Bied die uitdagings van die huis-tot-huis-bediening die hoof
“Ons [het] deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek.”—1 TESS. 2:2.
1. Met watter uitdagings het Jeremia te kampe gehad, en hoe was hy in staat om dit die hoof te bied?
JEREMIA was ’n mens met gevoelens soos ons s’n. Toe Jehovah hom ingelig het omtrent sy opdrag om “’n profeet vir die nasies” te wees, het hy uitgeroep: “Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun.” Hy het nietemin op Jehovah vertrou en die toewysing aanvaar (Jer. 1:4-10). Jeremia het meer as 40 jaar lank te kampe gehad met onverskilligheid, verwerping, bespotting en selfs fisiese geweld (Jer. 20:1, 2). Hy was soms lus om tou op te gooi. Maar hy het aangehou om ’n ongewilde boodskap te verkondig aan ’n volk wat grotendeels onontvanklik was. In God se krag het Jeremia verrig wat hy nooit op sy eie sou kon gedoen het nie.—Lees Jeremia 20:7-9.
2, 3. Hoe het God se hedendaagse knegte te kampe met uitdagings wat ooreenkom met dié van Jeremia?
2 Baie van God se hedendaagse knegte kan hulle met Jeremia se gevoelens vereenselwig. By die vooruitsig om van huis tot huis te preek, het heelparty van ons vroeër gedink: ‘Ek sal dit nooit kan doen nie.’ Maar toe ons besef het dat dit Jehovah se wil is dat ons die goeie nuus verkondig, het ons ons vrees te bowe gekom en begin preek. Nietemin het baie van ons al omstandighede in ons lewe ondervind wat dit, ten minste ’n ruk lank, vir ons moeilik gemaak het om aan te hou preek. Dit ly geen twyfel dat dit ’n uitdaging is om van huis tot huis te begin preek en om tot die einde toe aan te hou preek nie.—Matt. 24:13.
3 Sê nou jy studeer al ’n tyd lank die Bybel met Jehovah se Getuies en woon al ’n geruime tyd gemeentelike vergaderinge by maar is huiwerig om van huis tot huis te begin preek? Of sê nou jy is ’n gedoopte Getuie wat dit moeilik vind om aan die deur-tot-deur-werk deel te neem, al is jy fisies in staat om dit te doen? Wees verseker dat mense uit alle agtergronde die uitdagings van die huis-tot-huis-bediening die hoof bied. Met Jehovah se hulp kan jy dit ook doen.
Skraap die vrymoedigheid bymekaar
4. Wat het die apostel Paulus in staat gestel om die goeie nuus met vrymoedigheid te spreek?
4 Jy besef ongetwyfeld dat die wêreldwye predikingswerk nie deur menslike krag of wysheid verrig word nie, maar deur God se gees (Sag. 4:6). Dit is ook die geval met die bediening van individuele Christene (2 Kor. 4:7). Beskou die voorbeeld van die apostel Paulus. Hy het teruggedink aan ’n tyd toe hy en sy sendelingmetgesel deur teenstanders mishandel is en het geskryf: “Nadat ons . . . eers gely het en minagtend behandel is in Filippi, [het ons] deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek” (1 Tess. 2:2; Hand. 16:22-24). Dit is miskien vir ons moeilik om te dink dat dit vir ’n ywerige prediker soos Paulus soms ’n stryd was om te preek. Maar soos ons almal, moes Paulus op Jehovah steun om die goeie nuus met vrymoedigheid te spreek. (Lees Efesiërs 6:18-20.) Hoe kan ons Paulus se voorbeeld volg?
5. Wat is een manier waarop ons vrymoedigheid kan bymekaarskraap om te preek?
5 Een manier waarop ons vrymoedigheid bymekaarskraap om te preek, is deur gebed. ’n Pionier het gesê: “Ek bid dat ek met vertroue sal praat, bid dat ek mense se harte sal bereik en bid dat ek vreugde uit die bediening sal put. Dit is immers Jehovah se werk, nie ons s’n nie; daarom kan ons niks sonder sy hulp doen nie” (1 Tess. 5:17). Ons almal moet voortdurend bid vir die hulp van God se gees om met vrymoedigheid te preek.—Luk. 11:9-13.
6, 7. (a) Watter visioen het Esegiël ontvang, en wat het dit beteken? (b) Watter les bevat Esegiël se visioen vir God se hedendaagse knegte?
