Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 1/22 bl. 25-27
  • Party noem dit onkruid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Party noem dit onkruid
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Meer as tienduisend spesies
  • Nie net vir visse nie
  • Nuttighede wat nog nie besing is nie
  • ’n Aand saam met ’n Japannese gesin
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
  • Die verbasende skoonmakers van die see
    Ontwaak!—2005
Ontwaak!—1990
g90 1/22 bl. 25-27

Party noem dit onkruid

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

SEEWIERE—so noem ons dit in Afrikaans, maar in baie plekke word sulke plante “see-onkruid” genoem. Vir die meeste mense is dit net die slymerige, verstrengelde ergernis wat hulle pret op die strand bederf. Maar is seewiere so nutteloos?

In Japan word hulle in ’n heel ander lig beskou. Trouens, daar word hulle “seegroente” genoem. Die eilande van Japan word omring deur warm sowel as koue seestrome. Daarom is daar ’n oorvloed van seewiere van allerlei soorte in die omliggende waters. Met die verloop van die jare het die Japannese gevind dat hulle hierdie seeplante vir baie dinge kan gebruik.

Meer as tienduisend spesies

Een rede waarom hulle vir soveel dinge gebruik word, is die groot verskeidenheid—meer as tienduisend spesies is al geïdentifiseer! Hulle floreer in water van die ysige poolstreke tot die warm tropiese seë. In die wetenskap noem bioloë hulle see-alge, die eenvoudigste vorm van plantelewe, hoewel die naam “seewier” gewoonlik op die groter soorte betrekking het. Hulle “wortels” dien net as anker; seewiere neem minerale en water deur die oppervlak van die hele plant op. Hulle blare en stingels is sag en soepel; hulle kan saam met die branders heen en weer wieg sonder om te breek, soos in ’n grasieuse ballet. Sommige seewiere het klein ballonagtige swelsels op hulle blare wat hulle bo-op die water laat dryf.

Binne hierdie algemene familie-ooreenkoms is daar egter eindelose variasies in hulle voorkoms. Daar is seewiere wat soos bros slaaiblare of skimmelrige mos of pragtige bloedkorale lyk. Die massas bruin Sargasso-wiere wat in die Noord-Atlantiese Sargassosee drywe, is so groot dat hulle aanleiding gegee het tot legendes van skrikwekkende seemonsters en verlore skepe wat deur eertydse mariniers gevrees is.

Selfs al lyk seewiere bruin, rooi of groen, bevat hulle chlorofil, die stof wat hulle in staat stel om fotosintese voort te sit sodat hulle hul eie voedsel kan produseer. Daar word geraam dat hierdie eenvoudige seeplante in samewerking met mikroskopiese alge ongeveer tien keer meer fotosinteer as alle landplante saam. Dit is nie verbasend nie dat ’n menigte seediere hulle geliefkoosde skuiling in seewierbeddings vind, waar daar ’n oorvloed van suurstof en voedingstowwe is.

Nie net vir visse nie

Seewier is nie net vir visse aantreklik nie; in Japan word ongeveer 200 000 ton see-alge jaarliks as voedsel op die etenstafel bedien. “Seegroentes is kalorie-arm, uiters voedsame kosse wat help om gesondheid en lanklewendheid in die hand te werk”, sê die boek Vegetables From the Sea, deur Japannese skrywers Seibin en Teroeko Arasaki. Terloops, die skrywers se keuse van die woord “seegroentes” pleks van “seewiere” is ’n duidelike aanduiding van hulle hoë agting vir hierdie plante. En waarom nie? Wat proteïene, minerale en vitamiene betref, is daar min ander kosse wat by hierdie ‘groentes uit die see’ kan kers vashou.

Beskou byvoorbeeld een van die gunstelinge, nori. Wanneer hierdie seewier verwerk is, lyk dit soos velle droë, groenswart papier en word die prys daarvan volgens aroma vasgestel. Ongeveer 8500 miljoen velle daarvan word jaarliks geëet, wat ongeveer 70 velle van skryfblokgrootte per persoon is. Wat maak nori so merkwaardig? Vyf-en-dertig tot 40 persent daarvan in droë gewig is goeie proteïene wat maklik verteer word. Dit is ook ’n voorraadskuur van vitamiene. Vergeleke met spinasie het nori 8 keer meer vitamien A, 9 keer meer vitamien B1, 15 keer meer vitamien B2 en 1,5 keer meer vitamien C. Daarbenewens is dit een van die min kosse wat ryk is aan vitamien B12, en dit bevat ses ander soorte B-vitamiene.

