belangstelling begin toon. Kort voor lank was ons gesin verenig in die waarheid, en ons het baie Bybelkennis opgedoen. Ons was gelukkig en het ywerig met ons familielede en vriende oor die goeie nuus begin praat; en baie van hulle het na ons geluister. Maar die predikingswerk het ook vervolging meegebring.”
IN EENHEID BY ’N BYEENKOMS IN DUITSLAND
Hoewel ons broers in Joego-Slawië nie so afgesonderd was soos dié in ander Kommunistiese lande nie, was daar min van hulle en het hulle daarna gesmag om die liefde van die wêreldwye broederskap te ondervind. Toe hulle dus hoor dat die “Vrede op aarde”- internasionale byeenkoms in 1969 gehou sou word, het hulle die regering se toestemming gevra om die land te verlaat sodat hulle dit kan bywoon. Stel jou hulle vreugde voor toe hulle versoek toegestaan is!
Die byeenkoms is gehou in ’n groot stadion in Neurenberg, Duitsland, waar Hitler, wat gedreig het om Jehovah se Getuies uit te wis, net ’n paar dekades tevore met sy troepe gespog het. Die program is in baie tale aangebied, en die Joego-Slawiese afgevaardigdes was verheug om uit te vind dat sessies in hulle tale op ’n sportveld naby die hoofstadion gehou sou word. ’n Groot verhoog het die sportveld verdeel sodat die helfte van die byeenkomsgangers, wat aan die een kant gesit het, die program in Serwo-Kroaties kon hoor terwyl die ander helfte, aan die ander kant van die verhoog, dit in Sloweens gehoor het. Hoe het daardie program van agt dae tog die kennis en geloof van die broers laat toeneem!
Treine en busse uit alle dele van Joego-Slawië is bespreek om die afgevaardigdes na Duitsland te neem. “Ons was baie opgewonde om met ons broers en susters verenig te wees”, vertel ’n broer wat van Kroasië af gereis het, “en ons het met trots tekens in ons trein se vensters vertoon wat die byeenkoms geadverteer het.”
Die broers was verheug om Nathan Knorr en Frederick Franz van die wêreldhoofkwartier te sien en te hoor. “Toe hulle na ons deel van die stadion gekom het om groete oor te dra”, vertel een byeenkomsganger, “kon ons skaars ons opgewondenheid beteuel.” Die seëninge wat die Joego-Slawiese broers geniet het, het al die opofferings wat hulle moes maak om daar te wees, verreweg oortref. “Dit het twee maande se salaris gekos om na die byeenkoms te reis”, sê Milosija Simić, wat van Serwië af gekom het, “en dit was moeilik om tien dae verlof te kry. Ek was nie seker of ek nog ’n werk sou hê wanneer ek teruggaan nie, maar ek was vasbeslote om die byeenkoms by te woon. Dit was ongelooflik! Ek kry vandag nog, sowat 40 jaar later, trane van vreugde in my oë wanneer ek daaraan dink.” Nadat die broers met mede-Getuies uit alle dele van Joego-Slawië vergader het om die eenheid van ons internasionale broederskap te ondervind, het hulle na Joego-Slawië teruggekeer, versterk om die uitdagings wat voorgelê het, die hoof te bied.
PLAASLIKE PIONIERS VOORSIEN IN DIE BEHOEFTE
Die Duitse pioniers wat in die vroeë 1930’s daar aangekom het, het ’n groot bydrae gelewer tot die verspreiding van die goeie nuus. Met die toename in verkondigers was daar nou meer Joego-Slawe wat die pionierdiens betree het. Slowenië was byvoorbeeld gereed om ervare pioniers na afgeleë dele van Joego-Slawië te stuur waar meer verkondigers nodig was. Hierdie pioniers het die uitdaging om nuwe tale en kulture te leer, moedig aanvaar.
“Ek het in Priština, die grootste stad in Kosovo, aangekom”, vertel Jolanda Kocjančič. “Die mense daar praat Albanees en Serwies. Hoewel ek en Minka Karlovšek nie een van daardie tale gepraat het nie, het ons besluit om te begin preek, en dít is hoe ons geleer het. By die eerste huis het ons die oudste seun van ’n weduwee van Tsjeggiese afkoms ontmoet. Ons het ons aanbieding begin in Sloweens gemeng met ’n paar Serwiese uitdrukkings en gesê: ‘Ons wil graag met julle as ’n gesin praat oor die goeie nuus in die Bybel.’
“‘Kom binne’, het hy gesê, ‘my ma verwag julle.’
“Toe ons ingaan, het die ma, Ružica, vinnig nadergekom om ons te ontmoet. Sy het verduidelik dat sy 14 dae vroeër tot Jehovah gebid het en hom gevra het om iemand te stuur wat haar van hom kan leer. Haar suster, een van Jehovah se Getuies in wat vandag die Tsjeggiese Republiek is, het in die verlede dikwels voorgestel dat sy Jehovah moet vra om haar te help. Ružica was oortuig dat ons besoek die antwoord op haar gebed is. Terwyl Ružica ons Serwies geleer het, het ons haar die waarheid uit die Bybel geleer. Studente wat by haar geloseer het, het ook die Bybelstudie bygewoon. Een van hulle het vir ons ’n Albanese woordeboek gegee, wat ons gehelp het om daardie taal te leer.”
Zoran Lalović, van Montenegro, was ’n jong seun toe hy ’n Bybel by ’n pionier van Zagreb, Kroasië, gekry het. Vyf jaar later, in 1980, het ’n spesiale pionier van Serwië daar aangekom en met hom gestudeer. “Dit was vir my moeilik om alle bande met my disko-vriende te verbreek”, sê Zoran, “maar toe ek dit uiteindelik gedoen het, het ek vinnig vooruitgang gemaak en is ek ’n paar maande later in Belgrado, Serwië, gedoop. Onmiddellik daarna is ek gevra om die openbare toespraak te hou, aangesien daar so min broers was. Ons het ook al die vergaderinge in die stad Podgorica begin hou.”
IN DIE RYSLANDE GEDOOP
“Wanneer mense gereed was om gedoop te word, het ek hulle gedoop”, het Stojan Bogatinov, van Masedonië, gesê. “Daar was nie ’n bad beskikbaar nie, en die rivier was veels te klein. Maar in ons omgewing is daar baie ryslande met waterkanale. Party was diep en skoon genoeg om mense in te doop. Ek onthou die eerste doopplegtigheid in ’n rysland. Terwyl ons deur die rysland na die kanaal geloop het, het iemand uitgeroep: ‘Ek sien jy het nuwe werkers gekry, Stojan!’
“‘Ja, ja’, het ek geantwoord, ‘daar is baie werk.’ Hulle het glad nie besef dat ons werkers in die geestelike oeswerk in Masedonië is nie.”
Die broers in Masedonië het beperkte kontak met die takkantoor gehad, en hulle moes nog baie oor teokratiese prosedures leer. Stojan Stojmilov het vergaderinge in Duitsland begin bywoon, en by sy terugkeer na Masedonië was hy baie bly om Getuies in Kočani te vind. “Toe ek daar aankom en die broers vertel hoe die vergaderinge in Duitsland gehou word”, vertel hy, “het hulle my dadelik gevra om die Wagtoring-studie sowel as ’n openbare toespraak te hou. Ek het aan hulle verduidelik dat ek nog nie gedoop is nie, maar hulle het daarop aangedring en gesê dat ek die mees bevoegde persoon is. Toe het ek maar ingestem. Uiteindelik het ek en my vrou vooruitgang gemaak, en ons is ook in die ryslande gedoop.”
Veselin Iliev, wat nou as ’n ouer man in Kočani dien, verduidelik: “Ons het nie veel van teokratiese organisasie geweet nie, maar ons was baie lief vir die waarheid.” Mettertyd het Jehovah toegesien dat sake reggestel word. Om maar een ding te noem, die feit dat meer lektuur in Masedonies beskikbaar geword het, het grootliks gehelp om Koninkrykswaarheid te versprei en die gemeentes te versterk.
OORDEELKUNDIGE GEBRUIK VAN GROTER VRYHEID
Aangesien Joego-Slawië nie onder die beheer van Rusland was nie, het mense sekere vryhede geniet wat nie agter die Ystergordyn moontlik was nie. In die laat 1960’s het Joego-Slawië die eerste Kommunistiese land geword wat visums afgeskaf en minder streng grensbeheer toegepas het. Met groter vryheid om te reis, het ons broers in die noorde van Joego-Slawië ons lektuur begin neem na die lande wat gegrens het aan die Sowjetunie, waar die predikingswerk nog verbied was.
Om mee te begin, het hulle die lektuur in vragmotors van Duitsland na Joego-Slawië geneem. Ðuro Landić, wat op die Takkomitee in Kroasië dien, vertel dat hulle huis tot die val van die Sowjetunie as ’n lektuurdepot gebruik is. “Ons gesinsmotors het vals bodems en verskuilde kompartemente in die instrumentpaneel gehad”, sê Ðuro. “Ons het geweet dat ons ons motors kwyt kan wees én in die tronk kan beland as ons gevang word, maar die vreugde van ons broers wanneer hulle die lektuur ontvang het, het dit die moeite werd gemaak.”
Suster Milosija Simić, wat lektuur van Serwië na Bulgarye geneem het, vertel: “Ek het nooit geweet by wie ek die lektuur sou aflewer nie—ek is net ’n adres gegee. Eenkeer het ek van die bus afgeklim en die huis gekry, maar niemand was daar nie. Ek het om die blok geloop en uit ’n ander rigting gekom en weer probeer. Daar was nog steeds niemand nie. Ek het dit deur die loop van die dag omtrent tien keer gedoen, so versigtig moontlik sodat ek nie agterdog sou wek nie. Maar ek kon nooit enigiemand tuis vind nie. Dit was in werklikheid ’n seën, want ek het later uitgevind dat dit nie die regte adres was nie.
“Omdat ek so hard gewerk het om afskrifte van die lektuur te maak en dit oor te tik, was dit vir my ’n dilemma. Ek kon nie die lektuur sommer net weggooi nie. Ek het dus besluit om dit na Serwië terug te neem, waar dit goed gebruik kon word. Maar al het ek ’n retoerkaartjie gehad, moes ek nog ’n kaartjie koop om by die aansluitingstasie te kom. Gewoonlik het die broers wat die lektuur ontvang het, vir my geld gegee om ’n kaartjie te koop wanneer ek die lektuur afgelewer het. Ons het dit gedoen omdat daar ’n beperking was op die bedrag geld wat ek in die land kon inbring. Ek het na die venster van die kaartjieskantoor geloop en gebid dat ek ’n vrou by die toonbank sou vind. Net toe ek daar aankom, het die man by die toonbank weggegaan, en ’n vrou het sy plek ingeneem. Ek het aangebied om haar die klere waarin ons die lektuur toegevou het, in ruil vir ’n kaartjie te gee. Sy het ingestem, en ek het my kaartjie gekry.”
In die vroeë 1980’s het die broers lektuur in Albanees en Masedonies vertaal en die handgeskrewe kopieë na die klein kantoor in Belgrado gestuur. Daar het Milosija ’n tikmasjien en deurslagpapier gebruik om agt afskrifte op ’n slag te maak. Dit was ’n moeilike taak omdat die materiaal met die hand geskryf is en sy die taal nie geken het nie.
JONG BROERS BLY STANDVASTIG
Hoewel ons amptelik godsdiensvryheid gehad het, het die regering ons neutrale standpunt as ’n bedreiging vir die eenheid van Joego-Slawië beskou. Om dié rede het die broers met teenstand te kampe gehad. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het baie broers getrou gesterf weens hulle neutraliteit. Maar gedurende die drie dekades daarna het nie almal dieselfde sterk geloof aan die dag gelê nie. Party het Christelike vergaderinge bygewoon en die Koninkrykswerk ondersteun; maar wanneer hulle opgeroep is, het hulle maniere gevind om hulle deelname daaraan te regverdig.
Die jong broers wat ’n neutrale standpunt ingeneem het, kon tronkvonnisse van tot tien jaar opgelê word. Wat meer is, hulle kon etlike kere gevonnis word voordat hulle 30 geword het. Party van dié wat voor hierdie toetse van onkreukbaarheid te staan gekom en standvastig gebly het, was baie nuut in die waarheid. Baie van hulle is nou verantwoordelike broers wat die leiding neem in die gemeentes.
’N ROERENDE INTERNASIONALE BYEENKOMS
Jehovah se Getuies in Joego-Slawië het nooit tevore die vreugde gehad om die gasheer vir ’n internasionale byeenkoms te wees nie. Stel jou hulle opgewondenheid voor toe die Bestuursliggaam in 1991 aankondig dat een van die “Liefhebbers van vryheid”- internasionale byeenkomste in Zagreb, Kroasië, gehou sou word!
Maar daar was probleme. Vandat Kroasië sy onafhanklikheid van Joego-Slawië aangekondig het, het donker oorlogswolke op die horison saamgepak. Sou dit verstandig wees om ’n byeenkoms te hou? Die veiligheid van buitelandse sowel as plaaslike byeenkomsgangers was van die grootste belang. Ná baie gebed en beraadslaging het die broers besluit om voort te gaan met voorbereidings vir die byeenkoms.
Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam, het ’n paar weke voor die byeenkoms na Kroasië gereis om met die organisering daarvan te help. Omdat alle ander openbare geleenthede in Zagreb gekanselleer is, het die publiek baie belanggestel in wat by die Dinamo-stadion sou plaasvind. Namate die tyd vir die byeenkoms nader gekom het, het die situasie in die land meer onstabiel geraak. Ons broers het die gevare daagliks opgeweeg en herhaaldelik dieselfde vraag gevra: Moet die voorbereidings voortgaan, of moet die byeenkoms gekanselleer word? Die broers het Jehovah voortdurend in gebed gevra vir sy leiding. Die politieke klimaat het verbasend genoeg gestabiliseer, en hulle kon die byeenkoms van 16-18 Augustus 1991 hou.
’n Mens kan jou skaars ’n groter kontras voorstel. Terwyl die omliggende lande op die randjie van ’n gewelddadige konflik gestaan het, het Jehovah se Getuies in Kroasië duisende gaste by die “Liefhebbers van goddelike vryheid”- internasionale byeenkomsb verwelkom. Terwyl baie inwoners uit die land gevlug het, het broers en susters van 15 lande in liefde en vryheid bymekaargekom. Groot groepe het per vliegtuig van die Verenigde State, Kanada en ander Westerse lande gekom. As gevolg van die militêre situasie is die lughawe in Zagreb gesluit en moes vliegtuie in Ljubljana, Slowenië, land. Die afgevaardigdes het daarvandaan per bus na Zagreb gereis. Die moed van die besoekende broers was ’n goeie getuienis vir die bevolking, en hulle teenwoordigheid was ’n waardevolle bron van aanmoediging vir die plaaslike broers. Die grootste groep—ongeveer 3 000 afgevaardigdes—het van Italië gekom. Hulle hartlike liefde en vrolikheid het ’n warm gloed oor die byeenkoms versprei.—1 Tess. 5:19.
Dit was besonder geloofversterkend om vyf lede van die Bestuursliggaam teenwoordig te hê. Tot vandag toe het baie broers aangename herinneringe aan die toesprake van Carey Barber, Lloyd Barry, Milton Henschel, Theodore Jaracz en Lyman Swingle. Hierdie broers, met al hulle jare van ondervinding, het hulle nie deur die onstuimige tye laat afskrik nie, maar het die land moedig binnegegaan om die broers deur middel van opbouende toesprake te versterk.
Weens die politieke onrus was die owerheid bang dat daar etniese botsings tussen byeenkomsgangers uit verskillende dele van Joego-Slawië sou wees. Hoe verlig was hulle tog om te sien hoe die byeenkomsgangers nie net vreedsaam vergader nie, maar ook hartlike, broederlike geneentheid aan die dag lê. Elke dag was daar minder polisiemanne teenwoordig.
Hierdie onvergeetlike byeenkoms het getoon dat Jehovah se Getuies ’n ware internasionale broederskap is. Bepeinsing hieroor sou die broers help om eenheid te behou gedurende die beproewinge wat voorgelê het. Die busse wat die Serwiese en Masedoniese afgevaardigdes huis toe geneem het, was van die laaste voertuie wat toegelaat is om deur die kontrolepunt tussen Kroasië en Serwië te gaan. Nadat ons broers die grens veilig oorgesteek het, is dit gesluit. Baie sê dat die oorlog op dié tydstip begin het.
In die daaropvolgende maande en jare het die republieke wat voorheen deel van Joego-Slawië was, onafhanklike lande met hulle eie regerings geword. Die gevolglike konflik het tienduisende lewens geëis en onbeskryflike lyding veroorsaak. Hoe sou ons broers gedurende hierdie onstuimige tyd vaar? Hoe het Jehovah die Koninkrykspredikingswerk hierna geseën in dié lande wat nou onafhanklik geword het? Kom ons kyk.
Hedendaagse geskiedenis van Bosnië en Herzegowina
“Op 16 Mei 1992 was ’n stuk of 13 van ons in ’n woonstel saamgebondel terwyl mortiere deur die hele Sarajevo ontplof het. Die gebou waarin ons skuiling gesoek het, is deur twee getref. Al was ons van Kroatiese, Serwiese en Bosniese afkoms—dieselfde drie groepe wat mekaar buite doodgemaak het—was ons verenig in rein aanbidding. Teen dagbreek, toe die bomaanvalle afgeneem het, het ons die woonstel verlaat en ’n veiliger plek gaan soek. Soos die vorige aand, het ons hardop tot Jehovah gebid om hulp, en hy het ons verhoor.”—Halim Curi.
Sarajevo, met ’n bevolking van meer as 400 000, was in die greep van een van die langste en verskriklikste beleërings in die hedendaagse geskiedenis. Wat sou ons geestelike broers en susters doen te midde van die etniese en godsdienskonflik wat die land uitmekaargeskeur het? Voordat ons hulle verhaal vertel, kom ons vind eers ’n bietjie meer uit omtrent Bosnië en Herzegowina.
