‘Doen aan almal goed’
1 Ons is verheug om soveel nuwelinge na die gemeente te sien toestroom (Jes. 60:8). Dit is onder andere die liefde onder Jehovah se volk wat hulle na die waarheid aantrek (Joh. 13:34, 35). Was talle van ons nie diep beïndruk deur die hartlikheid en vriendelikheid wat ons ondervind het toe ons die heel eerste keer na die Koninkryksaal toe gekom het nie? Omdat ons God se liefde wat deur Jesus Christus en die Christengemeente vloei persoonlik ervaar, word ons beweeg om ‘aan almal goed te doen’ deur hulle te help en aan te moedig.—Gal. 6:10.
HELP ANDER OM VOORUITGANG TE MAAK
2 Probeer ons om kennis te maak as ons iemand vir die eerste keer by die vergadering sien? Ons moenie dink dat dit net die verantwoordelikheid van die ouere manne en bedieningsknegte is nie. Dit is ook ons plig. (Rom. 15:7; vergelyk Galasiërs 5:14 en Jakobus 2:8.) Wanneer nuwelinge deur talle in die gemeente verwelkom word, word hulle beïndruk deur die opregte Christelike liefde wat geopenbaar word. God se Woord heg groot waarde aan die betoning van liefde teenoor vreemdelinge. (Kyk Mattheüs 25:35b en 1 Timotheüs 5:10, vgl. NW.) Sulke hartlikheid en vriendelikheid bevorder ’n bestendige vloei van regskape persone na die gemeente.—Kyk Jesaja 60:5,11.
3 Talle nuwelinge het verlede maand die Gedenkmaal bygewoon en hulle het hulp nodig ten einde geestelike vooruitgang te maak. As jy van iemand weet wat die Gedenkmaal bygewoon het maar nie tans studeer nie, kan jy gerus probeer om ’n studie met hom te begin. Moedig hom aan om die vergaderinge by te woon en bied aan om hom na die Koninkryksaal te vergesel. Spoor hom aan om persoonlike studie te doen en, namate sy kennis en waardering toeneem, kan jy hom help om voor te berei om in vergaderinge te antwoord. Jou geduldige, liefdevolle belangstelling kan daartoe lei dat hy Jehovah se seën geniet en die ewige lewe ontvang.—Rom. 15:1, 2.
4 Jongmense in die gemeente is ook “huisgenote van die geloof” en het ons hulp en aanmoediging nodig (Gal. 6:10). Selfs kindertjies is bly as grootmense aandag aan hulle skenk. Veral kinders wie se ouers nie in die waarheid is nie, het ons aanmoediging nodig. Kinders wat in ’n geestelike sin wese is, verdien ons liefdevolle belangstelling en aandag.—Jak. 1:27.
MOEDIG PIONIERDIENS AAN
5 Ons almal waardeer die persoonlike belangstelling wat ander in ons toon. Diegene wat hard werk in die bediening, gewone en hulppioniers inkluis, vind grootliks daarby baat as ons waardering uitspreek vir hulle goeie voorbeeld en persoonlike opofferings.
6 Wanneer ouere manne en bedieningsknegte hulle rooster aanpas sodat hulle van tyd tot tyd hulppionierdiens of selfs gewone pionierdiens kan doen, vind die hele gemeente daarby baat (2 Kor. 9:2). Gestel jy is ’n ouere man of ’n bedieningskneg. Sal redelike aanpassings in jou lewenstyl jou in staat stel om van tyd tot tyd hulppionierdiens te doen of moontlik die gewone pionierdiens te betree? Dan sal jy talle seëninge ontvang en in ’n beter posisie wees om ‘aan almal goed te doen’. Namate elkeen van ons na maniere soek om ander te help en aan te moedig, sal Jehovah sy seën byvoeg.