Sendelinge—Wie behoort die voorbeeld te stel?
VOORDAT Jesus Christus sy volgelinge beveel het om dissipels te maak, het ander godsdienste reeds sendingwerk van die een of ander aard gedoen. Party het dit meer gedoen as ander, aangesien nie alle godsdienste ’n universele benadering het nie; dit wil sê, nie almal dra ’n boodskap uit wat na hulle mening ewe veel op alle volke van toepassing is nie.
Volgens The Encyclopedia of Religion is so ’n universele beskouing byvoorbeeld minder opvallend “in die opvattings van die stamgebonde godsdienste en Sjintoïsme en minder duidelik in talle rigtinge van Confucianisme, Judaïsme en Zoroastrianisme”. Hierdie godsdienste word “meestal [versprei] deur mense wat rondtrek of deur die geleidelike inlywing van onmiddellike bure in plaas van deur georganiseerde sendingwerk”.
“Hindoeïsme verteenwoordig ’n spesiale en uiters komplekse geval”, voeg die ensiklopedie by. “Hoewel dit in baie opsigte ooreenkom met tradisies wat nie sendingwerk georiënteerd is nie”, aangesien dit versprei het deurdat nie-Hindoes dit met verloop van tyd aangeneem het, het dit andersyds “tye van kragtige sendingwerk gehad”.
Volgens Max L. Stackhouse van die Andover Newton- Teologiese Skool sluit “daardie lewende godsdienste wat beweer dat hulle die mees universele beskouings het en wat blyk lewer van die uitgebreidste sendingywer buite die plek van oorsprong” Islam en Boeddhisme in. Islam se sendelinge kon egter nie as voorbeelde vir Christensendelinge gedien het nie, omdat die Islamitiese tydperk eers sowat 590 jaar ná Christus se opdrag om dissipels te maak, begin het. Boeddhisme daarenteen het die ontstaan van die Christelike geloof met ongeveer dieselfde tydsbestek voorafgegaan as wat Islam daarop gevolg het.
’n Voorbeeld van liberaliteit
Volgens tradisie het die Boeddha ’n sendingbeweging aan die gang gesit deur vir sy dissipels te sê: “Gaan, monnike, verkondig die edele Leer, . . . moenie dat twee van julle in dieselfde rigting gaan nie!” Grootskaalse sendingbewegings was nogtans min, al was daar reeds in die vierde eeu v.G.J. Boeddhistesendelinge in Europa. Die godsdiens is in die meeste gevalle deur individue versprei, soos reisende handelaars, pelgrims of studente. Dit het China en die verskillende dele van Suidoos-Asië byvoorbeeld deur handelsroetes oor see en oor land bereik.
Erik Zürcher van die Universiteit van Leiden in Nederland skryf die verspreiding van Boeddhisme hoofsaaklik aan drie faktore toe. Een is Boeddhisme se “liberale gesindheid ten opsigte van alle godsdienste”. Dit het dit maklik gemaak om “nie-Boeddhistiese opvattings as aanvanklike en gedeeltelike openbaringe van die waarheid” te aanvaar en selfs die “nie-Boeddhistiese godhede in sy godewêreld” op te neem.
’n Tweede faktor is dat Boeddhistesendelinge ’n sogenaamd “hawelose toestand” betree het, wat beteken dat hulle afstand gedoen het van alle wêreldse onderskeidings. Aangesien hulle vry van die beperkinge van die kastestelsel was—die Boeddha het die godsdienstige betekenis daarvan verwerp—kon hulle met buitelanders meng sonder vrees vir rituele verontreiniging.
’n Derde faktor is dat Boeddhisme se heilige geskrifte nie net tot een besondere heilige taal gebonde was nie. Dit kon maklik in enige taal vertaal word. “Veral in China”, sê Erik Zürcher, “was die vernaamste buitelandse sendelinge almal bedrywig as vertalers.” Trouens, hulle het in só ’n mate vertaal dat Chinees, saam met Pali en Sanskrit, een van die drie belangrikste tale vir Boeddhistiese lektuur geword het.
Teen die helfte van die derde eeu v.G.J. het die heerser van die Indiese ryk, koning Asjoka, baie gedoen om Boeddhisme bekend te maak en ook die sendingaspekte daarvan te verstewig. Maar gedurende hierdie voor-Christelike tydperk was Boeddhisme steeds hoofsaaklik beperk tot Indië en wat vandag as Sri Lanka bekend staan. Dit was in werklikheid eers ná die begin van die Christelike tydperk dat Boeddhisme na China, Indonesië, Iran, Japan, Korea, Maleisië, Myanmar, Viëtnam en elders versprei het.
