Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 7/15 bl. 23-27
  • “Die begeerlike dinge” word ingesamel in Pole

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die begeerlike dinge” word ingesamel in Pole
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Pioniers baan die weg
  • Almal het daaroor gepraat
  • Hulle weerstaan die wêreldse gees
  • Geharde misdadigers verander
  • Geloof en volharding word getoets
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 7/15 bl. 23-27

“Die begeerlike dinge” word ingesamel in Pole

POLE is na bewering ’n Katolieke land. Volgens amptelike syfers behoort 93 persent van die bevolking aan die Katolieke Kerk. Maar die onlangse politieke en maatskaplike veranderinge wat daar plaasgevind het, het ’n merkwaardige uitwerking op die mense en op hulle godsdienstige lewe gehad. Opnames dui aan dat slegs sowat 50 persent van die respondente hulle as aktiewe Katolieke beskou.

In Mei 1989 het Jehovah se Getuies wetlike erkenning as ’n godsdiensorganisasie in Pole verkry. Sedertdien het sowat 11 000 nuwelinge hulle by hulle aangesluit as verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk. Nou assosieer meer as 106 000 Koninkryksverkondigers met oor die 1 300 gemeentes, en 200 422 persone het in 1991 die herdenking van Christus se dood bygewoon. Die voorspelde insameling van ‘die begeerlike dinge van die nasies’ vind dus tans in Pole plaas (Haggai 2:7, NW). Internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies wat baie aandag in die media geniet het, is onlangs in Pole gehou. Maar ’n kykie na die kleiner dorpe in die land sal veral toon hoe die insamelingswerk in daardie land vorder.

Pioniers baan die weg

Sztum is ’n dorp met ’n bevolking van ongeveer 10 000 wat geleë is naby die punt waar die Vistularivier in die Oossee uitmond. Hierdie dorp word al lank as moeilike gebied beskou om die predikingswerk in te doen. In 1987 was daar net agt verkondigers in die gebied. Die situasie het egter begin verander toe pioniers, of voltydse Koninkryksverkondigers, na die gebied toe gekom het. Die vyfde vergadering, wat in ’n bioskoop gehou is, is deur 100 belangstellendes bygewoon! ’n Gemeente is na twee jaar van harde werk gestig. Die 90 verkondigers het nou hulle eie Koninkryksaal, en 150 woon gereeld hulle vergaderinge by.

Soos hulle dit te wagte was, het hulle kort voor lank teenkanting van die Katolieke Kerk gekry. ’n Non wat deur die Kerk as ’n “kenner” beskou is, het lasterlike toesprake oor die Getuies gehou, waarin sy hulle daarvan beskuldig dat hulle valse leerstellings verkondig. Maar soos so dikwels gebeur, het dit geboemerang. Haar toesprake het net daartoe gelei dat mense die feite wou uitvind. Baie van hulle het die waarheid geleer en is nou gewone pioniers! Hulle sê: ‘Terwyl ons die waarheid geleer het, het ons gedink dat elkeen wat ’n Getuie wil wees soos sy onderwyser moet wees, en dit het beteken dat jy ’n pionier moes word.’ Gevolglik het die hele gemeente die pioniergees.

Gevolglik word sowat 180 Bybelstudies in die gebied gehou. Sommige het selfs met behulp van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe leer lees. Terselfdertyd het hulle die waarheid geleer. Bybelstudies van tien minute lank word op ’n gereelde basis met ’n groep prisoniers van die plaaslike gevangenis gehou wanneer hulle uitkom om die strate skoon te maak. Een van hulle het vir ’n Getuie opgekom toe ’n vrou wat by haar verbygeloop het haar begin beledig het. Hy het na die suster toe gehardloop, die Paradys op aarde-boek uit haar hande geneem, dit na die vrou wat haar beledig het, gehou en haar gevra: “Kan jy nie lees nie? Wat staan hier? Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe! Het jy al ooit van so iets gehoor? Hoe durf jy God en sy aanbidders beledig?”

