Kan jy jou diens uitbrei?
1. Wat is dringend nodig in die veldbediening, en waarom?
1 Toe Jesus sien dat menigtes in die goeie nuus van die Koninkryk belangstel, het hy vir sy dissipels gesê om “die Heer van die oes [te smeek] om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Aangesien ons in die laaste ure van die oestyd is, is ons werk selfs dringender as ooit tevore. Dit beteken dat ons biddend moet nadink oor hoe ons ’n groter deelname aan die veldbediening kan hê.—Joh. 14:13, 14.
2. Hoe het party gehoor gegee aan die oproep om meer werkers in die veld?
2 Uitgebreide diens: Met Jehovah se leiding en hulp het baie gevind dat dit moontlik is om die pionierdiens te betree (Ps. 26:2, 3; Fil. 4:6). Party het ’n spesiale poging aangewend om tydens een of meer maande in die jaar as hulppioniers te dien. Dit was ’n goeie manier om hulle bediening uit te brei. As gevolg van die vreugde wat hulle in hierdie voorreg gevind het, het baie dit oorweeg om die gewone pionierdiens te betree.—Hand. 20:35.
3. Wat wil jy dalk nou oorweeg as jy voorheen gepionier het?
3 Kan jy die pionierdiens hervat?: Indien jy voorheen as ’n pionier gedien het, het jy ongetwyfeld kosbare herinneringe van daardie tyd. Het jy biddend nagedink oor die moontlikheid om weer te pionier? Die omstandighede wat jou uit die pionierdiens laat tree het, is dalk nie meer ’n hindernis nie. Die tyd is dalk ryp vir jou om weer eens hierdie spesiale voorreg te geniet.—1 Joh. 5:14, 15.
4. Watter unieke geleentheid het ons almal?
4 Die oeswerk is goed op dreef en gaan binnekort tot ’n einde kom (Joh. 4:35, 36). Mag almal van ons ons huidige situasie ondersoek om vas te stel of ons ons sake so kan reël om ons bediening in die veld uit te brei. Of indien ons werklik geen manier vind om ons diens uit te brei nie, kan ons na maniere soek om bekwamer te word? (Mark. 12:41-44). Wat ’n voorreg word nou verleen aan almal wie se omstandighede hulle toelaat om deur Jehovah in hierdie unieke bedrywigheid gebruik te word!—Ps. 110:3.