Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 12/22 bl. 21-24
  • Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Spesiale soort skool
  • ’n Ander soort sendeling
  • Watter vrugte het hulle gepluk?
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Sendelinge “tot in die mees afgeleë deel van die aarde”
    Hoe jou donasies gebruik word
  • Sendelinge—Wat behoort hulle te wees?
    Ontwaak!—1994
  • Die Christendom se sendelinge keer terug na waar alles begin het
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 12/22 bl. 21-24

Sendelinge agente van die lig of van die duisternis?—Deel 6

Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word

JESUS CHRISTUS het beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle” (Mattheüs 28:19). Everyman’s Encyclopedia sê dat “Christene” hierdie opdrag “deur die eeue heen uitgevoer het”, hoewel dit byvoeg, “soms met min ywer”. Die boek The Missionary Myth vra: “Het die sendingera geëindig?”

In Januarie vanjaar het die tydskrif Newsweek berig: “Pous Johannes-Paulus II neem Rooms-Katolisisme strate toe.” Die tydskrif het verduidelik: “Hy gaan 350 leke-evangeliste uitstuur om bekeerlinge in Rome se disko’s, supermarkte en ondergrondse spoorwegstasies te soek. Die loodsprogram begin op Aswoensdag (16 Febr.). As dit slaag, sal die Pous dit wêreldwyd instel—’n stap wat Katolieke sendelinge deurklokkies van Buenos Aires tot in Tokio kan laat lui.”

Daarenteen besef Jehovah se Getuies al lankal dat dit hulle plig is om die evangelisasiewerk te doen (2 Timotheüs 4:5). Almal preek natuurlik nie as sendelinge in die buiteland nie. Maar hulle kan preek waar hulle is—en hulle doen dit wel. In dié opsig is hulle almal sendelinge.

’n Spesiale soort skool

In die vroeë veertigerjare het die Wagtoringgenootskap ’n skool gestig om ervare bedienaars op te lei om as sendelinge te dien in ander lande waar hulp dringend nodig was. Deur die jare heen is die leerplan al gewysig, maar dit het nooit van sy basiese oogmerk afgewyk nie, naamlik die beklemtoning van Bybelstudie en die uitvoering van die lewensbelangrike evangelisasiewerk.

Die naam wat vir die nuwe skool gekies is, was Gilead, wat in Hebreeus “Hoop Getuienis” beteken. Deur ’n hoop van getuienis tot Jehovah se eer te help opstapel, het Gilead ’n sleutelrol gespeel in die uitvoering van die wêreldwye predikingswerk wat Jesus voorspel het in ons dag sou plaasvind.—Mattheüs 24:14.

Toe Nathan H. Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, die eerste klas van die Gileadskool in 1943 toegespreek het, het hy gesê: “Julle word verder voorberei vir werk soortgelyk aan dié van die apostel Paulus, Markus, Timotheüs en ander wat na alle dele van die Romeinse Ryk gereis en die boodskap van die Koninkryk verkondig het. . . . Julle vernaamste werk is om die evangelie van die Koninkryk van huis tot huis te verkondig soos Jesus en die apostels gedoen het.”

Toe die eerste klas hulle opleiding voltooi het, is die gegradueerdes na nege Latyns-Amerikaanse lande gestuur. Tot op hede is meer as 6500 studente uit meer as 110 lande by die Gileadskool opgelei en is as sendelinge na oor die 200 lande en eilandgroepe gestuur.

’n Ander soort sendeling

Vorige artikels in hierdie reeks het gehandel oor die bedrywighede van die Christendom se sendelinge in die verlede. Baie, soos diegene wat Groenland toe gestuur is, het die Bybel of dele daarvan in die plaaslike tale vertaal. Maar hierdie vroeë sendelinge het nie net daarin belanggestel om mense die Bybel te leer nie.

Die Christendom se sendelinge in Japan was byvoorbeeld betrokke by “opvoedkundige instellings en skole”, sê die Kodansha Encyclopedia of Japan. Dit sê: “’n Aantal sendelinge het hulleself deur hulle geleerdheid onderskei.” Hulle het taalkundiges of professors geword en het onderrig gegee in vakke soos literatuurstudie, taalkunde, geskiedenis, filosofie, Oos-Asiatiese gelowe en Japannese volkskunde. “Liefdadigheids- en welsynsorganisasies was ook ’n belangrike aspek van sendingwerk”, voeg die ensiklopedie by.