Seewiere is ryker aan minerale as feitlik enige ander kos. Volgens skatting bestaan 7 tot 38 persent van die seewier se droë gewig uit “die minerale wat mense nodig het, waaronder kalsium, natrium, magnesium, kalium, fosfor, jodium, yster en sink”. Wakame, ’n ander gunsteling, bevat byvoorbeeld 13 keer meer kalsium as melk. Mense wat aan bloedarmoede ly, sal daarin belangstel om te weet dat eetbare see-alge van twee tot meer as tien keer meer yster bevat as eiergele of spinasie. En die jodium in seewiere is dalk die rede waarom die skildkliersiekte goiter so selde onder die Japannese voorkom.

Daar is nog ander voordele. Die vesels van seeplante is sagter as dié van landplante. Hulle is dus goed vir gereelde stoelgang. Japannese wetenskaplikes het laminin in seewiere ontdek, ’n stof wat hoë bloeddruk voorkom. Hulle ondersoek ook sekere bestanddele in seewiere wat bloedcholesterol en vetstowwe in dieretoetse verminder het.

Nuttighede wat nog nie besing is nie

Selfs al dink jy dat jy nooit seewier in jou liggaam sal kan inkry nie, doen jy dalk juis dit elke keer wanneer jy ’n lepel roomys of joghurt afsluk of jou geliefkoosde stroop oor iets gooi of jou geliefkoosde kaas geniet. Daarbenewens vind jy dalk ook by hierdie eenvoudige seewier baat elke keer wanneer jy ’n titseltjie gesigroom of tandepasta gebruik of die een of ander pil sluk vir vinnige verligting.

Dit is omdat die selwande in die meeste bruin seewiere ’n bestanddeel bevat wat algien, of alginaat, genoem word. Hierdie bestanddeel het ’n paar baie spesiale eienskappe wat daartoe bydra dat dit in ’n groot verskeidenheid verbruikersprodukte gevind word. Dit is ’n goeie stabiliseerder van emulsies en suspensies. Dus word dit in sagte kosse, skoonheidsmiddels en farmaseutiese produkte gebruik. Alginaat word ook gebruik om waterverf, tekstielware, papier en so meer te vervaardig.

Kelp kan gegis word om metaangas te produseer, en navorsers glo dat hierdie bron in tot 10 persent van Japan se energiebehoeftes kan voorsien. Vervaardigers van landbouchemikalieë ondersoek ’n stof in rooi seewier wat uiters doeltreffend is as ’n insektedoder, dog heeltemal skadeloos vir mense is. Japan se biotegnologiese nywerheid ontwikkel ’n nuwe biopapier van alginaat wat gebruik kan word as kunsmatige vel en vir ander mediese doeleindes. Dierevoer, messtowwe, antibiotiese stowwe en talle ander produkte word van seewiere gemaak.

As jy dus volgende keer die slymerige, lastige ergernis op die strand sien of as dit om jou voete verstrengeld is, moet jy net onthou dat daar ’n voorraadskuur van goeie dinge in hierdie eenvoudige seeplante is wat daarop wag om ontdek en benut te word. Hulle is op stuk van sake nie so nutteloos dat hulle onkruid genoem moet word nie!

[Venster op bladsy 27]

Smaaklike maniere om seewier te eet

Verskeie soorte seewiere kan in Japannese, Koreaanse of Chinese groentewinkels, gesondheidswinkels of selfs ’n paar van die groter kruidenierswinkels gekoop word. Hulle word gewoonlik verpak as droë velle. Sommige winkels verkoop hulle gemarineer in sojasous. Die algemeenste soorte is wakame, nori en kombu.

Die maklikste manier om wakame te probeer, is om dit by jou slaai of sop te voeg. Week dit eenvoudig in water, spoel die sout af, sny dit in klein stukkies en gooi dit in. Gemarineerde seewier kan by gestoomde rys of ander geregte gevoeg word.

Die uiters gewilde sushi is bloot nori wat met rys gestop is, met komkommer, eier of verskillende seekosse—tuna, salm, garnaal, kreef en so meer—daarin. As die rou vis jou nie aanstaan nie, kan jy probeer om kaas of komkommerstokkies in gekruide velle nori te rol.

Kinders sal die bros, diepgebraaide kombu geniet. Vee die sout af en doop dit vir ’n sekonde of twee in olie teen medium temperatuur, of rooster eenvoudig klein stukkies daarvan totdat dit bros word.

[Prente op bladsy 26]

Bo: Temaki-sushi (met die hand gerol) met see-egel in die middel

Links: Nori word volop in sushi, ’n geliefkoosde gereg in Japan, gebruik

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel