Hulp vir vrouens wat mishandel is
“MILJOENE vrouens en meisies regoor die wêreld is al mishandel. Is jy een van hulle? Vind uit hoekom jou veiligheid vir God saak maak en wat hy oor die mishandeling van vrouens sal doen.”
Dit is hoe die artikel “Vrouens se veiligheid – Die Bybel se beskouing” op jw.org begin. ’n Skakel aan die einde van daardie artikel laat jou ’n PDF van die materiaal aflaai, wat dan gedruk en in ’n vierbladsy-pamflet gevou kan word. “Ek het kopieë gedruk en dit, saam met ’n ander suster, na ’n skuiling vir vrouens in my gemeente se gebied geneem,” sê ’n suster in die Verenigde State met die naam Stacy.
’n Werker daar het gevra of sy nog kopieë kan kry om vir dié wat by die skuiling bly, te gee. As gevolg daarvan is nog 40 van hierdie pamflette afgelewer saam met 30 jw.org-kontakkaartjies. Later wou die bestuurder van die skuiling hê dat die Getuies ’n persoonlike Bybelstudie moet demonstreer vir die vrouens wat daar bly.
Stacy en twee ander susters het soortgelyke sukses gehad by ’n ander skuiling waar vyf kopieë van die pamflet aanvaar is en nog aangevra is. “Hierdie pamflet sal die vrouens hier help,” het een van die werkers gesê. Sy het bygevoeg: “Ons het dit nodig.” Op ’n volgende besoek het ’n paar van die vrouens bymekaargekom om te sien hoe ’n Bybelstudie gedemonstreer word en het twee van hulle belangstelling daarin getoon om die volgende vergadering oor die naweek by ’n Koninkryksaal by te woon.
Stacy sê: “Ons is verbaas om te sien hoe hierdie pragtige artikel ontvang is. Wanneer dit gedruk en gevou word, is dit ’n aanloklike manier om die Koninkryksboodskap met hierdie spesiale gehoor te deel. Die liefdevolle reaksie wat ons ontvang het, het ons diep geraak, en ons is opgewonde om te sien hoe Jehovah ons pogings sal seën om aan te hou om hierdie goeie nuus met hierdie vrouens te deel.”