Almal het daaroor gepraat

Kruszwica, Pole se eertydse beroemde hoofstad, is oorwegend Katoliek. Selfs teen die middel van 1990 was daar net ’n paar Getuies onder die 9 300 inwoners. Maar Jehovah het die pogings van die Koninkryksverkondigers ryklik geseën.

Al hoe meer mense—veral jongmense—het die skynheiligheid van hulle geestelike leiers raakgesien en hulle gevolglik tot die Getuies vir antwoorde gewend. In ’n baie kort tydjie is 20 tuisbybelstudies begin. Die plaaslike priester het ’n paar venynige preke teen Jehovah se Getuies gehou, maar dit het nie opregte mense ontmoedig om hulle vergaderinge by te woon nie. Die Getuies het die hoofonderwerp van bespreking in die winkels en parke en selfs in die kerk geword. Ses maande later is twee groot boekstudiegroepe gevorm. Kruszwica het nou ’n baie bedrywige gemeente van sowat 35 aanbidders van Jehovah. Hulle hou 75 tuisbybelstudies en is ywerig besig om “die begeerlike dinge” in te bring wat vroeër deur valse godsdiens gevange gehou is.

Onder hulle is die 23-jarige Bogdan, ’n lid van ’n streng Katolieke gesin. Hy vertel: “Ek het altyd gedrink, gerook en ’n onsedelike lewe gelei. Ek was bekend as ’n punk en ’n anargis, en dit het gelyk of niemand omgegee het nie. Maar toe ek die Bybel begin bestudeer het, het my ma gedreig om haarself te vergiftig. Ek het onder die druk geswig en alle bande met die Getuies verbreek. Later kon ek, met die liefdevolle hulp van spesiale pioniers, met al die slegte gewoontes breek. Ek is by die ‘Liefhebbers van Vryheid’-Streekbyeenkoms in 1991 gedoop, en ek het die voltydse diens as my lewensdoel gekies en doen vandat ek gedoop is hulppionierdiens.”

Die een-en-twintigjarige Sławomir was diep betrokke by spiritisme en Satanisme, wat hy verwerp het toe hy sien dat die Bybel sulke gebruike veroordeel. “Maar Satan het my bly teister”, sê hy. “Een nag het die platespeler vanself begin speel, en ek het sataniese musiek gehoor, hoewel ek alles wat met Duiwelaanbidding te doen gehad het uit die huis verwyder het. Ek het tot Jehovah gebid, en hy het my gehelp om my geestelike balans te herwin. ’n Psigiater wat ek op aandrang van my ouers geraadpleeg het, het die drastiese verbetering in my toestand opgemerk en my gesond verklaar. Hy het op my kaart geskryf: ‘Genees deur Jehovah se Getuies.’”

Hulle weerstaan die wêreldse gees

Środa Śląska lê suidwes van Kruszwica. “Die begeerlike dinge” maak ook hulle verskyning in hierdie klein dorpie met 9 000 mense. Vier jaar gelede het net een van ons geestelike susters daar gewoon. Die aantal Koninkryksverkondigers het egter nou tot 47 gestyg. Baie van die Getuies was vroeër in die strikke van spiritisme, dwelmverslawing en onsedelikheid vasgevang. Hulle meen dat dit grotendeels te wyte was aan die geestelike leemte in die kerk wat mense net geestelik kan veroordeel, en hulle nie kan help nie. Die Getuies bied die mense ware verligting.

Die jongmense in die gemeente het die skool hulle persoonlike gebied vir die predikingswerk gemaak. “My skoolmaats sê baie keer vir my: ‘Jy vermors jou jeugjare’”, sê die 18-jarige Kasia. “Maar ek het baie probleme vrygespring, en my lewe het sinvol geword. Ek hou ’n hele paar Bybelstudies by die skool, en ek skeep nie my huiswerk of my persoonlike studie af nie. Meisies wat sê dat ek ‘my jeugjare vermors’, het reeds babas, en hulle het baie probleme.”

