Die Teokratiese Bedieningskool vir 1998
Om geskoold te wees, beteken om “in ’n spesifieke vakgebied of vaardigheid geleer of geoefen te wees”. Deur die Teokratiese Bedieningskool word ons voortdurend in die kennis van God opgelei. Ons deelname aan hierdie skool stel ons ook in staat om ons spraak- en onderrigvermoë te ontwikkel. Die skoolprogram vir 1998 sal ons baie geleenthede bied om geestelik verder vooruitgang te maak.
Wanneer jy die skoolrooster vir volgende jaar deurgaan, sal jy opmerk dat Toespraak Nr. 3 af en toe gebaseer sal word op ’n Bybelkarakter in die Insight-bundels. Verder is die Gesinsgeluk-boek by die 1998-leerplan gevoeg, en dit sal progressief deur Toespraak Nr. 3 en Nr. 4 gedek word. Wanneer Toespraak Nr. 4 op die Gesinsgeluk-boek gebaseer word, moet ’n broer dit as ’n toespraak voor die gemeente hou. En ons wil almal op die skoolprogram daaraan herinner om by die tydreëling te bly.
Iets nuuts: Tot ons persoonlike voordeel word daar direk ná die nommer van die lied vir elke week ’n “Rooster vir aanvullende Bybellees” tussen hakies aangegee. Hoewel geen deel op die weeklikse skoolprogram hierop gebaseer is nie, moet jy jou dit ten doel stel om dit te volg. Dit sal jou in staat stel om in die gewoonte te kom om die Bybel daagliks te lees, as jy dit nie reeds doen nie.
Vir meer inligting oor toewysings, raad en Skriftelike hersienings moet jy asseblief die instruksies in die “Rooster vir die Teokratiese Bedieningskool vir 1998”, asook bladsy 5 van Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1996, noukeurig deurlees.
As jy nog nie by die Teokratiese Bedieningskool ingeskryf is nie, nooi ons jou om dit nou te doen. Hierdie unieke skool speel steeds ’n belangrike rol om nederige en toegewyde knegte van Jehovah op te lei om hulle beter te bekwaam as sy bedienaars.—1 Tim. 4:13-16.