Vraebus
• Is dit gepas dat ’n broer ’n begrafnisdiens lei vir ’n wêreldling wat ’n berugte misdadiger is?
Van tyd tot tyd kom vrae op aangaande ’n begrafnisdiens wanneer die afgestorwene, soos ’n ongelowige familielid van een van Jehovah se Getuies, min of geen omgang met Jehovah se Getuies gehad het nie. ’n Gebalanseerde beskouing oor ’n begrafnisdiens vir so ’n persoon word in Die Wagtoring van 15 Augustus 1977, bladsye 377-8, uiteengesit.
As ons gevra word om die begrafnis te lei van ’n wêreldling wat as ’n berugte kwaaddoener beskou word, moet ons dit van die hand wys omdat dit Jehovah en sy organisasie in ’n slegte lig sal stel.—Spr. 18:3.
Wat van ’n ontoegewyde persoon wat hom in die verlede aan oortreding skuldig gemaak het? Daar is ’n verskil tussen iemand wat volhard het in ’n weg van oortreding en iemand wat in die verlede ’n ongure lewe gelei het, maar wat ’n geestelike verandering ondergaan het en probeer het om hom met die nuwe persoonlikheid te beklee (Rom. 12:2; Ef. 4:17, 20-24, vgl. NW). Die persoon het moontlik nog nie ’n toegewyde en gedoopte Christen geword wat in onkreukbaarheid gewandel het en gereinig is nie (1 Kor. 6:9-11; Openb. 7:9, 10). Maar hy het dalk stappe gedoen om sy lewe te verander, en dit kan in aanmerking geneem word as daar ’n versoek is om sy begrafnis te lei. As die ouere manne dink dat dit nie die vrede en eenheid van die gemeente sal versteur of oneer op God se volk sal bring nie, sal daar geen beswaar wees as ’n ouere man ’n toespraak hou as sy gewete hom toelaat nie.—1 Kor. 10:23, 24, 29, 32, 33.