Die land wat as Bosnië en Herzegowina bekend staan, lê in die hartjie van die voormalige Joego-Slawië, omring deur Kroasië, Serwië en Montenegro. Kulturele en familiebande is sterk, en groot klem word op gasvryheid gelê. ’n Gewilde tydverdryf is om Turkse koffie by die bure te geniet of om in die kafići (koffiekroeë) te sit en gesels. Hoewel hulle nie fisies onderskei kan word nie, bestaan Bosnië se bevolking uit Bosniërs, Serwiërs en Kroate. Baie beskou hulleself nie as besonder godsdienstig nie; maar dit is juis godsdiens wat die bevolking verdeel. Die meeste Bosniërs is Moslems, terwyl Serwiërs aan die Serwies-Ortodokse Kerk behoort en Kroate aan die Rooms-Katolieke Kerk.
Die skrikwekkende toename in godsdiensonverdraagsaamheid en etniese haat in die vroeë 1990’s het tot die betreurenswaardige beleid gelei wat etniese suiwering genoem word. Leërs het deur klein dorpies sowel as groot stede beweeg en burgerlikes verdryf om etnies suiwer gebiede vir hulle eie godsdiensgroep te skep. Dit het aanleiding gegee tot toetse van neutraliteit vir ons broers en susters. In Bosnië, soos in die ander lande van die voormalige Joego-Slawië, behoort die meeste mense aan die godsdiens van hulle ouers, en hulle van identifiseer dikwels hulle godsdiensagtergrond. Wanneer opregtes van hart knegte van Jehovah word, word hulle soms as verraaiers van hulle familie en hulle tradisie beskou. Maar ons broers het geleer dat lojaliteit aan Jehovah ’n beskerming is.
’N BELEËRDE STAD
Soos ons gesien het, was die Joego-Slawiese broers diep getref deur die liefde en eenheid wat by die “Liefhebbers van goddelike vryheid”-byeenkoms in 1991 in Zagreb, Kroasië, geopenbaar is. Hierdie onvergeetlike byeenkoms het hulle versterk vir die beproewinge wat voorgelê het. Die een oomblik het Bosniërs, Serwiërs en Kroate nog vreedsaam in Sarajevo saamgelewe. Die volgende oomblik is die stad deur ’n leër omsingel en was almal, insluitende ons broers, vasgekeer. Hoewel die politieke situasie uiters onseker was, kon niemand hulle indink dat die stryd so lank sou voortduur nie.
“Mense ly honger”, het Halim Curi, ’n ouer man in Sarajevo, geskryf. “Elke maand kry hulle net ’n paar [kilogram] meel, [100 gram] suiker en [’n halwe liter] olie. Groente word op enige beskikbare stuk grond in die stad geplant. Mense kap die bome van Sarajevo af vir brandhout. Wanneer daar nie meer bome oor is nie, ruk hulle hulle woonstel se blokkiesvloer uit om dit te gebruik as brandstof om te kook en warm te bly. Hulle gebruik enigiets wat kan brand, selfs ou skoene.”
Toe Sarajevo beleër is, was Ljiljana Ninković en haar man Nenad in die stad vasgekeer en van hulle twee dogters geskei. “Ons was ’n normale gesin met twee kinders, ’n woonstel en ’n motor”, sê Ljiljana. “En toe het alles skielik verander.”
Maar hulle het dikwels Jehovah se beskerming ondervind. “Ons woonstel is twee keer deur ’n bom getref net nadat ons uitgegaan het”, vertel Ljiljana verder. “Ondanks die ontberinge het ons vreugde geput uit eenvoudige dinge. Ons het dit byvoorbeeld geniet om na die park toe te gaan en perdeblomblare te pluk om ’n slaai te maak sodat ons nie net wit rys het om te eet nie. Ons het geleer om tevrede te wees met wat ons het en niks as vanselfsprekend aan te neem nie.”
FISIESE EN GEESTELIKE BEHOEFTES
Een van die grootste probleme was om water te kry. Daar was bitter selde lopende water in die huise. Mense moes tot vyf kilometer ver loop deur gebiede waar sluipskutters baie aktief was, om water te gaan haal. By die watervoorsieningspunt moes hulle ure lank toustaan om hulle houers vol te maak, en dan moes hulle met hulle swaar vrag huis toe sukkel.
“Die toets het gekom toe ons gehoor het dat huise vir ’n kort rukkie water sou hê”, vertel Halim. “Dan moes almal stort, klere was en soveel houers as moontlik vol water maak vir later. Maar sê nou hierdie langverwagte oomblik was op dieselfde tyd as ons gemeentelike vergadering? Ons sou moes besluit—óf ons gaan vergadering toe, óf ons bly by die huis om water te kry.”
Al was fisiese dinge noodsaaklik, het die broers besef hoe belangrik geestelike dinge is. By die vergaderinge het die broers nie net geestelike voedsel gekry nie, maar ook besonderhede oor wie in die tronk was, wie beseer is of selfs wie doodgemaak is. “Ons was soos ’n gesin”, vertel Milutin Pajić, wat as ’n gemeentelike ouer man dien. “Ná vergaderinge wou ons nie huis toe gaan nie. Ons het meestal nog ure ná die vergadering oor die waarheid gestaan en gesels.”
Die lewe was nie maklik nie, en die broers het dikwels gevrees vir hulle lewe. Nietemin het hulle geestelike belange eerste gestel. Terwyl die oorlog die land uitmekaargeskeur het, het Jehovah se volk nader aan mekaar en nader aan hulle hemelse Vader gekom. Kinders het hulle ouers se lojaliteit gesien en self ook onwrikbare lojaliteit aan Jehovah opgebou.
Die dorp Bihać, naby die grens van Kroasië, was byna vier jaar lank van die buitewêreld afgesny. Mense kon nie uitkom nie, en noodlenigingsvoorraad kon nie ingeneem word nie. “Dit was aan die begin van die oorlog die moeilikste”, vertel Osman Šaćirbegović, die enigste broer in hierdie dorp, “nie soseer weens die moeilike situasie nie, maar omdat ons met iets nuuts te doen gehad het, iets wat ons nog nooit tevore ondervind het nie. Interessant genoeg, toe die bombardering begin het, is die spanning verlig omdat ons gou besef het dat nie elke granaat doodmaak nie. Party granate ontplof nie eens nie.”
Omdat niemand kon voorspel hoe lank die gevegte sou voortduur nie, het die Bethel in Zagreb, Kroasië, en in Wene, Oostenryk, pogings gekoördineer om noodlenigingsvoorraad te berg in Koninkryksale en Getuies se huise in Sarajevo, Zenica, Tuzla, Mostar, Travnik en Bihać. Gedurende die oorlog is stede skielik omsingel en afgesny. Omdat die toevoer van produkte onverwags afgesny is, het voorrade vinnig opgeraak. Maar al was etlike dorpe in Bosnië van die res van die wêreld afgesny, kon die broederlike eenheid van Jehovah se Getuies nie verbreek word nie. Dit het ’n dramatiese kontras gevorm met die etniese en godsdienshaat wat soos ’n veldbrand deur die land versprei het.
YWERIG MAAR VERSIGTIG
Benewens die uitdagings om daaglikse lewensbenodigdhede te vind, was daar die gevaar van sluipskutters in Sarajevo wat onskuldige inwoners na willekeur doodgeskiet het. Dodelike mortieraanvalle het steeds baie lewens geëis. By tye was dit gevaarlik om in beleërde dorpe rond te beweeg. Mense het in voortdurende vrees gelewe. Nietemin was ons broers moedig maar verstandig en het hulle nie opgehou om die goeie nuus van die Koninkryk aan mense te verkondig wat ’n dringende behoefte aan vertroosting gehad het nie.
“Gedurende een van die ergste aanvalle op Sarajevo”, vertel ’n ouer man, “het duisende bomme in net een dag ontplof. Daardie Saterdagoggend het die broers die ouer manne gebel en gevra: ‘Waar ontmoet ons vir velddiens?’”
“Ek het gesien dat mense die waarheid dringend nodig het”, sê een suster. “Juis dít het my gehelp om nie net te volhard nie, maar ook vreugdevol te bly ten spyte van moeilike omstandighede.”
Baie van die plaaslike inwoners het besef dat hulle die Bybel se hoop nodig het. “Ons hoef nie na mense te soek nie”, het een broer gesê, “hulle soek na ons om geestelike hulp te kry. Hulle daag eenvoudig by die Koninkryksaal op en vra vir ’n studie.”
Die sukses van die predikingswerk gedurende die oorlog was hoofsaaklik te danke aan die eenheid van ons Christenbroederskap, wat mense eenvoudig nie kon miskyk nie. “Dit was ’n groot getuienis”, vertel Nada Bešker, ’n suster wat al jare lank as ’n spesiale pionier dien. “Baie het gesien dat Bosniese en Serwiese broers saam werk in die bediening. En wanneer hulle ’n Kroatiese suster en ’n suster wat voorheen ’n Moslem was, met ’n Serwiër sien studeer het, moes hulle eenvoudig erken dat ons anders is.”
Die resultate van ons broers se ywer kan vandag nog gesien word, want baie wat Jehovah nou dien, het die waarheid gedurende die oorlog aangeneem. Byvoorbeeld, die gemeente in Banja Luka het verdubbel, al het honderd verkondigers na ander gemeentes getrek.
’N GETROUE GESIN
Ons broers was altyd baie versigtig. Nietemin is party deur “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” getref wanneer hulle onvermydelik op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was (Pred. 9:11). Božo Ðorem, van Serwiese afkoms, is in 1991 by die internasionale byeenkoms in Zagreb gedoop. Nadat hy na Sarajevo teruggekeer het, is hy ’n hele paar keer in die tronk gestop, waar hy weens sy neutrale standpunt sleg behandel is. In 1994 is hy tot 14 maande tronkstraf gevonnis. Wat vir hom die ergste was, was om van sy vrou, Hena, en hulle vyfjarige dogtertjie, Magdalena, geskei te wees.
Kort nadat Božo uit die tronk vrygelaat is, het iets tragies gebeur. Een stil namiddag het die drie van hulle ’n Bybelstudie naby hulle huis gaan hou. Op pad soontoe is die stilte skielik deur die ontploffing van ’n artilleriegranaat verbreek. Hena en Magdalena is op slag dood, en Božo het later in die hospitaal gesterf.
CHRISTELIKE NEUTRALITEIT
In daardie klimaat van vooroordeel was daar weinig of geen verdraagsaamheid ten opsigte van neutraliteit nie. Die gemeente in Banja Luka het grotendeels bestaan uit jong broers wat die militêre owerheid in die oorlog wou laat veg. Omdat hulle neutraal gebly het, is hulle geslaan.
“Die polisie”, vertel Osman Šaćirbegović, “het ons dikwels ondervra en ons lafaards genoem omdat ons nie ons gesin verdedig nie.”
Osman het só met die polisie geredeneer: “Jou geweer is vir jou ’n beskerming, nie waar nie?”
“Dis reg”, het die polisieman geantwoord.
“Sal jy dit verruil vir ’n kanon om groter beskerming te geniet?”
“Ja.”
“Sal jy ’n kanon vir ’n tenk verruil?”
“Natuurlik.”
“Jy sal dit alles doen om groter beskerming te hê”, het Osman gewoonlik gesê. “My beskerming kom van Jehovah, die almagtige God, die Skepper van die heelal. Is daar enige groter beskerming?” Die punt was duidelik, en die polisie het hom dan laat gaan.
NOODLENIGINGSVOORRAAD DAAG OP
Hoewel die broers in nabygeleë lande geweet het dat Bosniese Getuies swaarkry, was dit ’n tyd lank nie moontlik om noodlenigingsvoorraad by die behoeftige broers te kry nie. Toe het die owerheid in Oktober 1993 aangedui dat die moontlikheid bestaan dat noodlenigingsvoorraad ontvang kan word. Ten spyte van die gevare het ons broers besluit om hierdie geleentheid ten volle te benut. Op 26 Oktober het vyf vragmotors met 16 ton kos en brandhout uit Wene, Oostenryk, na Bosnië vertrek. Hoe sou die konvooi deur al die gebiede kom waar hewige gevegte nog gewoed het?c
Tydens die reis was die broers soms in groot gevaar. “Ek het daardie oggend laat vertrek”, vertel een van die bestuurders, “en was agter ’n hele paar ander vragmotors wat noodlenigingsvoorraad afgelewer het. Toe ek by een van die kontrolepunte kom, het al die vragmotors stilgehou sodat die beamptes hulle dokumente kon nagaan. Skielik het ek die geluid van ’n sluipskutter se geweer gehoor, en ons het gesien dat ’n bestuurder wat nie ’n Getuie is nie, geskiet is.”
Net die bestuurders is toegelaat om Sarajevo met hulle vragmotors binne te gaan; die ander broers wat saamgery het, moes dus buite die stad wag. Vasbeslote om die plaaslike broers aan te moedig, het hulle ’n telefoon gevind, die verkondigers in Sarajevo gebel en ’n broodnodige, bemoedigende openbare toespraak gehou. Reisende opsieners, Betheliete en lede van die Landskomitee het dikwels gedurende die oorlog hulle lewe gewaag om hulle broers te help om fisies aan die lewe en geestelik sterk te bly.
Dit was byna vier jaar lank onmoontlik om voorrade by ons broers in Bihać te kry. Hoewel fisiese voedsel nie verby die versperrings kon kom wat die dorp afgesny het nie, kon ons broers wel ’n bietjie geestelike voedsel ontvang. Hoe? Hulle het toegang tot ’n telefoonlyn en ’n faksmasjien gekry, wat hulle in staat gestel het om van tyd tot tyd Ons Koninkryksbediening en eksemplare van Die Wagtoring te ontvang. Hulle het die lektuur oorgetik en vir elke gesin een eksemplaar gegee. Aan die begin van die oorlog was daar net ’n klein groepie van drie gedoopte verkondigers. Twaalf ongedoopte verkondigers wat met hulle geassosieer het, het twee jaar lank gretig gewag vir ’n gepaste geleentheid om hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop te simboliseer.
Dit was ’n uitdaging om soveel jare afgesonder te wees. “My Bybelstudente het nooit ’n byeenkoms bygewoon of die besoek van ’n kringopsiener gehad nie”, vertel Osman. “Ons het dikwels gepraat oor ’n tyd wanneer ons ons broederskap sal kan geniet.”
Stel jou die broers se blydskap voor toe twee voertuie, met “Noodlenigingsvoorraad vir Jehovah se Getuies” in groot letters daarop geskryf, op 11 Augustus 1995 in Bihać aangekom het. Dit was die eerste privaat voertuie wat noodlenigingsvoorraad gebring het sedert die stad beleër is! En hulle het gekom net toe die broers gevoel het dat hulle fisies en verstandelik byna breekpunt bereik het.
Bure in Bihać het gesien hoe die broers liefde aan mekaar betoon deur byvoorbeeld gebreekte vensters reg te maak. “My bure was beïndruk”, sê Osman, “omdat hulle geweet het dat ons niks geld het nie. Dit was ’n groot getuienis waaroor hulle nou nog praat.” Vandag is daar ’n ywerige gemeente met 34 verkondigers en 5 pioniers in Bihać.
’N ONVERGEETLIKE RIT!
Ons broers het herhaaldelik hulle lewe gewaag om kos en lektuur na die oorloggeteisterde dorpe van Bosnië te neem. Maar die rit op 7 Junie 1994 sou anders wees. ’n Konvooi van drie vragmotors met lede van die Landskomitee en ander werkers het vroeg daardie oggend uit Zagreb, Kroasië, vertrek. Die doel was om noodlenigingsvoorraad af te lewer en ’n verkorte spesiale byeenkomsdag te hou, die eerste in drie jaar!
Een van die plekke waar hierdie spesiale program aangebied sou word, was die stad Tuzla. Aan die begin van die oorlog was daar net omtrent 20 gedoopte verkondigers in die gemeente. Wat ’n verrassing was dit tog om meer as 200 te sien vergader om na die byeenkomsprogram te luister! Dertig is gedoop. Vandag is daar drie gemeentes en meer as 300 verkondigers in Tuzla.
In Zenica het die broers ’n geskikte vergaderplek gevind, maar hulle het gesukkel om ’n doopbad te kry. Ná ’n groot gesoek het hulle uiteindelik ’n vat gevind wat gebruik kon word. Die enigste probleem was die reuk—daar was voorheen vis in die vat! Maar dit het nie die doopkandidate afgeskrik wat Jesus se uitnodiging aanvaar het om “vissers van mense” te word nie (Matt. 4:19). Herbert Frenzel, wat nou ’n lid van die Takkomitee in Kroasië is, het die dooptoespraak gehou. “Die kandidate het so lank gewag om gedoop te word”, vertel hy, “dat niks hulle kon keer nie! Ná hulle doop het hulle soos oorwinnaars gevoel!” Vandag is daar ’n ywerige gemeente met 68 verkondigers in Zenica.
In Sarajevo kon die byeenkoms net naby ’n kruising gehou word waar sluipskutters op mense geskiet het. Nadat die broers veilig by die byeenkoms aangekom het, moes hulle nie net ’n plek vir die doopplegtigheid vind nie, maar ook ’n manier om so min as moontlik van die kosbare water te vermors. Om te verseker dat daar genoeg water sou wees vir al die kandidate om gedoop te word, moes hulle volgens hulle grootte in ’n ry staan en is hulle van die kleinste tot die grootste gedoop!
Wat ’n vreugdevolle dag was dit tog vir ons broers en susters! Hulle het nie toegelaat dat enige van die verskriklike gebeure wat om hulle plaasvind, hulle groot vreugde om saam te aanbid, demp nie. Vandag is daar drie florerende gemeentes in Sarajevo.
