Nuwe reëling om byeenkomsprogramme te hersien
Terwyl Satan se wêreld al hoe slegter word, versterk Jehovah ons “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe” (Tit. 2:12). Van die voorsienings wat hy deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” maak, is die jaarlikse kringbyeenkoms en spesiale byeenkomsdag (Matt. 24:45). Hoe aanmoedigend is hierdie geestelike samekomste tog!
Om ons te help om die onderrigting wat voorsien word, te onthou en toe te pas, sal daar gedurende die 2005-diensjaar ’n nuwe reëling wees om hierdie byeenkomsprogramme te hersien. Bladsye 5-6 van hierdie byvoegsel bevat artikels wat ’n voorskou gee van wat aangebied sal word sowel as hersieningsvrae vir elke byeenkomsprogram. Gemeentes sal hierdie inligting tydens die Diensvergadering bespreek kort voordat en kort nadat hulle hulle byeenkoms bygewoon het. Hoe sal dit gereël word?
Een of twee weke voordat die gemeente die kringbyeenkoms bywoon, sal ’n toespraak van tien minute, wat gebaseer is op die artikel “Nuwe kringbyeenkomsprogram”, tydens die Diensvergadering gehou word om afwagting vir die program te wek. Die spreker sal ook die aandag op die hersieningsvrae vestig en almal aanspoor om aantekeninge te maak ter voorbereiding vir die hersiening wat ’n paar weke ná die byeenkoms gehou sal word.
Binne ’n paar weke ná die byeenkoms moet ’n hersiening van 15 minute van die eerste dag van die byeenkomsprogram tydens die Diensvergadering gehou word. Die volgende week sal 15 minute aan ’n hersiening van die tweede dag van die program gewy word. Die hersieningsvrae wat in hierdie byvoegsel verskyn, sal as grondslag vir daardie besprekings dien. Die hersiening moet die praktiese waarde van die inligting beklemtoon. Die ouer manne kan reël om ander dele op die Diensvergadering te verkort, uit te skakel of na ’n ander week te verskuif sodat hierdie hersieningsessies gehou kan word.
Dieselfde reëling sal vir die program van die spesiale byeenkomsdag geld, behalwe dat daar een deel van 15 minute sal wees waartydens die hele program hersien moet word. Ons moet almal hierdie byvoegsel bêre en dit gebruik om ten volle baat te vind by die voortreflike onderrigting wat Jehovah voorsien.—Jes. 48:17, 18.