Reddingswerk op Robinson Crusoe-eiland
ROBINSON CRUSOE is een van die drie eilande in die Stille Oseaan wat die eilandgroep vorm wat Juan Fernandez genoem word en ongeveer 600 kilometer van die kus van Chili geleë is.a Die eiland is 93 vierkante kilometer groot en het sy naam gekry van ’n bekende 18de-eeuse roman met die titel Robinson Crusoe, wat deur die Engelse skrywer Daniel Defoe geskryf is. Die roman is klaarblyklik in breë trekke gebaseer op die avonture van ’n Skot, Alexander Selkirk, wat ongeveer vier jaar alleen op die eiland gewoon het.
’n Houtteken op die eiland sê gedeeltelik: “Op hierdie plek het die Skotse seevaarder Alexander Selkirk meer as vier jaar lank dag na dag die horison stip dopgehou om die reddingsboot te sien wat hom van sy afsondering sou verlos.” Uiteindelik is Selkirk gered en na sy vaderland teruggeneem, na ’n wêreld waarmee hy nie meer tevrede was nadat hy in sy eie paradysie gewoon het nie. Hy het na bewering later gesê: “O, my geliefde eiland! Ek wens ek het jou nooit verlaat nie!”
Met verloop van tyd is die eiland gebruik as ’n strafkolonie, wat bewoon is deur sommige wat “geloofsmisdade” teen die Katolieke Kerk gepleeg het. Wat ’n verandering tog van die paradysagtige eiland wat Selkirk destyds geken het! Maar die hedendaagse bewoners van die eiland geniet ’n vreedsaamheid wat in baie wêrelddele ongekend is. Die rustige lewenswyse, wat kenmerkend is van baie eilandkulture, maak dit maklik om gesprekke met byna enigiemand aan te knoop.
Robinson Crusoe het amptelik ongeveer 500 bewoners, maar gedurende die grootste deel van die jaar is daar net omtrent 400 mense op die eiland. Die rede is deels dat party moeders en hulle kinders gedurende die skooljaar op die vasteland, Chili, woon en net gedurende die vakansiemaande na die eiland terugkeer om tyd saam met die res van die gesin deur te bring.
Ondanks die pragtige, tuinagtige omgewing op Robinson Crusoe voel party eilandbewoners ’n geestelike leemte in hulle lewe en soek hulle na antwoorde. Ander het gevoel asof hulle geestelik gered moes word.
’n Geestelike reddingswerk
So ’n geestelike reddingswerk het omstreeks 1979 begin. ’n Vrou wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies in Santiago, Chili, gestudeer het, het na die eiland verhuis en met ander begin praat oor wat sy geleer het. ’n Ruk later het ’n gemeentelike ouer man die eiland om sekulêre redes besoek, en hy was verbaas om ’n klein groepie Bybelstudente te vind wat geestelik vooruitgang gemaak het omdat hierdie vrou hulle gehelp het. Teen die tyd dat die ouer man die eiland weer drie maande later besoek het, was hierdie afgesonderde Bybelonderrigter en twee van haar studente gereed om gedoop te word. Die ouer man het dus hulle doop waargeneem. Later het een van hierdie pas gedoopte Christene getrou, en sy en haar man het voortgegaan om saam na ander te soek wat geestelike redding nodig gehad het. Haar man het die leiding geneem om ’n beskeie Koninkryksaal te bou, wat nog steeds deur die klein groepie op die eiland gebruik word. Na verloop van tyd het hulle weens ekonomiese redes Robinson Crusoe verlaat en na ’n gemeente in die sentrale deel van Chili getrek, waar hulle Jehovah nog steeds ywerig dien.
Die klein groepie op die eiland het geleidelik gegroei namate ander van valse godsdiens gered is. Maar aangesien kinders vir hulle hoërskoolopleiding na die vasteland moet gaan, het die groepie verminder tot twee gedoopte susters en een jong meisie. Die groep is gedurende die vakansietyd groter wanneer party moeders na die eiland terugkeer. Dit is ’n aanmoediging vir die drie afgesonderde Christene wat die hele jaar daar bly. Weens die harde werk van hierdie susters is Jehovah se Getuies welbekend op Robinson Crusoe. Party eilandbewoners het wel standpunt teen hulle werk ingeneem en probeer druk op ander uitoefen om die Koninkryksboodskap te verwerp. Maar die saadjies van Bybelwaarheid wat in opregte harte geplant is, hou aan groei.
Dié wat gered is, word versterk
Een maal per jaar besoek ’n reisende opsiener die eiland. Hoe voel dit om ’n handjie vol Getuies op ’n afgeleë eiland te besoek? Een kringopsiener beskryf sy eerste besoek aan Robinson Crusoe:
“Hierdie besoek was soos ’n droom wat bewaarheid is. Dit het 7:00 vm. begin toe ons Valparaiso verlaat en na die Cerrillos-lughawe in Santiago gery het. Ons het op ’n klein vliegtuig, met sitplek vir sewe passasiers, geklim. Ná ’n vlug van 2 uur en 45 minute het ons in die verte ’n bergpiek gesien wat bo die wolke uittroon. Toe ons nader gekom het, het ons die eiland begin sien—’n indrukwekkende rotsmassa in die middel van die oseaan. Dit het gelyk asof dit in ’n watermassa dryf, soos ’n skip wat verlore is op see.
“Nadat ons geland het, het ons met ’n boot na die dorpie gereis. Hier en daar vind ’n mens klein eilandjies van rotse wat uit die see steek en as rusplekke vir Juan Fernandez se pelsrobbe dien. Die pelsrobbe is ’n beskermde spesie omdat hulle getalle grootliks afgeneem het. Skielik vlieg iets by die boot verby voordat dit weer in die see verdwyn. Dit was ’n vlieënde vis met sy geplooide vinne wat soos vlerke lyk. Hy het dit blykbaar geniet om uit die water te vlieg om insekte te vang. Soms word die vanger natuurlik ook gevang; sy spronge kan die aandag trek van ander roofvisse wat gereed is om hom in te sluk wanneer hy weer in die water duik.
“Uiteindelik het ons by die dorpie San Juan Bautista (St. Johannes die Doper) aangekom. Daar het heelwat eilandbewoners by die dok gestaan, wat óf vir hulle besoekers gewag het óf net nuuskierig was om te sien wie dié keer daar aangekom het. Ons was beïndruk met die pragtige panorama—die majestueuse en ruwe berg El Yunque (Die aambeeld), wat lyk of dit met ’n donkergroen fluweelmat bedek is, en in die agtergrond ’n helder, blou lugruim wat met ’n massa wit wolke omlyn is.
“Nie lank daarna nie het ons ’n groep van ons Christensusters en hulle kinders gesien wat vir ons by die dok gewag het. Dit was vakansietyd, en daarom was die groep groter as gewoonlik. Nadat ons mekaar hartlik gegroet het, is ons na ’n pragtige hut geneem wat ’n week lank ons huis sou wees.
“Dit was ’n baie spesiale week, en ons het geweet dat dit gou verby sou gaan. Ons moes ons tyd goed benut. Daardie selfde dag, onmiddellik ná middagete, het ons ’n Bybelstudent besoek wat binnekort ons geestelike suster en deel van God se geestelike paradys sou word. Sy het oorgeloop van vreugde, maar was ook ’n bietjie senuweeagtig. Haar langverwagte doelwit om gedoop te word, sou binnekort verwesenlik word. Ons het die nodige inligting met haar bespreek sodat sy as ’n verkondiger van die goeie nuus kon kwalifiseer. Die volgende dag het sy vir die eerste keer aan die predikingswerk deelgeneem. Die derde dag het ons die vereistes vir doop met haar begin bespreek. Voor die einde van die week is sy gedoop.
“Die vergaderinge wat gedurende die week gehou is, is goed ondersteun, met ’n maksimum bywoning van 14. Elke dag was daar reëlings vir velddiens, herbesoeke, Bybelstudies en herdersbesoeke. Wat ’n aanmoediging tog vir die susters wat die hele jaar deur alleen werk!”
Dit is moeiliker vir die mans op die eiland om die waarheid aan te neem, dalk omdat hulle sekulêre werk so veeleisend is. Die vernaamste werk is om krewe te vang, wat groot toegewydheid vereis. Vooroordeel speel ook ’n rol in die negatiewe reaksie van baie. Ons hoop nietemin dat meer eilandbewoners, mans en vroue, in die toekoms gunstig sal reageer.
Tien persone is tot dusver op die eiland gered deurdat hulle die waarheid en Jehovah God se voornemens leer ken het. Sedertdien het party van hulle die eiland om verskeie redes verlaat. Maar of hulle op die eiland aanbly of nie, hulle geestelike redding is van baie groter belang as die redding van Alexander Selkirk. Hulle geniet nou ’n geestelike paradys waar hulle ook al woon. Die susters en hulle kinders wat nog op die eiland woon, geniet ’n tuinagtige omgewing, maar nog belangriker, hulle het die vooruitsig om te lewe wanneer die hele aarde ’n ware paradys in die volle sin van die woord sal wees.
Die reddingswerk gaan voort
Geografies gesproke woon hierdie klein groepie van Jehovah se Getuies op Robinson Crusoe baie ver van die res van hulle geestelike broers en susters. En tog voel hulle nie verlate, soos die Skot Selkirk gevoel het nie. Deur middel van die konstante vloei van teokratiese lektuur, die video’s van kring- en streekbyeenkomste wat drie maal per jaar deur die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Chili aan hulle gestuur word en die jaarlikse besoek van die kringopsiener bly hulle altyd in aanraking met Jehovah se organisasie. Hulle bly dus ’n aktiewe deel van ‘die hele gemeenskap van broers in die wêreld’.—1 Petrus 5:9.
[Voetnoot]
a Die amptelike naam van die eiland is Más a Tierra.
[Kaarte/Prent op bladsy 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
CHILI
Santiago
ROBINSON CRUSOE-EILAND
San Juan Bautista
El Yunque
STILLE OSEAAN
SANTA CLARA-EILAND
[Prent]
Namate die eiland in sig kom, sien ’n mens ’n indrukwekkende rotsmassa in die middel van die oseaan
[Erkenning]
Kaart van Chili: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 8, 9]
Die majestueuse, ruwe berg met die naam El Yunque (Die aambeeld)
[Prent op bladsy 9]
Die dorpie San Juan Bautista (St. Johannes die Doper)
[Prent op bladsy 9]
Klein eilandjies dien as rusplekke vir pelsrobbe en seeleeus
[Prent op bladsy 10]
Ons het met ’n klein vliegtuig van Santiago, Chili, af gevlieg
[Prent op bladsy 10]
Die ruwe kuslyn van Robinson Crusoe-eiland
[Prent op bladsy 10]
Die beskeie Koninkryksaal op die eiland