NÁ DIE STORM
Toe produkte weer ingebring kon word, het die lewe vir ons broers en susters in sekere opsigte makliker geword. Maar etniese suiwering, wat met gedwonge uitsettings gepaard gegaan het, het steeds plaasgevind. Ivica Arabadžić, ’n ouer man wat in Kroasië dien, onthou nog hoe sy gesin uit hulle huis in Banja Luka gedwing is. “’n Man het met ’n geweer gekom en vir ons gesê om pad te gee, want dit is nou sy huis. Hy is gedwing om sy huis in Šibenik, Kroasië, te verlaat omdat hy ’n Serwiër is. Nou wou hy hê ons moet padgee. ’n Militêre polisiebeampte met wie ek gestudeer het, het ingegryp. Al kon ons nie ons huis hou nie, kon ons wel huise ruil—ons huis vir die Serwiër se huis. Dit was moeilik om ons huis te verlaat, sowel as die gemeente wat ons gehelp het om die waarheid te leer, maar ons het nie veel van ’n keuse gehad nie. Ons het met net ’n paar goed na ons ‘nuwe’ huis in Kroasië getrek. Maar toe ons in Šibenik aankom, het iemand reeds ingetrek in die leë huis wat nou aan ons behoort het. Wat kon ons doen? Ons broers het ons onmiddellik verwelkom, en ’n ouer man het ons ’n jaar lank by hom laat bly totdat ons huisprobleem opgelos is.”
Die politieke situasie is vandag nog onstabiel, maar die waarheid floreer in Bosnië en Herzegowina, waar byna 40 persent van die bevolking Moslems is. Sedert die einde van die oorlog het ons broers nuwe Koninkryksale gebou. Een hiervan, in Banja Luka, is meer as net ’n vergaderplek wat dringend nodig was. Dit verteenwoordig ’n wetlike oorwinning. Ons broers het jare lank toestemming probeer kry om ’n Koninkryksaal in hierdie gebied te bou waar die Serwies-Ortodokse Kerk ’n sterk invloed het. Ná die oorlog is die broers in Bosnië wetlike erkenning gegee, maar hulle aansoek om ’n Koninkryksaal in Banja Luka te bou, is afgekeur. Ná baie gebede en groot moeite het die broers uiteindelik die nodige dokumentasie verkry. Hierdie oorwinning het ’n wetlike presedent geskep vir toekomstige Koninkryksale in hierdie deel van Bosnië en Herzegowina.
Vryheid van aanbidding het dit vir 32 spesiale pioniers, van wie baie uit ander lande kom, moontlik gemaak om na gebiede gestuur te word waar hulp nodig is. Hulle ywer vir die bediening sowel as hulle lojaliteit aan teokratiese prosedures is ’n ware seën.
In Sarajevo, waar ons broers net ’n dekade gelede nog sluipskutters se koeëls moes probeer ontwyk, word daar nou vreedsame streekbyeenkomste gehou vir byeenkomsgangers uit alle dele van die voormalige Joego-Slawië. Hoewel die oorloë van die afgelope eeu verwoesting gesaai in hierdie pragtige, bergagtige land, het Jehovah se knegte steeds nader aan mekaar gekom in ’n band van “ongeveinsde broederlike geneentheid” (1 Pet. 1:22). Vandag is daar in Bosnië en Herzegowina 16 gemeentes met 1 163 verkondigers wat die ware God, Jehovah, in eenheid loof.
Hedendaagse geskiedenis van Kroasië
Ná die internasionale byeenkoms in Zagreb in 1991 is die grens tussen Kroasië en Serwië skielik gesluit. Belangrike paaie en brûe is vernietig of deur die leër versper, en baie van die byeenkomsgangers uit die ooste van Kroasië kon nie teruggaan huis toe nie. Baie Getuies in ander dele van die land het hartlike broederliefde betoon deur daardie broers te huisves, al het hulle self maar min op materiële gebied gehad.
In Zagreb het sirenes dag en nag geloei om inwoners teen bomaanvalle te waarsku. Mense het inderhaas skuiling gesoek, en party moes weke of maande lank daar bly. Omdat die kelder by Bethel ’n veilige plek was, het die stadsowerheid besluit dat dit as ’n bomskuiling gebruik moes word. Dit het uitstekende geleenthede geskep om ’n getuienis te gee, en mense het meer gekry as net die fisiese beskutting wat hulle gesoek het. Byvoorbeeld, eendag het die sirenes afgegaan, en soos gewoonlik het mense hulle vanaf ’n plaaslike trem na die skuilplek onder Bethel gehaas. Terwyl almal angstig gewag het, het ’n ouer man wat by Bethel dien, gevra of hulle na ’n skyfievertoning wou kyk oor die internasionale byeenkoms wat ’n paar maande vroeër in Zagreb gehou is. Hulle het almal ingestem, en ná die vertoning het hulle hulle waardering daarvoor uitgespreek.
Weens die gevegte was dit ’n groot uitdaging om vergaderinge by te woon, en party Koninkryksale is ongelukkig deur koeëls of granate beskadig. Maar die broers het die geestelike voedsel meer as ooit waardeer, en hierdie dierbare broers het ‘nie hulle onderlinge vergadering nagelaat nie’ (Heb. 10:25). Byvoorbeeld, Šibenik is ses maande lank met vuurpylaangedrewe granate gepeper, wat dit vir die broers onmoontlik gemaak het om by die Koninkryksaal te vergader. “Ons het buite die stad gewoon”, verduidelik een van die ouer manne, “en daarom het ons by my huis bymekaargekom vir die boekstudie en die Wagtoring-studie. Ten spyte van die toestande het ons nie minder in die predikingswerk gedoen nie. Ons het in ons omgewing sowel as in die omliggende dorpies gepreek. Almal het geweet dat ons Jehovah se Getuies is. Hulle het geweet ons is anders.”
BROEDERLIEFDE IN OORLOGSTYD
Baie van die broers wat hulle huise verloor het, het by ander skuiling gesoek, en die gemeentes het met graagte al die nodige hulp verleen. Byvoorbeeld, by die Koninkryksaal in Osijek, Kroasië, het die broers ’n nuwe gesin wat kort tevore onder baie moeilike omstandighede uit Tuzla, Bosnië, ontsnap het, hartlik verwelkom. Die gemeente was verheug om uit te vind dat die vrou hulle geestelike suster is.
Die owerheid het die gesin toestemming gegee om in ’n huis in te trek, maar dit was oud en verwaarloos. Toe die broers die vervalle toestand van die huis sien, het hulle ingespring en gehelp. Die een het ’n stoof gebring, iemand anders ’n venster, en nog ander ’n deur en ’n bed. Party het boumateriaal gebring, en ander het kos en brandhout gegee. Teen die volgende dag was een kamer leefbaar. Maar die huis was nog steeds nie goed genoeg dat die gesin gedurende die winter daar kon bly nie. Die gemeente het dus ’n lys gemaak van dinge wat nog nodig was, en verskillende verkondigers het gegee wat hulle kon. Al was hulle self arm, het hulle alles wat nodig was, ingesamel—van lepels tot dakmateriaal.
Tydens die oorlog is die kosvoorraad vinnig opgebruik, en die tak het hard gewerk om in die materiële sowel as die geestelike behoeftes van die broers te voorsien. In samewerking met die Bestuursliggaam het die tak gereël om kos, klere, skoene en mediese voorraad in te samel. Aan die begin het die hulp hoofsaaklik van plaaslike broers gekom, maar weens hulle eie probleme kon hulle nie eintlik baie gee nie. Intussen het broers in Duitsland, Italië, Oostenryk en Switserland baie klere en mediese voorraad, sowel as geestelike voorsienings, geskenk. Vragmotors het dag en nag hier aangekom, bestuur deur vrywilligers wat die behoeftes van hulle Kroatiese broers belangriker geag het as hulle eie veiligheid. Hierdie voorrade is van die sentrale bergplek in Zagreb na behoeftige gemeentes gestuur.
Die broers in Kroasië het hulp gekry, maar hoe kon hulle nou hulle broers in Bosnië help? Vragmotors met 16 ton kos en brandhout het na die Bosniese grens vertrek. Dit was ’n gevaarlike onderneming, want daar was baie berigte oor ongemagtigde militêre operasies. As hulle enige van die groepe wat hierby betrokke was, teëgekom het, kon dit lei tot die verlies van die noodlenigingsvoorraad sowel as die dood van diegene wat dit vervoer.
“Ons rit was deur ’n beboste gebied”, vertel een broer, “deur een kontrolepunt na die ander en soms al langs gevegslinies. Ten spyte van die gevaar het ons veilig in Travnik, Bosnië, aangekom. ’n Soldaat wat van ons aankoms gehoor het, het na die huis gehardloop waar die broers bymekaar was. ‘Julle mense is hier met hulle vragmotors’, het hy uitgeroep. Jy kan jou voorstel hoe bly hulle was. Ons het kos in die huis ingedra, ’n paar woorde gewissel en moes toe gou weer in die pad val. Ons moet nog na ander plekke gaan.”
Baie broers het na Bethel in Zagreb geskryf om hulle waardering uit te spreek vir die hulp wat hulle ontvang het. “Baie dankie vir julle harde werk om seker te maak dat ons al die geestelike voedsel gereeld kry”, het een gemeente geskryf. “Ons wil julle ook bedank vir die noodlenigingsvoorraad wat ons ontvang het; die broers het dit regtig nodig. Dankie uit die diepte van ons hart vir al julle moeite en liefdevolle besorgdheid.”
“’n Hele aantal broers is vlugtelinge”, het ’n ander brief gesê, “en party broers het geen inkomste nie. Toe hulle die hulp ontvang en sien hoe oorvloedig dit is, het hulle oë vol trane geskiet. Die liefdevolle besorgdheid, die vrygewigheid en die onselfsugtigheid van hulle broers het ’n groot indruk op hulle gemaak en hulle bemoedig.”
Gedurende hierdie moeilike tye is spesiale pogings aangewend om ons broers van geloofversterkende geestelike voedsel te voorsien. Dit was ook duidelik dat Jehovah se gees hulle beslis help, nie net om hierdie traumatiese ontberinge te verduur nie, maar ook om geestelik sterker te word.—Jak. 1:2-4.
’N BEMOEDIGENDE BOODSKAP VAN HOOP
Hoewel humanitêre organisasies soveel materiële bystand gegee het as wat hulle kon, het net Jehovah se Getuies hulp voorsien wat blywende verligting gebring het. Ons broers het nie net gesit en wag dat die oorlog tot ’n einde kom nie; hulle het alles in hulle vermoë gedoen om die goeie nuus van die Koninkryk aan ander bekend te maak.
In Vukovar, naby die grens van Serwië, waar van die ergste verwoesting plaasgevind het, moes die grootste deel van die bevolking, ons broers inkluis, uit die stad vlug. Daar was egter een suster, Marija, wat agtergebly het. Die broers in Kroasië het vier jaar lank geen kontak met haar gehad nie, maar sy het ywerig aangehou om te preek vir die handjievol mense wat in die stad oorgebly het. En haar ywer is ryklik beloon! Stel jou die verbasing van die Kroatiese broers voor toe hulle by die streekbyeenkoms in 1996 ’n groep van 20 uit Vukovar sien!
Ons boodskap van hoop het ook die krag om lewens te verander. Aan die begin van die oorlog het ’n jong soldaat vinnig vooruitgang gemaak in ’n keureenheid van die Kroatiese leër. In 1994, terwyl hy vir ’n trein gewag het, het iemand vir hom die traktaat Wie heers werklik oor die wêreld? gegee. Hy het die traktaat gretig gelees en gesien dat Satan, en nie Jehovah God nie, verantwoordelik is vir die geweld wat teen mense gepleeg word. Hierdie waarhede het ’n ontsaglike indruk op hom gemaak. Een van die redes waarom hy ’n soldaat geword het, was om wraak te neem vir die moord op sy 19-jarige suster en twee ander familielede wat gedurende die oorlog doodgemaak is. Al het hy reeds planne gemaak om na die dorpie te gaan waar die moordenaars gewoon het, het die traktaat hom laat dink. Hy het die Bybel begin studeer, en nadat hy hom ’n paar jaar lank daarop toegelê het om die nuwe persoonlikheid aan te kweek, is hy in 1997 gedoop. Hy het uiteindelik wel na die dorpie gegaan waar die moordenaars van sy familielede gewoon het. Maar in plaas daarvan om wraak te neem, was hy bly om die goeie nuus van God se Koninkryk na mense te neem wat van God se barmhartigheid moes leer.
Die verkondigers se ywer vir die bediening, selfs tydens die hewigste konflikte, het opwindende vermeerderings in Kroasië tot gevolg gehad. Vanaf die begin van die oorlog in 1991 tot die einde daarvan in 1995 het die aantal pioniers met 132 persent toegeneem. Bybelstudies het met 63 persent toegeneem, en die aantal verkondigers het met 35 persent vermeerder. Ja, die plaaslike broers het God se Woord moedig verkondig, en Jehovah het hulle pogings ryklik geseën.
SELFOPOFFERENDE WERKERS
Kort voor die internasionale byeenkoms in 1991 het die eerste Gileadopgeleide sendelinge, Daniel en Helen Nizan, van Kanada, in die land aangekom. Egpare uit ander Europese lande wat die plaaslike taal geleer het, is ook genooi om in Kroasië te dien.
Een van hierdie egpare, Heinz en Elke Polach, van Oostenryk, het as spesiale pioniers in die Joego-Slawiese veld in Denemarke gedien toe hulle in 1991 na Kroasië genooi is. Die oorlog het uitgebreek net toe hulle met die reisende werk begin het. Hulle eerste kring het die Dalmatiese kus en dele van Bosnië ingesluit, wat alles deur die oorlog geraak is. “Gedurende die oorlog was dit ’n uitdaging om ons besoeke in Bosnië te doen”, het Heinz gesê. “Weens die gevare kon ons nie ons eie voertuig gebruik nie en moes ons op die onbetroubare busdiens staatmaak. Ons kon nie veel saamdra nie—net ’n paar koffers en ’n tikmasjien.
“Ons moes vindingryk wees. Toe ons eenkeer tussen Tuzla en Zenica gereis het, het soldate ons bus voorgekeer. Hulle het vir ons gesê dat dit te gevaarlik is om verder te gaan. Almal op die bus moes afklim. Maar ons het geweet dat ons broers in Zenica vir ons wag, en daarom het ons ander mense begin vra of hulle ons kan saamneem. Uiteindelik het ’n konvooi petroltenkwaens wat die regte dokumente gehad het, ingestem om ons te neem. Ons het die reistyd gebruik om vir die bestuurder te getuig, en hy het aandagtig geluister.
“Ons moes weer weens gevegte stop, en ons moes agterpaaie gebruik. Hierdie paaie was in ’n slegte toestand, en die sneeu het sake vererger. Ons moes dikwels stilhou om ander vragmotors te help wat vasgeval het. Eenkeer is daar op ons geskiet, en ons moes vinnig uit die omgewing padgee. Ons het tot by Vareš, omtrent 50 kilometer van ons bestemming af, gevorder en moes daar oornag.
“Die bestuurder het op die sitplek gelê en slaap, terwyl ek en Elke agter in die kajuit styf teen mekaar gesit het om te probeer warm bly. Dit was die langste nag van my lewe. Maar toe ons die volgende dag uiteindelik in Zenica aankom, was die broers baie bly om ons te sien! Dit was die moeite werd! Al het hulle nie lopende water of elektrisiteit gehad nie, het hulle alles in hulle vermoë gedoen om gasvryheid aan ons te betoon. Hulle was materieel arm maar geestelik ryk en het ’n liefde vir die waarheid geopenbaar wat deur niks gestuit kon word nie.”
Sedert die oorlog is byna 50 spesiale pioniers uit Duitsland, Italië, Oostenryk en ander lande na Kroasië gestuur. Later het Jehovah se organisasie verdere versterkende hulp en aanmoediging voorsien deur nog sendelinge te stuur. Hierdie ywerige voltydse dienaars was nog altyd ’n groot hulp, in die veld sowel as in die gemeentes.
“EK KAN NIE GLO DAT EK HIERDIE DAG BELEEF HET NIE!”
Tot die laat 1980’s is ’n maandelikse uitgawe van Die Wagtoring uit Duits in Kroaties vertaal deur broers wat buite Bethel gewoon het. Maar vanaf 1991 is vertaling deur ’n span by Bethel gedoen. Later het die Bestuursliggaam toestemming gegee om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte te begin vertaal. Tot op daardie stadium is ’n 150 jaar oue Bybelvertaling gebruik, met verouderde taal en heelwat onbekende uitdrukkings. Die Kroatiese span het die voortou geneem en het ten nouste saamgewerk met die Serwiese en Masedoniese vertaalspanne. Almal het baat gevind by mekaar se werk en navorsing.
Vrydag 23 Julie 1999 is ’n dag wat Jehovah se Getuies in Kroasië sowel as Bosnië en Herzegowina, Montenegro, Serwië en Masedonië nog lank sal onthou. By al vier “God se profetiese woord”-streekbyeenkomste is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte gelyktydig in Kroaties en Serwies vrygestel, en daar is vir die gehoor gesê dat die werk aan die Masedoniese vertaling goed vorder. Weens die dawerende applous kon die sprekers ’n hele paar minute lank nie verder praat nie. Die byeenkomsgangers se vreugde het geen perke geken nie, en baie van hulle kon nie hulle trane van vreugde keer nie. “Ek kan nie glo dat ek hierdie dag beleef het nie!” het ’n ouer man wat al lank dien, gesê. In 2006 is die volledige Bybel is in al drie die tale vrygestel.
Tot 1996 het ’n Landskomitee, onder toesig van die takkantoor in Oostenryk, na die werk van Jehovah se Getuies in Kroasië en in Bosnië en Herzegowina omgesien. In 1996 is ’n Takkomitee met vier lede aangestel om toesig te hou oor die predikingswerk in hierdie gebiede, en Jehovah se seën op dié reëling is duidelik.
NUWE TAKFASILITEITE EN KONINKRYKSALE
Soos op ander plekke het teokratiese groei ’n wesenlike uitwerking op die Bethelgesin in Zagreb, Kroasië, gehad. Die gesin het van 10 tot omtrent 50 gegroei. Maar aangesien die Bethelhuis net groot genoeg was vir vier of vyf egpare, moes nog kamers daar naby gehuur word.
