Sonder oorsaak gehaat
“Hulle het my sonder oorsaak gehaat.”—JOHANNES 15:25.
1, 2. (a) Waarom is sommige verbaas wanneer daar teen Christene gepraat word, maar waarom moet dit ons nie verbaas nie? (b) Watter sin van die woord “haat” sal ons in hierdie artikel bespreek? (Sien voetnoot.)
JEHOVAH SE GETUIES streef daarna om volgens die beginsels in God se Woord te lewe. Gevolglik het hulle in baie lande ’n goeie naam. Maar soms word hulle verkeerd voorgestel. ’n Staatsamptenaar in die stad St. Petersburg, Rusland, het byvoorbeeld gesê: “Ons is onder die indruk gebring dat Jehovah se Getuies die een of ander ondergrondse, geheimsinnige sekte is wat kinders doodmaak en hulle eie lewe neem.” Maar nadat hierdie selfde amptenaar saam met Jehovah se Getuies gewerk het toe hulle ’n internasionale byeenkoms gereël het, het hy gesê: “Nou sien ek normale, glimlaggende mense . . . Hulle is vreedsaam en rustig, en hulle is baie lief vir mekaar.” Hy het bygevoeg: “Ek verstaan werklik nie waarom mense soveel leuens oor hulle versprei nie.”—1 Petrus 3:16.
2 Knegte van God skep geen behae daarin om as kwaaddoeners gebrandmerk te word nie, en tog is hulle nie verbaas wanneer mense teen hulle praat nie. Jesus het sy volgelinge vooruit gewaarsku: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voor dit julle gehaat het. . . . Dit is sodat die woord wat in hulle Wet geskrywe staan, vervul kan word: ‘Hulle het my sonder oorsaak gehaat’” (Johannes 15:18-20, 25; Psalm 35:19; 69:4).a Vroeër het hy vir sy dissipels gesê: “As mense die huisheer Beëlsebub genoem het, hoeveel te meer sal hulle sy huisgenote so noem?” (Matteus 10:25). Christene begryp dat sulke smaad deel van die “folterpaal” is wat hulle aanvaar het toe hulle Christus se volgelinge geword het.—Matteus 16:24.
3. In watter mate is ware aanbidders al vervolg?
3 Die vervolging van ware aanbidders het ’n lang geskiedenis, wat tot “regverdige Abel” teruggevoer kan word (Matteus 23:34, 35). Dit is nie tot ’n paar alleenstaande gevalle beperk nie. Jesus het gesê dat sy volgelinge weens sy naam “vir alle mense voorwerpe van haat” sou wees (Matteus 10:22). Verder het die apostel Paulus geskryf dat al God se knegte—wat elkeen van ons insluit—vervolging moet verwag (2 Timoteus 3:12). Wat is die rede hiervoor?
Die bron van ongeregverdigde haat
4. Hoe toon die Bybel wie die bron van alle ongeregverdigde haat is?
4 God se Woord toon dat daar van die begin af ’n onsigbare aanstigter hiervan was. Dink aan die wrede moord op die eerste man van geloof, Abel. Die Bybel sê dat sy moorddadige broer, Kain, “sy oorsprong by die bose gehad het”, naamlik Satan die Duiwel (1 Johannes 3:12). Kain het Satan se gesindheid aangeneem, en die Duiwel het hom gebruik om sy goddelose oogmerke uit te voer. Die Bybel werp ook lig op Satan se rol in die wrede aanvalle op Job en Jesus Christus (Job 1:12; 2:6, 7; Johannes 8:37, 44; 13:27). Die boek Openbaring laat geen twyfel oor die bron van die vervolging van Jesus se volgelinge nie, en sê: “Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word” (Openbaring 2:10). Ja, Satan is die bron van alle ongeregverdigde haat teen God se knegte.