Die prediking van die evangelie het nie by die meerderheid van sendelinge die voorkeur geniet nie. Hulle het heel dikwels die bevrediging van fisiese behoeftes in plaas van geestelike behoeftes beklemtoon. Die najaging van persoonlike belange het al hulle aandag in beslag geneem. Gevolglik is ’n sendeling van die Anglikaanse Kerk wat in 1889 na Japan gestuur is vandag beter bekend as die “vader van bergklim in Japan”.

Gileadopgeleide sendelinge verskil in groot mate van die Christendom s’n. Die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, hoofstuk 23, sê: “Sendelinggegradueerdes van die Gileadskool [leer] mense die Bybel. Pleks van kerke op te rig en te verwag dat mense daarheen gaan, besoek hulle mense van huis tot huis . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien.”

Watter vrugte het hulle gepluk?

Hoe suksesvol was die Christendom se sendelinge in Europa ná hulle eeue lank die geleentheid gehad het om Christendissipels te maak? Die boek A Global View of Christian Missions antwoord: “Na raming is daar 160 miljoen mense in Europa wat geen godsdiens bely nie. Onder diegene wat nog steeds beweer dat hulle getrou aan die Christelike godsdiens is, is daar min wat hulle godsdiens ernstig opneem. . . . Europa kan hoegenaamd nie ’n Christelike vasteland genoem word nie.”

Wat is die situasie in Asië? Die Kodansha Encyclopedia of Japan antwoord: “Volgens die openbare mening is die Christelike godsdiens steeds ’n ‘vreemde’ geloof, . . . nie gepas vir gewone Japannese mense nie. . . . Die Christenbeweging bly steeds op die grens van die Japannese samelewing.” Trouens, in Japan is minder as 4 persent van die mense verklaarde Christene, in Indië minder as 3 persent, in Pakistan minder as 2 persent en in China minder as 0,5 persent.

Wat is die situasie in Afrika ná die Christendom se eeue lange sendingbedrywighede? In ’n verslag oor die vergadering wat die afgelope lente in Rome deur biskoppe uit Afrika gehou is, het die Duitse tydskrif Focus berig: “Afrika-godsdienste moet nie meer as heidense afgodediens veroordeel word nie. Die amptelike, tot nog toe ongepubliseerde, dokument verhef ‘tradisionele Afrika-godsdienste’ tot waardige en onmisbare vennote. Hulle lede verdien agting. Die sinode het erken dat godsdienste wat vroeër as fetisjisties van aard veroordeel is ‘dikwels die lewenstyl van selfs die strengste Katoliek bepaal het’.”a

Hoe suksesvol was die Christendom se sendelinge in die Amerikas ná hulle eeue lank die geleentheid gehad het om Christendissipels te maak? Die boek Mission to the World antwoord: “‘Latyns-Amerika’ verdien steeds die titel as ‘die verwaarloosde vasteland’ ten spyte van die feit dat daar in onlangse dekades groot vooruitgang in sendingbedrywighede was.” Aangaande die Verenigde State het Newsweek gesê dat onlangse meningsopnames “toon dat godsdiens, hoewel dit algemeen in Amerika voorkom, slegs deur ’n minderheid ernstig opgeneem word. . . . Die helfte van die mense wat vir meningspeilers sê dat hulle Sondae in die kerk is, praat nie die waarheid nie. . . . Byna ’n derde van die Amerikaners wat 18 en ouer is, het ’n algehele wêreldse lewensbeskouing . . . Slegs 19 persent . . . beoefen gereeld hulle godsdiens.”

Ter opsomming: in hulle poging om die probleme van armoede, swak gesondheid en gebrek aan opvoeding te verlig, het die Christendom se sendelinge, as ’n groep, menseplanne voorgestaan wat hoogstens tydelike en gedeeltelike verligting gebring het. Aan die ander kant rig ware Christensendelinge mense na God se opgerigte Koninkryk wat blywende en algehele verligting sal bring. Dit sal probleme nie net verlig nie; dit sal probleme oplos. Ja, God se Koninkryk sal volmaakte gesondheid, ware ekonomiese sekuriteit, onbeperkte geleenthede vir produktiewe werk en lewe sonder einde vir die mensdom bring!—Psalm 37:9-11, 29; Jesaja 33:24; 35:5, 6; 65:21-23; Openbaring 21:3, 4.