Nie lank nadat die Takkomitee gevorm is nie, het die Bestuursliggaam hulle opdrag gegee om grond vir ’n nuwe Bethelhuis in Zagreb te koop. Kort daarna het plaaslike vrywilligers en internasionale dienaars pragtige fasiliteite gebou wat nog baie jare lank sou help om Koninkryksbelange te bevorder. Op Saterdag 23 Oktober 1999 is die nuwe takfasiliteite en Koninkryksaal toegewy, sowel as ’n dubbele Koninkryksaal in die middel van Zagreb. Afgevaardigdes uit 15 lande het dit bygewoon, onder andere broer Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam, wat die toewydingstoespraak gehou het. Die volgende dag het 4 886 vergader vir ’n aangename geestelike program in ’n groot sportsaal. Wat ’n onvergeetlike dag was dit tog vir Jehovah se knegte in Kroasië—onder wie daar party is wat Jehovah al 50 jaar of langer getrou gedien het, en dít gedurende van die moeilikste tye in die moderne geskiedenis!
’n Uitgebreide program om nuwe Koninkryksale te bou, is ook aan die gang. Tot 1990 het baie gemeentes in kelders of privaat woonstelle vergader. Byvoorbeeld, ’n gemeente in Split het 20 jaar lank in ’n klein vertrekkie in ’n privaat huis bymekaargekom. Al was daar net 50 stoele, was daar soms twee keer soveel mense en moes baie buite staan. Kring- en streekbyeenkomste is ook daar gehou, met 150 of meer teenwoordig. Vandag het Split vier gemeentes, wat twee pragtige Koninkryksale gebruik. As gevolg van die vermeerdering in verkondigers word ’n hotel se konferensiesaal vir byeenkomste gebruik. Die Koninkryksaalbouafdeling, onder toesig van die Streekingenieurskantoor in Selters, Duitsland, organiseer steeds die oprigting van praktiese en aantreklike Koninkryksale.
Jonk en oud het hulle beskikbaar gestel om Koninkryksale te help bou en het ontsaglik baie werk verrig. Tot dusver is 25 nuwe Koninkryksale gebou, en nog 7 is opgeknap. Dit het tot die uitbreiding van die Koninkrykswerk bygedra, alles tot lof van Jehovah.
DIE KONINKRYKSWERK VORDER MET RASSE SKREDE
Toe Kroasië in 1991 onafhanklik geword het, het die regering die vorige wette in verband met godsdiens behou totdat nuwe wette uitgevaardig kon word. Die nuutgevormde Staat was bykans 90 persent Katoliek. Gevolglik het die geestelikes ’n aansienlike invloed op die regering gehad. Maar weens die wetlike status wat Jehovah se Getuies in die verlede gehad het en danksy ons broers se uitstekende reputasie, het die Departement van Justisie op 13 Oktober 2003 besluit dat Jehovah se Getuies van daardie tyd af as ’n godsdiensgemeenskap in Kroasië erken sou word. Hoe verheug was Jehovah se knegte tog om ná al die jare van ontberinge wetlik erken te word in Kroasië!
In die vroeë 1990’s het al die lande van die voormalige Joego-Slawië net een Pionierskool gehou; nou is daar in Kroasië alleen elke jaar ’n hele paar klasse. In September 2008 was Kroasië verheug om 5 451 verkondigers te hê wat in 69 gemeentes georganiseer is. En die Gedenkmaalopkoms van 9 728 was baie aanmoedigend! Dit alles toon dat daar wonderlike potensiaal vir verdere groei is.
Hoewel godsdiensonverdraagsaamheid algemeen is en die daaglikse druk van die lewe al hoe erger word, is al Jehovah se knegte in hierdie gebied meer vasbeslote as ooit om voort te gaan met die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk ongeag wat Satan in sy toorn doen (Op. 12:12). Vir die meeste mense het die daaglikse stryd om ’n bestaan te maak, die belangrikste ding in die lewe geword. Maar onder hierdie mense is daar dié wat sug oor die betreurenswaardige sedelike toestande in die wêreld en wat bewus is van hulle geestelike honger (Eseg. 9:3, 4; Matt. 5:6). Hulle word gevind en gehelp om die enigste ware God te aanbid en te sê: “Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah, na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.”—Jes. 2:3.
Hedendaagse geskiedenis van Masedonië
“Kom oor na Masedonië en help ons”, het die man gesê wat in die eerste eeu in ’n visioen aan die apostel Paulus verskyn het (Hand. 16:8-10). Paulus en sy metgeselle het tot die slotsom gekom dat dit ’n opdrag van God is om die goeie nuus van God se Koninkryk in hierdie ongewerkte gebied te verkondig en het die uitnodiging gewillig aanvaar, en die Christelike godsdiens het kort voor lank daar gefloreer. Hoe het hedendaagse Masedonië, ’n kleiner gebied noord van eertydse Masedonië, soortgelyke groei in ware aanbidding ondervind?
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Masedonië die suidelikste republiek van Joego-Slawië geword. Dit het in 1991 onafhanklikheid verkry. Twee jaar later, in 1993, was Jehovah se Getuies verheug toe hulle amptelik geregistreer is in die pas gevormde staat. Gevolglik kon ’n kantoor in Masedonië onder die toesig van die Oostenrykse Takkomitee geopen word. Om dié rede is daar in 1993 ’n huis in Alžirska-straat, in Skopje, gekoop, en die Masedoniese vertaalspan het van Zagreb, Kroasië, na hierdie nuwe Bethel getrek.
Michael en Dina Schieben het van Duitsland af gekom om kringwerk te doen, en Daniel en Helen Nizan, van Kanada, wat in Serwië gedien het, is na Masedonië gestuur. ’n Landskomitee is gevorm, en Bethel het begin funksioneer.
BEPERKINGS OP LEKTUUR
Hoewel Jehovah se Getuies amptelik geregistreer was, was dit moeilik om lektuur in te voer. Van 1994 tot 1998 het die regering ingevoerde tydskrifte tot een eksemplaar per verkondiger beperk. Gevolglik moes die broers afskrifte van Wagtoring-studieartikels vir hulle Bybelstudente maak. Die broers kon ook tydskrifte kry wat uit ander lande aan hulle gepos is, en besoekers aan Masedonië is toegelaat om klein hoeveelhede tydskrifte in te bring. Uiteindelik, ná jare van hofsake, het die hooggeregshof ten gunste van die Getuies beslis, waarna hulle toegelaat is om soveel lektuur in te voer as wat hulle wil.
In Augustus 2000 was daar ’n hoogtepunt van 1 024 verkondigers—die eerste keer dat meer as 1 000 deelname aan die predikingswerk gerapporteer het! Aangesien meer lektuur in Masedonies vrygestel is en die aantal verkondigers vermeerder het, het die bestaande huis in Alžirska-straat te klein geword om in die behoeftes van die groeiende Bethelgesin te voorsien. Die volgende jaar is drie klein naburige huise gekoop en gesloop om plek te maak vir twee nuwe geboue. Vandag werk en woon die 34 lede van die Masedoniese Bethelgesin in drie goed toegeruste geboue. Hulle was bly toe Guy Pierce van die Bestuursliggaam die toewydingsprogram op 17 Mei 2003 kom hou het.
KONINKRYKSAALBOUWERK
Broers en susters oor die hele Masedonië was baie dankbaar vir die reëling om Koninkryksale in lande met beperkte middele te help bou. ’n Bouspan van vyf broers is aangestel om plaaslike gemeentes te help om Koninkryksale te bou; en nege nuwe Koninkryksale is tussen 2001 en 2007 opgerig. Hierdie multinasionale bouspan gee ’n goeie getuienis deur sonder enige etniese vooroordeel in vrede en eenheid te werk. Een handelaar wat ’n voltooide Koninkryksaal besoek het, het die hoë gehalte van die vakmanskap gesien en gesê: “Hierdie gebou is waarlik deur liefde gebou.”
Terwyl die bouspan ’n nuwe Koninkryksaal in die dorp Štip gebou het, was een van die bure skepties oor die sukses van die projek omdat die jong bouspan vir hom onervare gelyk het. Maar toe die saal klaar was, het hy ’n bouplan vir sy huis na die jong broers gebring en hulle gesmeek om dit vir hom te bou. Hy was so beïndruk met die gehalte van hulle werk dat hy aangebied het om hulle goed te betaal. Hy was verstom toe die broers vir hom sê dat hulle die Koninkryksaal nie vir finansiële gewin gebou het nie, maar weens hulle liefde vir God en hulle naaste.
NUWE WÊRELD-VERTALING
Intussen was ’n ander groepie toegewyde manne en vroue besig met ’n ander taak—die vertaling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Masedonies. Hulle harde werk het Jehovah se seën geniet; en die hele Nuwe Wêreld-vertaling is in net vyf jaar voltooi. Hoe verheug was die byeenkomsgangers tog by die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms wat in 2006 in Skopje gehou is, toe Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam die vrystelling van hierdie voortreflike nuwe Bybelvertaling aangekondig het. Die broers het lank en entoesiasties hande geklap, en baie kon hulle trane nie keer nie. Party wat gedurende die middagpouse ’n eksemplaar gekry het, het onmiddellik gaan sit om hierdie uitstekende vertaling van God se Woord in hulle moedertaal te lees.
Baie Masedoniërs het groot respek vir die Bybel. Byvoorbeeld, ses jaar gelede het Orhan die Bybel begin studeer. Hy was ongeletterd, maar die broer wat met hom gestudeer het, het hom gehelp om te leer lees en skryf. Sedert hy drie jaar gelede gedoop is, het hy die Bybel al ses keer deurgelees!
Orhan was ’n tyd lank die enigste Getuie in die dorp Resen. Maar baie het met lof gepraat van die voorheen ongeletterde man, en party ouers het die broers gevra om met hulle kinders te studeer omdat hulle wou hê dat hulle kinders soos Orhan moes word. Belangstelling in die waarheid het toegeneem, en later is ’n weeklikse Gemeentelike Boekstudie in die dorp begin. Een belangstellende het ’n ongedoopte verkondiger geword, en Orhan dien nou as ’n gewone pionier en bedieningskneg.
HULLE HET OORGEKOM NA MASEDONIË
In Julie 2004 het ’n spesialepionier-egpaar uit Albanië gekom om te help getuig vir die Albaneessprekendes in Masedonië, wat 25 persent van die bevolking uitmaak. Dit het spoedig duidelik geword dat die egpaar hulp nodig het omdat hulle die enigste verkondigers vir meer as ’n halfmiljoen Albaneessprekendes was. Daarom is ’n tweede egpaar ’n jaar later van Albanië gestuur om by hulle aan te sluit, en die vier spesiale pioniers het die klein groepie van sewe belangstellendes in die dorp Kičevo, in die middel van die Albanese gemeenskap in Masedonië, begin aanmoedig. Die volgende jaar was hierdie groepie verheug om 61 by die Gedenkmaaltoespraak te hê, wat in Albanees sowel as Masedonies gehou is. Sedertdien het die groepie tot 17 ywerige verkondigers gegroei, met ’n gemiddelde vergaderingbywoning van 30 of meer.
Om al die gebied in Masedonië te help dek, het die Bestuursliggaam ’n spesiale kampanje vir April tot Julie 2007 goedgekeur. Die doel was om in gebiede te getuig wat nog nie gedek is nie en om die goeie nuus onder die Albaneessprekende bevolking te versprei.
Daar was groot ondersteuning, en 337 broers en susters uit sewe lande het met graagte hulp aangebied. Wat was die resultaat? Die goeie nuus is verkondig in meer as 200 gebiede regoor Masedonië—wat die tuiste is van omtrent 400 000 mense, van wie die meeste nog nooit die boodskap gehoor het nie. Meer as 25 000 boeke en brosjures en ver oor die 40 000 tydskrifte is tydens die kampanje van vier maande versprei. Ongeveer 25 000 uur is in die bediening deurgebring, en meer as 200 Bybelstudies is begin.
“Party het trane in hulle oë gekry toe hulle hoor waarvandaan ons kom en waarom ons hulle besoek”, het een broer vertel. “Ander is tot trane beweeg deur wat hulle in God se Woord gelees het.”
Baie wat aan die kampanje deelgeneem het, het hulle opregte waardering daarvoor uitgespreek. Een suster het geskryf: “’n Onderwyseres het vir ons gesê: ‘Mag God julle seën. Julle doen ’n wonderlike werk. Ek vind die dinge waaroor julle praat, werklik verkwikkend!’”
“Dis moeilik om hierdie ‘sendinggebied’ te verlaat”, het een verkondiger gesê. “Ons kon sien hoe nodig die mense die waarheid het en ons was hartseer om van ons Bybelstudies afskeid te neem toe ons moes gaan.”
“Ons is spyt dat ons nie meer verlof geneem het nie”, het een egpaar gesê, “want ons besef nou hoeveel hulp nodig is.”
Een verkondiger het die gevoelens van baie opgesom deur te sê: “Ek kan nie onthou wanneer laas ons as ’n gesin iets soveel geniet het nie.”
In die berge naby die stad Tetovo het ’n groep verkondigers in ’n dorpie gepreek waar niemand nog ooit getuig het nie. Twee van hulle het aan die linkerkant van ’n straat gewerk, en twee aan die regterkant. Teen die tyd dat hulle by net drie huise getuig het, het die hele straat geweet dat Jehovah se Getuies daar is. Kort voor lank het die nuus van hulle besoek deur die hele dorpie versprei, en ’n groot groep belangstellende vroue het om die susters saamgedrom. Verder in die straat af het ’n groep van 16 mans gretig vir die broers gewag. Huisbewoners het gou vier stoele uitgebring waarop die verkondigers kon sit, en een man het vir hulle koffie gemaak. Die verkondigers het vir almal lektuur gegee en met behulp van die Bybel die waarheid aan die groep bekend gemaak.
Baie het vrae gevra, en almal het aandagtig geluister. Aan die einde van die besoek wou baie van die dorpenaars nie loop voordat hulle die broers en susters persoonlik gegroet het nie. Maar die broers het geskrik toe ’n bejaarde vrou nader kom met haar kierie in die lug. “Ek sal julle hiermee bykom!” het sy uitgeroep en met die kierie na hulle gewys. Wat het die verkondigers gedoen wat haar ontstel het? “Julle het vir almal behalwe my ’n boek gegee!” het die vrou verduidelik. “Ek wil die groot gele hê”, het sy gesê en na die Bybelverhale-boek gewys wat haar buurvrou ontvang het. Die broers het haar sonder versuim hulle laaste eksemplaar gegee.
PREDIKINGSWERK ONDER DIE ROMA
In Masedonië is daar baie Roma wat Masedonies praat maar wie se moedertaal ’n Romani-spreektaal is wat ’n mengsel van ’n paar Romani-dialekte is. Die hoofstad, Skopje, het volgens berig die grootste Romani-buurt in Europa, met omtrent 30 000 inwoners. Die drie Romani-gemeentes vergader in ’n Koninkryksaalkompleks met twee sale in die gebied wat Šuto Orizari genoem word. Die 200 verkondigers geniet hulle vrugbare gebied, wat ’n verhouding van 1 verkondiger tot elke 150 mense het—een van die beste in die land. ’n Bewys van die Roma se gunstige reaksie was die opkoms van 708 by die Gedenkmaal in 2008!
Wat word gedoen om die nederige Roma wat na die waarheid honger, te help om in hulle moedertaal voor God se voorneme te leer? Die skets vir die spesiale toespraak vir 2007 is in Romani vertaal, en ’n ouer man van Roma-afkoms het die toespraak aan ’n waarderende gehoor van 506 gelewer. Verkondigers uit alle etniese agtergronde—Roma, Masedonies en Albanees—was verheug toe die brosjure Wat vereis God van ons? in Romani by die streekbyeenkoms in 2007 vrygestel is. Tot op daardie stadium het verkondigers dikwels Bybelstudies in hulle eie taal gehou en Masedoniese lektuur gebruik. Nou behaal hulle groot sukses deur die Vereis-brosjure in Romani te gebruik om die harte van opregte Roma te bereik.
Vandag werk die 1 277 verkondigers in 21 gemeentes in Masedonië hard om die apostel Paulus se eerste-eeuse voorbeeld te volg. Die waarderende reaksie van talle Masedoniese waarheidsoekers regverdig die hedendaagse kampanje om ‘oor te kom na Masedonië’.
Hedendaagse geskiedenis van Serwië
Serwië, in die hartjie van die Balkan, is ’n land van uiteenlopende kulture en is die tuiste van mense van baie nasionaliteite. Dit was hier in die stad Belgrado dat ’n takkantoor in 1935 geopen is om na die gebiede van die destydse Joego-Slawië om te sien, en dit het tot opwindende teokratiese groei gelei. Hoe het die broers in die land Serwië in onlangse tye hulp verleen aan die nuut gevormde lande in dié gebied?
Hoewel landsgrense gesluit is en godsdiens- en rassehaat versprei het, het broers van verskillende nasionaliteite vreedsaam by die kantoor in Zagreb, Kroasië, saam gewerk. Maar met rasse- en nasionalistiese vooroordeel wat net buite Bethel gewoed het, was ons Serwiese broers op die ou end genoodsaak om die land te verlaat. In 1992 is die vertaling van Serwiese publikasies weer eens in Belgrado, Serwië, gedoen, soos byna 50 jaar tevore. Dit was ’n wyse stap wat op die regte tyd gedoen is.
Daar was ’n groot behoefte aan noodleniging in Bosnië, waar hewige gevegte plaasgevind het. Die takkantoor in Oostenryk het liefdevol gereël dat noodlenigingsvoorraad gestuur word, en die broers in Serwië was in die beste posisie om dit na gebiede van Bosnië te neem wat onder Serwiese beheer was.
Al het die gevegte nie tot in Serwië versprei nie, is die gevolge van die oorlog wel daar gevoel. ’n Invoerverbod het dit moeilik gemaak om lektuurbesendings uit Duitsland te ontvang, waar die lektuur gedruk is. Wanneer die gemeentes nie die jongste tydskrifte ontvang het nie, het ons broers eenvoudig ouer artikels gestudeer totdat hulle onlangser nommers gekry het. Maar op die ou end het die broers nie een nommer van die tydskrifte oorgeslaan nie.
