Geestelike blomme in ’n kroegomgewing
EEUE gelede het vulkaniese aktiwiteit koper, silwer en goud diep in die aarde gesmelt. Stoomdruk het groot hoeveelhede van hierdie minerale deur krake geforseer en dit afgeset in wat tans die Mule-berge van suidelike Arizona, VSA, genoem word. In 1877 het Jack Dunn, ’n leërverkenner wat by die nabygeleë Fort Huachuca in diens was, na water gesoek en op aanduidings van hierdie ontsaglike mineraalrykdom afgekom. Hy het ’n prospekteerder, George Warren, gekry om in ruil vir ’n deel van die wins die kleim vir hom te ondersoek.
George Warren het die regte op baie kleims verkry, maar het sy vennoot, Jack Dunn, op oneerlike wyse in die duister gelaat hieroor. Hierdie kleims kon Warren baie ryk gemaak het, maar onder die invloed van te veel whiskey het hy sy vondste dwaaslik op ’n wedren verwed, deur te wed dat hy vinniger as ’n perd kon hardloop. Hy het natuurlik alles verloor. Hierdie kleims het uiteindelik die Queen-myn geword. Met die jare is bykans viermiljoen ton koper en ontsaglike hoeveelhede goud en silwer deur grootskaalse mynboubedrywighede uit die Mule-berge ontgin totdat die myne in 1975 gesluit is.
Harderotsmynbou het harderotsmyners vereis. Hulle is van Duitsland, Engeland, Ierland, Italië en Serwië af hierheen gebring. Weens die aansporingsprogramme van die meeste myne was harderotsmyners ook hardwerkende myners. Omdat hierdie myners duisende kilometers van hulle gesinne af was, het hulle ook strawwe drinkers geword—gevolglik het ’n ondernemende Duitse brouer ’n brouery naby die myne gebou. Brouerye maak ’n produk wat ná ’n kort vervaardigingsproses verbruik kan word. Baie verkies dat dit koud bedien word, in ’n vriendelike atmosfeer en met ’n bietjie vermaak. Daarom is ’n hele klomp kroeë in ’n straat naby die brouery gebou. Hulle is gevul met hardwerkende harderotsmyners wat straf gedrink het. Vermaak is voorsien, naamlik prostitusie en dobbelary tesame met alkohol—’n mengsel wat soos dinamiet was. Hierdie straat het as Brewery Gulch begin bekend staan en het die reputasie gekry dat dit gevaarliker is as die berugte dorp Tombstone, wat net 40 kilometer daarvandaan was.
Die meeste van die myners het uiteindelik getrou en huise gebou waarin hulle hulle gesin kon grootmaak. Die myners van Engeland het huise gebou waarin 19de-eeuse Engelse myners sou woon; dié van Serwië, Serwiese mynershuise; Duitsland, Duitse; Italië, Italiaanse en Ierland, Ierse. Die oorspronklike stad, ou Bisbee, is in ’n canyon met steil wande gebou, en die huise is dus oral aan die kante van die canyonwande gebou, waar daar ook al ’n plek uit die rotsagtige grond gekap kon word. Hierdie unieke versameling huise het uiteindelik meer as 20 000 mense gehuisves, meestal myners en hulle gesinne, en dit trek nou toeriste van oor die hele wêreld aan. Die dorp is vernoem na ’n man, Bisbee, wat groot somme geld in die myne belê het, maar wat in werklikheid nooit die dorp met sy naam besoek het nie.
Namate die dorp gegroei het, het die aantal kroeë in Brewery Gulch ook toegeneem. Daar was eens op ’n tyd meer as 30 kroeë in ’n gebied van twee blokke, en ’n groot ongure buurt het ook verder in die straat op gefloreer.
’n Paar Getuiegesinne het omstreeks 1950 na Bisbee verhuis. Hulle predikingswerk het daartoe gelei dat ’n gemeente van Jehovah se Getuies gevorm is, wat teen 1957 12 gemeentelede gehad het. Hulle het ’n vergaderplek nodig gehad en het dus een gehuur wat hulle kon bekostig—’n gebou met sy winkelfront op Brewery Gulch, met St. Elmo se kroeg oorkant die straat. Hulle het weinig probleme gehad met die mense wat die onsedelike plekke om hulle gereeld besoek het. Nou en dan het ’n dronk persoon tydens die aandvergadering daar ingestrompel, maar het dan net daar agter bly sit en luister—party het selfs ’n bydrae gegee voor hulle uitgestap het.
