Bied die Gesinsgeluk-boek vir mense van alle ouderdomme aan
1 ’n Elf-jarige seun van Kalifornië het sy waardering uitgespreek vir die boek Die geheim van gesinsgeluk. Hy het geskryf: “Ek is dankbaar daarvoor en ek moedig ander gesinne aan om hierdie boek te lees, want dit is baie goed. Dit help . . . ons gesin om vrede en geluk in ons huis te vind.” Hierdie kind se ondervinding moet ons aanmoedig om die Gesinsgeluk-boek vir mense van alle ouderdomme aan te bied. Hier is ’n paar wenke wat jy dalk gedurende Februarie in jou bediening wil toepas.
2 Wanneer jy ’n jong persoon ontmoet, kan jy sê:
◼ “Baie van jou ouderdomsgroep dink aan trou. Maar waar kan jy betroubare inligting oor die onderwerp vind? [Wag vir ’n antwoord.] Jongmense sê dikwels dat hulle nie seker is of hulle gereed is om te trou nie. Ek wil graag vir jou wys wat hierdie handleiding oor die onderwerp sê.” Blaai na bladsy 14 in die Gesinsgeluk-boek en lees paragraaf 3. Wys dan vir hom elke onderhofie in die hoofstuk. Bied vir hom die hardebandboek aan teen R5,00 of die sagtebandboek teen R3,75, en tref reëlings om terug te gaan.
3 Wanneer jy met ’n ouer praat, kan jy sê:
◼ “Ons bespreek met ouers ’n paar praktiese riglyne wat werklik werk wanneer dit kom by die grootmaak van kinders. Dit is in hierdie handleiding Die geheim van gesinsgeluk saamgevat.” Blaai na bladsy 55. Lees paragraaf 10 en dan Deuteronomium 6:6, 7 in paragraaf 11. Wys dan vir hom die kursiewe sinne in paragrawe 12 tot 16. Sê daarna: “Hierdie boek het al baie mense gehelp om as ouers groter welslae te behaal.” Bied die boek aan teen die gewone bydrae.
4 Wanneer jy met ’n bejaarde persoon praat, kan jy sê:
◼ “Ek wil graag vir u hierdie kort kommentaar lees en dan hoor wat u daarvan dink.” Maak die Gesinsgeluk-boek oop op bladsy 169 en lees die eerste twee sinne van paragraaf 17. Vra dan die persoon se mening. Na gelang van die antwoord kan jy verdere uittreksels uit die boek lees voordat jy dit aanbied.
5 Wanneer jy teruggaan na iemand by wie jy die Gesinsgeluk-boek gelaat het, moet jou doelwit wees om ’n Bybelstudie te probeer begin. Les 8 in die Vereis-brosjure of hoofstuk 15 in die Kennis-boek is dalk ’n goeie plek om te begin. Laat ons op dié manier probeer om mense van alle ouderdomme te help om ’n gelukkige Christelike gesinslewe op te bou.