“’N VERSTERKENDE HULP”
“Toe ons in 1991 in Serwië aangekom het”, het Daniel Nizan, ’n Gileadgegradueerde, gesê, “was die land in groot politieke beroering. Ons was beïndruk met die ywer wat die broers aan die dag gelê het ten spyte van die kritieke situasie waarin hulle hulle bevind het. Ek onthou nog hoe verbaas ons was toe ons omtrent 50 nuwelinge sien opstaan om gedoop te word by die eerste spesiale byeenkomsdag wat ek en my vrou bygewoon het. Dit was vir ons baie aanmoedigend.”
Die Nizans het baie gehelp om die nuwe kantoor in Belgrado op die been te bring. Die eerste kantoor, wat groot genoeg was vir tien mense, was in Milorada Mitrovića-straat. Op die onderste vloer was daar ook ’n Koninkryksaal. Namate die vertaalspan gegroei het, was meer ruimte nodig. Uiteindelik is grond gevind en het die bouwerk begin. Teen die einde van 1995 het die Bethelgesin na die nuwe fasiliteite getrek.
Weens die verslegtende toestande het al hoe meer mense op die waarheid gereageer, en namate die aantal verkondigers vermeerder het, het die behoefte aan liefdevolle toesig toegeneem. Spesiale pioniers uit Italië—energieke en selfopofferende voltydse dienaars wat vryelik van hulleself gegee het—het deels in hierdie behoefte voorsien. Al was dit nie maklik om onder oorlogstoestande ’n nuwe taal te leer en aan ’n onbekende kultuur gewoond te raak nie, het hulle “’n versterkende hulp” vir ons broers in Serwië geword.—Kol. 4:11.
Die pioniers uit ander lande het op baie maniere gehelp, maar die belangrikste was dat “hulle teokratiese ondervinding saam met hulle gebring het”, het Rainer Scholz, koördineerder van die Serwiese Landskomitee, gesê. Vandag is daar 55 gemeentes in Serwië wat dankbaar is vir die hulp van 70 spesiale pioniers.
DIE PYNLIKE GEVOLGE VAN HIPERINFLASIE
Serwië kon nie die pynlike ekonomiese gevolge van die oorlog, veral die wegholinflasie, vryspring nie. “Gedurende die 116 dae tussen Oktober 1993 en 24 Januarie 1994”, berig een bron, “was die kumulatiewe inflasie 500 biljoen persent.” Mira Blagojević, wat sedert 1982 by Bethel dien, vertel dat sy ’n hele sak vol geld na die mark moes neem om net ’n bietjie groente te koop.
’n Ander suster, Gordana Siriški, vertel dat haar ma, toe sy haar pensioen vir die maand gaan haal het, net een toiletrol daarmee kon koop. “Dis regtig moeilik om te verstaan hoe mense aan die lewe kon bly”, het Gordana gesê, “toe alles wat hulle besit het, skielik waardeloos geword het. Danksy ons wêreldwye broederskap het ons noodlenigingsvoorraad van ander lande ontvang. Namate mense vertroue in die banke en die regering verloor het, het baie in God begin glo, en die broers het nader aan mekaar gekom.”
BYBELVERTALING
Die vertaalspanne in Joego-Slawië het jare lank op een plek in Zagreb, Kroasië, saam gewerk. Ná die oorlog het elke vertaalspan na sy onderskeie land gegaan, maar het nietemin kontak behou met die vertaalspan in Zagreb. Dit was besonder nuttig toe die Serwiese span die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte begin vertaal het. Die doelwit was om dit in 1999 by die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies vry te stel.
Maar terwyl die vertalers besig was om die Bybelvertaling te voltooi, het die land vir oorlog voorberei. Bomaanvalle sou telefoonkommunikasie ongetwyfeld onbetroubaar laat word, wat dit vir die vertalers moeilik sou maak om materiaal van Belgrado af na die drukkery in Duitsland te stuur. Met lugaanvalle wat gedreig het, het die broers Dinsdag 23 Maart heelnag lank gewerk en kon hulle die elektroniese lêers vroeg die volgende oggend na Duitsland toe stuur. ’n Paar uur later het die bombardering begin en het die vertaalspan na ’n skuiling gevlug—met vreugde in hulle hart! Hulle vreugde was volkome toe die gedrukte Bybel vier maande later by die streekbyeenkoms in Belgrado vrygestel is. Gedurende die bombardering en al die kragonderbrekings het die broers voortgegaan om ander publikasies te vertaal. Maar hulle moes dikwels stop en na ’n veilige plek hardloop. Dit was weliswaar ’n stresvolle tyd, maar almal was bly om ’n aandeel te hê aan die produksie van die noodsaaklike geestelike voedsel.
Danksy baie harde werk en Jehovah se seën is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Julie 1999 in Serwies vrygestel. Die byeenkomsgangers het oorgeloop van vreugde en waardering om hierdie vertaling in hulle eie taal te hê. Later, by die streekbyeenkomste in 2006, is die hele Nuwe Wêreld-vertaling in Serwies vrygestel, in die Cyrilliese sowel as die Latynse alfabet.
GODSDIENSTEENSTAND VERERGER
Omdat die Serwies-Ortodokse Kerk die vernaamste godsdiens in die land is, neem baie mense dit as vanselfsprekend aan dat ’n Serwiër Ortodoks is. Hulle voel dat iemand nie ’n Serwiër is as hy nie aan die Ortodokse Kerk behoort nie. Nietemin het baie gedurende die 1990’s ons Bybelse boodskap van hoop aangeneem. Teen die einde van die oorlog in 1999 het die aantal verkondigers byna verdubbel en ’n hoogtepunt van 4 026 bereik.
Hierdie geestelike voorspoed het die toorn van die Ortodokse Kerk teen Jehovah se knegte uitgelok. Die kerk het ons Christelike predikingswerk probeer stopsit deur die vlamme van nasionalistiese ywer aan te blaas. Teenstanders het ons broers probeer ontmoedig deur middel van openlike geweld en manipulering van die wet. Daar was byvoorbeeld nog steeds 21 van ons broers in die tronk omdat hulle op politieke gebied neutraal gebly het. Die meeste van hulle is kort ná die oorlog vrygelaat, dankbaar dat Jehovah hulle geloof tydens die beproewing versterk het.
Op 9 April 2001 het die Federale Departement van Binnelandse Sake skielik die invoer van ons lektuur verbied. Waarom? Hulle het beweer dat ons publikasies ’n negatiewe invloed op die land se jeug sou hê. Selfs die Bybel was op die lys van verbode publikasies!
Weens die negatiewe televisie- en koerantberigte oor ons werk het party huisbewoners soms gewelddadig geword. “Hulle het ons met die vuis geslaan of geklap wanneer ons van huis tot huis gepreek het”, het ’n spesiale pionier gesê, “[en] op ander tye het hulle ons met klippe bestook.” Daarbenewens is party Koninkryksale deur vandale beskadig. Vandag kan ons broers in Serwië wettig vergader, hoewel hulle versigtig moet wees.
Die broers gaan voort om ywerig te preek. Hulle toon dat Jehovah se volk nie bevooroordeeld is nie en dat hulle ware Christelike liefde openbaar. Suksesvolle predikingskampanjes is in onlangse jare gereël, waartydens broers uit ander Europese lande hulle vakansietyd gebruik het om in ontoegekende gebiede in Serwië en Montenegro te werk. Maar daar is nog baie werk wat gedoen moet word om die ongeveer driemiljoen mense wat in hierdie gebiede woon, te bereik.
Vandag bestaan die Bethel in Belgrado uit ’n kompleks van drie geboue wat deur ’n parkagtige tuin omring is. Die drie lede van die Landskomitee hou toesig oor ons werk in Serwië sowel as in Montenegro. Danksy Jehovah se seën op sy knegte in hierdie voorheen oorloggeteisterde gebied sal die naam Serwië ’n mens dalk nou laat dink aan die ywer en vasberadenheid van Jehovah se Getuies.
Hedendaagse geskiedenis van Kosovo
Die spanning tussen Serwiese en Albanese gemeenskappe in Kosovo gedurende die 1980’s het in die 1990’s in ’n volskaalse oorlog ontaard, wat baie lyding en hartseer tot gevolg gehad het. Hierdie situasie het ons broers en susters die geleentheid gegee om “ongeveinsde broederlike geneentheid” aan medegelowiges uit alle etniese agtergronde te betoon (1 Pet. 1:22). Daarbenewens was hulle gehoorsaam aan Christus se opdrag “om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matt. 5:43-48). Maar dit was soms ’n uitdaging.
“Broers wat voorheen Moslems was, word nie altyd vriendelik ontvang deur dié wat nog steeds Moslems is nie”, verduidelik Saliu Abazi, ’n gewese Moslem wat Albanees praat, “en ons families dink verkeerdelik dat ons hulle verwerp het omdat ons ’n nuwe godsdiens gekies het. Weens die etniese spanning tussen Albanese en Serwiërs is dit ook nie altyd maklik vir gewese Moslems om vir Serwiërs te getuig nie.”
Nietemin het ’n multi-etniese groep van 30 in Saliu se huis vergader. “In daardie jare”, vertel Saliu, “is vergaderinge in Serwies gehou, en ons het ons lektuur van Belgrado af gekry. Eendag het die polisie onverwags by my huis opgedaag. Die broers van Belgrado het pas die lektuur afgelewer, en ons het almal met mekaar gestaan en gesels. Toe ek vir die polisie sê dat hulle my broers is, kon hulle nie verstaan hoe Serwiërs en Albanese broers kan wees nie.” In 1998 kon hierdie groep verkondigers ’n vergaderplek in die grootste stad in Kosovo, Priština, huur, wat hulle as ’n Koninkryksaal kon gebruik.
In die noordelike lente van 1999 het etniese spanning en nasionalisme onrusbarend toegeneem. “My buurman het gedreig dat hulle ons huis sal afbrand as ek en my seun nie aan die oorlog deelneem nie”, vertel Saliu. “Die politieke klimaat het ’n verskriklike uitwerking op mense gehad. Omdat hulle nie die vorige Serwiese regering erken het nie, kon wette nie toegepas word nie, en mense het gewelddadig geraak en gedoen net wat hulle wou.”
Namate die politieke situasie versleg het, het toestande al hoe moeiliker geword vir Serwiërs wat in Kosovo gewoon het. Gedurende die konflik van 1999 moes duisende Serwiërs sowel as Albanese na buurlande vlug. En tog het Saliu, in daardie klimaat van uiterste etniese konflik, sy lewe gewaag deur sy Serwiese broers toe te laat om in sy huis skuiling te soek.
DEUR JEHOVAH SE DENKE GEVORM
“Die haat tussen Serwiërs en Albanese was intens”, het een suster gesê. “Ons het daarmee grootgeword. Selfs nadat ’n mens die waarheid geleer het, is dit moeilik om van hierdie gevoelens ontslae te raak. Baie van ons moes groot veranderinge aanbring om Jehovah se denke aan te neem. Selfs terwyl ek geleer het dat Jehovah liefde is, het ek gevind dat ek weens hierdie haat ’n suster in die gemeente vermy net omdat sy ’n Serwiër is. Maar toe ek verder gestudeer het, het ek besef dat die leringe van ander godsdienste verdeeldheid veroorsaak, terwyl die waarheid van Jehovah se Woord eenheid meebring.” Het die krag wat God se Woord het om mense te verander, hierdie suster gehelp om haar met die nuwe Christelike persoonlikheid te beklee? “Vandag”, het sy gesê, “geniet ek dit om saam met my Serwiese broers en susters in dieselfde gemeente te dien.”—Kol. 3:7-11; Heb. 4:12.
Ware Christelike eenheid is opvallend in hierdie godsdienstig verdeelde wêreld. Terwyl mense weens nasionalisme huise afgebrand en handgranate gegooi het, was ons broers op pad na Belgrado, in Serwië, vir ’n streekbyeenkoms wat in Julie 1998 gehou is. Albanese, Kroate, Masedoniërs en Roma het vreedsaam op dieselfde bus gery. Dashurie Gashi, wat by daardie byeenkoms gedoop sou word, vertel: “Wanneer die soldate die bus gestop het, kon ons die skok op hulle gesigte sien. Te midde van al die etniese spanning in hierdie lande, was ons verenig as een volk—Jehovah se volk.”
Een jong vrou van Roma-afkoms het die waarheid as kind geleer by haar tantes wat in die buiteland gewoon het. Die eerste struikelblok wat sy moes oorkom, was ongeletterdheid. Liefde vir Jehovah het haar beweeg om te leer lees en skryf gedurende die drie jaar wat sy die Bybel gestudeer het. Die tweede struikelblok was haar oupa, by wie sy gewoon het. “Ek het by die huis uitgesluip om vergaderinge by te woon”, sê sy. Maar wanneer sy huis toe gekom het, het haar oupa haar geslaan. “Ek het fisies gely ter wille van die waarheid”, vertel sy, “maar ek het geweier om in te gee. Ek het nagedink oor hoeveel die getroue man Job moes ly. My liefde vir Jehovah was sterk, en ek was vasbeslote om nie op te hou studeer nie.” Sy dien nou as ’n pionier, en sy hou ’n Bybelstudie met twee meisies wat ongeletterd is. Hoewel sy nooit skoolgegaan het nie, is sy dankbaar vir die manier waarop die Teokratiese Bedieningskool haar opgelei het om ander te leer.
Adem Grajçevci was ’n Moslem voordat hy die waarheid in 1993 in Duitsland geleer het. Toe hy in 1999 na sy tuisland Kosovo teruggekeer het, moes hy, soos baie ander nuwe Getuies, sy familie se vooroordeel en teenstand te bowe kom. “Terwyl ek die waarheid geleer het”, vertel Adem, “het dit my baie gehelp om te weet dat Satan die heerser van die wêreld is en dat hy verantwoordelik is vir al die gruweldade wat plaasvind.” Adem se pa was baie ontevrede oor die feit dat sy seun nou ’n Christen geword het en het vir hom gesê dat hy tussen Jehovah en die familie moet kies. Adem het Jehovah gekies, voortgegaan om goeie geestelike vooruitgang te maak, en vandag dien hy as ’n Christen- ouer man. Gelukkig het Adem se pa oor die jare versag, en hy het nou groter respek vir Adem se besluit.
Adem se seun, Adnan, het as kind glad nie in godsdiens belanggestel nie. Hy was diep betrokke by die vegkuns, en sy mededingers het hom die bynaam Killer gegee. Maar toe die waarheid uiteindelik sy hart geraak het, het hy dit alles opgegee. Hy het goeie vooruitgang gemaak en is gedoop. “Nie lank ná my doop nie moes ek ’n besluit neem”, het hy gesê. “Ek het ’n goeie werk gehad en was materieel voorspoedig. Maar ek het geestelik gely en het min tyd vir die bediening gehad. Ek het besluit dat dit tyd is vir ’n verandering, en ek het dus bedank.” Hy het begin pionier, is as ’n bedieningskneg aangestel en is later genooi om die eerste klas van die Bedieningsopleidingskool in Albanië by te woon. Vandag is Adnan ’n ouer man, en hy en sy vrou, Hedije, dien as spesiale pioniers. Hoe voel hy oor die besluit wat hy geneem het? “Ek kan nie gelukkiger wees nie”, sê hy. “Ek is glad nie spyt dat ek die voltydse bediening gekies het nie.”
VERENIGDE AANBIDDING EN ONDERRIGTING
Vandag gebruik al ses gemeentes in Kosovo gehuurde fasiliteite as Koninkryksale. Party gemeentes is klein, soos die een in die stad Peć, wat 28 verkondigers het. Omdat daar te min aangestelde broers is, kan party gemeentes nie elke week ’n openbare toespraak hê nie. Nietemin kom hulle, soos die broers en susters in Peć, elke week getrou bymekaar vir die Wagtoring-studie en die ander gemeentelike vergaderinge.
Die Serwiese Landskomitee het die broers in Kosovo jare lank as liefdevolle herders deur uiters moeilike tye gehelp. Om in die veranderende behoeftes van die broers te voorsien, het die Bestuursliggaam in 2000 die tak in Albanië aangestel om na die predikingswerk in Kosovo om te sien.
Tot kort gelede was die meeste van Jehovah se Getuies in Kosovo Serwiërs, en die vergaderinge is dus in Serwies gehou; die broers het Albaneessprekendes met graagte gehelp om die program te volg. Nou is die situasie omgekeer. Die meeste van die broers in Kosovo is Albanees. Behalwe in een Serwiese gemeente word vergaderinge in Albanees gehou, en die broers tolk met graagte die toesprake sodat die Serwiese broers dit kan volg. Kring- en streekbyeenkomste word in albei tale gehou. Byvoorbeeld, die hele program van die streekbyeenkoms in 2008 is in Albanees aangebied en in Serwies getolk, en hooftoesprake is deur Kosovaarse ouer manne in Serwies gehou. Een broer verduidelik: “Ten spyte van die haat wat buite heers, is ons binne die saal een gesin.”
Hoewel die meeste inwoners van Kosovo Moslems is, respekteer hulle die Bybel, en baie is bereid om oor godsdiens te praat. Die broers in Kosovo was verheug oor die nuwe hoogtepunt van 164 verkondigers in 2008. Met volle vertroue op Jehovah is hulle vasbeslote om steeds hard te werk om hulle gebied te dek en die goeie nuus na mense van alle nasionaliteite te neem.
Hedendaagse geskiedenis van Montenegro
Hierdie verskuilde pêrel van die Mediterreense streek is ’n pragtige klein landjie aan die Adriatiese Kus. Montenegro, wat omring word deur Albanië, Kosovo, Serwië, Bosnië en Herzegowina, is ’n land van fassinerende diversiteit en asemrowende natuurskoon. Die pragtige Adriatiese kuslyn van hierdie land is ongeveer 293 kilometer lank. Die Tararivier-canyon is een van die diepstes en langstes in Europa. Die Scutari-meer is die grootste in die Balkan en het een van die grootste voëlparke in Europa. En dit alles in ’n gebied wat net driekwart so groot soos die provinsie Gauteng is!
