Hoe om volwasse slagoffers van kindermolestering te vertroos
HULLE was ’n innemende jong paartjie en hoogs gerespekteerd in die gemeente. Maar sy stemtoon was dringend toe hy gevra het dat die ouere man hulle besoek, en sy het trane in haar oë gehad. Sy het met tye aan ernstige depressie en selfhaat gely, en het selfs selfmoordgedagtes gekoester. Sy is as kind seksueel misbruik. Dankbaar dat Jehovah se organisasie riglyne voorsien het oor hoe om slagoffers van sulke misdade te help, het die ouere man die Genootskap se briewe aan ouere manne bestudeer sowel as die Ontwaak!-artikels van 8 Oktober 1991 en die Wagtoring-artikel van 15 Desember 1983 wat hierdie onderwerp bespreek. Hier volg ’n paar nuttige punte uit hierdie bronne.
1. Luister, luister, luister. Wanneer ’n kind sy knie nerfaf val, is sy eerste reaksie om na Mammie of Pappie te hardloop om getroos te word. Maar ’n gemolesteerde kind het dalk nooit eers daardie keuse nie. As ’n volwassene het hy dus steeds dieselfde behoefte—om iemand te vertel, om dit uit te praat, om deur ’n simpatieke luisteraar vertroos te word. (Vergelyk Job 10:1; 32:20, NW.) Toe die ouere man die bogenoemde paartjie besoek het, was die man verbaas oor hoe min die ouere man gepraat het en hoe baie hy geluister het. Die man, ’n baie praktiese, hulpvaardige huweliksmaat, het agtergekom dat hy die probleem probeer oplos deur emosie met logika te beantwoord en deur gevoelens te probeer regstel wat vir hom onredelik gelyk het. Hy het uitgevind dat sy vrou empatie pleks van antwoorde nodig gehad het. (Vergelyk Romeine 12:15.) Sy moes hoor dat sy geldige redes gehad het om so te voel.
2. Ontbloot die leuens. Molestering leer kinders dat hulle vuil, onbeminlik, waardeloos is. Soos valse godsdiensleerstellings kan hierdie idees dit baie moeilik maak om ’n gesonde verhouding met Jehovah te hê. Ontbloot dus die leuens, en vervang hulle met die waarheid—versigtig, herhaaldelik, geduldig. Redeneer uit die Skrif (2 Korinthiërs 10:4, 5, vgl. NW). Sê byvoorbeeld: “Ek verstaan dat jy vuil voel. Maar hoe voel Jehovah oor jou? Beteken die feit dat hy sy Seun toegelaat het om te sterf en vir jou ’n losprys te voorsien nie dat hy jou liefhet nie? [Johannes 3:16]. Het die molestering jou in Sy oë vuil gemaak, of het dit die molesteerder vuil gemaak? Onthou, Jesus het gesê: “Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dít maak hom onrein” [Markus 7:15, NAV]. Het die molestering werklik uit jou, ’n klein kindjie, uitgekom? Of het die molesteerder dit in sy eie verdorwe verstand beplan?”
3. Praat vertroostend. Elke mens is uniek, en Paulus se raad om ‘vertroostend te praat met die terneergedrukte siele’ sal dus in elke geval anders toegepas word (1 Thessalonicense 5:14, NW). Maar dit lyk of ’n oorvereenvoudiging van die situasie selde vertroostend is. Om byvoorbeeld bloot vir ’n slagoffer van molestering te sê om die Bybel meer te lees, meer te preek of om ‘net jou sorg op Jehovah te werp’—al help hierdie voorstelle soms—kan vrugteloos wees. (Psalm 55:23; vergelyk Galasiërs 6:2.) Baie doen reeds hierdie dinge so goed hulle kan en verwyt hulleself genadeloos omdat hulle nie beter doen nie.—Vergelyk 1 Johannes 3:19, 20.
Net so kan dit meer kwaad as goed doen om aan slagoffers van molestering te sê om maar net die verlede te vergeet. As hulle dit kon doen, sou hulle dit waarskynlik reeds gedoen het—en sou hulle nie hulp nodig gehad het om so ’n eenvoudige oplossing te vind nie.a Onthou dat hulle ernstige emosionele trauma deurmaak. Gestel ter toeligting dat jy op ’n slagoffer van ’n motorongeluk afkom wat kreunend tussen die wrakstukke lê. Sal jy net vir hom sê om nie aan die pyn te dink nie? Dit is duidelik dat meer nodig is.
As jy nie seker is dat wat jy sê vertroostend of behulpsaam is nie kan jy die terneergedrukte persoon gerus vra. Per slot van rekening moet selfs raad wat waar en skriftuurlik is tog ook tydig en van pas wees.—Vergelyk Spreuke 25:11.
Ná ’n paar besoeke het die suster agtergekom dat haar lewensbeskouing verbeter het, en haar man kon haar beter deur die moeilike tye help. Albei kon sedertdien vertroostend met ander praat wat soortgelyke traumas deurgemaak het. Hoe geloofversterkend is dit tog om te sien hoe Jehovah, “die God van alle vertroosting”, deur sy Woord en sy volk werk om in hierdie moeilike tye ‘die gebrokenes van hart te verbind’.—2 Korinthiërs 1:3; Jesaja 61:1.
[Voetnoot]
a Die apostel Paulus het Christene weliswaar gemaan om ‘die dinge te vergeet wat agter is’. Maar Paulus het hier na sy voormalige roem en wêreldse sukses verwys wat hy nou “as drek beskou” het. Hy het nie verwys na sy beproewings in die verlede, waarvan hy vryelik gepraat het nie.—Filippense 3:4-6, 8, 13, 14; vergelyk 2 Korinthiërs 11:23-27.