5. Waarom haat Satan ware aanbidders?
5 Waarom haat Satan ware aanbidders? In ’n komplot wat uiterste verwaandheid weerspieël, het Satan in verset teen “die Koning van die ewigheid”, Jehovah God, gekom (1 Timoteus 1:17; 3:6). Hy voer aan dat God uitermate beperkend is in sy heerskappy oor sy skepsele en dat niemand Jehovah uit suiwer beweegredes dien nie, maar dat mense dit slegs om selfsugtige redes doen. Satan beweer dat hy alle mense daarvan kan afkeer om God te dien as hy toegelaat word om hulle op die proef te stel (Genesis 3:1-6; Job 1:6-12; 2:1-7). Deur Jehovah te belaster en te sê dat Hy ’n onderdrukker, ’n leuenaar en ’n mislukking is, probeer Satan homself as mededingende soewerein stel. Sy woede teen God se knegte word dus aangevuur deur sy begeerte om aanbid te word.—Matteus 4:8, 9.
6. (a) Hoe is ons persoonlik betrokke by die geskil oor Jehovah se soewereiniteit? (b) Hoe help ’n begrip van hierdie geskil ons om ons onkreukbaarheid te handhaaf? (Sien venster, bladsy 16.)
6 Sien jy hoe hierdie geskil jou lewe raak? As ’n kneg van Jehovah het jy moontlik gevind dat dit kragtige inspanning verg om God se wil te doen, maar dat dit onvergelyklike voordele inhou. Maar gestel omstandighede in jou lewe maak dit vir jou moeilik, selfs pynlik, om aan te hou om volgens Jehovah se wette en beginsels te lewe. En gestel dit lyk vir jou of jy geen voordele ontvang nie. Sal jy tot die slotsom kom dat dit nie die moeite werd is om Jehovah langer te dien nie? Of sal liefde vir Jehovah en diepe waardering vir sy wonderlike eienskappe jou beweeg om aan te hou wandel in al sy weë? (Deuteronomium 10:12, 13). Deur toe te laat dat Satan beproewinge oor ons bring, gee Jehovah elkeen van ons die geleentheid om ons persoonlike antwoord op Satan se uitdaging te voorsien.—Spreuke 27:11.
“Wanneer mense julle smaad”
7. Wat is een taktiek wat die Duiwel gebruik om ons van Jehovah te probeer afkeer?
7 Kom ons kyk nou van naderby na een van die listige dade wat Satan gebruik in ’n poging om sy kant van die geskil te bewys—leuenagtige smaad. Jesus het Satan “die vader van die leuen” genoem (Johannes 8:44). Die beskrywende naam Duiwel, wat “Lasteraar” beteken, identifiseer hom as die grootste lasteraar teen God, sy voortreflike woord en sy heilige naam. Die Duiwel maak gebruik van insinuasies, valse aantygings en blatante leuens om Jehovah se soewereiniteit te betwis, en hy gebruik hierdie selfde taktiek om God se lojale knegte te belaster. Deur hierdie Getuies te smaad, kan hy dit vir hulle selfs moeiliker maak om ’n hewige beproewing te verduur.
8. Hoe het Satan Job gesmaad, en watter uitwerking het dit gehad?
8 Dink aan wat met Job gebeur het, wie se naam “Voorwerp van vyandigheid” beteken. Satan het nie net veroorsaak dat Job al sy besittings, sy kinders en sy gesondheid verloor nie, maar hy het ook die indruk probeer skep dat Job ’n sondaar is wat deur God gestraf word. Hoewel Job ’n gesiene man was, is hy nou deur mense verag, selfs deur sy familielede en hegte vriende (Job 19:13-19; 29:1, 2, 7-11). Verder het Satan, deur middel van valse vertroosters, Job ‘met woorde probeer verbrysel’, deur eers te insinueer dat hy ongetwyfeld ’n ernstige sonde gepleeg het en hom later ronduit as ’n kwaaddoener te veroordeel (Job 4:6-9; 19:2; 22:5-10). Dit was ongetwyfeld baie ontmoedigend vir Job!
