Ontwikkel ’n gebalanseerde beskouing van werk
IN HIERDIE tyd van ernstige ekonomiese depressie is dit van die grootste belang om ’n vaste werk te hê wat ’n groot genoeg inkomste verseker om in die gesin se behoeftes te voorsien. Dit is nie altyd maklik nie, veral wanneer duisende werkers afgedank word. As jy skielik werkloos is, moet jy die uitdaging aanvaar om daadwerklik op te tree om ’n ander werk te kry.—Sien die vensters op bladsye 8 en 9.
Die lewe bestaan uit baie meer as net harde werk. “Kom ons wees eerlik”, sê Glenn, ’n gesinsman in Australië. “Niemand sê op sy of haar sterfbed: ‘Ek wens ek het meer tyd by die werk deurgebring’ nie.” ’n Bevredigende, sinvolle lewe behels natuurlik dat ons tyd maak vir sekulêre werk. Maar waarvoor moet ons nog tyd maak? Vir ons gesin, ontspanning en geestelike behoeftes. Hoe kan jy op ’n gebalanseerde manier na hierdie belangrike aspekte van die lewe omsien?
Tyd vir werk, tyd vir jouself
Die Bybel sê dat ons hard moet werk om vir ons gesin te sorg (Efesiërs 4:28). Maar dit moedig ons ook aan om ‘te eet, te drink en die goeie te sien vir al ons harde werk’ (Prediker 3:13). Ja, om lang ure te werk sonder behoorlike rus of ontspanning, kan jou van talle vreugdes in die lewe beroof. Dit kan ook tot ernstige gesondheidsprobleme lei.
Chroniese oorwerktheid is al verbind met vetsug, alkoholisme, hartsiekte, ongelukke by die werk, dwelmafhanklikheid, angstigheid, moegheid, depressie en talle ander stresverwante siektes. Oorwerktheid kan ook lewensgevaarlik wees. Volgens een verslag sterf daar jaarliks ongeveer 10 000 mense in Japan omdat hulle oorwerk is, net soveel soos elke jaar in daardie land in motorongelukke sterf. Hierdie verskynsel—wat karosji, “dood weens oorwerktheid”, genoem word—kom nie net in Japan voor nie.
Let op die Bybel se verstandige raad: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). Ja, balans is noodsaaklik. Moenie toelaat dat jou werk ’n obsessie raak nie. Beskerm jou verstandelike, fisiese en emosionele gesondheid deur tyd te maak om te rus en die vrug van jou arbeid te geniet.
“Ons moet werk om te lewe, nie lewe om te werk nie”, sê Andrew, ’n getroude man met drie kinders. As jy ’n balans tussen werk en rus en ontspanning handhaaf, sal dit jou ook help om na die behoeftes van jou gesin om te sien. Maar dit is nie maklik nie, veral wanneer jy rekeninge het om te betaal.
Handhaaf ’n balans tussen werk en gesinslewe
Vandag het baie gesinne te veel dinge om te doen en te min tyd vir mekaar. “Die werk neem die meeste van my energie in beslag, en die kinders kry wat oor is”, kla ’n vrou in Engeland. In die Verenigde State het 1 uit 5 tieners met wie ’n onderhoud gevoer is, gesê dat “te min tyd saam met ouers” hulle grootste bekommernis is. Volgens ’n ander Amerikaanse studie gesels huweliksmaats wat albei werk, gemiddeld slegs 12 minute per dag met mekaar.
Baie mense, wat siek en sat is vir die toenemende werksdruk, heroorweeg hulle prioriteite en maak veranderinge. Timothy, ’n gesinsman met twee klein kindertjies, vertel: “Ek het oortyd gewerk, en my vrou het naweke gewerk. Ons het mekaar skaars gesien. Uiteindelik het ons weer na ons lewe gekyk en ons werksomstandighede verander. Nou is ons baie gelukkiger.” Brian, ’n winkelbestuurder, sê: “Toe ons tweede kind op pad was, het ek ’n werk gaan soek wat ons gesin sou pas. Sodat ek beter werksure kon hê, het ek ’n salaris aanvaar wat R92 000 per jaar minder was, maar dit was die moeite werd!” Melina het opgehou werk toe haar eerste dogter gebore is. “Dit was moeilik om weer aan een inkomste gewoond te raak”, sê sy. “Maar ek en my man het gevoel dat dit beter is as ek saam met Emily by die huis bly as om haar in dagsorg te plaas.”
Ons moet egter besef dat dit vir baie gesinne ’n stryd is om net hulle maandelikse onkoste te dek. Party huweliksmaats het twee werke net om die pot aan die kook te hou, en in ander gevalle werk albei maats en los hulle die kinders by grootouers of by ’n dagsorgsentrum.
Julle sal dalk nog maniere vind om ’n balans tussen werk en gesinsverpligtinge te handhaaf. Die sleutelgedagte is: Moenie die vreugdes van gesinslewe prysgee deur te veel klem op werk te plaas nie.
Wees verseker dat dit vir jou ryk seëninge sal meebring as jy ’n balans handhaaf tussen jou werk, ontspanning en jou gesin se behoeftes. In ons laaste artikel sal ons ’n selfs belangriker faktor bespreek vir ’n eenvoudige, gebalanseerde lewe.
[Lokteks op bladsy 5]
Moenie toelaat dat jou werk ’n obsessie raak nie
[Lokteks op bladsy 5]
“’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind.”—Prediker 4:6
[Lokteks op bladsy 6]
Moenie die vreugdes van gesinslewe prysgee deur te veel klem op werk te plaas nie
[Venster/Prent op bladsy 6]
GELD OF MEER VRYE TYD?
Sommige 20ste-eeuse geleerdes het geglo dat progressiewe tegnologie mense van die eentonigheid van werk sou bevry en “’n ongeëwenaarde era van vrye tyd” sou inlui.
In die vroeë 1930’s het professor Julian Huxley voorspel dat niemand in die toekoms meer as twee dae per week sal hoef te werk nie. Die sakeman Walter Gifford het gesê dat tegnologie “elke mens die geleentheid [sal gee] om te doen wat hy wil . . . , [asook] die tyd om die lewenskuns te ontwikkel [en] om groter rustigheid en tevredenheid van die verstand en gees te geniet”.
Maar wat van mense se materiële strewes? Die sosioloog Henry Fairchild het gespog dat fabrieke “meer goedere [sal kan] vervaardig as wat ons sal kan gebruik, met ’n gemiddelde werksdag . . . van slegs vier uur”.
Hoe akkuraat was hierdie voorspellings? Die ekonomiese groei gedurende die 20ste en 21ste eeu was waarlik merkwaardig. Teoreties moes dit die arbeidslas aansienlik verminder het. Maar wat het gebeur? John de Graaf skryf: “[Mense] het alles wat hulle deur produktiwiteit gewen het, omgesit in meer geld—oftewel meer dinge—en niks daarvan in meer tyd nie. Kortom, as ’n samelewing het ons geld bo tyd verkies.”