Die geskiedenis van die land word egter gekenmerk deur oorloë, konflik en lyding. Die stryd van die Montenegrynse volk het hulle tradisie, denkwyse en kultuur grootliks beïnvloed. ’n Fundamentele deel van hulle kultuur is hoë agting vir eienskappe soos dapperheid, integriteit, waardigheid, nederigheid, selfopoffering en respek vir ander. Baie van die karaktervaste Montenegryne het die goeie nuus van die Koninkryk aangeneem en verdedig Bybelwaarheid lojaal.
GEESTELIKE GROEI
Sal enigiemand wat die mylpaalbyeenkoms in 1991 in Zagreb, Kroasië, bygewoon het, ooit die eenheid en liefde vergeet van die broers wat uit alle dele van die voormalige Joego-Slawië daar bymekaargekom het? “Met die reuk van oorlog in die lug was dit gevaarlik om van Montenegro na Kroasië te reis”, vertel Savo Čeprnjić, wat kort tevore die Bybel begin studeer het. “Ek was verbaas om te sien dat soveel busse sonder voorval by die byeenkoms aangekom het. Die vrede en eenheid onder die Getuies was selfs indrukwekkender. Die eerste dag was daar honderde polisiemanne, maar nadat hulle besef het dat ons vreedsaam is, het net ’n paar die volgende dae opgedaag.”
Voor die oorlog begin het, het een egpaar gereeld van Kroasië na Montenegro gereis om ’n studie met Savo te hou. Hoe sou Savo met sy studie van die Bybel kon voortgaan noudat die grens gesluit is?
“Belangstellendes wat al verder gevorder het in hulle studie, moes die ander leer”, verduidelik Savo. “’n Gedoopte broer het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe met my gestudeer. Maar toe dit nie meer moontlik was nie, het ’n ongedoopte persoon verder met my gestudeer. Teen 1992 het die groep in die stad Herceg Novi wat vir die Gemeentelike Boekstudie en die Wagtoring-studie bymekaargekom het, tot 15 toegeneem.” Savo, sowel as sy vrou en dogter, het aangehou om vooruitgang te maak en is in 1993 gedoop. Vandag is daar ’n Koninkryksaal met 25 verkondigers in hierdie skilderagtige kusstad.
In die vroeë 1990’s het ’n groep verkondigers in die hoofstad Podgorica vergader. Die groep het aangehou groei, en in 1997 is planne gemaak om grond vir ’n Koninkryksaal te koop. Die grond wat die broers gekoop het, het ’n muur gehad wat hulle besluit het om te behou ter wille van privaatheid. Maar ’n polisiebeampte wat in die kelder van die gebou langsaan gewoon het, het hulle gevra om die muur af te breek sodat sy donker woonstel meer lig kon kry. Om goeie verhoudings met die buurman te bevorder, het die broers ingestem om dit te doen en die muur met ’n heining te vervang. Hoe is hulle goeie buurmanskap tog beloon!
Toe ander huurders in die gebou vir die broers moeilikheid gemaak het, het die polisiebeampte die huurders gewaarsku dat hy sou toesien dat hulle vervolg word as hulle die Koninkryksaal aanval. Vandag het die broers ’n pragtige Koninkryksaal, sowel as ’n huis vir spesiale pioniers en ’n groot onderdakparkeerterrein wat ook vir byeenkomste gebruik kan word.
Maar vir die broers in die dorp Nikšić het dinge nie so goed verloop nie. Hulle het in 1996 grond gekoop, maar die gemeenskap wou nie ’n Koninkryksaal daar hê nie. Broers het dag en nag by die bouprojek waggestaan omdat hulle bang was dat die bure dit sou probeer saboteer. Eendag het ’n plaaslike priester ’n gepeupel van 200 mense bymekaargekry, wat die terrein met vuurwapens en stokke bestorm het. Hulle het hulle wapens in die lug afgevuur en die Koninkryksaal baksteen vir baksteen begin afbreek. Die polisie het bygestaan en niks gedoen nie.
Toe die probleem nie vreedsaam opgelos kon word nie, het die broers ’n ander stuk grond gesoek. Vier jaar later het hulle ’n gebou gevind wat hulle opgeknap en in ’n Koninkryksaal omskep het. Aan die begin het dit gelyk of die gemeenskap geen beswaar het nie, maar ’n paar maande later is die Koninkryksaal onder verdagte omstandighede deur ’n brand vernietig. Maar ons vasbeslote broers het nie moed opgegee nie. Hulle het weer eens aan die werk gespring en die saal herbou. Sedertdien het hulle geen probleme gehad nie.
Die vier gemeentes in Montenegro is onder die toesig van die Serwiese Landskomitee. Met ’n verhouding van 1 verkondiger tot 2 967 van die bevolking is die 201 verkondigers dankbaar vir die hulp van die 6 spesiale pioniers. Die mense van Montenegro voel oor die algemeen dat godsdiens meer te doen het met tradisie as met Bybellees. Maar ons broers en susters in Montenegro volhard lojaal daarin om die goeie nuus moedig te verkondig.
Hedendaagse geskiedenis van Slowenië
Voordat Slowenië in 1991 onafhanklikheid verkry het, was dit die noordwestelike deel van Joego-Slawië. Nadat Slowenië onafhanklik geword het, het sy ekonomie bestendig gegroei, en in 2004 het Slowenië deel van die Europese Unie geword. Al is dit redelik klein, bied Slowenië ’n groot verskeidenheid landskappe. Daar is majestueuse berge, bergmere, welige woude, ontsaglike kalksteengrotte en die pragtige Sloweense Riviera. In bietjie meer as ’n uur kan ’n mens van die ysige berghange afdaal na die soel olyfboorde en wingerde van die Adriatiese Kus. Daarbenewens bied die plekke van kulturele en geskiedkundige belang in Slowenië oneindige geleenthede vir nadere ondersoek. Maar hierdie klein landjie se prag sluit meer in as nasionale parke en historiese dorpe. Slowenië het ’n ryk geestelike erfenis.
KONINKRYKSALE EN PIONIERS
Jy onthou ongetwyfeld dat Maribor die stad is waar die “Bybel-barbiers” hulle nuutgevonde geloof verkondig het. ’n Restaurant, wat later die gepaste naam Novi Svet (Nuwe wêreld) gegee is, was ’n gerieflike vergaderplek vir die groepie wat daar gevorm is. Vandag dank Sloweense Getuies Jehovah vir die pragtige Koninkryksale waarin hulle vir aanbidding en onderrigting vergader. Weens die toename in verkondigers, sowel as die verbetering in omstandighede in die 1990’s, is ’n Streekboukomitee gevorm. Sedert 1995 het gemeentes, met die hulp van meer as 100 vrywilligers en fondse uit die buiteland, 14 Koninkryksale gebou of opgeknap.
Terwyl die aantal verkondigers toegeneem het, het die geledere van die gewone pioniers ook gegroei—van 10 in 1990 tot 107 in 2000. Een van hierdie ywerige pioniers was Anica Kristan, wat diep betrokke was by die politiek voordat sy die waarheid aangeneem het.
Broers en susters wat van ander lande af gekom het om in Slowenië te dien, was ’n groot aansporing in die predikingswerk. In 1992 het die eerste sendelinge, Franco en Debbie Dagostini, hier aangekom. Toe hulle later ’n toewysing in Afrika ontvang het, is twee nuwe sendelinge, Daniel en Karin Friedl van Oostenryk, na Slowenië gestuur. In onlangser tye is die Gileadsendelinge Geoffrey en Tonia Powell asook Jochen en Michaela Fischer hierheen gestuur. Hulle, tesame met spesiale pioniers uit Italië, Oostenryk en Pole, openbaar innige liefde vir Jehovah en ’n opregte begeerte om mense te help.
HOSPITAALSKAKELKOMITEES
In 1994 is ’n Hospitaalinligtingsafdeling by Bethel op die been gebring, en twee Hospitaalskakelkomitees (HSK’s) is gevorm. Party van die broers in hierdie komitees het die Minister van Gesondheid besoek, wat toe ’n vergadering met die direkteure van al die hospitale in Slowenië gereël het. Die broers het die funksie van die HSK’s verduidelik, asook waarom Jehovah se Getuies bloedoortappings weier. Dit het gelei tot goeie samewerking tussen dokters en hulle pasiënte wat bloedoortappings weier en het ook tot gevolg gehad dat artikels wat bloedlose behandeling verduidelik, in mediese tydskrifte verskyn het.
In 1995 het dokters in Slowenië hulle eerste opehartoperasie sonder die gebruik van bloed gedoen. Die media het verslag gelewer oor die suksesvolle operasie, en die chirurg en narkotiseur wat dit uitgevoer het, het ’n vakkundige artikel daaroor geskryf. Die ys is dus gebreek op die gebied van bloedlose geneeskunde, en meer dokters is bereid om Jehovah se Getuies se keuse van mediese behandeling te respekteer.
DIE BEHOEFTES VAN ’N GROEIENDE VELD WORD BEVREDIG
Ná die politieke veranderinge in 1991 het die Bestuursliggaam besluit dat ’n kantoor in Slowenië geopen moet word sodat daar beter na Koninkryksbedrywighede omgesien kan word. ’n Eenverdiepinggebou is in die sentrale deel van Slowenië se hoofstad, Ljubljana, gekoop. Die perseel is opgeknap, en op 1 Julie 1993 kon die Betheliete intrek. Aan die begin het die Bethelgesin uit 10 lede bestaan, maar binne ’n dekade het dit tot 35 gegroei. Gevolglik is ’n nabygeleë gebou gehuur, en die kombuis, die eetsaal en die wassery is daarheen verskuif. Intussen het die Betheliete na nabygeleë woonstelle getrek om meer kantoorruimte te skep. Die Sloweense kantoor het in 1997 as ’n takkantoor van Jehovah se Getuies begin funksioneer.
Toe die Bestuursliggaam goedkeuring gegee het om ’n nuwe takkantoor vir Slowenië te bou, het die broers na ’n geskikte stuk grond begin soek. Nadat hulle na omtrent 40 verskillende eiendomme gekyk het, het die broers ’n stuk grond naby die dorp Kamnik, 20 kilometer van die hoofstad af, aan die voet van pragtige berge, gekies. Kort daarna is soneringsvereistes nagekom, boupermitte verkry, die stuk grond gekoop, kontrakte met ’n boumaatskappy onderteken en internasionale dienaars genooi om aan die projek te werk. Dit het gelyk of alles gereed was sodat daar met die projek begin kon word.
Maar toe nuus oor die projek bekend geword het, het die bure gou hulle teenstand getoon. Die dag waarop die bouwerk moes begin, het betogers toegang tot die bouterrein versper. Kort voor lank het hulle baniere vertoon waarop hulle hulle teenkanting uitgedruk het. Ses dae later, omtrent twaalfuur die middag, het sowat 30 polisiemanne opgedaag om stadswerkers te beskerm wat aangestel is om die betogers se versperrings te verwyder; die betogers het die polisie uitgeskel. Maar intussen is die projek uitgestel, en gevolglik was nie een van die broers of enigiemand van die boumaatskappy daardie dag op die bouterrein nie. Aangesien die projek uitgestel is, het die teenstand begin afneem, en ons broers kon ’n vreedsame oplossing probeer bereik.
Die heining om die bouterrein is drie keer deur betogers afgebreek, maar die projek het uiteindelik ’n maand later aan die gang gekom en sonder verdere hindernisse voortgegaan. Wat as ’n aanval op Jehovah se knegte begin het, het in werklikheid ’n seën meegebring omdat die saak baie aandag in die media geniet het. Daar was meer as 150 nuusberigte oor die bouprojek op die TV en radio en in die koerante. Die bouwerk is omtrent 11 maande later voltooi, en in Augustus 2005 het die Bethelgesin in hulle nuwe fasiliteite ingetrek.
Sedertdien het die verhouding tussen die broers en hulle bure heeltemal verander. Baie van die bure het al die takfasiliteite besoek. Een voormalige teenstander het later groot belangstelling in die bouprojek begin toon. Hy het gevra wie ons is en wat in die gebou gedoen sou word. Op sy toer deur die fasiliteite is hy beïndruk deur die vriendelike ontvangs sowel as deur hoe skoon die gebou was. “Die bure vra my of ek nou aan julle kant is”, het hy vir die broers gesê, “en ek antwoord: ‘Net soveel soos ek voorheen téén Jehovah se Getuies was, is ek nou vír hulle omdat hulle goeie mense is.’”
Op 12 Augustus 2006 het Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam die toewydingstoespraak voor ’n gehoor van 144 uit omtrent 20 lande gehou. By ’n spesiale vergadering in Ljubljana het hy ’n gehoor van 3 097 uit alle dele van Slowenië, sowel as uit Kroasië en Bosnië en Herzegowina, toegespreek.
’N BLINK TOEKOMS
Jehovah se Getuies in Slowenië gaan die toekoms tegemoet met volle vertroue in hulle hemelse Vader se leiding en seën. By die streekbyeenkoms in 2004 was hulle verheug om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Sloweens te ontvang. Met die ondersteuning van ’n goed toegeruste nuwe tak en talle hardwerkende pioniers is hulle nou vasbeslote om hulle opdrag om te preek en dissipels te maak, uit te voer.—Matt. 28:19, 20.
In Slowenië, wat hoofsaaklik Rooms-Katoliek is, het die Kommunistiese era baie ateïste voortgebring. Daarbenewens gaan baie mense gebuk onder die sorge van die lewe of word hulle deur materialisme verstrik. Ander stel meer belang in sport of vermaak. Maar daar is nog steeds opregtes van hart wat deur God se beloftes in die Bybel aangetrek word.
Die werk gaan steeds vooruit. ’n Hoogtepunt van 1 935 verkondigers is in Augustus 2008 bereik, en omtrent ’n kwart van die verkondigers het aan die een of ander vorm van pionierdiens deelgeneem. Die anderstalige veld sluit nou Albanees, Chinees, Engels, Kroaties en Serwies in, sowel as Sloweense Gebaretaal. In teenstelling met die nederige begin van die werk in Slowenië, toe daar maar net twee barbiers was wat die goeie nuus verkondig het, is daar nou ’n groot multinasionale groep ywerige verkondigers wat soek na verdienstelikes wat die ware God, Jehovah, wil dien.—Matt. 10:11.
Die deel van die Balkan wat voorheen as Joego-Slawië bekend gestaan het, het baie konflikte, hartseer en lyding deurgemaak. Maar in hierdie klimaat van godsdiensonverdraagsaamheid en etniese haat het die liefde onder Jehovah se knegte hulle as ware dissipels van Christus geïdentifiseer en getoon dat Jehovah se ware aanbidding ver verhewe is bo enigiets wat hierdie wêreld kan bied. Hierdie goddelike liefde het al hoe meer mense aangespoor om rein aanbidding aan te neem en help ons broers om standvastig te bly, vasbeslote om Jehovah vir ewig in eenheid te dien.—Jes. 2:2-4; Joh. 13:35.
[Voetnoot]
a Die Ustaša was die Fascistiese revolusionêre beweging wat, met die ondersteuning van die Katolieke Kerk, vir die onafhanklikheid van Kroasië geveg het. Dit was berug vir sy wreedheid.
b Weens die politieke klimaat is die woord “goddelike” bygevoeg om die soort vryheid te beskryf waarna die broers gesmag het.
c Sien die artikel “Hulp aan ons huisgenote van die geloof in Bosnië” in Die Wagtoring van 1 November 1994, bladsye 23-27.
[Lokteks op bladsy 165]
Hoewel volks- en godsdiensvooroordeel in Joego-Slawië hoogty gevier het, was ons broers verenig
[Lokteks op bladsy 173]
‘Is ek hier om mense te behaag? Nee! Hang my lewe af van wat ander sê, dink of doen? Nee!’
[Venster op bladsy 144]
Kontraste in die voormalige Joego-Slawië
As jy ’n groep mense vra oor die verskille in die voormalige Joego-Slawië, sal jy heel waarskynlik verskeie antwoorde kry. Waaroor hulle wel sal saamstem, is dat daar sewe onderskeie volke was wat verskillende godsdienste beoefen het en selfs verskillende tale gepraat het wat verskillende alfabette gebruik. Etniese groepe word hoofsaaklik deur hulle godsdiens onderskei. Meer as 1 000 jaar gelede is die Christendom verdeel tussen dié wat aan die Rooms-Katolieke Kerk behoort het en dié wat die Ortodoks-Katolieke geloof beoefen het. Die skeidslyn tussen dié twee groepe gaan deur die middel van die voormalige Joego-Slawië. Mense wat in Kroasië en Slowenië woon, is oorwegend Rooms-Katoliek, terwyl dié wat in Serwië en Masedonië woon, oorwegend Ortodoks is. In Bosnië behoort mense aan die Islamitiese, die Katolieke en Ortodokse godsdienste.
Taal het, net soos godsdiens, verdeeldheid onder mense veroorsaak. Die meeste inwoners van die voormalige Joego-Slawië, met die uitsondering van Kosovo, praat ’n Suid-Slawiese taal. Hoewel elke land sy eie taal het, maak die gebruik van talle gemeenskaplike woorde kommunikasie tussen Serwiërs, Kroate, Bosniërs en Montenegryne moontlik. Dit is nie so maklik in Kosovo, Masedonië en Slowenië nie. Terwyl pogings teen die einde van die 19de eeu aangewend is om soortgelyke tale te konsolideer, het die verbrokkeling van Joego-Slawië in 1991 ’n einde daaraan gemaak. Oor die afgelope dekade het al die lande probeer om hulle uniekheid te laat geld deur sekere woorde te gebruik en ander te vermy.
[Venster/Prent op bladsy 148]
’n Horlosiemaker versprei die waarheid in Slawonië
In die 1930’s het Antun Abramović van dorp tot dorp in Kroasië gereis en horlosies reggemaak. By ’n herberg het hy op een van ons boekies afgekom. Toe hy dit lees, het hy dit onmiddellik as die waarheid herken, en dit het sy hart geraak. Dit het hom beweeg om ’n brief aan die tak te skryf waarin hy nog lektuur aangevra het. Kort voor lank het hy ’n toegewyde kneg van Jehovah geword. Daarna het hy, wanneer hy van dorp tot dorp gereis het, nie net mense se horlosies reggemaak nie, maar ook vir hulle getuig. Dit was belangrik om die predikingswerk onder hierdie dekmantel te doen, aangesien die werk verbied was. In ’n klein plekkie met die naam Privlaka het hy ’n paar mense ontmoet wat die waarheid heelhartig aangeneem het. Mettertyd is ’n klein gemeente daar gestig. Van daar af het die waarheid na Vinkovci en die omliggende gebied versprei.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het broer Abramović gehelp om lektuur ondergronds te druk, wat deur die hele Joego-Slawië versprei is. Weens sy ywerige werk was hy onder die 14 broers wat in 1947 lang tronkvonnisse opgelê is. Nadat hy uit die tronk vrygelaat is, het hy as ’n reisende opsiener gedien. Sy ywer in Jehovah se diens het sy hele lewe lank nooit verflou nie.
[Venster/Prent op bladsy 151]
’n Dirigent word ’n pionier
Baie jare gelede, in wat nou as Bosnië en Herzegowina bekend staan, het die dirigent van die Koninklike Wag-orkes, Alfred Tuček, Bybellektuur by ’n kollega met die naam Fritz Gröger gekry. Dit was moontlik in die laat 1920’s dat Alfred met die Vuurtoringgenootskap, in Maribor, in verbinding getree het en gesê het dat hy ’n gewone pionier wil word. Mettertyd het hy een van die eerste pioniers in Joego-Slawië geword. Ten spyte van sy goed betaalde werk as dirigent van die militêre orkes het sy liefde vir Jehovah hom aangespoor om sy werk op te gee en ‘nie te kyk na die dinge wat agter is nie’ (Luk. 9:62). In die vroeë 1930’s het hy saam met die Duitse pionierbroers gereis en die “Fotodrama van die Skepping” vertoon. Hy het ook gehelp om gebiedskaarte te maak om die predikingswerk in Joego-Slawië te organiseer. In 1934 het hy met Frida, een van die Duitse pioniers, getrou. Hulle eerste toewysing was Sarajevo, Bosnië. Later het hulle die goeie nuus ook in dele van Masedonië, Montenegro, Kroasië en Serwië verkondig. Aan die begin het hulle meestal fietse gebruik, maar later het hulle ’n motorfiets gehad. Al het mense destyds nie die goeie nuus geredelik aanvaar nie en al was die predikingswerk verbied, het hulle besef hoe belangrik dit is om soveel mense as moontlik te bereik.
[Venster/Prente op bladsy 155, 156]
In siekte en gesondheid
Martin Poetzinger het in etlike Sentraal-Europese lande gedien voordat hy gevra is om toesig te hou oor ’n groep pioniers in Joego-Slawië. Dit was gedurende hierdie tyd dat hy Gertrud Mende, ’n ywerige pioniersuster uit Duitsland, ontmoet het, met wie hy later getroud is. Wat gesondheidsorg betref, moes die pioniers ten volle op Jehovah vertrou. Hoewel geen mediese versekering beskikbaar was nie, het hulle altyd die hulp gekry wat hulle nodig gehad het. Partykeer het Jehovah goedgesinde mense gebruik om in kritieke situasies te help. Byvoorbeeld, toe broer Poetzinger ernstig siek geword het in Zagreb, het suster Mende hom bygestaan.
Gertrud vertel: “In die middel-1930’s is ek en Martin albei gevra om in Sarajevo te gaan dien. Maar dinge het nie verloop soos ons verwag het nie. Een aand het Martin nie lekker gevoel nie, en gedurende die nag het hy ’n koors van byna 40 grade Celsius gekry. Die volgende oggend, toe ek na sy blyplek gegaan het om uit te vind hoe dit met hom gaan, was die vrou by wie hy geloseer het, bekommerd oor sy toestand. Ek en sy het hom probeer dokter met ’n plaaslike raat van gekookte wyn met baie suiker. Maar sy toestand het glad nie verbeter nie. Ek het ’n paar dokters gebel wie se name ek in die telefoongids gekry het, maar nie een was bereid om onmiddellik te kom nie. Hulle het almal verskonings gehad.
“Die vrou by wie hy geloseer het, het voorgestel dat ons die hospitaal kontak, en ek het toe die hoof van die hospitaal gebel en verduidelik dat Martin in die bed is met ’n koors wat al tot 40 grade Celsius gestyg het. Die man was baie vriendelik en het ’n ambulans gestuur. Toe Martin in die ambulans ingedra word, het die vrou vir my gesê: ‘Jy sal hom nie weer sien nie.’
“Asof dit nie stresvol genoeg was nie, was geld ook nog ’n probleem. Die enigste geld wat ons as pioniers gehad het, was wat ons as bydraes vir die lektuur gekry het, en dit was skaars genoeg om van te leef. Ons het nie geweet wat om te doen nie, en ons het nie geweet hoeveel die behandeling sou kos nie. Dr. Thaler het Martin ondersoek en gesê: ‘Martin het borsvliesontsteking en het ’n operasie nodig. Dit sal ’n hele ruk duur voordat hy weer heeltemal gesond is.’
“Dr. Thaler het seker besef hoe moeilik ons ekonomiese situasie is, want hy het gesê: ‘Ek wil mense met julle soort geloof ondersteun’, en hy het Martin se operasie gratis gedoen. Met Jehovah se hulp kon ons deur hierdie moeilike situasie kom. As gevolg van Martin se siekte kon ons nie na Sarajevo gaan nie, maar moes ons na Duitsland terugkeer.”
[Prent]
Martin Poetzinger in Duitsland, 1931
[Venster/Prent op bladsy 161, 162]
Sekulêre werk bedags, drukwerk snags
LINA BABIĆ
GEBORE 1925
GEDOOP 1946
PROFIEL Sy dien al by Bethel vandat die werk in 1953 gewettig is. Sy het gehelp met die druk en versending van tydskrifte en lektuur. Vandag dien sy getrou by Bethel in Zagreb.
NADAT die broers uit die tronk vrygelaat is, is daar spoedig begin met voorbereidings om tydskrifte te druk. Maar daar was min broers, en daar was baie werk om te doen. Toe ek van die situasie bewus word, het ek besluit om my beskikbaar te stel, al het ek ’n sekulêre werk gehad. Ek wou nogtans help. Ek het dus heeldag gewerk by my sekulêre werk, en dan het ek tot laat in die nag die lektuur gedruk.
Destyds het die tak nog nie eiendom in die stad besit nie. Daarom het ’n ouer egpaar, Petar en Jelena Jelić, hulle eenkamerwoonstel beskikbaar gestel sodat lektuur daar gemimeografeer kon word. Die kamer was net omtrent 4,5 meter by 4,5 meter. ’n Houtraam met ’n linnedoek daaroor gespan, is op die bed gesit, en die gedrukte bladsye is daarop gestapel. Langs die bed was ’n tafel waarop die handmimeograaf gestaan het. Ons het omtrent 800 bladsye per uur gedruk. In vergelyking met moderne drukperse is dit nie baie nie, maar ons was tevrede dat ons met geduld en baie harde werk al die lektuur kon produseer wat nodig was.
Dit was baie roerend om te sien hoe geduldig die Jelić-egpaar vir ons wag om op te hou werk en die opgestapelde gedrukte bladsye te skuif sodat hulle kan gaan slaap. Hulle het nooit gekla nie. Inteendeel, hulle was gelukkig, en hulle oë het geskitter van vreugde omdat hulle die Koninkrykswerk op hierdie manier kan ondersteun. Wanneer Jelena en ander bejaarde susters kon, het hulle gehelp om die gedrukte bladsye saam te voeg, vas te werk en te vou. Sulke hulp was van onskatbare waarde.
In 1958 het ons ’n elektriese mimeograaf gekry, en drukwerk het dus makliker geword. Wat in 1931 as net 20 tydskrifte begin het, het teen die vroeë 1960’s 2 400 eksemplare in drie tale—Kroaties, Serwies (Cyrillies) en Sloweens—geword. Al kon ons nie boeke druk nie, het ons baie boekies gedruk. In 1966 het ons meer lektuur as ooit tevore gedruk. Die boek Dinge waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg is deur ’n plaaslike drukker gedruk en het as 12 boekies verskyn. Elke stel van 12 boekies het ’n volledige boek uitgemaak. Vir die drie tale het dit beteken dat 600 000 boekies gedruk moes word om die ekwivalent van 50 000 boeke te produseer.
Vandag dien ek by Bethel in Zagreb. Ek is bly wanneer ek terugkyk oor my jare van diens en sien hoe Jehovah die werk in al die lande van die voormalige Joego-Slawië geseën het.
[Venster/Prent op bladsy 176, 177]
“Môre is alles dalk anders”
IVICA ZEMLJAN
GEBORE 1948
GEDOOP 1961
PROFIEL Hy was vyf keer in die tronk weens sy neutraliteit. Later het hy as ’n naweekkringopsiener gedien, en vandag dien hy as ’n ouer man in ’n gemeente in Zagreb.
MY OUERS was in die waarheid, en ons het by die huis altyd oor die waarheid gepraat. Toe ek vir diensplig opgeroep is, het ek aangemeld en gesê dat ek ’n verklaring wil aflê. Nadat ek my neutrale standpunt verduidelik het, is ek verhoor en tot nege maande tronkstraf gevonnis. Toe ek vrygelaat is, het nuwe oproepinstruksies reeds vir my gewag. Ek is weer eens verhoor en gevonnis, dié keer tot een jaar tronkstraf. Ná my vrylating is ek ’n derde keer opgeroep en weer verhoor. Hierdie keer is ek tot 15 maande tronkstraf gevonnis. Die vierde keer is ek tot 20 maande gevonnis en die vyfde keer tot twee jaar—altesaam meer as ses jaar in die tronk. Dit alles het tussen 1966 en 1980 plaasgevind.
Ek is twee keer na Goli Otok, in die Adriatiese See, gestuur. Die hele eiland was ’n tronk vir politieke gevangenes. Ek is soos een van hulle behandel. Ons taak was om “die see op te vul”. Ons het klippe in ’n houtkis van een kant van die eiland na die ander kant gedra en dit in die see gegooi. Elke vrag het meer as 100 kilogram geweeg. Dan het ons teruggeloop om nog klippe te gaan haal—dieselfde sinlose werk oor en oor, die hele dag lank.
Die tweede keer toe ek na Goli Otok gestuur is, was die gebruik om elke nuweling ’n maand lank in alleenopsluiting te hou. Dit was vreeslik om heeltemal alleen toegesluit te wees. Gedurende dié tyd het ek meer as ooit tevore gebid. Ek het nie ’n Bybel of enige Bybelpublikasies gehad nie. Dit was vir my uiters moeilik om heeltemal afgesonder te wees. Die enigste aanmoediging wat ek ontvang het, was in ’n brief van my ouers. Maar dit was toe dat ek die volle krag van die apostel Paulus se woorde besef het: “Wanneer ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:10). Hoe gelukkig en sterk het ek tog gevoel toe ek vrygelaat is en daarna werk gevind het.
In ’n ander tronk is ek na ’n sielkundige gestuur wat my uitgetrap en my beledig het. Hy het op my geskreeu en onder andere gesê dat ek nie normaal is nie. Ek is glad nie toegelaat om my te verdedig nie. Die volgende dag het dieselfde sielkundige my weer ingeroep en in ’n heeltemal ander stemtoon vir my gesê: “Ek het aan jou gedink, en ek dink nie hierdie tronk is die regte plek vir jou nie. Ek sal vir jou werk buite die tronk kry.” En tot my verbasing het hy dit toe gedoen. Ek weet nie wat hom van mening laat verander het nie, maar dit het vir my gewys dat ons nooit moet bang wees of dink dat daar geen uitweg is nie. Môre is alles dalk anders. Ek is dankbaar teenoor Jehovah vir al die ondervindinge wat my nader aan hom laat kom het.
[Venster/Prent op bladsy 179]
‘Mag mense oor sokker praat?’
HENRIK KOVAČIĆ
GEBORE 1944
GEDOOP 1962
PROFIEL In 1973 was hy ’n naweek- reisende opsiener, en van 1974 tot 1976 het hy as ’n voltydse reisende opsiener gedien. Hy is tans ’n lid van die Takkomitee in Kroasië.
ONS het nooit geweet of ons ná velddiens weer huis toe sou kom nie. Die polisie het ons dikwels in hegtenis geneem en ondervra. Wanopvattings was algemeen.
Toe ons eenkeer by die polisiestasie was, is daar vir my gesê dat ons slegs oor God mag praat by plekke wat vir dié doel geregistreer is en nie op straat of van huis tot huis nie. Soos Nehemia het ek ’n skietgebed gedoen en Jehovah gevra om my te help om die regte woorde te vind. Toe het ek die ondersoekbeampte gevra: “Mag mense net in die stadion oor sokker praat, of mag hulle dit ook op ander plekke doen?” Hy het gesê dat mense op enige plek oor sokker kan praat. Toe het ek gesê: “Dit beteken dan tog sekerlik dat ’n mens ook op enige plek oor God kan praat, nie net in ’n kerk of plek van aanbidding nie.” Hoewel ek en my maat vyf uur lank ondervra is, is ons vrygelaat.
Wanneer ek en my vrou, Ana, oor 40 jaar se diens terugkyk, kan ons sê dat ons dit vir niks ter wêreld sou verruil nie. Saam het ons die voorreg gehad om byna 70 mense te help om die waarheid te leer. Elke toewysing wat ons van Jehovah ontvang, kan ons lewens net verryk.
[Venster/Prent op bladsy 195, 196]
Ons het belowe om terug te kom
HALIM CURI
GEBORE 1968
GEDOOP 1988
PROFIEL Hy het gehelp met die organisering van noodleniging in Sarajevo asook met die verspreiding van voorrade. Hy dien tans as ’n ouer man, ’n lid van die Hospitaalskakelkomitee en ’n regsverteenwoordiger van Jehovah se Getuies in Bosnië en Herzegowina.
IN 1992 was die stad Sarajevo beleër. Wanneer ons geen lektuur ontvang het nie, het ons ouer tydskrifte gestudeer. Die broers het ’n ou tikmasjien gebruik om beskikbare studieartikels oor te tik. Al was ons net 52 verkondigers, het meer as 200 ons vergaderinge bygewoon, en ons het omtrent 240 Bybelstudies gehou.
In November 1993, toe die oorlog op sy ergste was, is ons dogter, Arijana, gebore. Dit was ’n moeilike tyd om ’n kind in die wêreld te bring. Ons het soms weke lank nie lopende water of elektrisiteit gehad nie. Ons het meubels as brandhout gebruik, en ons moes deur gevaarlike gebiede gaan om by die vergaderinge te kom. Sluipskutters het na willekeur geskiet, en ons moes dus hardloop om sekere strate oor te steek of verby versperrings te kom.
Een stil dag, toe ek, my vrou, ons baba en broer Dražen Radišić ná die vergadering op pad huis toe was, het masjiengeweervuur skielik losgebars. Ons het op die grond gaan lê, maar ’n koeël het my in die maag getref. Die pyn was ondraaglik. Baie mense wat by hulle vensters uitgekyk het, het gesien wat gebeur, en ’n paar dapper jong mans het uit die huise gehardloop om ons na veiligheid te bring. Hulle het met my hospitaal toe gejaag, waar die dokters my dringend ’n bloedoortapping wou gee. Ek het aan die dokter verduidelik dat my gewete my nie sal toelaat om ’n bloedoortapping te aanvaar nie. Hulle het druk op my uitgeoefen om my besluit te heroorweeg; maar ek was vasbeslote en bereid om die gevolge daarvan te dra. Hulle het nietemin die twee en ’n half uur lange operasie gedoen, en ek het herstel sonder om ’n bloedoortapping te kry.
Ná die operasie het ek rus nodig gehad, iets wat weens die oorlog onmoontlik was. Ons het besluit om by ons familie in Oostenryk te gaan kuier. Maar die enigste manier om Sarajevo te verlaat, was deur ’n tonnel onder die lughawe. Die tonnel was byna ’n kilometer lank en net meer as ’n meter hoog. My vrou het die baba gedra, en ek het ons bagasie probeer dra. Maar weens my operasie moes sy my help.
Ons het ons besoek aan Oostenryk geweldig geniet. Toe ons Sarajevo verlaat het, het ons ons broers en ons Skepper belowe dat ons sou terugkom. Dit was baie moeilik om ons familie in Oostenryk te verlaat, veral my ma. Maar ons het verduidelik dat ons God belowe het dat ons na Sarajevo sou terugkeer as hy ons help om uit die land te kom sodat ons ’n bietjie kon rus. Hoe kon ons nou vir God sê: “Dankie dat u ons gehelp het om hier te kom. Ons geniet dit regtig om hier te wees, en ngou wil ons graag bly”? Boonop het die broers in Sarajevo ons nodig gehad. In al hierdie dinge was my vrou, Amra, ’n groot ondersteuning.
In Desember 1994 het ons dus by die tonnel in Sarajevo aangekom. Dié keer was ons op pad in Sarajevo in. Toe mense ons deur die tonnel sien terugkom, het hulle gevra: “Wat doen julle? Almal probeer uitkom, en julle gaan terug na die beleërde stad?” Ek kan nie woorde vind om die wonderlike hereniging te beskryf wat ons met ons broers by die Koninkryksaal in Sarajevo gehad het nie. Ons was nog nooit spyt dat ons teruggekom het nie.
[Venster op bladsy 210]
Kroasië se eilande
Daar is meer as 1 000 eilande, waarvan sowat 50 bewoon word, langs Kroasië se 1 778 kilometer lange kuslyn. Die eilande wissel in grootte van net meer as een vierkante kilometer tot 400 vierkante kilometer.
