Tonele uit die Beloofde Land
Gerasa—waar Jood en Griek ontmoet het
DIE apostel Paulus het geskryf dat daar onder Abraham se ware saad “nie meer Jood of Griek” is nie (Galasiërs 3:26-29). Ja, dit maak nie saak wat ’n mens se nasionale agtergrond of kultuur is nie, vir God is almal aanneemlik.
Daardie woorde kon dalk gegeld het vir Christene wat deur ’n Romeinse provinsie versprei was, soos in die provinsie van Galasië waar daar ’n mengelmoes van Jode, Grieke, Romeine en plaaslike mense was. Maar wat van dele van Israel self, dele soos Gilead?
Daardie streek is oos van die Jordaan, tussen die Soutsee (Dooie See) en die See van Galilea. Ongeveer in die helfte van hierdie vrugbare plato vloei die Jabbokrivier na die Jordaan. Die foto bo toon van die indrukwekkende ruïnes van Gerasa, wat nou Jerasj genoem word, wat naby die bo-Jabbok geleë was.
Die antieke noord-suid-handelsroete, wat “die koningsweg” genoem is, het Gilead gekruis. Nadat Jakob en sy familie Haran verlaat het, het hy blykbaar met hierdie pad langs na die Jabbok gereis. Hy het met ’n engel geworstel en Esau ontmoet naby die plek waar Gerasa gebou sou word (Genesis 31:17-25, 45-47; 32:22-30; 33:1-17). Op ’n latere tydstip het die Israeliete vanuit die suide met die koningsweg opgetrek toe hulle op pad was na die Beloofde Land. Twee en ’n halwe stam het hulle noord en suid van die Jabbok langs die handelspad gevestig.—Numeri 20:17; Deuteronomium 2:26, 27.
Het Grieke by hierdie gebied betrokke geraak, en indien wel, hoe? Ja, hulle het toe Alexander die Grote die streek verower het. Volgens oorlewering het hy Gerasa vir die veterane in sy leër gestig. Die Griekse invloed het geleidelik goed gevestig geraak. Tien van die kolonie-stede oos van die Jordaan en die See van Galilea het ’n konfederasie gevorm wat as die Dekapolis bekend gestaan het. Dalk het jy daardie naam al in die Bybel opgemerk waar dit berig dat “groot menigtes . . . [Jesus] gevolg [het] van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af”. Gerasa was een van die Dekapolitaanse stede.—Mattheüs 4:25.
‘Dit was deel van Alexander se plan om die Grieke in alle dele van die ryk in te bring. Dit was veral Benede-Sirië [insluitende die Dekapolis] wat, as een van die strategiese sentrums, ’n groot Helleense bevolking ontvang het. Tot vandag toe het geen deel van die Oosterse wêreld soveel en sulke treffende Griekse ruïnes soos die land oos van die Jordaan nie. Uiterlik het die Griekse stede volledige nedersettings met Griekse instellings en gebruike vertoon—pragtige tempels vir die Griekse gode en godinne, gimnasia, openbare baddens, jaarlikse feesvierings of spele en in baie gevalle skole en akademies vir die onderrigting in die wysbegeerte.’—Hellenism, deur Norman Bentwich.
As jy die ruïnes van Gerasa besoek, sal jy oorvloedige bewys daarvan vind. Naby die suidelike ingang is daar ’n sirkelvormige forum, of ’n openbare mark, wat op die foto gesien kan word. Die baddens, tempels, teaters en openbare geboue, waarvan baie verbind word deur geplaveide strate met pilare aan weerskante, sal jou verstom. Buite die stad kan jy mylstene of merkers langs die antieke pad sien wat Gerasa met Dekapolitaanse stede en Mediterreense hawens verbind het.
Selfs nadat die Romeinse Ryk Gerasa in 63 v.G.J. oorgeneem het, het die Hellenistiese inslag voortgeduur. Jy kan jou voorstel hoe hierdie inslag Jode kon beïnvloed wat in Gerasa en die streek gewoon het. Die boek Hellenism sê: “Stadig maar seker het die Jode die godsdiensidees van die mense om hulle opgeneem en na die Skrif onder die invloed van daardie idees gekyk.”
Hoewel Jesus dalk nie in die stad gepreek het nie, was hy in die distrik van Gerasa wat moontlik tot by die See van Galilea kon gestrek het. Dit was in daardie distrik dat hy demone uit ’n man gedryf het en hulle toegelaat het om in varke te vaar (Markus 5:1-17, NAV). Sy vroeë dissipels het waarskynlik vir Jode in die Dekapolitaanse stede gepreek, en na 36 G.J. kon die goeie nuus aan die Grieke in Gerasa verkondig word. Of ’n persoon wat die Christelike godsdiens aangeneem het ’n streng beoefenaar van Judaïsme was, ’n Jood was wat vergrieks het of ’n Griek was, hy kon deur die ware God aanvaar word as deel van die geestelike saad van Abraham.
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Dion
Gerasa (Jerasj)
Filadelfia (Rabba)
Koningsweg
Soutsee
Jerusalem
Jordaan
Jabbok
Pella
Skythopolis (Bet-Sean)
Gadara
See van Galilea
[Erkenning]
Based on a map copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel.
[Prent op bladsy 24]
’n Vergroting van hierdie foto verskyn in Jehovah se Getuies se kalender vir 1992.
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.