Ons moet die woord van god aanbeveel
1 Vandag beskou baie mense die Bybel as verouderd en onrealisties. Maar God se Woord het die krag om lewens te verander (Hebr. 4:12). Dit word geopenbaar deur die denke, gedrag en veranderde gesindhede van ’n groot verskeidenheid mense (Ef. 4:24). As die Bybel se raad toegepas word, dra dit by tot ’n gelukkige gesinsmilieu. Dit bevorder betrekkinge met jou naaste, ongeag wat hulle ras, kleur of sosiale stand is.—Luk. 10:29-37.
2 Ons persoonlike ondervinding van God se Woord moet ons beweeg om ander aan te moedig om self die werklike waarde van die Bybel te ondersoek. Ons nuwe ‘Onderwerp vir gesprekke’, “Waarom moet ons die Bybel lees?” voorsien ons van ’n uitstekende raamwerk om dit te doen. Hoe kan ons gedurende November hierdie onderwerp saam met die Jongmense vra-boek en die Drie-eenheid- of die “Kyk”-brosjure in ons bediening gebruik?
HOE ONS DIE ‘ONDERWERP VIR GESPREKKE’ KAN GEBRUIK
3 Na ’n kort inleiding kan ons sê: “Gesinne het vandag met baie druk en probleme te kampe. Daarom besoek ons mense om hulle aandag te vestig op die enigste ware bron van praktiese hulp. In die verlede het mense hulle dikwels tot die Bybel gewend vir leiding, maar tye het verander, nie waar nie? Dink jy die Bybel kan ons help om hedendaagse probleme, soos dwelmmisbruik, misdaad en verbroke huisgesinne, op te los? [Laat huisbewoner antwoord.] Let op wat die Bybel in 2 Timotheüs 3:16 sê. [Lees.] Dink jy die Bybel kan so ’n heilsame invloed uitoefen? [Laat huisbewoner antwoord.] Die meeste mense het ’n mate van leiding nodig en wil leiding hê wanneer hulle voor probleme staan of besluite in hulle lewe moet neem, nie waar nie? Kyk wat die resultaat sal wees as ons God se Woord volg. [Lees Johannes 17:3.] Die Bybel gee duidelike riglyne om persoonlike probleme op te los en gee ons ’n vaste hoop vir die toekoms.” As die persoon opreg daarin belangstel om God se Woord te verstaan, kan ons die waarde van die Jongmense vra-boek of een van die brosjures demonstreer.
4 Aangesien ons met mense bespreek hoe belangrik Bybellees is, kan jy hulle aandag vestig op hoofstuk 35 in die Jongmense vra-boek. Nadat jy kortliks na die groot verskeidenheid beskikbare leesstof verwys het, kan jy die laaste paragraaf op bladsy 288 lees. Jy kan ook hoofstuk 39, bladsy 312, gebruik om te illustreer hoe Bybellees aangenaam kan wees. Gebruik die Jongmense vra-boek om te toon hoe die Bybel ons help met probleme, soos om dwelmmisbruik te bowe te kom (hoofstuk 34), onsedelikheid (hoofstukke 23 en 24) en hoe om ware vriende te vind (hoofstuk 8). Bied ’n persoonlike tuisbybelstudie aan by diegene wat belangstelling toon.
5 Wanneer jy die aandag op die Drie-eenheid-brosjure vestig, kan jy sê: “Baie opregte mense is geleer om aan die Drie-eenheid te glo, maar hulle vind dit baie moeilik om die konsep te verstaan. Hierdie brosjure ondersoek die Drie-eenheid breedvoerig uit ’n geskiedkundige oogpunt en in die lig van wat die Bybel sê. Wil jy dit graag lees?” Wat die gebruik van die “Kyk”-brosjure betref, kan jy die huisbewoner se belangstelling wek deur die aandag te vestig op die aantreklike buiteblad of die opskrif op bladsy 14, “Slegte dinge—Waarom laat God dit toe?”
6 Wees gedurende November wakker vir geleenthede om mense aan te moedig om die Bybel te lees. Gaan gou terug na diegene wat belangstelling getoon het. Help hulle om opregte waardering vir die krag van God se Woord aan te kweek. As hulle die Bybel se beginsels in hul lewe toepas, sal dit hulle nou sowel as in die toekomende lewe vir ewig tot nut strek.—1 Tim. 4:8.