Die Wagtoringpublikasies het baie gewild in die plaaslike skole geword. ’n Onderwyseres wat Pools gee, het byvoorbeeld vir haar leerlinge gesê dat hulle die eenvoudige taal van ons tydskrif Ontwaak! as ’n voorbeeld vir hulle opstelle moet gebruik. Hulppionier Ewa vind die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies baie nuttig. “Ek waardeer hierdie publikasie baie. My onderwysers ken dit goed. Ek het nog nooit ’n probleem gehad om toestemming te kry sodat ek gedurende skooltyd groot byeenkomste kan bywoon nie.” So ’n pragtige gesindheid in jongmense verbly Jehovah se hart.—Spreuke 27:11.

Geharde misdadigers verander

Oos van Środa Śląska lê Strzelce Opolskie wat twee gevangenisse het. Een is ’n maksimumsekuriteitsgevangenis vir verstokte oortreders. Die Getuies besoek hierdie twee strafinrigtings gereeld om die waarheid vir die gevangenes te bring, waarvan baie ook gevangenes van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, is.—Openbaring 18:1-5, vgl. NW.

Die Getuies studeer die Bybel met individue en met klein groepies gevangenes, en sommige van hulle is al gedoop. Hoewel hulle hulle vonnis moet uitdien, verkondig hulle die goeie nuus ywerig aan ander gevangenes. Een gevangene wat hom vir doop voorberei, het sulke merkwaardige veranderinge in sy lewe aangebring dat die gevangenisowerhede hom toegelaat het om een keer per week huis toe te gaan. Ander het aan hulle familie geskryf dat hulle vasbeslote is om die gevangenis, nie as misdadigers nie, maar as Jehovah se Getuies, te verlaat.

Die hoof van een van die gevangenisse het gekla dat Katolieke priesters gewoonlik daarheen gekom het, maar dat hulle niks bereik het nie. Hy het die Getuies gevra: “Hoe kry julle dit reg om hierdie mense te verander en te rehabiliteer?” ’n Brief van ’n gevangene aan sy gesin verskaf die antwoord: “Hier in die tronk het Jehovah se Getuies my vertel van God se wonderlike belofte aangaande die nuwe regering, Jehovah se Koninkryk, wat weldra oor die aarde gaan regeer. Hier het ek tyd gehad om my vorige lewenswyse in die lig van die Bybel te ontleed. Nadat ek tot pynlike gevolgtrekkkings gekom het, het die begeerte my aangegryp om bevry te word en ’n onderdaan van God se Koninkryk te word. Vandag is ek ’n gedoopte Getuie van Jehovah.”

In die ander gevangenis dien baie ’n vonnis van 25 jaar uit vir moord. ’n Gereelde Bybelstudie word met 12 mans gehou. Een van hulle het sy lewe aan Jehovah toegewy en is gedoop, en ander berei hulle ook voor om hierdie stappe te doen. Die hoof van die gevangenis het, nadat hy die goeie resultate gesien het wat deur die opvoedkundige metodes van Jehovah se Getuies behaal word, gesê: “Ek het nie net 12 gevangenes nie. Ek het 600. Help my asseblief om hulle te rehabiliteer. Ek sal alles voorsien wat julle nodig het, maar stel asseblief net die program op. Help hulle!”

Dit is presies wat die broers gedoen het. Hulle het ’n Bybelprogram oor die doel van die lewe, die hoop vir die toekoms en die belangrikheid daarvan om verkeerde gebruike te staak, aangebied. Hulle het ook ondervindinge vertel van ’n gewese gevangene wat een van Jehovah se Getuies geword het en wat mettertyd as ’n gemeentelike ouere man aangestel is. Die Getuies het ook die hoofpunte vertel uit die lewensverhaal van ’n diamantdief en iemand wat dwelms misbruik het wat die waarheid geleer het.a Die 20 gevangenes wat die program bygewoon het, het dit uiters interessant gevind en het baie vrae gevra, en sommige het selfs ’n Bybelstudie gevra.

Geloof en volharding word getoets

Lubaczów is ’n dorpie van 12 000 mense naby die grens van die Oekraïne. Die evangelisasiewerk het daar in 1988 momentum gekry toe pioniers daarheen gegaan het om die 12 plaaslike verkondigers te help. Nou is daar 72 bedrywige Koninkryksverkondigers, en 150 het die Gedenkmaal in 1991 in die pas geboude Koninkryksaal bygewoon.

