Wat jy nodig het, is in die Bybel!
◼ ’n Franssprekende egpaar wat Jehovah se Getuies is, het by ’n woonstelgebou ingeloop in die stad Ajaccio, op die Mediterreense eiland Korsika. Hulle het ’n koevert opgetel waarop daar niks geskryf was nie, met 400 euro daarin. Die vrou verduidelik wat hulle daarna gedoen het: “Ons het ’n nota op die kennisgewingbord in die voorportaal gesit, waarin ons gesê het dat die persoon wat die koevert verloor het, ons kan bel.”
Die volgende aand het ’n vrou gebel. Nadat sy bewys het dat dit sy was wat die geld verloor het, het sy gereël om die egpaar te ontmoet. Omdat sy verbaas was dat iemand haar geld sou teruggee, het sy ’n bos blomme saamgeneem. In die koevert wat sy verloor het, was haar salaris, en sy sou die volgende dag ’n maand lank met vakansie gaan.
Terwyl sy weg was, het sy vir die egpaar ’n kaartjie gestuur, waarin sy hulle weer eens vir hulle goeie daad bedank het. Toe die vrou van vakansie af teruggekom het, het die twee Getuies haar besoek en met haar gepraat oor die praktiese waarde van die Bybel in die gesinslewe en in ons daaglikse gedrag, onderwerpe waarin sy belanggestel het.
Die egpaar het die boek Wat leer die Bybel werklik? gebruik en ’n paar punte uit die hoofstuk “Hoe om jou gesinslewe gelukkig te maak” bespreek. Die vrou was beïndruk en het uitgeroep: “Alles wat ek nodig het, is in die Bybel!” Sy het toe ’n gratis Bybelstudie aanvaar.
Die Leer Bybel-boek bespreek nie net die gesinslewe nie, maar ook die waarheid oor God en Jesus Christus, sowel as waar die dooies is, waarom God lyding toelaat en baie ander onderwerpe waaroor mense besorg is. Jy kan ’n eksemplaar aanvra deur die bygaande koepon in te vul en dit na die adres op die koepon of na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif te pos.
□ Lewer asseblief ’n eksemplaar van hierdie boek by my af, sonder enige verpligting.
□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.