Ons beskou die wêreld
Lag vir beter gesondheid!
As ’n mens hartlik lag, helder dit nie net jou dag op nie. Volgens sommige Japannese dokters normaliseer dit ook wanbalanse in die endokriene, senu-, en immuunstelsels, stabiliseer dit die hartklop en asemhaling en kan dit vir rumatieklyers tydelike verligting bring. Lag stimuleer simpatiese senuwees en bevorder sodoende die bloedtoevoer na die spiere en verhoog breinaktiwiteit. Wanneer ons skaterlag, oefen ons ook ons spiere. In ’n proefneming wat in die koerant IHT Asahi Sjimboen aangehaal is, het een persoon wat gelag het, sy maagspiere “net soveel ingespan as wat met opsitoefeninge die geval sou wees”. ’n Psigiater van Osaka, Mitsjio Tanaka, het die voordelige uitwerking van lag hoog aangeskryf. Volgens Tanaka “is dit soos ’n doeltreffende geneesmiddel sonder enige newe-effekte”.
Diere dokter hulleself
“Al hoe meer kenners van dieregedrag is nou van mening dat wilde diere self na hulle mediese behoeftes kan omsien en dit wel doen”, berig The Economist van Londen. Sjimpansees in Tanzanië raak van hulle ingewandswurms ontslae deur die pit te eet van ’n plant met chemiese stowwe wat dodelik is vir hierdie wurms. En Sjimpansees oral in Afrika eet blare wat oortrek is met mikroskopiese hakies om van die wurms in hulle ingewande ontslae te raak. Ara-papegaaie wat sade met giftige alkaloïdes eet, eet ook klei wat blykbaar die gif uit hulle gevaarlike dieet verwyder. Bruinbere in Alaska, Kanadese sneeuganse en wolwe eet almal plante om van parasiete in hulle ingewande ontslae te raak. Bloedtoetse van ’n verskeidenheid wilde diere het getoon dat baie in hulle natuurlike habitat al ernstige virus- en bakteriese infeksies oorleef het wat dikwels vir diere in gevangenskap dodelik is. “Hierdie waarnemings”, sê The Economist, “toon dat wilde diere iets kan doen om hulle gesond te hou wat diere in gevangenskap nie kan doen nie.”
Die dodelikste siekte
“Vigs gaan die Swart Dood beslis ver oortref as die ergste pandemie in die geskiedenis”, sê New Scientist. “In die 14de eeu het die Swart Dood vinnig deur Europa en Asië versprei en die dood van sowat 40 miljoen mense veroorsaak. Vandag, byna 700 jaar later, herhaal die geskiedenis hom.” Volgens ’n verslag in die British Medical Journal sal MIV teen die einde van die dekade sowat 65 miljoen lewens geëis het. Hoewel meer mense tans aan tering en malaria ly, is die ekonomiese en maatskaplike gevolge van hierdie siektes glo minder as dié van vigs.
Ouers en tieners
Volgens ’n berig in The Times van Londen het onenigheid in die gesin ’n baie groter emosionele en sielkundige uitwerking op ouers as op hulle tienderjarige kinders. Volgens die berig moet ouers liewer nie “hulle buierige adolessente te sagkens behandel uit vrees dat hulle hulle delikate gevoelens sal seermaak nie”. Ouers moet eerder “hulleself beskerm . . . deur as ouers hulle gesag te laat geld”. Professor Laurence Steinberg van die Temple-universiteit, Philadelphia, Pennsilvanië, VSA, wat navorsing oor adolessensie doen, sê dat kinders baie veerkragtiger is as wat mense dink. Nadat professor Steinberg meer as tien jaar lank duisende ouers bestudeer het, sê hy: “Die ouer wat sy gesag laat geld, is liefdevol en belangstellend, maar streng en konsekwent wat sy riglyne, perke en verwagtings betref.” Adolessente wat in so ’n huis grootword, presteer beter, is gelukkiger en is gevolglik minder geneig tot antisosiale gedrag en misdaad, sê die berig.
Die behoefte aan aanraking
“Ons het aanraking net so nodig soos sonlig, water en voedsel”, sê die Poolse weekblad Polityka. Ons almal het ’n netwerk reseptors onder ons vel wat vir verskillende soorte aanraking gevoelig is. Wanneer iemand ons aanraak, “kan ons brein dit waarneem, dit verstaan en dit omskep in ’n glimlag, ’n beter bui of ’n ander vriendelike gebaar”. Kinders in die besonder het fisiese kontak nodig, veral wanneer hulle nog klein is. Ongelukkig raak baie ouers hulle kinders net aan wanneer hulle hulle aantrek, bad, voed of straf. Maar talle studies het getoon dat kinders wat vasgehou word, drukkies kry en gesoen en geliefkoos word, gesonder is, beter ontwikkel en later intelligenter is as dié wat “op ’n afstand gehou word”, sê Polityka.
