Die Wagtoring—Geestelike voedsel op tyd
1 Die Wagtoring vermaan sy lesers al byna 114 jaar om geestelik wakker te bly. Sy medetydskrif die Ontwaak! bou vertroue op in die Skepper se belofte van ’n vreedsame en veilige nuwe wêreld in ons geslag. Hierdie twee publikasies is saam getroue instrumente wat ons weg deur ’n verdonkerde wêreld verlig (Jes. 60:2). Die waarheid van God se Woord verander nooit, maar ons begrip daarvan raak helderder namate Jehovah hierdie en ander instrumente gebruik om ons geestelike “voedsel op tyd” te gee.—Matt. 24:45; Spr. 4:18.
2 Gebruik die tydskrifte ten volle: Ons kan ons dankbaarheid toon vir die geestelike verligting wat ons ontvang deur mense entoesiasties aan te moedig om Die Wagtoring en die Ontwaak! te lees. Baie mense kry taamlik gereeld enkele nommers van die tydskrifte en geniet blykbaar om dit te lees. Vra hulle gerus of hulle die tydskrifte gereeld deur die pos wil ontvang.
3 Ons wil soveel mense moontlik aanmoedig om op Die Wagtoring en die Ontwaak! in te teken. Hoewel ons ongetwyfeld die meeste van ons intekeninge van huis tot huis sal kry, moet ons onthou van diegene met wie ons sake doen, ons bure en ons familielede. Het ons eie kinders ’n intekening? Het ons daaraan gedink om ’n geskenkintekening aan iemand te stuur vir wie ons werklik omgee? Wat van diegene by wie ons gereeld herbesoeke doen of selfs ons Bybelstudente? As mense nie ’n intekening vir ’n jaar kan bekostig nie, moet ons vir hulle ’n intekening vir ses maande aanbied. Moedig iemand wat die intekening weier aan om die twee tydskrifte te lees. Dit kan die begin van ’n nuwe tydskrifroete wees.
4 Ons het onlangs gemerk dat daar ’n afname in tydskrifverspreiding in Suid-Afrika is. Ons kan gerus gedurende April ons bes doen om ons pragtige tydskrifte aan almal wat ons teëkom aan te bied. Enkele nommers van die tydskrifte kan aan medewerkers, skoolmaats en familielede aangebied word. Die tydskrifte kan ook aan sakekennisse en in die straatgetuieniswerk aangebied word.
5 Die nuwe tydskrifte moet sodra hulle by die gemeente afgelaai word aan die verkondigers beskikbaar gestel word. Wanneer jy ’n nommer ontvang, moet jy deeglik vertroud raak daarmee. Oor watter onderwerpe is mense in jou gebied baie bekommerd? Wêreldvrede en veiligheid? Die ekonomie? Goeie regering? Die omgewing? Die Wagtoring is uitstaande omdat dit mense rig na die enigste blywende oplossing, God se Koninkryk (Dan. 2:44; Matt. 6:10). Dit is waarlik ’n kosbare geskenk van ons “Grootse Onderrigter”.—Jes. 30:20.
6 April en Mei bied uitstekende geleenthede om meer tyd aan die velddiens te bestee. Aangesien Mei vyf volle naweke het, sal baie as hulppioniers dien. Ons almal kan nou persoonlike doelwitte stel om ons velddiens gedurende hierdie twee maande te vermeerder en almal wat ons teëkom entoesiasties aan te moedig om op Die Wagtoring en die Ontwaak! in te teken.