6 Die boek Esegiël openbaar iets anders wat ons kan help om met vrymoedigheid te spreek. In ’n visioen het Jehovah vir Esegiël ’n boekrol gegee wat aan albei kante beskryf was met “klaagliedere en ’n gekerm en ’n geweeklaag”, en hy het hom beveel om dit te eet en gesê: “Mensekind, jy moet jou maag laat eet, sodat jy jou ingewande kan vul met hierdie rol wat ek jou gee.” Wat het hierdie visioen beteken? Esegiël moes die boodskap wat hy moes verkondig, ten volle absorbeer. Dit moes deel van hom word, as ’t ware sy innerlike gevoelens raak. Die profeet vertel verder: “Ek het dit begin eet, en dit was in my mond so soet soos heuning.” Dit was vir Esegiël aangenaam om God se boodskap in die openbaar te verkondig—net soos om heuning te proe. Hy het dit as ’n groot voorreg beskou om Jehovah te verteenwoordig en sy godgegewe toewysing uit te voer, selfs al het dit beteken dat hy ’n kragtige boodskap aan ’n onontvanklike volk moes verkondig.—Lees Esegiël 2:8–3:4, 7-9.
7 Hierdie visioen bevat ’n waardevolle les vir God se hedendaagse knegte. Ons het ook ’n kragtige boodskap om te verkondig aan mense wat nie altyd ons pogings waardeer nie. As ons wil voortgaan om die Christelike bediening as ’n godgegewe voorreg te beskou, moet ons geestelik goed gevoed wees. Oppervlakkige of ongereelde studiegewoontes sal nie genoeg wees vir ons om God se Woord ten volle te absorbeer nie. Kan jy die gehalte of gereeldheid van jou persoonlike Bybellees en Bybelstudie verbeter? Kan jy meer dikwels peins oor wat jy lees?—Ps. 1:2, 3.
Begin Bybelbesprekings
8. Watter benadering het party Koninkryksverkondigers gehelp om Bybelbesprekings in die huis-tot-huis-bediening te begin?
8 Vir baie verkondigers is die eerste woorde aan die huisbewoner die moeilikste deel van die huis-tot-huis-bediening. En in party gebiede is dit dan ook ’n uitdaging om gesprekke aan te knoop. Party verkondigers vind dit makliker om met mense by die deur te praat as hulle hulle aanbieding met ’n paar goed gekose woorde begin en dan vir die huisbewoner ’n traktaat gee, soos uiteengesit in die bygaande venster. Die titel van die traktaat of die kleurvolle prent daarop trek dalk die huisbewoner se aandag, wat ons die geleentheid gee om kortliks die doel van ons besoek te meld en ’n vraag te vra. Ons kan ook hierdie benadering aanpas deur vir die huisbewoner drie of vier verskillende traktate te wys en hom te nooi om een te kies waarin hy belangstel. Ons doelwit is natuurlik nie net om traktate te versprei of dit by elke deur te gebruik nie, maar om Bybelbesprekings te begin wat tot Bybelstudies lei.
9. Waarom is goeie voorbereiding belangrik?
9 Ongeag watter benadering jy gebruik, goeie voorbereiding sal jou help om selfvertroue te hê en geesdriftig te wees in die huis-tot-huis-bediening. ’n Pionier het gesê: “Ek het groter vreugde wanneer ek goed voorbereid is. Dan wil ek met mense praat.” ’n Ander pionier het gesê: “Wanneer ek weet wat die publikasies sê wat ek gaan aanbied, is ek gretig om dit te gebruik.” Hoewel dit goed is om in jou gedagtes te hersien wat jy gaan sê, vind talle dit nuttiger om hulle aanbieding hardop te oefen. Dit help hulle om Jehovah hulle beste te gee.—Kol. 3:23; 2 Tim. 2:15.
10. Wat kan gedoen word om velddiensvergaderinge prakties en nuttig te maak?
10 Praktiese velddiensvergaderinge dra by tot ons sukses en vreugde in die huis-tot-huis-bediening. As die dagteks direk met die predikingswerk verband hou, kan dit gelees en kortliks bespreek word. Die broer wat die velddiensvergadering behartig, moet egter genoeg tyd gebruik om ’n eenvoudige aanbieding wat geskik is vir die gebied, te bespreek of te demonstreer of om ander praktiese inligting te bespreek wat daardie dag in die bediening gebruik kan word. Dit sal diegene wat teenwoordig is, toerus om ’n doeltreffende getuienis te gee. Goeie voorbereiding kan ouer manne en ander wat hierdie vergaderinge behartig, help om dít te doen en nog steeds die vergaderinge binne die toegewese tyd af te sluit.—Rom. 12:8.
Wat ons kan bereik deur te luister
11, 12. Hoe kan dit ons help om mense met die goeie nuus te bereik as ons met medelye luister? Gee voorbeelde.
11 Dit is nie net goeie voorbereiding nie, maar ook opregte persoonlike belangstelling in ander wat ons help om Bybelbesprekings te begin en mense in die bediening te bereik. Een manier waarop ons hierdie belangstelling toon, is deur hoe ons luister. ’n Reisende opsiener het gesê: “Geduld en bereidheid om na mense te luister, het ’n verbasende aantrekkingskrag en is ’n wonderlike blyk van opregte persoonlike belangstelling.” Om met medelye te luister, kan die sleutel wees wat ’n huisbewoner se hart ontsluit, soos die volgende ondervinding toon.
12 In ’n ope brief wat gepubliseer is in die koerant Le Progrès, van Saint-Étienne, Frankryk, het ’n vrou die besoek beskryf van twee mense wat kort ná die tragiese dood van haar drie maande oue dogtertjie aan haar deur geklop het. “Ek het onmiddellik geweet dat hulle Jehovah se Getuies is”, het sy geskryf. “Ek was op die punt om hulle beleefd weg te stuur, toe my oog op een van hulle brosjures val. Dit het gehandel oor waarom God lyding toelaat. Ek het dus besluit om hulle in te nooi met die doel om hulle redenasies neer te skiet. . . . Die Getuies het net oor ’n uur gebly. Hulle het met groot medelye na my geluister, en toe hulle loop, het ek soveel beter gevoel dat ek gesê het dat hulle weer kan kom” (Rom. 12:15). Later het hierdie vrou ’n Bybelstudie aanvaar. Interessant genoeg, wat sy van daardie eerste besoek onthou het, is nie wat die susters gesê het nie, maar hoe hulle geluister het.
13. Hoe kan ons ons aanbieding van die goeie nuus aanpas by die mense wat ons ontmoet?
13 Wanneer ons met medelye luister, laat ons mense in werklikheid toe om vir ons te vertel waarom hulle die Koninkryk nodig het. Dit plaas ons in ’n baie beter posisie om die goeie nuus aan hulle bekend te maak. Jy het waarskynlik al opgemerk dat suksesvolle evangeliedienaars gewoonlik goeie luisteraars is (Spr. 20:5). Hulle toon opregte belangstelling in die mense wat hulle in die bediening ontmoet. Hulle maak nie net seker wat hulle naam en adres is nie, maar let ook op hulle belangstellings en behoeftes. Wanneer iemand iets noem wat hom in die besonder kwel, doen hulle navorsing en keer hulle gou terug om vir hom te vertel wat hulle gevind het. Soos die apostel Paulus pas hulle hulle aanbieding van die Koninkryksboodskap aan by die mense wat hulle ontmoet. (Lees 1 Korintiërs 9:19-23.) Sulke opregte belangstelling trek mense tot die goeie nuus aan en is ’n wonderlike weerspieëling van “die tere medelye van ons God”.—Luk. 1:78.
Behou ’n positiewe gesindheid
14. Hoe kan ons Jehovah se eienskappe weerspieël terwyl ons ons bediening uitvoer?
14 Jehovah het ons die gawe van wilsvryheid gegee. Hoewel hy God die Almagtige is, dwing hy niemand om hom te dien nie, maar hy doen op grond van liefde ’n beroep op mense en seën diegene wat met waardering op sy wonderlike voorsienings reageer (Rom. 2:4). As sy bedienaars moet ons, elke keer dat ons ’n getuienis lewer, gereed wees om die goeie nuus aan te bied op ’n manier wat ons barmhartige God waardig is (2 Kor. 5:20, 21; 6:3-6). Met die oog hierop moet ons ’n positiewe gesindheid teenoor die mense in ons gebied behou. Wat kan ons help om hierdie uitdaging die hoof te bied?
