Suksesvolle herbesoeke verg doeltreffende onderrigting
1 Herbesoeke is ’n belangrike en genotvolle deel van ons veldbediening. Waarom moet ons ywerig wees om terug te gaan na mense wat belangstelling getoon het? Jehovah se naam word deur hierdie dissipelmaakwerk bekend gemaak en geëer, en godvresende mense word gehelp om die weg na die lewe te vind (2 Kor. 2:17–3:3). Die wete dat die heiliging van Jehovah se naam sowel as die lewe van ander hierby betrokke is, moet ons beweeg om goed voor te berei voor ons teruggaan.
2 ’n Goeie onderrigter sal die student help om voort te bou op die grondslag wat reeds gelê is. Net soos ’n onderwyser voortbou op die kennis wat leerlinge van dag tot dag opdoen, moet ons gewoonlik ná ons aanvanklike besoek teruggaan met verdere kommentare oor dieselfde onderwerp. Dit het ’n aaneenskakeling van gedagtes en progressiewe denke tot gevolg.
3 Wanneer jy teruggaan nadat jy die brosjure “Gee God werklik vir ons om?” by iemand gelaat het, sal jy die volgende dalk doeltreffend vind:
◼ “Tydens my vorige besoek het ons gesels oor ‘die laaste dae’ wat in die Bybel genoem word en wat dit vir ons beteken. Jy wonder dalk hoe ons weet dat ons in die laaste dae lewe (2 Tim. 3:1). Jesus se dissipels wou baie graag die antwoord op daardie vraag hê. [Lees Matteus 24:3.] In antwoord hierop het Jesus toestande beskryf wat ons vandag om ons sien. Dit sluit angs en geweld in soos daar nog nooit tevore gesien is nie.” Vestig die aandag op die aspek van die teken wat in paragrawe 3 en 4 op bladsye 19 en 20 bespreek word. As die huisbewoner gunstig reageer, kan jy sy aandag op ander aspekte van die teken in paragrawe 5 tot 8op bladsy 20 vestig. Bied aan om terug te kom en die vrae te beantwoord wat op die buiteblad van die brosjure geopper word.
4 Wanneer jy teruggaan na iemand wat belangstelling getoon het in die brosjure “Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?” kan jy sê:
◼ “Ek wil baie graag ons gesprek oor ons doel in die lewe voortsit. Ek dink ons stem saam dat dit God se voorneme was dat ons in gelukkige en vreedsame toestande op hierdie aarde moet lewe en nie te midde van die beroeringe wat ons vandag ondervind nie. Dink jy dat hy sy belofte sal vervul?” Laat die huisbewoner antwoord. Lees Jesaja 55:11, en bespreek dan die gedagtes in paragrawe 25 tot 27 op bladsy 30. Beveel ’n persoonlike Bybelstudie aan as die beste manier om ’n doel in die lewe te vind wat die moeite werd is.
5 Wanneer jy na iemand teruggaan wat belangstelling getoon het in die brosjure “Jy kan vir ewig op die aarde lewe!” kan jy dit weer vir hom wys en sê:
◼ “Ons het oor die pragtige wêreld gepraat wat op die buiteblad van hierdie brosjure uitgebeeld word. Ek wil jou vertel waarom geloof in Jesus Christus so belangrik is vir mense wat daar wil lewe.” Blaai na prent 41 en lees Jesaja 9:5. Verwys na prent 62, lees Johannes 3:16 en beklemtoon hoe belangrik gehoorsaamheid is. Verduidelik dat Jehovah se Getuies mense help om te leer hoe om geloof te beoefen deur die Bybel te bestudeer en in ooreenstemming met die raad daarvan te probeer lewe.
6 Ná elke herbesoek moet jy dit ontleed met die doel om bekwamer te word. Vra jou af: Het ek iets spesifieks in gedagte gehad om te sê? Het ek die aandag op die Bybel gevestig gehou? Het ek voortgebou op die grondslag wat op die aanvanklike besoek gelê is? Was die doel van my aanbieding om ’n Bybelstudie te begin? Bevestigende antwoorde hierop gee jou die versekering dat jy daarna strewe om ’n goeie onderrigter van God se Woord te wees.