Vind baat by die Teokratiese Bedieningskoolprogram vir 1999
1 Jesus was ’n meesteronderrigter. Mense was “verstom oor sy manier van leer” (Mark. 1:22). Hoewel nie een van ons so goed soos Jesus kan praat en onderrig nie, kan ons hom probeer navolg (Hand. 4:13). Ons deelname aan die Teokratiese Bedieningskoolprogram sal ons help om voortdurend ons spraak- en onderrigvermoë te verbeter sodat ons daardie doel kan bereik.
2 In 1999 sal Toespraak Nr. 1 hoofsaaklik op artikels uit Die Wagtoring en Ontwaak! van 1997 gebaseer wees. Ons sal ’n baie beter begrip van geestelike dinge verkry as ons hierdie inligting voor die tyd lees en dit dan tydens die skoolprogram hoor. Diegene wat toegewys word om hierdie instruksietoesprake te hou, moet die materiaal prakties toepas en dit op ’n interessante en lewendige manier aanbied. Toespraak Nr. 3 sal op die Gesinsgeluk-boek gebaseer wees en Toespraak Nr. 4 op ’n Bybelkarakter, hoewel die bronnemateriaal vir hierdie toewysings afgewissel kan word. Die skoolopsiener moet die materiaal noukeurig deurgaan voordat hy die dele toewys. Alle studente wat toegewys word om materiaal in die Gesinsgeluk-boek te behartig, moet ’n goeie voorbeeld in hulle eie gesinslewe stel.
3 Pas raad toe en berei goed voor: Elkeen kan verdere vooruitgang in die spreek- en onderrigkuns maak (1 Tim. 4:13). Ons moet dus raad wíl hê en dit nooit as iets beskou waarvan ons moet wegskram nie (Spr. 12:15; 19:20). As ons die waarheid doeltreffend by vergaderinge en in die veldbediening wil oordra, moet ons meer doen as om net feite oor te dra of tekste bloot as bysaak te lees. Ons moet harte bereik en diegene wat na ons luister, motiveer. Ons kan dit doen deur uit ons hart die waarheid met oortuiging te spreek. (Vergelyk Handelinge 2:37.) Die raad wat ons in die skool ontvang, sal ons help om dit te doen.
4 Dink aan die spraakhoedanighede waaraan jy moet werk, soos uiteengesit in die Skoolhandleiding, sodra jy jou toewysing kry. Dink na oor wat jy moet doen om raad wat jy vantevore ontvang het toe te pas. Peins oor jou tema, die agtergrond wat jy gaan gebruik as een nodig is en hoe jy die tekste in jou toegewese materiaal gaan toepas. Dink aan maniere waarop die inligting die beste gebruik kan word om te onderrig en te motiveer.—1 Tim. 4:15, 16.
5 As jy skrikkerig is om by die skool aan te sluit, moet jy daaroor bid en dan jou gevoelens met die skoolopsiener bespreek. Almal kan daarby baat vind as ons ten volle gebruik maak van die program wat in die Teokratiese Bedieningskool tydens 1999 aangebied gaan word.