Ons het iemand nodig wat sal luister
AS MENSE probeer ons om vreugde en tevredenheid uit die lewe te put. Maar hoe nuttig en vertroostend is dit tog om iemand te hê met wie ons ons kwellinge kan bespreek wanneer persoonlike probleme opduik!
Dr. George S. Stevenson sê: “As ’n mens sake uitpraat, help dit om jou spanning te verlig, om jou kwelling in ’n duideliker lig te sien, en dikwels om te sien wat jy daaromtrent kan doen.” Dr. Rose Hilferding het opgemerk: “Ons moet almal ons moeilikhede deel. Ons moet ons kwellinge deel. Ons moet voel dat daar iemand in die wêreld is wat bereid is om te luister en wat kan verstaan.”
Natuurlik kan geen mens ten volle in hierdie behoefte voorsien nie. As gevolg van beperkings op tyd en ander faktore is ons menslike biegvaders dalk nie beskikbaar wanneer ons hulle die nodigste het nie, of ons huiwer dalk om party sake selfs met ons intiemste vriende te bespreek.
Ware Christene is egter nooit heeltemal sonder ’n horende oor nie, want die kanaal van gebed is altyd beskikbaar. Die Bybel moedig ons herhaaldelik aan om te bid tot God, ons Skepper, wie se naam Jehovah is. Ons word aangesê om opreg, in die naam van Jesus en in harmonie met God se wil te bid. Selfs persoonlike en privaat aangeleenthede is gepaste onderwerpe vir gebed. “Laat julle begeertes in alles deur gebed . . . bekend word by God”, sê Filippense 4:6 vir ons. Wat ’n merkwaardige gawe! Die Soewereine Heerser van ons heelal is altyd bereid om sy nederige knegte se gebede te verwelkom en aan te neem wanneer hulle hom ook al wil nader.—Psalm 83:18, NW; Mattheüs 6:9-15; Johannes 14:13, 14; 1 Johannes 5:14.
Maar luister God werklik? Party wonder dalk of die doeltreffendheid van gebed nie bloot tot die mens se eie vermoë beperk is nie: Wanneer iemand bid, kry hy sy gedagtes agter mekaar en druk dit dan in woorde uit. Omdat hy op die manier vasstel wat sy probleem is, probeer hy ’n gepaste oplossing vind en slaan hy ag op enigiets wat hom dalk kan help om dit te kry. Wanneer sy probleem opgelos is, gee hy God dalk die eer, maar dit was in werklikheid sy eie verstand en pogings wat die verlangde resultate opgelewer het.
Baie mense dink vandag dat dit al is wat gebed werklik behels. Dink jy ook so? Is die krag van gebed dus beperk? ’n Mens se verstandelike en liggaamlike pogings in harmonie met sy gebede speel wel ’n betekenisvolle rol in die verkryging van antwoorde. Maar wat van God se eie rol in die saak? Luister God wanneer jy tot hom bid? Beskou hy jou gebede as belangrik en slaan hy ag op wat jy sê en verhoor hy hulle?
Die antwoorde op hierdie vrae is belangrik. As God nie aan ons gebede aandag skenk nie, dan het gebed net sielkundige waarde. As God egter elke gebed van ons aanneem en met belangstelling daarna luister, moet ons uiters dankbaar wees vir so ’n voorsiening! Dit behoort ons te beweeg om elke dag van daardie voorsiening gebruik te maak.
Ons nooi jou dus om verder te lees, aangesien hierdie kwessies in die volgende artikel bespreek word.