In Junie 1991 het pous Johannes Paulus II Lubaczów besoek. Maar dit het niks gedoen om ware geloof onder die mense op te bou nie. Baie van hulle word deur twyfel en vrae oor die doel van die lewe en die hoop vir die toekoms gekwel. As hulle nie bevredigende antwoorde by die geestelikes kan kry nie, wend hulle hulle tot Jehovah se Getuies. Hoewel die mense miskien aanvanklik gewetenswroeging het omdat hulle hulle godsdiens die rug toekeer, help die Bybelwaarheid wat hulle leer hulle om te sien dat hulle die regte besluit geneem het.

Die ondervinding van Honorata, wat nou ’n gewone pionier is, is ’n voorbeeld hiervan. Ongeveer ’n jaar gelede het sy die priester tydens ’n biegsessie gevra wat God se naam is. “God is liefde—dit is sy pragtigste naam”, het die priester geantwoord. Na ’n rukkie het hy bygevoeg: “Jy is soos ’n emmer kristalhelder water waarin iemand ink laat val het. Die gevolge is onherroeplik.” Sy het dus haar antwoord gekry. “Toe het ek besluit dat ek een van Jehovah se Getuies gaan word”, sê Honorata. “Dit is ook onherroeplik.”

Byna almal wat in Lubaczów die waarheid geleer het, moes hewige, selfs fanatiese, teenkanting verduur. Maar dit het hulle nie afgeskrik om Bybelwaarheid aan te neem en hulle standpunt vir Jehovah in te neem nie.

Elżbieta vertel: “Eers het my ouers my by die huis geslaan. Toe het my familie in die Koninkryksaal ingestorm. . . . Hulle het my huis toe geneem en begin ‘tugtig’ met ’n knopperige stok. Ek is van kop tot tone geslaan en geskop net omdat ek met die Getuies omgaan. Hulle het my so hard geslaan dat ek dringend mediese behandeling moes kry, en ek is hospitaal toe gestuur. Jehovah het my gehelp, en ek het gesond geword. My familie het my verwerp. Toe ek dit vir die priester sê, het hy my verkleineer en gesê: ‘Moenie vir my sê jy het net oor ’n paar klappe kom kla nie!’”

Nog ’n suster vertel: “Ek het elke jaar na Częstochowa gegaan om langs die Kruisweg te kruip, wat ek beskou het as die plig van elke opregte Katoliek. Ek het nou nog littekens op my knieë.” Toe sy 18 was, het sy die waarheid geleer en vir die priester en haar familie gesê dat sy nie teruggaan kerk toe nie. Hulle het haar verskriklik geslaan—“so erg dat ek harsingskudding opgedoen het”, sê sy. “Maar ek het in die hospitaal in so ’n mate herstel dat ek die ‘Liefhebbers van Vryheid’-Streekbyeenkoms kon bywoon. Ek het van vreugde gehuil toe ek die ware eenheid en liefde onder mense sonder fanatisme sien—dinge wat ek nooit in Częstochowa gesien het nie. Hoe gelukkig is ek tog dat ek Jehovah se goedheid ondervind het en geleer het om hom te vertrou.” Jehovah versterk en ondersteun diegene wat hulle sorge op hom werp.—Psalm 55:23.

Baie gevangenes van Babilon die Grote slaan nou in hierdie Katolieke land ag op die bevel om ‘uit haar uit te gaan’, net soos hulle elders doen. As dit Jehovah se wil is, sal sy onbevreesde volk aanhou om nog meer van “die begeerlike dinge” wat deur die hele Pole versprei is, in te samel. Baie sal ongetwyfeld nog gehoor gee aan die oproep: “Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 18:4; 22:17.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1984, bladsye 16-19, en 22 November 1987, bladsye 21-3.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

POLE

Sztum

Kruszwica

Poznan

Warskou

Środa Śląska

Częstochowa

Strzelce Opolskie

Lubaczów

[Prent op bladsy 26]

Die Koninkryksboodskap word in Kruszwica, Pole, verkondig

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel