-
“Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe”Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
-
-
HOOFSTUK 19
“Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe”
HOOFPUNT: Hoe die visioen van ’n rivier wat uit die tempel vloei, in die ou tyd waar geword het, vandag waar word en in die toekoms sal waar word
1, 2. Wat het Esegiël gesien volgens Esegiël 47:1-12? (Sien prent aan begin van hoofstuk.)
ESEGIËL sien nog iets wonderliks in sy tempelvisioen: Water vloei uit die heilige gebou! Verbeel jou hoe hy die vloei van daardie kristalhelder water volg. (Lees Esegiël 47:1-12.) ’n Straaltjie water vloei onder die drumpel van die heiligdom uit, en dan kom dit by die tempelkompleks naby die oostelike poort uit. Die engel lei Esegiël weg van die tempel af, en hy meet die afstand sover hulle gaan. Die engel laat Esegiël oor en oor deur die water gaan, en die profeet besef dat die water vinnig al hoe dieper word. Dit het soos ’n rivier geword wat so diep was dat hy daardeur moes swem as hy dit wou oorsteek.
2 Esegiël vind uit dat die rivier in die Dooie See invloei. Oral waar die rivierwater vloei, genees dit die souterige, lewelose water van die Dooie See, en dit laat die water van visse wemel. En langs die oewers van die rivier, sien hy allerhande bome groei. Die bome dra elke maand nuwe vrugte, en hulle kry blare wat die krag het om te genees. Al hierdie dinge moes Esegiël se hart met vrede en hoop gevul het. Maar wat het hierdie deel van die tempelvisioen vir hom en die ander gevangenes beteken? En wat beteken dit vir ons vandag?
Wat het die rivier in Esegiël se visioen vir die gevangenes beteken?
3. Hoekom het die Jode van die ou tyd nie gedink dat die rivier in Esegiël se visioen ’n letterlike rivier is nie?
3 Die Jode van die ou tyd het beslis nie gedink dat die rivier in die visioen ’n letterlike rivier is nie. Hierdie Bybelgedeelte het hulle heel moontlik eerder aan ’n ander herstellingsprofesie laat dink, een wat dalk meer as 200 jaar vroeër deur die profeet Joël neergeskryf is. (Lees Joël 3:18.) Toe die Joodse gevangenes Joël se woorde gelees het, het hulle nie verwag dat die berge letterlik sou “drup van soet wyn” of dat die heuwels sou “vloei van melk” nie. Hulle het ook nie verwag dat ’n fontein “uit die huis van Jehovah” sou vloei nie. Net so het die Jode heel moontlik verstaan dat die boodskap van die profeet Esegiël se visioen nie oor ’n letterlike rivier gegaan het nie.a So watter boodskap het Jehovah oorgedra? Die Bybel help ons om te verstaan wat sekere dele van die visioen beteken. Maar ons gaan nou drie duidelike, liefdevolle versekeringe bespreek wat ons in hierdie profesie kan kry.
4. (a) Watter seëninge van Jehovah kon die Jode verwag? (b) Hoe verseker die woorde “rivier” en “water” in die Bybel ons dat Jehovah sy volk sal seën? (Sien die venster “Riviere vol seëninge van Jehovah af”.)
4 ’n Rivier vol seëninge. In die Bybel word riviere en water baie keer gebruik om Jehovah se seëninge af te beeld. Esegiël het gesien hoe so ’n rivier uit die tempel vloei. So God se volk sou verwag het dat hulle Jehovah se geestelike seëninge sou ontvang solank hulle hom op ’n rein manier aanbid het. Watter seëninge? Hulle sou weer deur die priesters onderrig word. En omdat hulle weer offerandes by die tempel sou bring, kon hulle daarvan seker wees dat hulle sondes vergewe sou word (Eseg. 44:15, 23; 45:17). Hulle sou weer rein wees, asof hulle gewas is in die rein water wat uit die tempel gevloei het.
5. Hoe wys die rivier in die visioen dat daar altyd genoeg seëninge vir almal sal wees?
5 Sou daar altyd genoeg seëninge vir almal wees? Die visioen wys dat dit nie nodig is om daaroor bekommerd te wees nie, want die klein stroompie word oor ’n afstand van net meer as twee kilometer ’n rivier! (Eseg. 47:3-5). Die bevolking in die Jode se herstelde tuisland sou dalk groter word, maar Jehovah se seëninge sou in al hulle behoeftes voorsien. Die rivier was ’n simbool van oorvloed!
6. (a) Watter belofte bevat die profesie? (b) Watter waarskuwing bevat die profesie ook? (Sien voetnoot.)
6 Water wat lewe gee. In Esegiël se visioen het die rivier in die Dooie See ingevloei, en dit het baie van die water weer laat lewe. Die water het begin wemel van die visse. Daar was so baie verskillende visse dat ’n mens dit kon vergelyk met die visse in die Grootsee, of die Middellandse See. Daar was selfs ’n florerende visbedryf langs die kus van die Dooie See tussen twee dorpe wat heel moontlik ’n hele ent van mekaar af was. Die engel het gesê: “Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe.” Maar beteken dit dat die water wat uit Jehovah se huis gevloei het, elke deel van die Dooie See bereik het? Nee. Die engel het verduidelik dat daar party vleie sou wees wat nie deur hierdie water bereik sou word nie. Daardie plekke was “aan sout oorgegee”b (Eseg. 47:8-11). So die profesie het belowe dat rein aanbidding die mense weer lewend sou maak en hulle sou laat floreer. Maar daar was ook ’n waarskuwing: Nie almal sou Jehovah se seëninge aanvaar nie, en nie almal sou gesond gemaak word nie.
7. Waarvan het die bome langs die rivieroewers die Joodse gevangenes verseker?
7 Bome vir voedsel en genesing. Wat van die bome langs die rivieroewers? Dit was nie net mooi nie, maar dit het ook iets beteken. Esegiël en die ander Jode het dit seker geniet om te dink aan die lekker vrugte wat hierdie bome sou dra – daar sou elke maand ’n nuwe oes wees! Die feit dat hierdie bome daar was, het hulle verder verseker dat Jehovah vir hulle geestelike voedsel sou gee. En wat nog? Die profesie sê ook dat die blare van daardie bome “as genesing [sal] dien” (Eseg. 47:12). Jehovah het geweet dat die gevangenes veral geestelike genesing sou nodig hê, en hy het belowe om dit vir hulle te gee. Ander herstellingsprofesieë het bespreek hoe hy dit gedoen het, soos ons in Hoofstuk 9 van hierdie boek gesien het.
8. Wat wys dat Esegiël se visioen ’n groter vervulling sou hê?
8 Maar soos ons ook in Hoofstuk 9 bespreek het, het die gevangenes nie die volle vervulling van sulke profesieë gesien nie. Dit was hulle eie skuld. Hoe kon Jehovah hulle heeltemal seën as hulle heeltyd teruggegaan het na hulle ou gewoontes, ongehoorsaam was en rein aanbidding verwaarloos het? Gehoorsame Jode was seergemaak en teleurgesteld as gevolg van wat die ander Jode gedoen het. Maar hulle het geweet dat Jehovah se beloftes altyd waar word. (Lees Josua 23:14.) So Esegiël se visioen sou eendag ’n groter vervulling hê. Maar wanneer?
Die rivier vloei vandag!
9. Wanneer het Esegiël se tempelvisioen ’n groter vervulling?
9 Soos ons in Hoofstuk 14 van hierdie boek gesien het, het Esegiël se tempelvisioen ’n groter vervulling gedurende “die einde van die dae”, die tyd wanneer rein aanbidding verhoog word soos nog nooit tevore nie (Jes. 2:2). Hoe word hierdie deel van Esegiël se visioen nou waar?
10, 11. (a) Watter seëninge ontvang ons vandag? (b) Hoe het die rivier vol seëninge wat van Jehovah af kom, gegroei om gedurende die laaste dae in mense se behoeftes te voorsien?
10 ’n Rivier vol seëninge. Aan watter seëninge laat die water wat uit Jehovah se huis vloei, ons vandag dink? Dit laat ons dink aan al die dinge wat Jehovah vir ons gegee het wat ons help om geestelik gesond te bly. Die belangrikste is die reinigende krag van Christus se losprysoffer, wat dit moontlik maak dat ons sondes vergewe kan word. Die rein waarhede van God se Woord word ook vergelyk met reinigende water wat lewe gee (Ef. 5:25-27). Hoe het ons in ons tyd sulke seëninge ontvang?
11 In 1919 was daar net ’n paar duisend aanbidders van Jehovah, en hulle was baie bly om die geestelike voedsel te ontvang wat hulle nodig gehad het. In die jare daarna het hulle al hoe meer geword. Vandag is daar meer as agt miljoen van Jehovah se aanbidders. Het die stroom van rein water aanhou groei? Ja! Ons het ’n oorvloed geestelike waarhede. In die laaste 100 jaar het God se volk letterlik miljarde Bybels, boeke, tydskrifte, brosjures en pamflette gekry. Soos die rivier wat Esegiël in sy visioen gesien het, het die stroom van rein waarhede vinnig gegroei om in die behoeftes van mense regoor die wêreld te voorsien wat geestelik dors is. Bybelpublikasies is al lank beskikbaar in gedrukte vorm. En nou is sulke publikasies deur middel van die webwerf jw.org elektronies beskikbaar in meer as 1 000 tale! Hoe raak sulke water van waarheid mense met die regte hartstoestand?
12. (a) Hoe het Bybelwaarhede mense gehelp? (b) Watter waarskuwing gee die visioen vir ons vandag? (Sien ook voetnoot.)
12 Water wat lewe gee. Daar is vir Esegiël gesê: “Waar die rivier ook al gaan, sal alles lewe.” Dink aan hoe die boodskap van die waarheid almal bereik het wat in ons herstelde geestelike land is. Bybelwaarhede het die harte van miljoene mense geraak en hulle gehelp om geloof in Jehovah op te bou. Maar die visioen bevat ook ’n waarskuwing: Nie almal bly lief vir die waarheid nie. Soos die moerasse en vleie in die Dooie See in Esegiël se visioen, is daar party wat Bybelwaarhede nie meer waardeer nie en wat hulle rug op Jehovah draai.c Mag dit nooit met ons gebeur nie! – Lees Deuteronomium 10:16-18.
13. Watter lesse kan ons vandag leer uit daardie bome in Esegiël se visioen?
13 Bome vir voedsel en genesing. Watter aanmoedigende lesse kan ons vandag uit die bome langs die rivieroewers in Esegiël se visioen leer? Onthou dat daardie bome elke maand heerlike vrugte gedra het, en hulle blare het die krag gehad om te genees (Eseg. 47:12). Dit herinner ons aan die feit dat ons die God dien wat vir ons ’n oorvloed geestelike voedsel gee en ons op die belangrikste manier genees, dit wil sê op ’n geestelike manier. Die wêreld van vandag is geestelik siek en uitgehonger. Maar dink aan wat Jehovah voorsien. Hoe voel jy nadat jy ’n artikel in een van ons tydskrifte gelees het, die laaste liedjie by ’n byeenkoms gesing het of ’n video of ’n JW Broadcasting®-program gekyk het? Voel jy nie geseënd om sulke geestelike voedsel te hê nie? Ons het beslis ’n oorvloed geestelike voedsel (Jes. 65:13, 14). Help ons geestelike voedsel ons om geestelik gesond te bly? Die goeie raad wat ons kry, wat heeltemal op God se Woord gebaseer is, beskerm ons teen dinge soos onsedelikheid, gierigheid en ’n gebrek aan geloof. Jehovah het ook seker gemaak dat Christene wat geestelik siek is as gevolg van ’n ernstige sonde, gehelp kan word. (Lees Jakobus 5:14.) Soos Esegiël se visioen van die bome wys, is ons beslis geseënd.
14, 15. (a) Watter les leer ons uit die vleie wat nie deur die water genees is nie? (b) Hoe help die rivier in Esegiël se visioen ons vandag?
14 Maar ons leer iets uit die vleie wat nie deur die water genees is nie. Ons wil nooit nee sê vir Jehovah se seëninge en keer dat dit ons lewe raak nie. Dit sal baie hartseer wees as ons, soos so baie mense in hierdie siek wêreld, nie genees word nie (Matt. 13:15). Ons geniet eerder die voordele wat die rivier vol seëninge bring. Die rivier in Esegiël se visioen laat ons dalk dink aan die baie seëninge wat ons geniet. Ons kan die waarheid uit God se Woord bestudeer en verstaan, ons kan hierdie waarhede met ander deel in die predikingswerk en ons het die liefdevolle raad, vertroosting en hulp van die ouermanne, wat deur die getroue slaaf opgelei is. Daardie rivier bring lewe en genesing waar dit ook al vloei!
15 Maar beteken die rivier in die visioen ook iets vir die toekoms? Soos ons sal sien, sal ons die seëninge van hierdie rivier ten volle in die Paradys kan geniet.
Wat die visioen in die Paradys sal beteken
16, 17. (a) Hoe sal die simboliese rivier in die Paradys selfs groter wees? (b) Hoe sal ons in die Paradys by daardie rivier vol seëninge baat vind?
16 Sien jy jouself in die Paradys saam met jou vriende en familie terwyl julle die lewe geniet? As jy die rivier in Esegiël se visioen bestudeer, kan dit jou help om daardie prentjie selfs duideliker te sien. Hoe so? Kom ons kyk weer na die drie duidelike, liefdevolle aspekte van die visioen.
17 ’n Rivier vol seëninge. Die simboliese rivier sal in ’n sekere sin baie groter wees in die Paradys, want die seëninge daarvan sal nie net geestelik wees nie, maar ook fisies. Wanneer Jesus vir ’n duisend jaar regeer, sal God se Koninkryk lojale mense help om nog baie meer by die losprys baat te vind. Hulle sal geleidelik volmaak word! Daar sal nie meer siektes, dokters, verpleegsters, hospitale en gesondheidsversekering wees nie! Daardie water van die lewe sal vloei na die miljoene mense wat Armageddon oorleef – “’n groot menigte” wat uit “die groot verdrukking” sal kom (Op. 7:9, 14). Maar die eerste seëninge, al is dit ook hoe indrukwekkend, sal maar net ’n straaltjie wees in vergelyking met die rivier wat later sal kom. Soos in Esegiël se visioen, sal die rivier groter word sodat dit in groter behoeftes kan voorsien.
In die Paradys sal die rivier vol seëninge almal jonk en gesond maak (Sien paragraaf 17)
18. Hoe sal die “rivier van water van die lewe” gedurende die duisend jaar ’n groot stroom word?
18 Water wat lewe gee. Gedurende die duisend jaar sal die “rivier van water van die lewe” ’n groot stroom word (Op. 22:1). Miljoene, selfs miljarde, mense sal uit die dood opgewek word en die kans kry om vir ewig in die Paradys te lewe! Jehovah se seëninge deur die Koninkryk sal insluit dat ’n baie groot aantal dooies, mense wat lank magteloos in die stof van die aarde gelê het, weer sal lewe (Jes. 26:19). Maar sal almal wat opgewek is, vir ewig lewe?
19. (a) Wat wys dat daar in die Paradys nuwe water van waarheid sal wees? (b) Hoe sal party in die toekoms “aan sout oorgegee word”?
19 Elkeen sal moet kies. Nuwe boekrolle sal gedurende daardie tyd oopgemaak word. So die verfrissende water wat van Jehovah af kom, sal nuwe waarhede insluit, nuwe geestelike instruksies. Is dit nie opwindend om daaraan te dink nie? Maar party sal weier om die nuwe instruksies te volg, en hulle sal kies om ongehoorsaam aan Jehovah te wees. Party mense sal dalk gedurende die duisend jaar rebelleer, maar hulle sal nie toegelaat word om die vrede in die Paradys te versteur nie (Jes. 65:20). Ons dink dalk aan Esegiël se visioen en aan daardie vleie waar die water nie gevloei het nie en wat “aan sout oorgegee” is. Mense wat hardkoppig is en weier om van die kosbare water van die lewe te drink, is baie dom! Ná die duisend jaar sal ’n groep ongehoorsame mense Satan se kant kies. Dieselfde einde wag op almal wat weier om Jehovah as hulle regverdige Heerser te aanvaar – hulle sal vir ewig vernietig word. – Op. 20:7-12.
20. Aan watter reëling laat die bome wat Esegiël gesien het, ons dink?
20 Bome vir voedsel en genesing. Jehovah wil hê dat ons almal die ewige lewe moet kry. Om ons te help om die ewige lewe te kry, sal hy weer seker maak dat daar ’n reëling is soos daardie bome wat Esegiël gesien het. Maar in die Paradys sal die seëninge van Jehovah fisies sowel as geestelik wees. Jesus Christus en die 144 000 sal saam vir ’n duisend jaar as konings in die hemel regeer. As ’n priesterlike klas sal die 144 000 die voordele van Jesus se losprysoffer gebruik om gehoorsame mense te help om volmaak te word (Op. 20:6). Hierdie reëling vir fisiese en geestelike genesing laat ons dink aan daardie bome wat Esegiël langs die rivieroewers gesien het, bome met goeie vrugte en blare wat die krag het om te genees. Esegiël se visioen is ’n parallel van ’n ander pragtige profesie wat die apostel Johannes neergeskryf het. (Lees Openbaring 22:1, 2.) Die blare van die bome wat Johannes gesien het, was “vir die genesing van die nasies”. Miljoene gehoorsame mense sal baat vind by die werk wat die 144 000 as priesters doen.
21. Hoe laat dit jou voel wanneer jy dink aan die rivier in Esegiël se visioen, en wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek? (Sien die venster “’n Straaltjie water word ’n rivier!”)
21 Is jou hart nie vol vrede en hoop wanneer jy dink aan die rivier in Esegiël se visioen nie? Daar lê vir ons wonderlike tye voor! En dink net – duisende jare gelede het Jehovah vir ons baie profesieë gegee om ons te help om te dink aan hoe die lewe in die Paradys sal wees. Hy wil graag hê dat ons moet sien hoe hierdie profesieë in die toekoms waar word. Sal jy daar wees? Jy wonder dalk of daar regtig vir jou ’n plek in die Paradys sal wees. Ons gaan in die volgende hoofstuk sien hoe die laaste dele van Esegiël se profesie ons daardie versekering gee.
a En die Joodse gevangenes wat nog kon onthou hoe die landskap van hulle tuisland gelyk het, het heel moontlik geweet dat ’n rivier nie vanaf Jerusalem tot by die Dooie See kon vloei nie, want dit sou beteken dat die rivier op sekere plekke opwaarts sou moes vloei.
b Party kommentators sien dit as iets positiefs. Hulle sê dat dit al lank ’n winsgewende bedryf in die gebied van die Dooie See is om sout as ’n preserveermiddel te oes. Maar die verslag sê duidelik dat die vleie “nie gesond gemaak sal word nie”. Hulle bly leweloos en word nie genees nie omdat die water van Jehovah se huis hulle nie bereik nie. So dit lyk asof die sout in daardie vleie hier ’n negatiewe betekenis het. – Ps. 107:33, 34; Jer. 17:6.
c Dit kan vergelyk word met Jesus se illustrasie van die sleepnet. Baie vis word in die net gevang, maar nie almal is “goeie” vis nie. Die vis wat nie gebruik kan word nie, moet weggegooi word. So Jesus het gewaarsku dat ’n groot aantal van dié wat in Jehovah se organisasie inkom, dalk later dislojaal kan word. – Matt. 13:47-50; 2 Tim. 2:20, 21.
-
-
“[Wys] die land as ’n erfdeel [toe]”Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
-
-
HOOFSTUK 20
“[Wys] die land as ’n erfdeel [toe]”
HOOFPUNT: Wat die verdeling van die land beteken
1, 2. (a) Watter instruksies gee Jehovah vir Esegiël? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
ESEGIËL het nou net ’n visioen gehad wat hom laat dink het aan wat amper 900 jaar gelede in die dae van Moses en Josua gebeur het. In daardie tyd het Jehovah vir Moses gesê waar die grense van die Beloofde Land is, en later het Hy vir Josua gesê hoe daardie land onder die stamme van Israel verdeel moet word (Num. 34:1-15; Jos. 13:7; 22:4, 9). Maar nou, in die jaar 593 VHJ, sê Jehovah vir Esegiël en die ander gevangenes om die Beloofde Land weer onder die stamme van Israel te verdeel! – Eseg. 45:1; 47:14; 48:29.
2 Watter boodskap het hierdie visioen vir Esegiël en die ander gevangenes bevat? Hoekom is hierdie visioen aanmoedigend vir God se volk van vandag? Sal hierdie visioen in die toekoms ’n groter vervulling hê?
’n Visioen met vier beloftes
3, 4. (a) Watter vier beloftes het Jehovah aan die gevangenes gemaak? (b) Watter belofte gaan ons in hierdie hoofstuk bespreek?
3 Nege hoofstukke van Esegiël se boek gaan oor sy laaste visioen (Eseg. 40:1–48:35). In die visioen het Jehovah vier aanmoedigende beloftes aan die gevangenes gemaak oor die herstelde nasie Israel. Wat was daardie beloftes? Eerstens, rein aanbidding sou in God se tempel herstel word. Tweedens, regverdige priesters en herders sou die herstelde nasie lei. Derdens, almal wat na Israel sou teruggaan, sou ’n deel van die land erf. En vierdens, Jehovah sou met hulle wees, dit wil sê hy sou weer onder hulle woon.
4 Hoofstuk 13 en 14 van hierdie boek, het die eerste twee beloftes bespreek – dat ware aanbidding herstel sou word en dat regverdige herders die leiding sou neem. Hierdie hoofstuk gaan oor die derde belofte, dit wil sê die belofte oor die erfdeel wat die Israeliete sou kry. In die volgende hoofstuk sal ons die belofte oor Jehovah se teenwoordigheid bespreek. – Eseg. 47:13-21; 48:1-7, 23-29.
“Hierdie land [is] as ’n erfdeel aan julle toegewys”
5, 6. (a) Watter gebied moes volgens Esegiël se visioen toegewys word? (Sien prent aan begin van hoofstuk.) (b) Wat was die doel van die visioen oor die verdeling van die land?
5 Lees Esegiël 47:14. In ’n visioen het Jehovah Esegiël se aandag gevestig op ’n deel van die land wat binnekort soos “die tuin van Eden” sou lyk (Eseg. 36:35). Toe het Jehovah gesê: “Dit is die gebied wat julle as erfdeel moet toewys as die land vir die 12 stamme van Israel” (Eseg. 47:13). “Die gebied” wat toegewys moes word, was Israel, die herstelde land waarheen die gevangenes sou teruggaan. Soos Esegiël 47:15-21 wys, het Jehovah toe in detail beskryf presies waar die grense van die hele land was.
6 Wat was die doel van hierdie visioen oor hoe die land verdeel was? Die beskrywing van hoe die grense presies afgemeet is, het Esegiël en die ander gevangenes verseker dat hulle kosbare land beslis herstel sou word. Dink net hoe daardie belofte van Jehovah af, wat in soveel detail en so goed beskryf was, die gevangenes aangemoedig het! Het God se volk van die verlede wel land ontvang wat aan hulle as ’n erfdeel toegewys was? Ja, hulle het.
7. (a) Wat het in 537 VHJ begin gebeur, en waaraan laat dit ons dink? (b) Watter vraag sal ons eerste bespreek?
7 In 537 VHJ, ongeveer 56 jaar nadat Esegiël sy visioen gekry het, het duisende gevangenes na Israel begin teruggaan en die land in besit geneem. Daardie belangrike gebeurtenisse laat ons dink aan iets soortgelyks wat vandag onder God se volk gebeur. Op ’n manier is daar ook ’n stuk land aan hulle toegewys. Hoe so? Jehovah het sy aanbidders toegelaat om in ’n geestelike land in te gaan en om dit in besit te neem. Daarom kan die herstelling van die Beloofde Land ons baie leer oor die herstelling van die geestelike land van God se volk van vandag. Maar voordat ons hierdie lesse bespreek, kom ons kry eers die antwoord op die volgende vraag: “Hoekom kan ons sê dat daar vandag regtig ’n geestelike land bestaan?”
8. (a) Met watter nasie het Jehovah die natuurlike Israeliete vervang? (b) Wat is die geestelike land, of paradys? (c) Wanneer het dit begin bestaan, en wie het daarin gaan woon?
8 In ’n visioen wat Esegiël vroeër gehad het, het Jehovah gewys dat profesieë oor Israel se herstelling ’n groter vervulling sou hê nadat sy “kneg Dawid”, Jesus Christus, as Koning begin regeer het (Eseg. 37:24). Dit het in 1914 HJ plaasgevind. Teen daardie tyd was natuurlike Israeliete lankal nie meer God se volk nie. Hulle was vervang deur geestelike Israeliete wat bestaan het uit geesgesalfde Christene. (Lees Matteus 21:43; 1 Petrus 2:9.) Maar Jehovah het nie net die natuurlike nasie Israel met ’n geestelike nasie vervang nie, maar ook die letterlike land Israel met ’n geestelike land, of paradys (Jes. 66:8). Soos ons in Hoofstuk 17 van hierdie boek gesien het, is die geestelike land die veilige geestelike omgewing waarin die gesalfdes wat nog op die aarde is, Jehovah vanaf 1919 aanbid het. (Sien venster 9B, “Hoekom 1919?”) Later het dié wat die hoop het om op die aarde te lewe, die “ander skape,” ook in hierdie geestelike land begin woon (Joh. 10:16). Al word die geestelike paradys vandag al hoe groter en al hou dit aan ontwikkel, sal ons die seëninge daarvan eers ná Armageddon heeltemal kan geniet.
Die land word in gelyke en presiese dele verdeel
9. Watter instruksies het Jehovah gegee oor die verdeling van die land?
9 Lees Esegiël 48:1, 28. Nadat Jehovah die buitenste grense van die land vasgestel het, het hy in detail beskryf hoe die land verdeel moes word. Hy het gesê dat die land in 12 gelyke en presiese erfdele verdeel moes word. Hulle moes begin met die stam van Dan aan die noordelike punt van die land, en hulle moes eindig met die stam van Gad aan die suidelikste grens. Die 12 erfdele het elkeen bestaan uit ’n horisontale stuk gebied wat van die land se buitenste grens in die ooste gestrek het tot by die Grootsee, of die Middellandse See, in die weste. – Eseg. 47:20.
10. Waarvan het hierdie deel van die visioen die gevangenes heel moontlik verseker?
10 Waarvan het hierdie deel van die visioen die gevangenes heel moontlik verseker? Die goeie beskrywing wat Esegiël gegee het oor hoe die land verdeel sou word, het die gevangenes verseker dat dit ’n goed georganiseerde projek sou wees. En die presiese verdeling van die land onder al 12 stamme, het beklemtoon dat elke gevangene beslis ’n erfdeel in die herstelde land sou ontvang. Nie een van hulle sou sonder ’n stuk grond of ’n huis wees nie.
11. Watter lesse kan ons leer uit die visioen van die verdeling van die land? (Sien die venster “Die verdeling van die land”.)
11 Watter aanmoedigende lesse kan ons vandag uit hierdie visioen leer? Die herstelde Beloofde Land het nie net ’n plek vir die priesters, die Leviete en die hoofmanne gehad nie, maar ook vir al die ander lede van die 12 stamme (Eseg. 45:4, 5, 7, 8). Net so is daar vandag in die geestelike paradys nie net plek vir die gesalfdes wat nog op die aarde is en vir dié wat die leiding onder die “groot menigte” neem nie, maar daar is ook plek vir alle ander lede van die groot menigtea (Op. 7:9). Maak nie saak hoe klein ons rol in die organisasie is nie, ons kan daarvan seker wees dat ons ’n plek en ’n waardevolle werk in die geestelike land het. Dit is so ’n aanmoedigende gedagte!
Jehovah waardeer alles wat ons doen, maak nie saak watter verantwoordelikhede ons in sy organisasie het nie (Sien paragraaf 11)
Twee belangrike verskille – Wat beteken dit vir ons?
12, 13. Watter spesifieke instruksies het Jehovah gegee oor hoe die land onder die stamme verdeel moes word?
12 Esegiël het dalk nie party van Jehovah se instruksies oor die verdeling van die land verstaan nie omdat dit anders was as die instruksies wat God vir Moses gegee het. Kom ons kyk na twee van hierdie verskille. Die een het te doen met die land, en die ander een het te doen met die mense wat daar woon.
13 Eerstens, die land. Jehovah het vir Moses gesê om vir die groter stamme meer land te gee as vir die kleiner stamme (Num. 26:52-54). Maar in Esegiël se visioen het Jehovah spesifieke instruksies gegee dat al die stamme “gelyke dele [“elkeen net soos sy broer”, vtn.]” moet kry (Eseg. 47:14). So die afstand vanaf die noordelike grens tot by die suidelike grens van elkeen van die 12 stamme se erfdele moes presies dieselfde wees. Alle Israeliete – maak nie saak aan watter stam hulle behoort het nie – sou gelyke toegang hê tot die natuurlike oorvloed van die Beloofde Land, wat oorgenoeg water gehad het.
14. Hoe was Jehovah se instruksies oor die uitlanders baie anders as die instruksies in die Wet van Moses?
14 Tweedens, die mense wat in die land woon. Die Wet van Moses het uitlanders beskerm, en volgens die Wet kon hulle Jehovah ook aanbid, maar hulle het geen erfdeel in die land gekry nie (Lev. 19:33, 34). Wat Jehovah nou vir Esegiël gesê het, was baie anders as wat Hy in die Wet van Moses gesê het. Jehovah het vir hom gesê: “[Gee] vir die uitlander ’n erfdeel . . . in die gebied van die stam waar hy gaan woon het.” Toe Jehovah daardie bevel gegee het, het hy ’n einde gemaak aan ’n groot verskil tussen die “gebore Israeliete” en die uitlanders wat in die land woon (Eseg. 47:22, 23). In die herstelde land wat Esegiël in ’n visioen gesien het, het hy gesien dat die mense van die land gelyk is en verenig is in aanbidding. – Lev. 25:23.
15. Wat het Jehovah se instruksies oor die land en die mense wat daar woon, oor hom bevestig?
15 Hierdie twee belangrike instruksies wat Esegiël oor die land en die volk gekry het, was seker vir die gevangenes baie vertroostend. Hulle het geweet dat Jehovah ’n gelyke deel aan hulle sou toewys, of hulle nou gebore Israeliete was of uitlanders wat Jehovah aanbid het (Esra 8:20; Neh. 3:26; 7:6, 25; Jes. 56:3, 8). Hierdie instruksies bevestig ook die aanmoedigende en onveranderlike feit dat al Jehovah se aanbidders vir hom ewe kosbaar is. (Lees Haggai 2:7.) Hierdie feit is vandag vir ons almal aanmoedigend, of ons nou die hoop het om in die hemel of op die aarde te lewe.
16, 17. (a) Hoe help dit ons wanneer ons kyk na die besonderhede oor die land en die mense wat daar woon? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?
16 Hoe help dit ons wanneer ons kyk na die besonderhede oor die land en die mense wat daarin woon? Ons word daaraan herinner dat gelykheid en eenheid vandag duidelike kenmerke moet wees van ons wêreldwye broederskap. Jehovah is nie partydig nie. Ons moet onsself afvra: ‘Is ek net so onpartydig soos Jehovah? Behandel ek my broers en susters met diep respek, maak nie saak wat hulle ras of omstandighede in die lewe is nie?’ (Rom. 12:10). Ons is so bly dat Jehovah ons elkeen ’n plek in die geestelike paradys gegee het, waar ons ons hemelse Vader met ons hele hart kan dien en sy seëninge kan geniet. – Gal. 3:26-29; Op. 7:9.
Is ons net so onpartydig soos Jehovah, en het ons diep respek vir ander? (Sien paragraaf 15, 16)
17 Kom ons kyk nou na die vierde belofte wat Jehovah in die laaste deel van Esegiël se laaste visioen gemaak het – die belofte dat Jehovah met die gevangenes sou wees. Watter lesse kan ons uit daardie belofte leer? Ons sal die antwoord in die volgende hoofstuk kry.
a Sien Hoofstuk 14 van hierdie boek vir ’n bespreking van die spesiale plek en werk wat Jehovah vir die priesterdom en die hoofman in die geestelike land gegee het.
-
-
“Die naam van die stad sal . . . wees: ‘Jehovah Is Daar’”Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
-
-
HOOFSTUK 21
“Die naam van die stad sal . . . wees: ‘Jehovah Is Daar’”
HOOFPUNT: Wat die stad en die bydrae beteken
1, 2. (a) Watter spesiale deel van die land moes opsygesit word? (Sien prent op voorblad.) (b) Watter belofte het Jehovah in die visioen aan die gevangenes gemaak?
IN ESEGIËL se laaste visioen leer hy oor ’n deel van die land wat opsygesit moes word vir ’n spesiale doel. Daardie stuk grond was ’n bydrae vir Jehovah. Dit was nie ’n erfdeel vir ’n stam van Israel nie. Jehovah het ook vir Esegiël inligting gegee oor ’n pragtige stad met ’n interessante naam. In hierdie deel van die visioen maak Jehovah aan die gevangenes ’n baie belangrike belofte: Jehovah sal met hulle wees wanneer hulle na hulle kosbare tuisland teruggaan.
2 Esegiël gee vir ons ’n goeie beskrywing van daardie bydrae. Kom ons bespreek hierdie verslag, wat vir ons as ware aanbidders van Jehovah baie belangrik is.
“Die heilige bydrae” en die stad
3. Uit watter vyf gebiede het die land wat Jehovah opsygesit het, bestaan, en wat was die doel van hierdie gebiede? (Sien die venster “Die bydrae wat julle [opsy moet sit]”.)
3 Die spesiale deel van die land was 25 000 el (13 kilometer) van noord na suid en 25 000 el van oos na wes. Hierdie vierkantige stuk grond was “die hele bydrae” genoem. Dit was in drie horisontale dele verdeel. Die boonste deel was vir die Leviete, en die middelste deel was vir die tempel en die priesters. Daardie twee dele was “die heilige bydrae”. Die kleiner onderste deel, of “die oorblywende gebied”, was vir “algemene gebruik”. Dit was vir die stad. – Eseg. 48:15, 20.
4. Watter les kan ons leer uit die verslag oor die bydrae vir Jehovah?
4 Watter les kan ons uit hierdie verslag leer oor die bydrae vir Jehovah? Deur eers die grond vir hierdie spesiale bydrae en dan die grond vir die stamme opsy te sit, het Jehovah gewys dat hierdie deel van die land die belangrikste moet wees (Eseg. 45:1). Die gevangenes het beslis baie geleer uit die volgorde van die verdeling van die land. Die aanbidding van Jehovah moes die belangrikste ding in hulle lewe wees. Vandag is geestelike aktiwiteite, soos om God se Woord te studeer, Christelike vergaderinge by te woon en te preek, ook die belangrikste ding in ons lewe. Wanneer ons Jehovah se voorbeeld volg en die regte prioriteite stel, sal ons lewe elke dag rondom ons aanbidding draai.
“Die stad sal in die middel daarvan wees”
5, 6. (a) Aan wie het die stad behoort? (b) Waarna verwys die stad nie, en hoekom nie?
5 Lees Esegiël 48:15. Wat het “die stad” en die grond wat rondom die stad was, beteken? (Eseg. 48:16-18). In die visioen het Jehovah vir Esegiël gesê: “Die stad . . . moet aan die hele huis van Israel behoort” (Eseg. 45:6, 7). So die stad en die grond wat rondom die stad was, was nie deel van “die heilige bydrae” wat die volk “vir Jehovah opsy [moes] sit” nie (Eseg. 48:9). Met daardie verskil in gedagte, kom ons kyk wat ons uit die reëling van hierdie stad kan leer.
6 Voordat ons kan weet watter lesse ons uit hierdie stad kan leer, moet ons eers uitvind wat hierdie stad nie kon wees nie. Dit kon nie die herboude stad Jerusalem met sy tempel wees nie. Hoekom nie? Omdat die stad wat Esegiël in ’n visioen gesien het, nie ’n tempel gehad het nie. En die stad het nie verwys na enige ander stad in die herstelde land van Israel nie. Hoekom nie? Omdat die gevangenes en hulle nakomelinge nooit ’n stad gebou het met die kenmerke wat in hierdie visioen beskryf word nie. En dit kon ook nie ’n stad in die hemel wees nie. Hoekom nie? Omdat dit gebou was op grond wat “vir algemene gebruik” was. Dit was anders as geboue wat gebou was op grond wat opsygesit was vir die aanbidding van Jehovah. – Eseg. 42:20.
7. Wat is die stad wat Esegiël gesien het, en wat stel dit moontlik voor? (Sien prent aan begin van artikel.)
7 So wat is die stad wat Esegiël gesien het? Onthou dat hy die stad in dieselfde visioen gesien het as waarin hy die land gesien het (Eseg. 40:2; 45:1, 6). God se Woord wys dat die land na ’n geestelike land verwys, en daarom moet die stad ook na ’n geestelike stad verwys. Wat beteken die woord “stad” oor die algemeen? Die woord dra die idee oor van mense wat as ’n groep saam woon in ’n georganiseerde struktuur. So dit lyk asof die goed georganiseerde stad wat Esegiël gesien het – wat ’n perfekte vierkant gevorm het – ’n goed georganiseerde regering voorstel.
8. Waar funksioneer hierdie administrasie, en hoekom kan ons so sê?
8 Waar funksioneer hierdie administrasie? Esegiël se visioen wys dat hierdie stad in die geestelike land funksioneer. So vandag funksioneer hierdie administrasie in die geestelike paradys, en die administrasie rig die aktiwiteite van God se volk. Wat beteken die feit dat die stad gebou is op grond vir algemene gebruik? Dit herinner ons dat die stad na ’n aardse administrasie verwys, nie na ’n hemelse administrasie nie. Hierdie administrasie bevoordeel almal wat in die geestelike paradys woon.
9. (a) Uit wie bestaan hierdie aardse administrasie vandag? (b) Wat sal Jesus gedurende die duisend jaar doen?
9 Uit wie bestaan hierdie aardse administrasie? In Esegiël se visioen is die een wat die leiding in die bestuur van die stad geneem het, “die hoofman” genoem (Eseg. 45:7). Hy was ’n opsiener onder die volk, maar hy was nie ’n priester of ’n Leviet nie. Hierdie hoofman laat ons veral dink aan gemeentelike ouermanne wat nie gesalfdes is nie. Hierdie liefdevolle geestelike herders wat deel is van die “ander skape,” is nederige aardse knegte van Christus se hemelse regering (Joh. 10:16). Gedurende die duisend jaar sal Jesus “hoofde [of bekwame ouermanne] regoor die aarde aanstel” (Ps. 45:16). Onder die leiding van die hemelse Koninkryk, sal hulle gedurende die duisend jaar vir God se volk sorg.
“Jehovah Is Daar”
10. Wat is die naam van die stad, en watter versekering gee dit?
10 Lees Esegiël 48:35. Die naam van die stad is: “Jehovah Is Daar.” Hierdie naam verseker die mense dat Jehovah se teenwoordigheid in hierdie stad gevoel kan word. Deur vir Esegiël hierdie stad te wys wat op ’n sentrale plek was, het Jehovah in werklikheid vir die gevangenes gesê: ‘Ek sal weer met julle wees!’ Dit was so ’n aanmoedigende belofte!
11. Watter lesse kan ons leer uit Esegiël se visioen oor die stad en die betekenisvolle naam daarvan?
11 Watter lesse kan ons uit hierdie deel van Esegiël se profesie leer? Die naam van die stad verseker ons as God se aanbidders dat Jehovah nou met sy lojale aanbidders op die aarde is, en altyd sal wees. Hierdie betekenisvolle naam beklemtoon ook ’n belangrike waarheid: Die stad is nie daar om vir mense mag te gee nie, maar om Jehovah se liefdevolle en redelike standaarde toe te pas. Jehovah het byvoorbeeld nie vir die administrasie die gesag gegee om die land te verdeel soos hulle goeddink nie. Jehovah verwag eerder dat die administrasie die verdeling, of voorregte, moet respekteer wat hy vir sy aanbidders, insluitende vir die “armes”, gegee het. – Spr. 19:17; Eseg. 46:18; 48:29.
12. (a) Wat is ’n belangrike kenmerk van hierdie stad, en wat wys dit? (b) Waaraan herinner hierdie aspek van die visioen Christenopsieners?
12 Wat is nog ’n belangrike kenmerk van die stad “Jehovah Is Daar”? Hierdie stad het 12 poorte, terwyl stede in die ou tyd mure gehad het met so min poorte as moontlik! (Eseg. 48:30-34). Hierdie groot aantal poorte (drie aan elke kant van die vierkantige stad) wys dat dit maklik is om die bestuurders van hierdie stad te nader en dat hulle beskikbaar is vir al God se aanbidders. En die stad se 12 poorte wys dat dit oop is vir almal, vir “die hele huis van Israel” (Eseg. 45:6). Die feit dat die stad so baie poorte het en dat dit so maklik is om by die stad in te gaan, is ’n belangrike herinnering vir Christenopsieners. Jehovah wil hê dat hulle vriendelik moet wees en maklik moet wees om mee te praat en dat hulle beskikbaar moet wees vir almal wat in die geestelike paradys woon.
Christenopsieners is vriendelik en maklik om mee te praat en beskikbaar (Sien paragraaf 12)
God se volk ‘kom in om te aanbid’ en ‘dien die stad’
13. Wat het Jehovah gesê oor die verskillende dienste wat mense sou verrig?
13 Kom ons gaan terug na die tyd van Esegiël, en kom ons vind uit wat hy nog neergeskryf het in hierdie gedetailleerde visioen van die verdeling van die land. Jehovah noem mense wat verskillende vorme van diens doen. Priesters –“dienaars van die heiligdom” – moes offerandes offer en Jehovah nader om hom te dien. En Leviete – “dienaars van die tempel” – moes omsien “na die dienste daarvan en na al die dinge wat daarin gedoen [moes] word” (Eseg. 44:14-16; 45:4, 5). En daar sou werkers naby die stad werk. Wie was hierdie werkers?
14. Waaraan laat die werkers naby die stad ons dink?
14 Die werkers naby die stad kom uit “al die stamme van Israel”. Hulle het ’n ondersteunende rol. Hulle werk is om ’n opbrengs te lewer wat “kos [sal] voorsien aan dié wat die stad dien” (Eseg. 48:18, 19). Aan watter geleentheid laat hierdie reëling ons vandag dink? Vandag het almal in die geestelike paradys die geleentheid om Christus se gesalfde broers te ondersteun, asook die lede van die “groot menigte” wat deur Jehovah aangestel is om die leiding te neem (Op. 7:9, 10). ’n Belangrike manier waarop ons hulle ondersteun, is deur gewillig die leiding van die getroue slaaf te volg.
15, 16. (a) Wat kan ons nog leer uit Esegiël se visioen? (b) Aan watter dinge kan ons deelneem wat vergelyk kan word met dié in Esegiël se visioen?
15 Esegiël se visioen bevat nog iets waaruit ons ’n les oor die bediening kan leer. Wat is dit? Jehovah sê dat lede van die 12 stamme wat nie Leviete is nie, op twee plekke aktief sou wees: in die tempel se voorhof en op die stad se weiveld. Wat doen hulle op elkeen van hierdie plekke? In die voorhof van die tempel kom al die stamme in “om te aanbid” deur offerandes aan Jehovah te offer (Eseg. 46:9, 24). Op die weiveld kom lede van al die stamme om die stad te ondersteun deur die land te bewerk. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van hierdie werkers?
16 Vandag het lede van die groot menigte die geleentheid om dinge te doen wat vergelyk kan word met dié in Esegiël se visioen. Hulle aanbid Jehovah “in sy tempel” deur lofoffers te bring (Op. 7:9-15). Hulle doen dit deur aan die predikingswerk deel te neem en deur hulle geloof by Christelike vergaderinge uit te druk wanneer hulle kommentare gee en Koninkryksliedjies sing. Hulle beskou hierdie vorme van aanbidding as hulle belangrikste verantwoordelikheid (1 Kron. 16:29). En baie van God se aanbidders kan sy organisasie op verskillende praktiese maniere ondersteun. Byvoorbeeld, hulle help om Koninkryksale en takkantore te bou en in stand te hou, en hulle help met baie ander projekte waarmee Jehovah se organisasie besig is. Ander ondersteun hierdie projekte deur geld by te dra. Wanneer hulle dit doen, is dit asof hulle die land bewerk, en hulle doen dit “tot eer van God” (1 Kor. 10:31). Hulle werk hard en met vreugde omdat hulle weet dat ‘sulke offerandes Jehovah bly maak’ (Heb. 13:16). Maak jy ten volle gebruik van al hierdie geleenthede?
Watter lesse kan ons leer uit Esegiël se beskrywing van verskillende aktiwiteite in en rondom die stad se poorte? (Sien paragraaf 14-16)
“Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarna ons . . . uitsien”
17. (a) Watter groter vervulling van Esegiël se visioen sal ons in die toekoms sien? (b) Wie sal gedurende die duisend jaar by die administrasie baat vind?
17 Sal ons in die toekoms ’n groter vervulling van Esegiël se visioen oor die bydrae sien? Ja! Dink hieraan: Esegiël het gesien dat die stuk grond wat “die heilige bydrae” genoem word, in die middel van die land was (Eseg. 48:10). Net so sal Jehovah, ná Armageddon, by ons woon, maak nie saak waar ons op die aarde is nie (Op. 21:3). Gedurende die duisend jaar sal die administrasie – dit wil sê dié wat op die aarde aangestel is om vir God se volk te sorg – hulle invloed oor die aarde uitbrei. Hulle sal liefdevolle leiding en instruksies gee aan almal wat deel is van die “nuwe aarde”, dit wil sê ’n nuwe gemeenskap van mense. – 2 Pet. 3:13.
18. (a) Hoekom kan ons seker wees dat die administrasie in ooreenstemming met God se heerskappy sal wees? (b) Waarvan verseker die naam van die stad ons?
18 Hoekom kan ons seker wees dat die administrasie heeltemal in ooreenstemming met God se heerskappy sal bly? Omdat God se Woord dit duidelik maak dat die aardse stad met die 12 poorte die hemelse stad met die 12 poorte (dit wil sê Nuwe Jerusalem, wat bestaan uit Christus se 144 000 medeheersers) weerspieël (Op. 21:2, 12, 21-27). Dit wys dat die aardse administrasie alle besluite wat God se Koninkryk in die hemel gemaak het, sal uitvoer. Ja, die naam van die stad “Jehovah Is Daar” verseker elkeen van ons dat rein aanbidding sal bly bestaan en dat dit vir ewig in die Paradys sal floreer. Ons kan uitsien na ’n baie wonderlike toekoms!
-