Mettertyd het die gemeente grond gekoop vir ’n Koninkryksaal—11 kilometer ver van Brewery Gulch en sy onsedelike atmosfeer. Die saal is in 1958 gebou en toegewy. Die gebou is al drie keer opgeknap en vergroot en dien die gemeente nog goed.
Toe die myne in 1975 gesluit het, het die dorp byna saam met hulle gesterf. Die myners en hulle gesinne het na dorpe getrek waar myne nog gefunksioneer het. Die inwoners wat agtergebly het, was meestal afgetrede myners en hulle gesinne.
Die gewilde Brewery Gulch is nou maar net ’n toeristeaantreklikheid. Net een kroeg daar is oop, en in die gebou van die brouery is daar tans ’n gesinsrestaurant. Die ongure buurt is gesloop, hoewel tekens daarvan nog gesien kan word in die heinings om sommige huise in die omgewing. Hulle is van verroeste bedvere en die raamwerk van beddens gemaak. Die eens erg onsedelike Brewery Gulch is nou slegs ’n eienaardigheid wat nuuskieriges lok.
Die gemeente het tans 48 verkondigers en word groter. Die predikingswerk van huis tot huis is baie interessant. Die Getuies kom afgetrede myners teë wat oorspronklik van Duitsland, Engeland, Ierland, Italië en Serwië kom, asook baie kunstenaars, waarvan sommige hulle werk op hulle voorstoep uitstal.
Die vermeerdering word deels daaraan toegeskryf dat ’n vrou wat vroeër die enigste oorblywende lawaaierige kroeg in Brewery Gulch, genaamd St. Elmo’s, gereeld besoek het dit nie meer doen nie. Haar naam is Julie. Julie het nie net soontoe gegaan nie, maar was een van die uitspattiger klante. Sy het voorheen deel gehad aan al die verskillende vorme van onsedelike vermaak wat aangebied is sowel as gereelde gevegte, somtyds selfs met mans. Die boodskap van Jehovah se Getuies het Julie aangetrek weens die opvallende andersheid van die mense wat na haar deur gekom het. Julie moes ontsaglike veranderinge aanbring, en dit het etlike jare geneem, maar sy is nou ’n bedrywige, gedoopte Getuie. Haar man en drie kinders woon ook die vergaderinge gereeld by en hulle maak vordering.
Bisbee het ’n dorp geword vanweë die geologiese skat wat eeue gelede daar geplaas is. Mense soek nie meer daarna nie, maar baie soek na die ware skat, kennis van die ware God, Jehovah, en sy Koninkryk. Om die ou Koninkryksaal in Brewery Gulch het ’n atmosfeer van growwe onsedelikheid geheers, maar geestelike blomme is binnekant daardie saal gekweek. Van die 12 oorspronklike verkondigers wat in die ou saal ontmoet het, was 7 gewone pioniers. Daar was ook sewe kinders. Dit wil voorkom asof die positiewe geestelike atmosfeer wat hierdie klein, ywerige groepie binne die saal geniet het die onsedelike atmosfeer buite oorweldig het.
Ses van hierdie kinders het as bedienaars van Jehovah se Getuies die een of ander vorm van voltydse diens betree. John Griffin het na die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegaan. Hoewel hy nie meer in sendingdiens is nie, dien hy Jehovah nog steeds as ’n ouer man in Costa Rica, die land waarheen hy gestuur is. Sy suster, Carolyn (nou Jasso), is ’n gewone pionier in Sierra Vista, Arizona. Nancy Pugh het ook na Gilead gegaan, as sendeling in Chili gedien en is nog steeds daar, hoewel sy nie meer ’n sendeling is nie. Haar broer, Peter, het pionierdiens gedoen en na Spanje gegaan om te dien waar daar hulp nodig was. Susan en Bethany Smith dien al altesaam 50 jaar as gewone pioniers in Bisbee en is nog steeds daar.
God se Woord ‘oefen waarlik krag uit’, soseer dat geestelike blomme selfs in die omgewing van Brewery Gulch kon groei (Hebreërs 4:12).—Bygedra.
[Prent op bladsy 23]
Die Koninkryksaal was voorheen op die boonste verdieping van hierdie gebou