Boeddhisme se sendelinge in China het klaarblyklik geen beswaar daarteen gehad om hulle godsdiens te wysig om dit aanneemliker te maak nie. The Encyclopedia of Religion sê: “Belangrike Boeddhistiese tekste het nuwe uitleggings gekry; apologetiese lektuur, nuwe gedigte asook nuwe wette en voorskrifte is bekend gemaak, wat aspekte van die Boeddhistiese boodskap gewysig en, inderdaad, verander het sodat dit ingeweef kon word in, en in party opsigte nuwe lewe kon gee aan, aspekte van die inheemse volksgodsdienste en van die Confucianisme en Taoïsme van daardie land.”
Die Christendom se sendelinge het soms die voorbeeld van hulle Boeddhistiese sendelingvoorgangers nagevolg, soos toekomstige artikels in hierdie reeks sal toon. Terwyl hulle hulle heilige geskrifte in ander tale vertaal het, het hulle dikwels, soos die geskiedskrywer Will Durant dit stel, “die inlywing van heidense geloofsopvattings en ritusse” in hulle godsdiensgebruike toegelaat of selfs aangemoedig.
Volg “die grootste sendeling” na
Judaism and Christian Beginnings verduidelik dat Judaïsme sendingwerk nie in dieselfde mate as die Christelike geloof aangemoedig het nie, maar dat dit “betreklik niepredikend” was. Tog sê die boek se skrywer, Samuel Sandmel, dat “daar ten minste ’n terugkerende, ten minste sporadiese, neiging daartoe was”.
Samuel Sandmel verduidelik dat “Vader Abraham in die Rabbynse lektuur dikwels as die grootste sendeling uitgebeeld word”. Hy redeneer dat hierdie “beskouing van Abraham as die sendeling nouliks kon ontstaan het as daar nie onder ten minste sekere groepe van die Jodedom die een of ander neiging bestaan het wat ten gunste was van ’n daadwerklike strewe om bekeerlinge te maak of om ten minste diegene wat uit hulle eie bekeer wou word in die geloof te ontvang nie”.a
Gedurende die twee eeue wat die Gewone Jaartelling onmiddellik voorafgegaan het, is die Joodse sendingwerk, veral in Griekssprekende lande, klaarblyklik verskerp toe heidense gelowe hulle trefkrag begin verloor het. Hierdie werk het tot diep in die Gewone Jaartelling voortgeduur, maar is in die vierde eeu G.J. onwettig verklaar toe die Romeinse Ryk ’n verwaterde vorm van die Christelike geloof as sy amptelike godsdiens aangeneem het.
Die voorbeeld is gestel
Die voorbeeld wat deur Joodse sendelinge gestel is, was egter nie wat Christensendelinge beveel is om na te volg nie. Trouens, Jesus het aangaande die Joodse Fariseërs van sy tyd gesê: “Julle deurkruis see en land om ’n enkele bekeerling te maak, en dan maak julle hom twee keer ryper vir vernietiging as wat julle self is” (Mattheüs 23:15, Phillips). Al het hulle Abraham dus as “die grootste sendeling” beskou, het Joodse sendelinge beslis nie bekeerlinge gemaak met die soort geloof wat Abraham in Jehovah God gehad het nie.
Die voorbeeld wat Christensendelinge moet navolg, is die volmaakte voorbeeld wat deur die allergrootste sendeling, Jesus Christus, gestel is. Reeds geruime tyd voordat hy die bevel gegee het om dissipels te maak, het hy sy vroeë dissipels begin oplei om die internasionale sendingwerk te doen wat dit sou vereis. Aangesien dit ’n eeue lange projek sou wees, was die vraag gepas: Sou Christus se volgelinge die voorbeeld wat hy gestel het getrou navolg?
Toe die eerste eeu van die Gewone Jaartelling ten einde geloop het, was die antwoord nog nie duidelik nie. Maar dit is nie vandag die geval namate die 20ste eeu ten einde loop nie. Sowat 1900 jaar van sendingwerk aan die kant van voorgewende volgelinge van Christus lê soos ’n oop boek voor ons.
Die Christelike geloof het van sy plek van oorsprong in Palestina tot in die hele wêreld uitgebrei. Een van die rigtings waarin dit versprei het, was weswaarts tot in Masedonië. Lees hieroor in ons volgende nommer.
Let op wat etlike eeue lank in Mexiko plaasgevind het as ’n voorbeeld van wat die Christendom se sendelinge gedoen het. Terwyl jy die volgende verslag lees, kan jy jou gerus afvra: ‘Was hulle agente van die lig of agente van die duisternis?’
[Voetnote]
a A Guide to Jewish Religious Practice sê: “Abraham word as die vader van alle bekeerlinge beskou . . . Dit is gebruiklik vir bekeerlinge om die seun, of dogter, van ons vader Abraham genoem te word.”
[Prent op bladsy 7]
Jesus het die Christensendingwerk aangevoor deur sy volgelinge op te lei en die voorbeeld te stel wat hulle moes navolg