Doelgerigte wêreldwye poging om die “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms te adverteer
Verkondigers gaan weer ’n spesiale strooibiljet versprei
1 Verlede jaar het die wêreldwye kampanje om die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms te adverteer, ’n kragtige uitwerking op belangstellendes gehad. Diegene wat die spesiale uitnodiging aanvaar en die byeenkoms bygewoon het, het vir die eerste keer ondervind hoe wonderlik dit is om ’n geestelike feesmaal saam met Jehovah se Getuies te geniet (Jes. 65:13). Hulle het met ons hartlike, verenigde Christenbroederskap omgegaan (Ps. 133:1). Om soveel mense as moontlik te help om die “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms by te woon, gaan ons weer ’n spesiale strooibiljet wêreldwyd versprei.
2 Verlede jaar se resultate: Volgens verslae wat van oral oor die wêreld ontvang is, het die kampanje om die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms te adverteer, uitstekende resultate behaal. Op baie plekke het ons gunstige publisiteit gekry. Byvoorbeeld, in een stad het ’n koerant ’n artikel van ses kolomme oor die kampanje gepubliseer en gesê: “Om almal betyds te bereik, wend die Getuies ’n spesiale poging in die omgewing aan—hulle werk langer ure, loop verder en praat vinniger.” Die georganiseerde verspreiding van die strooibiljet het die belangstelling van die plaaslike media in ’n ander stad gewek, en gevolglik is dit deeglik in die nuus gedek. Gunstige berigte oor ons bedrywigheid voor die byeenkoms het in ten minste drie koerante verskyn. ’n Verslaggewer het verskeie uitvoerige artikels geskryf wat meer as twee bladsye in die Sondag-uitgawe van ’n koerant beslaan het. Dit het in besonderhede vertel van ons godsdiensoortuigings, ons broederskap, die verspreiding van die strooibiljet en die byeenkoms. Toe een verkondiger die uitnodiging by ’n huis aanbied, het die huisbewoner haar in die rede geval en gesê: “Ja. Ek het nou net in die koerant hiervan gelees!” ’n Ander huisbewoner het opgewonde gesê: “Ek het nou net van julle gelees, en hier is julle! Is dit my uitnodiging?” Toe het sy bygevoeg: “Dit is ’n baie goeie ding wat Jehovah se Getuies doen.”
3 Baie belangstellendes het met hulle uitnodiging in hulle hand by die byeenkoms opgedaag. Party belangstellendes het van vergeleë stede af gery om die sessies by te woon. Ons ywerige pogings om ander uit te nooi, het bygedra tot ’n hoër bywoningsyfer. Een land het 27 persent meer mense by die streekbyeenkoms gehad as die vorige jaar.
4 Hoe om julle gebied te dek: Julle kan drie weke voor julle streekbyeenkoms die strooibiljet begin versprei. Doen alles in julle vermoë om die gemeente se hele gebied te dek. In gemeentes wat baie gebied het, kan verkondigers gedurende die laaste week voor die streekbyeenkoms die strooibiljet op ’n onopsigtelike plek laat by huise waar niemand tuis is nie. Gemeentes moet probeer om al die strooibiljette te versprei wat hulle ontvang het en om soveel moontlik van hulle gebied te dek. Enige oorblywende uitnodigings kan deur die pioniers in die gemeente gebruik word.
5 Wat om te sê: Jy kan iets sê soos: “Ons neem deel aan die wêreldwye verspreiding van hierdie uitnodiging na ’n belangrike gebeurtenis wat binnekort gaan plaasvind. Hier is jou uitnodiging. Ander besonderhede word op die uitnodiging uiteengesit.” Deur die aanbieding kort te hou, sal ons meer uitnodigings kan versprei. As die huisbewoner vrae het, moet ons natuurlik die tyd neem om dit te beantwoord. Maak ’n aantekening van belangstelling wat getoon word, en gaan so gou moontlik terug.
6 Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons daarna streef om die Christus te volg! (Joh. 3:36). Ons komende streekbyeenkoms sal almal wat dit bywoon, help om juis dit te doen. Ons kan beslis verwag dat ’n ontsaglike getuienis weer eens gegee sal word as gevolg van hierdie doelgerigte poging om die “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms te adverteer. Neem dus ywerig daaraan deel om soveel mense moontlik te nooi om dit by te woon. Mag Jehovah jou persoonlike pogings ryklik seën terwyl jy aan hierdie verenigde, wêreldwye kampanje deelneem.