15. (a) Wat het Jesus sy apostels beveel om te doen as mense die boodskap verwerp? (b) Wat kan ons help om ons daarop toe te spits om verdienstelikes te vind?
15 Jesus het sy volgelinge beveel om nie oorbesorg te wees as party die boodskap verwerp nie, maar om hulle eerder daarop toe te spits om verdienstelikes te vind. (Lees Matteus 10:11-15.) As ons eenvoudige, bereikbare doelwitte stel, kan dit ons help om dit te doen. Een broer vergelyk homself met ’n delwer. Sy leuse is: “Ek sien daarna uit om vandag goud te vind.” ’n Ander broer stel hom ten doel “om elke week een vriendelike persoon te ontmoet en binne ’n paar dae terug te gaan om die belangstelling verder te ontwikkel”. Party verkondigers probeer om ten minste een teks vir elke huisbewoner te lees, indien moontlik. Watter realistiese doelwit kan jy vir jou stel?
16. Watter redes het ons om aan te hou preek?
16 Die sukses van die huis-tot-huis-bediening hang nie net af van die reaksie van die mense in die gebied nie. Die predikingswerk speel weliswaar ’n baie belangrike rol in die redding van opregtes van hart, maar dit is ook om ander redes belangrik. Die Christelike bediening bied ons die geleentheid om ons liefde vir Jehovah te toon (1 Joh. 5:3). Dit stel ons in staat om bloedskuld te vermy (Hand. 20:26, 27). Dit waarsku die goddeloses dat “die uur van die oordeel deur [God] aangebreek” het (Op. 14:6, 7). Bowenal word Jehovah se naam deur die verkondiging van die goeie nuus regoor die aarde geloof (Ps. 113:3). Ons moet dus aanhou om die Koninkryksboodskap te verkondig, of mense nou luister of nie. Al ons pogings om die goeie nuus te verkondig, is inderdaad lieflik in Jehovah se oë.—Rom. 10:13-15.
17. Wat sal mense binnekort gedwing word om te erken?
17 Hoewel baie mense vandag ons predikingswerk verontagsaam, sal hulle dit binnekort in ’n ander lig sien (Matt. 24:37-39). Jehovah het Esegiël verseker dat die opstandige huis van Israel “beslis ook [sal] weet dat daar ’n profeet in hulle midde was” wanneer die oordele wat hy verkondig het, voltrek word (Eseg. 2:5). Net so sal mense, wanneer God sy oordele aan die teenswoordige stelsel van dinge voltrek, gedwing word om te erken dat die boodskap wat Jehovah se Getuies in openbare plekke en van huis tot huis verkondig het, in werklikheid afkomstig was van die een ware God, Jehovah, en dat die Getuies inderdaad as sy verteenwoordigers gedien het. Wat ’n voorreg het ons tog om in hierdie betekenisvolle tye sy naam te dra en sy boodskap bekend te maak! Mag ons in sy krag voortgaan om die uitdagings van die huis-tot-huis-bediening die hoof te bied.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan ons die vrymoedigheid bymekaarskraap om te preek?
• Wat kan ons help om Bybelbesprekings in die huis-tot-huis-bediening te begin?
• Hoe kan ons opregte belangstelling in ander toon?
• Wat kan ons help om ’n positiewe gesindheid teenoor die mense in ons gebied te behou?
[Venster/Prent op bladsy 9]
Een manier om Bybelbesprekings te begin
Ter inleiding:
◼ Nadat jy die huisbewoner gegroet het, kan jy vir hom ’n traktaat gee en sê: “Ek besoek jou vandag om vir jou iets bemoedigends oor hierdie belangrike onderwerp te vertel.”
◼ Of jy kan ’n traktaat aanbied en sê: “Ek besoek jou vandag kortliks omdat ek graag wil weet wat jou mening oor hierdie onderwerp is.”
As die traktaat aanvaar word:
◼ Vra dadelik ’n eenvoudige beskouingsvraag oor die titel van die traktaat.
◼ Luister aandagtig en probeer die sienswyses van die huisbewoner verstaan. Bedank hom vriendelik vir sy kommentare.
Om die bespreking voort te sit:
◼ Lees en bespreek een of meer tekste en pas jou aanbieding aan by die persoon se belangstellings en behoeftes.
◼ As belangstelling getoon word, bied lektuur aan en demonstreer ’n Bybelstudie, indien moontlik. Reël om terug te gaan.