Imagination World/stock.adobe.com
’n Boodskap uit God se Woord – Hoop vir vlugtelinge!
Elke jaar voel miljoene mense gedwing om uit hulle huise te vlug. Is dit wat op die oomblik met jou gebeur? As dit die geval is, wees verseker dat jy dit nie op jou eie hoef te hanteer nie – God gee vir jou die hoop van ’n beter lewe waaroor jy in die Heilige Skrif kan leer.
“Vlugtelinge en mense wat gedwing is om hulle huise te verlaat,a het nie net ons onmiddellike hulp nodig nie, maar ook . . . hoop vir die toekoms,” het Christos Stylianides, ’n voormalige kommissaris van die Europese Unie,b gesê. Mense wat hoop het, het goeie rede om positief oor hulle toekoms te wees. Maar vlugtelinge het nie net hoop nodig nie, hulle het ook vertroosting nodig om emosioneel te genees.
“Toe ek uit my land moes vlug en my familie agterlaat, het ek ’n verskriklike leemte gevoel. Ek was vol vrees, hartseer en angstigheid.” – Emmanuel, Haïti.
Voel jy soos Emmanuel? As jy uit jou huis gevlug het, het jy vertroosting en hoop nodig. Hoe kan God se Woord, die Bybel, jou help?
Vertroosting uit God se Woord
Die Bybel sê: “Jehovahc . . . is lief vir die uitlander.” – Deuteronomium 10:17, 18.
Dit beteken dat jy nie alleen is nie. Jehovah God, die Skrywer van die Bybel, verstaan jou situasie, is lief vir jou en gee regtig om oor wat met jou gebeur.
Die Bybel sê: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep.” – Psalm 145:18.
Dit beteken dat Jehovah jou hoor wanneer jy bid. Hy kan jou innerlike vrede gee. Hy voorsien ook wysheid in die Bybel wat jou kan help om jou situasie te hanteer.
Die Bybel sê: “Die ware God sal nooit goddeloos optree nie! . . . Die Almagtige is nooit onregverdig nie.” – Job 34:10, 12.
Dit beteken dat God nie die oorsaak van jou swaarkry is nie. Hy is nie besig om jou te straf nie, en hy toets jou ook nie deur jou lewe moeilik te maak nie.
Hoop uit God se Woord
Die Bybel verduidelik wat God vir ons in die toekoms sal doen. Kyk hoe hierdie hoop mense help wat uit hulle huise moes vlug.
Die Bybel sê: “God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” – Openbaring 21:4.
Dit beteken dat ons verligting van swaarkry sal vind. God belowe om al die probleme op te los wat die lewe vandag hopeloos kan laat lyk.
“God sal binnekort die ongeregtighede en slegte dinge wat om ons gebeur, regstel. Hierdie hoop help my om aan te hou dink oor die dag wanneer alle swaarkry tot ’n einde sal kom.” – Karla, El Salvador.
Die Bybel sê: “Daar sal nie aan die vorige dinge gedink word nie, en dit sal ook nie in die hart opkom nie.” – Jesaja 65:17.
Dit beteken dat ons nie meer pynlike herinneringe sal hê nie. God sal seker maak dat die herinneringe van slegte dinge wat jy ervaar het, jou nie meer sal ontstel nie.
“Die Bybel belowe dat ons nie eers die pyn en die verlies sal onthou wat ons ervaar het nie. Hierdie hoop help my om ons moeilike situasie te hanteer omdat ek weet dat alles binnekort sal verander.” – Natalia, Oekraïne.
Die Bybel sê: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat . . . al daardie koninkryke [sal] vernietig en ’n einde aan hulle maak.” – Daniël 2:44.
Dit beteken dat ’n volmaakte hemelse regering oor die aarde sal regeer. God sal binnekort alle menseregerings met sy eie regering vervang wat vanuit die hemel regeer. Hierdie regering sal ware vrede en veiligheid, asook geregtigheid en voorspoed vir almal bring. – Miga 4:3, 4.
“Dit versterk my om te weet dat probleme soos onderdrukking, diskriminasie, wantroue en rassisme tydelik is – Jehovah se Koninkryk sal binnekort ’n einde aan al hierdie probleme maak.” – Mustafa, Midde-Ooste.
Vind vertroosting in die Bybel se boodskap van hoop
Wysheid uit God se Woord
Die Bybel se praktiese wysheid kan jou help terwyl jy dit wat met jou gebeur het, aanvaar. Dit kan jou ook help om jou nuwe omstandighede, wat die verlies van materiële dinge insluit, te hanteer. Let op hoe vlugtelinge by die volgende beginsels baat vind:
Die Bybel sê: “Selfs wanneer iemand ’n oorvloed het, hang sy lewe nie van sy besittings af nie.” – Lukas 12:15.
Hoe hierdie wyse woorde jou kan help om jou omstandighede te hanteer: Jy voel heel moontlik geskok deur wat gebeur het en baie hartseer oor wat jy agtergelaat het. Maar as jy stop en onthou dat jou lewe waardevoller is as enige besittings wat jy agtergelaat het, kan dit jou help om nie so hartseer oor daardie dinge te voel nie.
“Lewe is belangriker as materiële besittings. In sekere situasies kan besittings of geld jou net nie help nie.” – Natalia, Oekraïne.
Die Bybel sê: “Moenie vra: ‘Hoekom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie.” – Prediker 7:10.
Hoe hierdie wyse woorde jou kan help om jou omstandighede te hanteer: Jou huidige situasie is dalk baie moeilik. Maar probeer om dit nie met jou vorige omstandighede te vergelyk nie, want dit kan jou bitter laat voel.
“Deur my huidige situasie te aanvaar soos dit is, kan ek ’n positiewe uitkyk behou.” – Eli, Rwanda.
Die Bybel sê: “As ons . . . kos en klere het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” – 1 Timoteus 6:8.
Hoe hierdie wyse woorde jou kan help om jou omstandighede te hanteer: Probeer om met die basiese dinge in die lewe tevrede te wees. Deur tevrede te wees, sal jy heel moontlik minder gestres wees, wat jou kan help om jou emosies onder beheer te kry.
“Die Bybel help my om op ’n ander manier na dinge te kyk en nie te fokus op wat ons verloor het nie. Ek en my vrou is bly om lewendig en in ’n veilige plek te wees.” – Ivan, Oekraïne.
Die Bybel sê: “Alles wat julle dan wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” – Matteus 7:12.
Hoe hierdie wyse woorde jou kan help om jou omstandighede te hanteer: Jy sal heel moontlik beter oor die weg kom met ander as jy jou bes doen om geduldig en vriendelik te wees. En wanneer jy dit doen, kan dit makliker vir ander mense wees om jou te aanvaar en nie teen jou te diskrimineer nie.
“Die meeste mense waardeer dit wanneer jy hulle met respek, vriendelikheid en liefde behandel. Dit lei tot goeie verhoudings tussen jou en die plaaslike mense.” – Angelo, Sri Lanka.
Die Bybel sê: “Vra God . . . om julle te help . . . Dan sal die vrede van God . . . julle harte en julle verstande beskerm.” – Filippense 4:6, 7.
Hoe hierdie wyse woorde jou kan help om jou omstandighede te hanteer: Bid tot God oor jou gevoelens, behoeftes, vrese en bekommernisse. Sulke gebede kan angstigheid verminder en keer dat jy deur jou omstandighede oorweldig word.
“Ek bid tot God wanneer ek ook al probleme het, en hy antwoord my. Wat ek uit die Bybel geleer het, het my ware innerlike vrede gegee.” – Jol, Suid-Soedan.
“Die Bybel se goeie raad help my om die innerlike vrede te vind wat ek nodig het om hierdie moeilike situasie te hanteer.” – Walentina, Oekraïne.
“Dit versterk my om te weet dat Jehovah God ’n lewe belowe wat werklik beter is.” – Emmanuel, Haïti
Wil jy meer leer oor die Bybel se beloftes oor vertroosting en hoop en hoekom jy dit kan vertrou? Vra vir ’n gratis besoek van Jehovah se Getuies. Hulle sal jou graag wil help.
a Die VN se Organisasie vir Vlugtelinge definieer vlugtelinge as dié wat gedwing is om na ’n ander plek in hulle eie land te trek sowel as ander wat gedwing is om na ’n ander land te trek, maar wat dalk nie wetlik as vlugtelinge kwalifiseer nie.
b Europese Unie Kommissaris vir Humanitêre Hulp en Krisisbestuur.
c Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel: “Wie is Jehovah?”