Ons word deur Jehovah geleer
1 Die profeet Jesaja het gesê: “Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat” (Jes. 50:4, NAV). Die opleiding wat ons by die Teokratiese Bedieningskool ontvang, is een manier waarop Jehovah dit doen. Maar persoonlike inspanning word nogtans vereis. Die Teokratiese Bedieningskool-handleiding sê op bladsy 39: “Desnieteenstaande is voorbereiding altyd, afgesien van hoeveel keer jy ’n sekere soort aanwysing behartig het, van waarde.” Dit geld vir ons almal, hetsy ons net ’n paar maande op die skool is of reeds sedert die skool in 1943 begin het.
2 Alle studente moet deeglik voorberei. Dit sluit in dat ons van die tydgrens bewus moet wees. Die instruksies in die Rooster vir Teokratiese Bedieningskool sê: “Geen toespraak moet die tydgrens oorskry nie.” Wanneer ’n broer wat Toewysing nr. 1 behartig herhaaldelik die tydgrens oorskry, moet hy privaat raad gegee word. Die skoolopsiener moet die vergadering ook betyds begin en die instruksies ten opsigte van die tyd wat vir sy raad en kommentare toegelaat word, in ag neem. Let asseblief op dat die hersiene 1990-uitgawe van die “Hele Skrif”-boek gebruik moet word.
3 Almal kan grootliks baat vind by die glanspunte uit die Skrifgedeelte. Ons word daaraan herinner dat dit nie net ’n opsomming van die toegewese materiaal moet wees nie. Die spreker moet die gehoor help om te besef waarom en hoe die informasie vir ons van nut is.
4 In Toespraak nr. 3 is baie agtergronde al gebruik wat in mindere of meerdere mate suksesvol was. Maar as ons een van die hoofdoelwitte van die skool in gedagte hou, naamlik om ons te help om die waarheid akkuraat en duidelik aan te bied, is dit verkieslik dat agtergronde velddiens of informele getuieniswerk insluit.
5 Wanneer Toespraak nr. 4 uit die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk kom, sal dit aan ’n nuwe of jonger student toegewys word. Die student wat die toewysing ontvang, moet natuurlik kan lees. Hierdie toesprake sal al om die ander week met ’n aanbieding uit die Redenering-boek afgewissel word. Die student moet met Toespraak nr. 3 sowel as Toespraak nr. 4 die tema gebruik wat aangegee word.
6 Wees versigtig wanneer bykomende materiaal gebruik word. Soms bestaan die toegewese materiaal net uit een of twee paragrawe. Maar die materiaal kan steeds doeltreffend in die toegewese tyd aangebied word deur die tekste te lees en te verduidelik, illustrasies te gebruik, ensovoorts. Dit is gewoonlik nie nodig om materiaal aan te bied wat nie toegewys is nie. Die gehoor moet jou kan volg in die publikasie waarop die toespraak gebaseer is.
7 Die God wat ons aanbid, voorsien ’n onuitputlike bron van wysheid en kennis (Rom. 11:33). Selfs na millenniums sal ons steeds baie hê om te leer. Ons vermoë om ons hemelse Vader te loof en om lewensprobleme die hoof te bied, sowel as ons tevredenheid en vreugde, sal toeneem in die verhouding waarin ons ons inspan om goddelike wysheid te verkry. Neem jou dus voor om ten volle baat te vind by die voorsiening wat ons Groot Onderrigter vir ons gemaak het deur gereeld die Teokratiese Bedieningskool by te woon. Mag jou ywerige voorbereiding vir en deelname aan die Teokratiese Bedieningskool jou gedurende 1991 help om dit te doen.