Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel
Deel 1b-Waarom moet ons die handelswêreld ondersoek?
DIT is moeilik om jou ’n wêreld sonder politieke mededinging, godsdienstige gekibbel en ekonomiese angs voor te stel. Daar gaan nie ’n dag verby waarin politiek, godsdiens en handel ons nie op ’n aantal maniere raak nie. Verwyder hierdie drie steunpilare van die mensegemeenskap, en dit kan tot chaos lei.
Wanneer groepe mense saamwoon, is ’n soort ekonomiese stelsel—huishoudelike bestuur—noodsaaklik om hulle te voorsien van die goedere en dienste wat hulle nodig het. (Sien venster hieronder.) Elke huishouding streef dus daarna om ’n gesonde ekonomie te hê. Die ekonomie van elke regering sluit eweneens vier basiese faktore in: (1) om vas te stel watter goedere en dienste beskikbaar gestel moet word, (2) om te besluit hoe hierdie goedere en dienste beskikbaar gestel sal word, (3) om vas te stel hoe dit versprei sal word en (4) om sake dan so te reël dat die ekonomie teen ’n behoorlike tempo sal groei en vir almal werk sal verskaf.
Die ekonomiese stelsels wat deur die mens ontwikkel is, het die lewe beslis vergemaklik en ons van goedere en dienste voorsien wat ons nie self sal kan voorsien nie. Hierdie stelsels het dikwels die lewenstandaard aansienlik verhoog. Verbeterde kommunikasiemiddele stel ons in staat om mense in enige deel van die wêreld binne sekondes per telefoon te bereik, materiaal binne minute aan hulle te faks en selfs binne ure te reis om van aangesig tot aangesig met hulle te praat.
Maar ons kan nie die feit ignoreer dat die handelswêreld mense op ’n manier beïnvloed wat selfs verreikender is nie. Dit kan saam met godsdiens en politiek ’n uitwerking op ons hele lewe hê.a Dit is dus nou gepas dat ons ons aandag vestig op die derde hoofelement van die mensegemeenskap, die handelswêreld. Hoe het dit so magtig geword? Waarop stuur dit af? Wat hou dit vir ons persoonlik in?
[Voetnoot]
a Die Ontwaak! het twee reekse artikels uitgegee wat duidelik getoon het hoe dit die geval is met godsdiens- en politieke stelsels. “Godsdiens se toekoms met die oog op sy verlede”, van 8 Januarie tot 22 Desember 1989; “Menseheerskappy in die weegskaal”, van 8 Augustus tot 22 Desember 1990.
[Venster op bladsy 5]
Definisie van die handelswêreld
Dit is dalk vir jou moeilik om woorde soos “handel”, “handeldryf”, “nywerheid”, “sake” en “ekonomie” te definieer. Collins Cobuild English Language Dictionary definieer “handel” eenvoudig as “die bedrywighede en prosedures wat by die koop en verkoop van dinge betrokke is”. Dit behels noodwendig “handeldryf”, wat “die koop, verkoop of die uitruiling van goedere of dienste tussen mense, firmas of lande” is. Goedere moet natuurlik vervaardig of verwerk word voordat hulle verhandel kan word, ’n proses wat as “nywerheid” bekend staan. En die werk wat met handel en handeldryf te doen het, word “sake” genoem.
Wat “ekonomie” betref, dit is “die studie van die produksie van rykdom en die verbruik van goedere en dienste in ’n gemeenskap, en die organisering van sy geld, nywerheid en handel”. Die feit dat hierdie woord afgelei is van Griekse grondwoorde wat die bestuur van ’n huishouding of staat aandui, gee ons ook verdere insig in die betekenis van hierdie woord.