Wêreld se mere word bedreig
“Daar is nie ’n meer op die planeet wat die gevolge van mensebedrywighede vrygespring het nie”, sê William Cosgrove, ondervoorsitter van die Wêreldwaterraad. “Ons maak die mere dood, en dit kan rampspoedig wees vir die mensegemeenskappe wat daarvan afhanklik is.” Besoedeling kom van nywerhede, plase en rioolvullis; en ’n meer kan reeds ernstige skade hê al lyk dit mooi skoon, het Cosgrove gesê en bygevoeg: “Dan gebeur daar iets—soos ’n wisseling in watertemperatuur—en skielik kan ’n meer heeltemal verander. As die proses eers begin het, is dit moeilik om dit te keer.” Die Victoria-meer, Afrika se grootste meer, is een voorbeeld. Oor die afgelope twee dekades het verskeie visspesies in die meer doodgegaan weens besoedeling, onder andere deur onbehandelde rioolvullis. Die Tai Hu-meer in China verkeer ook in ernstige gevaar. “Volgens deskundiges kan ’n mens feitlik op sy oppervlak loop as gevolg van die verskriklike besoedeling”, het die Wêreldwaterraad gesê. ’n Reuters-berig toon dat ongeveer 90 persent van die vars water wat mense gebruik, uit mere kom.
“Die hart is so vol —die kop so leeg”
Liefdesbriewe deur professionele briefskrywers is volgens die Duitse weekblad Die Woche in aanvraag. Vir diegene wat net nie hulle gevoelens in woorde kan uitdruk nie, bied verskeie spookskrywers hulle dienste teen ’n betaling aan. Na gelang van die kliënt se versoek kan die inhoud redelik hartstogtelik wees of ietwat saaklik. Gedigte is ook beskikbaar, en die prys is onderhandelbaar. Die manier waarop hierdie liefdesverklarings saamgestel word, verskil grootliks. Hoewel sommige spookskrywers professionele skrywers en joernaliste is, is dit vir ander net ’n stokperdjie. Party voorsien selfs ’n Internet-vraelys om ’n brief deur middel van ’n rekenaar op te stel. Hoe dit ook al sy, sukses kan nie verseker word nie. Ná drie jaar van “hartroerende liefdesverklarings en beloftes” deur een spookskrywer het sy lojale kliënt se meisie nog steeds nie ja gesê nie.
Fiksheid en siekverlof
Volgens ’n studie deur die Finse Fiksheidsvereniging verminder oefening siekverlof. Baie werkgewers in Finland pas hierdie kennis toe sodat hulle personeel meer by die werk sal wees. “Die helfte van alle Finne is in diens by ondernemings wat fiksheidsprogramme vir hulle werkers aanbied”, berig Finnfacts, ’n publikasie van die Vereniging van Finse Nywerhede en Werkgewers. “Ondernemings hou lesings om hulle werkers te help om op te hou rook en om gewig te verloor en bied verskillende fiksheidsklasse aan.” Finse ondernemings belê jaarliks meer as R681 000 000 in sulke programme omdat hulle weet dat hulle oor en oor hiervoor vergoed sal word as hulle personeel minder afwesig is.
Sorg vir jou rug!
“Die verkeerde liggaamshouding, oorgewig en te min oefening laat jou ruggraat stadigaan agteruitgaan”, sê die Spaanse koerant El País Semanal. Ongeveer 80 persent van die bevolking in ontwikkelde lande het die een of ander tyd in hulle lewe rugprobleme. Die Spaanse Kovacs-kliniek, wat in rugprobleme spesialiseer, beveel aan dat ons rugpyn voorkom en verlig deur te leer om die regte liggaamshouding te hê. ’n Paar eenvoudige wenke is: Slaap op jou sy met jou ruggraat reguit. Wanneer jy sit, moet die agterkant van die stoel jou rug ondersteun. Hou jou skouers in hulle natuurlike posisie voor ’n rekenaar. Buig eerder jou knieë as jou rug wanneer jy moet buk. En as jy lank moet stilstaan, moet jy jou gewig op een been plaas met jou ander voet op ’n bankie of ’n trappie.