Die eilandbewoners se vernaamste aktiwiteite is om vis te vang, olyfbome te kweek, vir wingerde te sorg en in hulle tuine te werk. Die Kornati- Nasionale Park, ’n eilandgroep van 140 eilande en riwwe, het asemrowende plekke om te duik. Op Krapanj en Zlarin duik die bewoners korale en sponse uit. Die eiland Hvar lewer laventel, heuning en roosmarynolie. Die bewoners van die barre eiland Pag maak ’n gesogte kaas van die melk van die geharde skape wat die eiland se kruiebossies en souterige gras eet.
Jehovah se Getuies wend spesiale pogings aan om al die eilandbewoners te bereik. Party hoef net ’n brug oor te steek om ’n eiland te bereik, terwyl ander ’n veerboot moet gebruik. Groepe Getuies geniet dit om spesiale kampanjes te reël en ’n paar dae lank op ’n eiland te gaan preek. Maar dit kan ’n uitdaging wees om met die eilandbewoners te praat omdat hulle hulle eie dialek ontwikkel het wat vir mense van die vasteland moeilik kan wees om te verstaan.
Gelukkig reageer eilandbewoners gunstig op die goeie nuus, en op die eiland Korčula is daar ’n gemeente met 52 verkondigers. Die feit dat die gemeente so afgeleë is, bied ’n uitdaging aan sprekers wat ’n openbare toespraak daar gaan hou. Maar hulle moeite help hierdie afgeleë gemeente om met die wêreldwye Christenbroederskap verenig te bly.—1 Pet. 5:9.
[Venster/Prent op bladsy 224]
“Ek het my 11 dae vroeg by die tronk aangemeld”
PAVLINA BOGOEVSKA
GEBORE 1938
GEDOOP 1972
PROFIEL Sy het in 1975 begin pionier, en in 1977 het sy die eerste spesiale pionier in Masedonië geword. Sy het al 80 mense gehelp om die waarheid te leer.
TERWYL ek aan die predikingswerk deelgeneem het, is ek dikwels by die polisie aangegee, wat my na die polisiestasie geneem en my ondervra het—soms ure lank. Ek is baie keer beboet. In die hof is ek valslik daarvan beskuldig dat ek ’n politieke vyand van die Staat is en Westerse propaganda versprei. Eenkeer is ek tot 20 dae tronkstraf gevonnis, en op ’n ander keer tot 30 dae.
Ek was veronderstel om my tronkstraf van 20 dae uit te dien op dieselfde tyd dat ons ’n streekbyeenkoms sou hê. Ek het die hof gevra om my vonnis uit te stel, maar my versoek is geweier; ek het dus besluit om my 11 dae vroeg by die tronk aan te meld. Die tronkbeamptes was verbaas om my daar te sien. Hulle kon nie glo dat iemand so gou as moontlik tronk toe sou wou gaan nie. Ek het die geleentheid gehad om ’n getuienis te gee, en hulle het belowe om alles in hulle vermoë te doen om na my om te sien. Elf dae later het ’n polisiebeampte na die tronk gekom om te sien of ek my al daar aangemeld het. Stel jou sy verbasing voor toe die tronkbeamptes hom inlig dat ek al 11 dae lank daar is! Op die ou end kon ek die byeenkoms bywoon.
[Venster/Prent op bladsy 232]
‘Hulle het die beste gegee wat hulle gehad het’
ŠANDOR PALFI
GEBORE 1933
GEDOOP 1964
PROFIEL Sy ouers het die waarheid kort ná die Tweede Wêreldoorlog geleer in ’n kamp wat deur die Partisane opgerig is. Hy het as ’n naweek- reisende opsiener gedien en is nou ’n lid van die Serwiese Landskomitee.
OMDAT ons gesin van Hongaarse afkoms is, is ons vir ’n ruk na ’n kamp gestuur wat deur die Partisane opgerig is. Maar dit was op die ou end ’n seën omdat my ouers die waarheid daar geleer het. As tiener het ek nie veel in die waarheid belanggestel nie. Maar broer Franz Brand, wat ’n paar jaar lank in ons huis gewoon het, het ’n groot invloed op my gehad. Toe hy my gevra het om ’n Hongaarse publikasie in Serwies te vertaal, het ek ingestem omdat ek behulpsaam wou wees. Ek het later uitgevind dat dit glad nie nodig was om dit te vertaal nie; hy wou maar net seker maak dat ek die publikasie lees. Sy taktiek het gewerk, en ek is ’n ruk later, in 1964, gedoop.
Een van my grootste vreugdes was om as ’n reisende opsiener te dien. Dit was nie altyd maklik nie, want die broers was redelik arm. Baie keer het ek saam met die hele gesin in een kamer geslaap. Al die opofferings was die moeite werd. Dit was wonderlik om die vreugde van die broers te sien, wat gretig op die besoek gewag het. Hulle het alles in hulle vermoë gedoen om die beste te gee wat hulle gehad het. Hoe kon ek anders as om dankbaar te wees?
[Venster/Prent op bladsy 236, 237]
“Waar kan ek dié mense vind?”
AGRON BASHOTA
GEBORE 1973
GEDOOP 2002
PROFIEL Hy was ’n soldaat in die Kosovo-Bevrydingsleër en dien nou as ’n gewone pionier en bedieningskneg.
TOE ek al die verskriklike dinge sien wat tydens die oorlog gebeur, insluitende die moord op klein kindertjies, het ek tot die slotsom gekom dat God nie bestaan nie. ‘As hy wel bestaan’, het ek gedink, ‘waarom doen hy niks omtrent al die lyding nie?’ My geloof is verder afgebreek toe ek sien hoe Moslem-godsdiensleiers die oorlog teen die Serwiërs ondersteun. Voor die oorlog was ek ’n Moslem; maar teen die einde van die oorlog het ek ’n ateïs geword en by die Kosovo-Bevrydingsleër aangesluit. Hoewel ek net ’n kort rukkie by hulle was, het ek groot respek afgedwing en baie voorregte ontvang. Dit het my aggressief en trots laat word, aangesien mense al my opdragte uitgevoer het.
Ongelukkig het ek ook hierdie gesindheid teenoor my vrou geopenbaar. Ek het gedink dat sy moet doen wat ek sê en dat sy my bevele altyd moet gehoorsaam. My vrou, Merita, het gedurende die oorlog met die Getuies in aanraking gekom en het van hulle lektuur gehad. Een aand voordat sy gaan slaap het, het sy gesê: “Vat asseblief hierdie boekies en lees dit. Dit handel oor God.” Ek was woedend omdat sy gedink het dat sy my oor God kon leer. Om verdere konfrontasie te vermy, het Merita kamer toe gegaan en gaan slaap.
Toe ek alleen daar sit met die lektuur, het ek besluit om die brosjure Wat vereis God van ons? te lees. Daarna het ek die boekie The Time for True Submission to God gelees. As ’n Moslem was ek verbaas dat dit uit die Koran aangehaal het. Toe het ek ’n paar nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! gelees. Later daardie aand het ek na die slaapkamer gegaan en my vrou wakker gemaak. “By wie het jy dit gekry?” het ek gevra. “Waar kan ek dié mense vind?”
Ek is diep getref deur wat ek gelees het, maar my vrou was skepties en bang vir wat ek dalk sou doen. Nietemin het ons daardie aand ’n Getuie gebel en uitgevind wanneer en waar hulle vergadering gehou sou word. Die volgende oggend het ons na die vergadering gegaan. Die broers se vriendelikheid en hartlikheid het my baie beïndruk! Ek het nie gedink dat daar sulke mense op die aarde kan wees nie. Ek kon sien dat hulle anders is. Gedurende die vergadering het ek ’n vraag gehad en kon ek skaars wag om die antwoord daarop te kry; ek het selfs my hand opgesteek om dit te vra. Omdat die ouer manne nie geweet het waarom ek so graag met hulle wou praat nie, was hulle ’n bietjie senuweeagtig. Hoe verlig was hulle tog toe hulle besef dat ek net wou weet wat ek moes doen om een van Jehovah se Getuies te word!
Ek het daardie selfde dag die Bybel begin studeer. Dit was nie maklik om al die veranderinge te maak wat ek in my persoonlikheid wou aanbring nie. Ek wou ophou rook, en ek het gevoel dat ek alle bande met my voormalige vriende moes verbreek. Gebed en gereelde vergaderingbywoning het my gehelp om berou te toon oor my vorige lewenswyse en my met die nuwe persoonlikheid te beklee. Wat ’n verskil het die waarheid tog in my lewe en dié van my gesin gemaak! Ek en my vrou dien nou as gewone pioniers, en in 2006 is ek as ’n bedieningskneg aangestel. Nou kan ek ander help om te verstaan waarom mense ly en hoe Jehovah binnekort al ons probleme sal oplos.
[Venster/Prent op bladsy 249, 250]
“Dit het gelyk of Jehovah hulle oë verblind het”
JANEZ NOVAK
GEBORE 1964
GEDOOP 1983
PROFIEL Hy was drie jaar in die tronk weens sy geloof en is nou ’n lid van die Sloweense Takkomitee.
IN Desember 1984 het die militêre owerheid my herhaaldelik beveel om my vir militêre diens aan te meld. Toe hulle die oproepinstruksies op my deur plak en dreig dat die militêre polisie my sou kom haal, het ek besluit om my by die kaserne aan te meld om my standpunt aan hulle te verduidelik. Dit het nie gehelp nie, en hulle het besluit om alles in hulle vermoë te doen om van my ’n soldaat te maak. Hulle het my kop kaalgeskeer, my burgerklere weggeneem en my ’n soldate-uniform gegee. Toe ek weier om die uniform aan te trek, het hulle dit met geweld vir my aangetrek; daarna het hulle my ’n pen in die hand gestop en my probeer dwing om ’n dokument te onderteken wat sê dat ek by die leër aansluit. Ek het geweier.
Ek het ook geweier om aan aktiwiteite soos die oggendoefeninge en vlagsaluering deel te neem. Toe vier soldate my na die oefenterrein toe neem en my beveel om die oefeninge te doen, het ek geweier om my hande op te lig. Hulle het my hande probeer oplig totdat hulle besef het hoe belaglik die situasie is. Hulle het ’n geweer op my gerig en gedreig om my dood te skiet. Soms het hulle my probeer omkoop deur vir my koffie en koek aan te bied.
My vasbeslotenheid het party van hulle tot trane gedryf. Ander het woedend geword wanneer ek geweier het om te spoeg op die foto van maarskalk Tito wat hulle voor my gesig gehou het. Ná ’n paar dae het hulle my probeer dwing om wapens te dra, wat ek ook geweier het om te doen. Dit is as ’n militêre oortreding beskou, en ek was ’n maand lank in kasernearres. Daarna is ek ’n paar weke in ’n tronksel in Zagreb, Kroasië, aangehou terwyl ek op die uitspraak gewag het. ’n Rooi lig het heelnag in die sel gebrand, en net as die persoon in beheer in ’n goeie bui was, is ek toegelaat om toilet toe te gaan.
Uiteindelik is ek gevonnis tot drie jaar tronkstraf op ’n Adriatiese eiland met die naam Goli Otok, waarheen hulle die ergste misdadigers gestuur het. Hulle het my na hierdie tronk geneem, wat berug is vir geweld onder die gevangenes, met my hande in boeie omdat ek geweier het om te veg. Daar het ek vier ander Getuies ontmoet wat weens hulle neutrale standpunt in die tronk was.
Ons is nie toegelaat om ’n Bybel of enige ander lektuur in te bring nie. Maar daar was reeds een Bybel. My familielede het vir my Die Wagtoring in ’n boks met ’n vals bodem gepos. Die wagte het nooit ons lektuur gevind nie en het nooit uitgevind dat ons Christelike vergaderinge hou nie. Partykeer wanneer wagte skielik ingekom het, het lektuur wat nie ons weggebêre het nie, oop en bloot gelê, maar dit het gelyk of Jehovah hulle oë verblind het, want hulle het niks gesien nie.
Ná ’n jaar is ek na Slowenië oorgeplaas om die res van my vonnis uit te dien. Ek het met Rahela getrou terwyl ek nog in die tronk was. Toe ek uiteindelik vrygelaat is, het ek saam met my vrou begin pionier, en ons dien sedert 1993 by die Sloweense Bethel.
[Tabel/Grafiek op bladsy 244, 245]
TYDLYN—Lande van die voormalige Joego-Slawië
1920’s ’n Klein groepie vergader in Maribor, Slowenië, om die Bybel te bespreek.
1930’s Duitssprekende pioniers word na Joego-Slawië gestuur.
1935 ’n Takkantoor word in Belgrado, Serwië, gevestig om toesig te hou oor die werk.
1940
1941 Die Duitse leër val die land binne; daarna volg hewige vervolging.
1950
1953 Jehovah se Getuies word wetlik erken; maar die huis-tot-huis-werk word beperk.
1960
1969 ’n Internasionale byeenkoms word in hierdie stadion in Neurenberg, Duitsland, gehou.
1970
1990
1991 Eerste internasionale byeenkoms word in Zagreb, Kroasië, gehou. Eerste Gileadopgeleide sendelinge kom aan. ’n Kantoor word in Slowenië geopen onder die toesig van die Oostenrykse tak. Oorlog breek uit.
1993 Jehovah se Getuies word in Masedonië geregistreer.
1994 ’n Hospitaalskakelkomitee word in Slowenië gestig.
2000
2003 Jehovah se Getuies verkry wetlike erkenning in Kroasië. ’n Nuwe Bethel word in Masedonië toegewy.
2004 Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Sloweens vrygestel.
2006 ’n Nuwe takkantoor word in Slowenië toegewy. Die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif word in Kroaties, Serwies en Masedonies vrygestel. ’n Chinese groep word in Belgrado, Serwië, gevorm.
2007 Spesiale toespraak word vir die eerste keer in Masedonië in Romani gehou. Die eerste publikasie in Romani word vrygestel.
2010
[Grafiek]
(Sien publikasie)
Aantal verkondigers
Aantal pioniers
14,000
10,500
7,000
3,500
1940 1950 1960 1970 1990 2000 2010
[Kaarte op bladsy 147]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TSJEGGIESE REPUBLIEK
OOSTENRYK
WENE
SLOWAKYE
BRATISLAVA
HONGARYE
BOEDAPEST
ROEMENIË
BULGARYE
GRIEKELAND
ALBANIË
TIRANA
IONIESE SEE
ITALIË
ADRIATIESE SEE
VOORMALIGE JOEGO-SLAWIË
SLOWENIË
LJUBLJANA
Maribor
Kamnik
KROASIË
ZAGREB
SLAWONIË
Osijek
Vukovar
Vinkovci
Privlaka
Jasenovac
Šibenik
Split
DALMATIESE KUS
Goli Otok
Pag
Kornat
Zlarin
Krapanj
Hvar
Korčula
BOSNIË EN HERZEGOWINA
SARAJEVO
Bihać
Banja Luka
Tuzla
Travnik
Zenica
Vareš
Mostar
SERWIË
BELGRADO
VOJVODINA
Bor
MONTENEGRO
PODGORICA
Nikšić
Herceg Novi
Tara
Scutari-meer
KOSOVO
Peć
Priština
MASEDONIË
SKOPJE
Tetovo
Kočani
Štip
Kičevo
Strumica
Resen
Let wel: Die Verenigde Nasies het berig dat “Kosovo in Februarie [2008] sy onafhanklikheid van Serwië verklaar het”. In ’n poging om die geskil oor Kosovo se politieke status te besleg, probeer die VN se Algemene Vergadering “die Internasionale Geregshof se raad inwin”.
[Volbladillustrasie op bladsy 142]
[Prent op bladsy 145]
Franz Brand
[Prente op bladsy 146]
Rudolf Kalle en een van sy tikmasjiene
[Prent op bladsy 149]
’n Gehuurde vragmotor is gebruik om in Slowenië te preek
[Prent op bladsy 154]
Vroeë pioniers het voor baie uitdagings te staan gekom
[Prent op bladsy 157]
Alfred en Frida Tuček by hulle fietse
[Prent op bladsy 158]
Rudolf Kalle voor die Bethel in Belgrado, Serwië
[Prente op bladsy 168]
Franc Drozg, en ’n reproduksie van sy brief
[Prent op bladsy 180]
Regs: Die stal wat in ’n Koninkryksaal omskep is, Ljubljana, Slowenië
[Prent op bladsy 180]
Onder: Een van die eerste Koninkryksale in Zagreb, Kroasië
[Prent op bladsy 182]
Stojan Bogatinov
[Prente op bladsy 184, 185]
Agtergrond: “Vrede op aarde”- internasionale byeenkoms in 1969, Neurenberg, Duitsland; links: byeenkomstrein van Joego-Slawië; regs: Nathan Knorr
[Prent op bladsy 188]
Ðuro Landić
[Prente op bladsy 192]
Milton Henschel en die doopplegtigheid by die “Liefhebbers van goddelike vryheid”- internasionale byeenkoms in 1991, Zagreb, Kroasië
[Prent op bladsy 197]
Ljiljana, saam met haar dogters
[Prente op bladsy 199]
Noodlenigingsvoorraad is per vragmotor van Oostenryk af gebring
[Prent op bladsy 200]
Die Ðorem-gesin, 1991
[Prent op bladsy 204]
Doop in ’n visvat in Zenica, 1994
[Prente op bladsy 209]
Noodlenigingsvoorraad is in Zagreb, Kroasië, geberg
[Prent op bladsy 215]
Elke en Heinz Polach
[Prente op bladsy 216]
Takkomitee en takkantoor in Kroasië
[Prent op bladsy 228]
Noodlenigingsvoorraad word in Bosnië afgelewer
[Prente op bladsy 233]
Serwiese Landskomitee en Bethelfasiliteite in Belgrado
[Prent op bladsy 235]
Saliu Abazi
[Prente op bladsy 243]
Die predikingswerk in Podgorica; Koninkryksaal in Podgorica
[Prent op bladsy 247]
Ou deel van Piran, Slowenië
[Prent op bladsy 251]
Vorige takkantoor in Ljubljana, Slowenië, 2002
[Prent op bladsy 253]
Takkantoor in Kamnik, Slowenië, 2006
[Prent op bladsy 254]
Sloweense Takkomitee