Die Christendom se sendelinge verwys dalk na verklaarde Christene wat soms kerkdienste bywoon as bewys dat hulle ‘dissipels van al die nasies maak, en hulle doop’. Maar die feite toon dat hierdie sendelinge nie dié wat gedoop is, leer ‘om alles te onderhou wat Jesus beveel het’ nie.—Mattheüs 28:19.

Maar die onderrigtingswerk van ware Christene sal tot in God se nuwe wêreld voortduur. Dit sal uitbrei om die miljoene verresenes in te sluit wat in God se weë onderrig moet word. Dan sal Christene, sonder die inmenging van Satan, die aangename voorreg hê om aan te hou dissipels maak—net soos hulle al dekades lank doen.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die Katolieke Kerk in Afrika”, op bladsy 18.

[Venster op bladsy 24]

Hoe hulle mense gehelp het

Die volgende is kommentare van dié wat baat gevind het by die hulp van Gileadopgeleide sendelinge.

“Ek het my oor hulle deursettingsvermoë verwonder, aangesien hulle soveel dinge verdra het wat van hulle geboorteland verskil: klimaat, taal, gebruike, kos en godsdienste. Maar hulle het in hulle aanwysings gebly, party selfs tot die dood toe. Hulle goeie studiegewoontes en ywer in die bediening het my gehelp om dieselfde eienskappe aan te kweek.”—J. A., Indië.

“Ek was beïndruk omdat die sendeling my studie so gereeld gehou het. Hy het merkwaardige selfbeheersing aan die dag gelê deur my vooroordeel en onkunde te verdra.”—P. T., Thailand.

“Ek en my vrou het die reinheid waardeer wat die Getuiesendelinge getoon het. Ons is deur hulle bedrywighede beïnvloed om die voltydse diens ons doelwit te maak, en vandag smaak ons self die vreugde om sendelinge te wees.”—A. C., Mosambiek.

“Ek het egosentries geword. Toe ek die sendelinge ontmoet het, het ek die nodige aanmoediging gekry om te verander. In hulle het ek, nie oppervlakkige nie, maar ware geluk gesien.”—J. K., Japan.

“Die Christendom se sendelinge het ’n gemaklike lewe gelei. Bediendes het hulle huise skoongemaak, gekook, die wasgoed gewas, na die tuin omgesien en die motor bestuur. Ek was verbaas om te sien dat Gileadsendelinge fluks hulle eie huiswerk doen, terwyl hulle die plaaslike mense ook omtrent God se Koninkryk leer.”—S. D., Thailand.

“Die sendelingsusters het fietsgery om die mense te besoek, selfs wanneer die temperatuur tot oor die 46 grade Celsius gestyg het. Hulle gasvryheid en onpartydigheid, sowel as hulle volharding, het my gehelp om die waarheid in te sien.”—V. H., Indië.

“Die sendelinge het nie meerderwaardig gevoel nie. Hulle het nederig by die plaaslike mense en die slegte lewensomstandighede aangepas. Hulle het gekom om te dien en het dus nooit gekla nie, maar het altyd gelukkig en vergenoeg gelyk.”—C. P., Thailand.

“Hulle het nie Bybelwaarhede afgewater nie. Nogtans het hulle nie die plaaslike mense laat voel dat alle aspekte van hulle tradisionele kultuur verkeerd is en dat hulle Westerse maniere moet aanneem nie. Hulle het ander nooit minderwaardig of onbekwaam laat voel nie.”—A. D., Papoea-Nieu-Guinee.

“In teenstelling met die sendelinge van die Christendom was sy gewillig om op die grond te sit met haar bene gekruis, Koreaanse styl, terwyl ons ons Bybelstudie gehou het. Sy was gewillig om ons Koreaanse geregte te probeer. Die toegeneentheid wat ek vir haar gevoel het, het my gehelp om vordering te maak.”—S. K., Korea.

“Ek was tien jaar oud en was om 12-uur klaar met skool. ’n Sendeling het my genooi om in die namiddag saam met hom velddiens te doen. Hy het my baie Bybelbeginsels geleer en het in my ’n opregte waardering vir Jehovah se organisasie laat posvat.”—R. G., Colombia.

“Hulle het my geleer om in aanwysings te volhard en om te doen wat van my verwag word sonder om te kla. Ek dank Jehovah en Jesus Christus uit die diepte van my hart vir die sendelinge wat hulle na ons toe gestuur het.”—K. S., Japan.

[Prent op bladsy 23]

Gileadopgeleide sendelinge uit 16 lande vertel ondervindinge by ’n onlangse byeenkoms

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel