Die Gedenkmaalseisoen—’n Geleentheid om meer te doen!
1. Waarom moet ons dit oorweeg om gedurende Maart, April en Mei meer in die bediening te doen?
1 Kan jy gedurende die komende Gedenkmaalseisoen meer in die bediening doen? Sommige verkondigers sal verlof of skoolvakansie hê wat hulle vir die bediening kan gebruik. Ons sal vanaf 2 April deelneem aan ’n spesiale kampanje om belangstellendes te nooi om op 17 April die Gedenkmaal saam met ons by te woon. Op Saterdag 16 April sal ons ook ons spesiale Tydskrifdag hê. Ná die Gedenkmaal sal ons ’n poging aanwend om die belangstelling van dié wat dit bygewoon het, verder te ontwikkel en hulle na die spesiale toespraak te nooi wat gedurende die week van 25 April gehou sal word. Daar is inderdaad baie redes waarom ons dit moet oorweeg om gedurende Maart, April en Mei meer in die bediening te doen.
2. Wat is ’n uitstekende manier waarop ons meer in ons bediening kan doen?
2 Hulppionierdiens: ’n Uitstekende manier waarop ons meer kan doen, is om as hulppioniers te dien. Aangesien ons almal besig is, vereis dit gewoonlik dat ons vooruitbeplan en aanpassings in ons rooster maak (Spr. 21:5). Jy kan dalk ’n paar onbelangrike bedrywighede in jou gewone roetine uitstel (Fil. 1:9-11). Sê gerus vir ander in die gemeente dat jy wil pionier en kyk of hulle dalk ook hulppionierdiens kan doen.
3. Hoe kan gesinne meer in die bediening doen?
3 Dit sal goed wees as julle gedurende julle volgende aand vir Gesinsaanbidding julle doelwitte as ’n gesin bespreek (Spr. 15:22). Met almal se samewerking kan sommige gesinslede dalk gedurende een of meer maande hulppionierdiens doen. Sê nou julle sien dat dit eenvoudig onmoontlik is? Die gesin kan nog steeds reël om meer te doen deur sommige aande aan die bediening deel te neem of deur naweke langer te werk.
4. Watter seëninge sal ons geniet as ons hierdie Gedenkmaalseisoen meer in die bediening doen?
4 Jehovah sien alles wat ons in sy diens doen en waardeer ons opofferings (Heb. 6:10). Dit verskaf ons vreugde om aan Jehovah en aan ander te gee (1 Kron. 29:9; Hand. 20:35). Kan jy hierdie Gedenkmaalseisoen meer doen en die groter vreugde en seëninge geniet wat dit meebring?