Doen doeltreffende herbesoeke
1 Om herbesoeke te doen, is ’n belangrike deel van ons diens as “medewerkers van God” (1 Kor. 3:6-9). Dit is nie nodig om lugtig te wees vir die huisbewoner se reaksie nie, omdat ons iemand besoek wat reeds belangstelling in die waarheid getoon het. As ons goed voorberei het, sal dit opregte persoonlike belangstelling in die huisbewoner toon, terwyl ons ’n Bybelonderwerp bespreek wat sy hart raak.
2 Wees spesifiek; vra taktvolle vrae.
Na aanleiding van jou aantekeninge oor die aanvanklike besoek kan jy vra:
◼“Het jy nagedink oor God se belofte om in geregtigheid oor die aarde te heers?”
Of jy kan vra:
◼“Voel jy dat jou gebed dat God se Koninkryk moet kom betekenisvoller is sedert ons Bybelbespreking verlede week?”
’n Vriendelike gesigsuitdrukking en stemtoon dra baie daartoe by om te toon dat ons opreg belangstel wanneer ons sulke vrae vra.
3 Moenie haastig wees nie; luister na wat die huisbewoner sê. As ons luister na wat die huisbewoner sê en goed nadink voordat ons hom antwoord, sal dit duidelik wees dat ons in hom as persoon belangstel. Na aanleiding van wat hy sê, kan jy ’n skriftuurlike gedagte opper wat verband hou met jou eerste besoek. Wees voorbereid om die huisbewoner iets te leer elke keer wanneer jy hom besoek. As ’n onverwagte onderwerp opduik, kan jy van die geleentheid gebruik maak om jou Redenering-boek uit te haal om die nodige inligting te kry.
4 As jy “Die Wagtoring” van 1 Mei 1992 by die huisbewoner gelaat het, kan jy sê:
◼“Verlede keer het ons oor die jaar 1914 gepraat. Die oorlog wat in daardie jaar uitgebreek het, het veranderinge in baie regerings teweeggebring. Sedertdien vind daar voortdurend veranderinge plaas. Maar het enige van al hierdie veranderinge werklik mense se behoeftes bevredig, of kan hulle permanente vrede waarborg? [Laat die huisbewoner antwoord.] Let op hoe Jesus sy volgelinge leer bid het om ’n regering wat werklik die groot probleme waarvoor ons vandag te staan kom, kan oplos. [Lees Mattheüs 6:9, 10.] Wat dink jy sal God se Koninkryk tot stand bring? [Laat die huisbewoner antwoord.] Die Bybel se uiteensetting is ook baie interessant.” Lees dan Daniël 2:44. Jy kan die prent op bladsy 12 en 13 in die Paradys op aarde-boek gebruik om vir hom te wys watter soort toestande ons onder God se Koninkryk kan verwag.
5 As jy die “Ontwaak!” van 8 Mei 1992 by die huisbewoner gelaat het, kan jy sê:
◼“Toe ek jou die laaste keer besoek het, het ons gepraat oor mense wat hulle vaderland verlaat het om aan ongeregtigheid en lyding te ontsnap. Dink jy dat God werklik besorg is oor wat mense vanweë hulle medemens moet verduur?” Na gelang van die persoon se antwoord kan jy vir hom Prediker 4:1 of Psalm 72:12-14 lees. Dan kan jy na bladsy 14 en 15 in die “Kyk!”-brosjure blaai en paragraaf 27 tot 29 lees of opsom terwyl jy die vrae op elke paragraaf vra.
6 Laat ons voortgaan om persoonlike belangstelling te toon en Bybelonderwerpe te bespreek wat mense se belangstelling sal wek, sodat ons herbesoeke suksesvol is.