Donderdag 16 April
In my angstigheid het ek tot Jehovah geroep . . . , en my geroep om hulp het sy ore bereik. – Ps. 18:6.
Koning Dawid het Jehovah geken en op Hom vertrou. Toe Dawid agternagesit is deur sy vyande, insluitende koning Saul, het hy tot Jehovah gebid vir hulp. Nadat God sy gebed beantwoord en hom gered het, het Dawid gesê: “Jehovah lewe!” (Ps. 18:46). Met hierdie woorde het Dawid nie net erken dat God bestaan nie. Een naslaanwerk sê dat Dawid vertroue uitgespreek het in Jehovah “as ’n lewende god wat heeltyd vir sy volk optree”. Ja, Dawid het uit persoonlike ondervinding geweet dat sy God lewe, en daardie oortuiging het sy vasbeslotenheid versterk om Jehovah te dien en te loof (Ps. 18:28, 29, 49). As ons oortuig is dat Jehovah die lewende God is, kan dit ons help om hom met ywer te dien. Ons sal die krag hê om probleme te verduur en gemotiveerd wees om hard te bly werk in sy diens. Ons sal ook vasbeslote wees om na aan Jehovah te bly. w24.06 20-21 ¶3-4
Vrydag 17 April
Laat niemand julle op enige manier mislei nie. – 2 Tess. 2:3.
Wat kan ons leer uit die apostel Paulus se woorde aan die Tessalonisense? Ons moet goeie oordeel gebruik wanneer ons iets hoor wat nie met die Bybel ooreenstem nie of wanneer ons ’n skokkende storie hoor. In die voormalige Sowjetunie het ons vyande eenkeer ’n brief rondgestuur wat glo van die wêreldhoofkwartier gekom het. Die brief het party van die broers aangemoedig om ’n aparte, onafhanklike organisasie te vorm. Dit het gelyk asof die brief regtig van die wêreldhoofkwartier af kom. Maar getroue broers is nie om die bos gelei nie. Hulle het besef dat die boodskap in die brief nie ooreengestem het met wat hulle geleer is nie. Vyande van die waarheid gebruik vandag soms moderne tegnologie in ’n poging om ons te laat twyfel en te verdeel. Ons “moenie gou deurmekaar” gemaak word nie; ons kan onsself eerder beskerm deur mooi te dink of dit wat ons hoor of lees in ooreenstemming is met die waarhede wat ons alreeds geleer het. – 2 Tess. 2:2; 1 Joh. 4:1. w24.07 12 ¶14-15
Saterdag 18 April
As iemand wel ’n sonde pleeg, het ons ’n helper. – 1 Joh. 2:1.
Die belangrikste besluit wat enige persoon kan maak, is die besluit om homself aan Jehovah toe te wy en om deel van Sy familie van aanbidders te word. Jehovah wil hê dat almal dit moet doen. Hoekom? Hy wil hê dat hulle ’n vriendskap met hom moet geniet en vir ewig moet lewe (Deut. 30:19, 20; Gal. 6:7, 8). Maar Jehovah dwing niemand om hom te dien nie. Hy laat elke persoon toe om te besluit wat hy sal doen. Sê nou ’n gedoopte Christen breek God se wet en pleeg ’n ernstige sonde? As hy nie berou toon nie moet hy uit die gemeente verwyder word (1 Kor. 5:13). Maar selfs dan wil Jehovah baie graag hê dat die sondaar na hom toe moet terugkeer. Om die waarheid te sê, dit is ’n belangrike rede hoekom hy die losprys voorsien het – om vergifnis moontlik te maak vir berouvolle sondaars. Jehovah is ’n baie liefdevolle God wat dié wat ernstig sondig, aanmoedig om berou te toon. – Sag. 1:3; Rom. 2:4; Jak. 4:8. w24.08 14 ¶1-2