9. Hoe is die indruk geskep dat Jesus ’n sondaar was?
9 As die vernaamste verdediger van Jehovah se soewereiniteit het God se Seun die hoofvoorwerp van Satan se vyandigheid geword. Toe Jesus na die aarde gekom het, het Satan, soos in die geval van Job, probeer te kenne gee dat daar fout is met Jesus se geestelikheid deur die indruk te skep dat hy ’n sondaar is (Jesaja 53:2-4; Johannes 9:24). Mense het hom ’n dronkaard en ’n vraat genoem en gesê dat hy ‘’n demoon het’ (Matteus 11:18, 19; Johannes 7:20; 8:48; 10:20). Hy is valslik beskuldig van godslastering (Matteus 9:2, 3; 26:63-66; Johannes 10:33-36). Dit het Jesus gekwel, want hy het geweet dat dit sy Vader oneer aandoen (Lukas 22:41-44). Eindelik is Jesus as ’n vervloekte misdadiger aan ’n paal gehang (Matteus 27:38-44). Jesus het volmaakte onkreukbaarheid gehandhaaf en sodoende baie “teëspraak deur sondaars” verduur.—Hebreërs 12:2, 3.
10. Hoe het Satan die oorblywende gesalfdes in hedendaagse tye sy teiken gemaak?
10 In hedendaagse tye het die oorblywende lede van Christus se gesalfde volgelinge eweneens voorwerpe van die Duiwel se vyandigheid geword. Satan word beskryf as “die beskuldiger van [Christus se] broers . . . , wat hulle dag en nag voor ons God beskuldig” (Openbaring 12:9, 10). Sedert hy uit die hemel gewerp en tot die omgewing van die aarde beperk is, het Satan sy pogings verskerp om Christus se broers as veragtelike uitgeworpenes uit te beeld (1 Korintiërs 4:13). In party lande word hulle lasterlik bestempel as ’n gevaarlike sekte, net soos met die eerste-eeuse Christene gebeur het (Handelinge 24:5, 14; 28:22). Soos aan die begin genoem is, is hulle deur leuenagtige propaganda belaster. Maar ‘deur heerlikheid en oneer, deur slegte berig en goeie berig’ het die gesalfde broers van Christus, met die ondersteuning van hulle metgeselle, die “ander skape”, nederig probeer om ‘die gebooie van God te bewaar en die werk te doen om van Jesus te getuig’.—2 Korintiërs 6:8; Johannes 10:16; Openbaring 12:17.
11, 12. (a) Wat kan soms die oorsaak wees van die smaad wat Christene verduur? (b) Op watter maniere ly ’n Christen dalk ten onregte weens sy geloof?
11 Nie alle smaad wat individuele knegte van God verduur, is natuurlik “ter wille van regverdigheid” nie (Matteus 5:10). Party probleme kan die gevolg van ons eie onvolmaakthede wees. Daar is geen spesiale verdienste daarin as ons, “wanneer [ons] sondig en geslaan word, dit verduur” nie. Maar as ’n Christen, “weens sy gewete teenoor God, uithou onder bedroewende dinge en onregverdig ly, is dit iets welgevalligs” in Jehovah se oë (1 Petrus 2:19, 20). Onder watter omstandighede sal dit moontlik die geval wees?
12 Sommige is al mishandel omdat hulle geweier het om onskriftuurlike begrafnisgebruike te volg (Deuteronomium 14:1). Jong Getuies word voortdurend bespot omdat hulle by Jehovah se sedelike standaarde bly (1 Petrus 4:4). Party Christenouers is al verkeerdelik van “nalatigheid” of “mishandeling” beskuldig omdat hulle bloedlose mediese behandeling vir hulle kinders versoek (Handelinge 15:29). Christene is deur familielede en bure verstoot, bloot omdat hulle knegte van Jehovah geword het (Matteus 10:34-37). Al hierdie persone volg in die voetspore van die profete en van Jesus self, wat ten onregte gely het.—Matteus 5:11, 12; Jakobus 5:10; 1 Petrus 2:21.
Hoe om smaad te verduur
13. Wat kan ons help om ons geestelike ewewig te behou wanneer ons erg gesmaad word?
13 Wanneer ons erg gesmaad word weens ons geloof, kan ons dalk soos die profeet Jeremia ontmoedig raak en dink dat ons nie kan voortgaan om God te dien nie (Jeremia 20:7-9). Wat kan ons help om ons geestelike ewewig te behou? Probeer die saak uit Jehovah se oogpunt sien. Hy beskou diegene wat tydens toetse lojaal bly, as oorwinnaars, nie as slagoffers nie (Romeine 8:37). Probeer voor jou geestesoog diegene sien wat Jehovah se soewereiniteit verdedig het ondanks enige vorm van smaad wat die Duiwel oor hulle gebring het—manne en vroue soos Abel, Job, Jesus se moeder Maria en ander getroues van die ou tyd, sowel as ons medeknegte in hedendaagse tye (Hebreërs 11:35-37; 12:1). Dink na oor hulle weg van onkreukbaarheid. Daardie groot wolk van lojale knegte nooi ons om by hulle aan te sluit op die oorwinnaarspodium wat bestem is vir diegene wat die wêreld deur hulle geloof oorwin.—1 Johannes 5:4.
14. Hoe kan ernstige gebed ons versterk om getrou te bly?
14 As ‘ons verontrustende gedagtes binne-in ons baie word’, kan ons ernstig tot Jehovah bid, en hy sal ons vertroos en versterk (Psalm 50:15; 94:19). Hy sal ons die wysheid gee wat ons nodig het om die beproewing te verduur en sal ons help om te konsentreer op die belangrike geskil, Jehovah se soewereiniteit, wat die rede vir die ongeregverdigde haat teen sy knegte is (Jakobus 1:5). Jehovah kan ons ook “die vrede van God [gee] wat alle denke te bowe gaan” (Filippense 4:6, 7). Hierdie godgegewe kalmte stel ons in staat om te midde van uiterste druk kalm en standvastig te bly en om nie toe te gee aan twyfelgedagtes of vrees nie. Deur middel van sy gees kan Jehovah ons onderskraag om enigiets te verduur wat hy toelaat om oor ons te kom.—1 Korintiërs 10:13.
15. Wat kan ons help om nie verbitterd te raak wanneer ons ly nie?
15 Wat kan ons help om nie verbitterd te raak teen dié wat ons sonder oorsaak haat nie? Onthou dat ons vernaamste teenstanders Satan en die demone is (Efesiërs 6:12). Terwyl sommige mense ons willens en wetens vervolg, is daar baie wat God se knegte teëstaan uit onkunde of omdat hulle deur ander gemanipuleer word (Daniël 6:4-16; 1 Timoteus 1:12, 13). Jehovah wil graag hê dat “alle soorte mense” die geleentheid moet kry om ‘gered te word en tot juiste kennis van die waarheid te kom’ (1 Timoteus 2:4). Trouens, sommige voormalige teenstanders is nou ons Christenbroers omdat hulle ons onberispelike gedrag opgemerk het (1 Petrus 2:12). Verder kan ons leer uit die voorbeeld van Jakob se seun Josef. Hoewel Josef baie gely het deur die toedoen van sy halfbroers, het hy nie ’n wrok teen hulle gekoester nie. Waarom nie? Omdat hy besef het dat dit Jehovah is wat gebeure rig om Sy voorneme te vervul (Genesis 45:4-8). Jehovah kan eweneens sake so bewerk dat enige ongeregverdigde lyding wat ons dalk verduur, tot verheerliking van sy naam dien.—1 Petrus 4:16.
16, 17. Waarom moet ons nie oorbesorg raak oor die pogings van teenstanders om die predikingswerk te belemmer nie?
16 Ons hoef nie oorbesorg te wees as dit lyk of teenstanders ’n tyd lank daarin slaag om die vooruitgang van die goeie nuus te belemmer nie. Jehovah skud nou die nasies deur middel van die wêreldwye getuienis wat gegee word, en die begeerlike dinge kom in (Haggai 2:7). Christus Jesus, die Goeie Herder, het gesê: “My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my. En ek gee hulle die ewige lewe, . . . en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Johannes 10:27-29). Die heilige engele is ook betrokke by die groot geestelike oeswerk (Matteus 13:39, 41; Openbaring 14:6, 7). Daarom kan niks wat teenstanders sê of doen, God se voorneme dwarsboom nie.—Jesaja 54:17; Handelinge 5:38, 39.
17 Die pogings van teenstanders het dikwels die teenoorgestelde uitwerking. In een gemeenskap in Afrika is talle kwaadwillige leuens omtrent Jehovah se Getuies versprei, onder andere dat hulle Duiwelaanbidders is. Om dié rede het Grace, wanneer die Getuies haar huis besoek het, in haar agterplaas gaan wegkruip totdat hulle vertrek het. Eendag het die pastoor van haar kerk een van ons publikasies omhoog gehou en vir almal in die gehoor gesê om dit nie te lees nie omdat dit sou veroorsaak dat hulle hulle geloof verlaat. Dit het Grace se nuuskierigheid geprikkel. Die volgende keer toe die Getuies by haar huis kom, het sy nie weggekruip nie, maar met hulle begin gesels en haar eie eksemplaar van die publikasie ontvang. ’n Bybelstudie is begin, en in 1996 is sy gedoop. Grace gebruik nou haar tyd om na ander te soek wat dalk ook verkeerde inligting oor Jehovah se Getuies gegee is.
Versterk jou geloof nou
18. Waarom moet ons ons geloof versterk voordat ernstige beproewinge oor ons kom, en hoe kan ons dit doen?
18 Aangesien Satan te eniger tyd met ongeregverdigde haat ’n aanval teen ons kan loods, is dit noodsaaklik dat ons ons geloof nóú versterk. Hoe kan ons dit doen? ’n Verslag uit ’n land waar Jehovah se knegte vervolg is, het gesê: “Een ding het baie duidelik geword: Diegene met goeie geestelike gewoontes en ’n diepe waardering vir Bybelwaarheid vind dit nie moeilik om standvastig te bly wanneer toetse oor hulle kom nie. Maar diegene wat in ‘gunstige tye’ van vergaderinge af wegbly, ongereeld in die velddiens is en nie in klein sake getrou is nie, kan dikwels nie ’n ‘vurige’ beproewing deurstaan nie” (2 Timoteus 4:2). As jy gebiede sien waarop jy moet verbeter, moet jy jou sonder versuim inspan om dit te doen.—Psalm 119:60.
19. Wat word bereik deur die onkreukbaarheid van God se knegte wanneer hulle ongeregverdigde haat verduur?
19 Die onkreukbaarheid van ware aanbidders wat die plaag van sataniese haat verduur, is ’n lewende bewys van die feit dat Jehovah se soewereiniteit regverdig is en dat dit hom regmatig toekom. Hulle getrouheid maak God se hart bly. Hulle word dalk deur mense gesmaad, maar die een wie se waardigheid bo hemel en aarde is, “skaam hom . . . nie vir hulle nie, om as hulle God aangeroep te word nie”. Trouens, daar kan tereg van al sulke lojale persone gesê word: “Die wêreld was hulle nie werd nie.”—Hebreërs 11:16, 38.
[Voetnoot]
a In die Skrif het die woord “haat” ’n paar verskillende betekenisse. In party kontekste beteken dit bloot om minder lief te hê (Deuteronomium 21:15, 16). “Haat” kan ook dui op ’n sterk afkeer maar sonder enige bedoeling om die voorwerp daarvan kwaad aan te doen; eerder wel om dit te vermy weens ’n afsku daarvan. Die woord “haat” kan egter ook verwys na intense vyandigheid, langdurige kwaadwilligheid wat dikwels met gemeenheid gepaardgaan. Dit is hierdie sin van die woord wat in hierdie artikel bespreek word.
Kan jy verduidelik?
• Wat is die oorsaak van ongeregverdigde haat teen ware aanbidders?
• Hoe het Satan smaad gebruik in ’n poging om Job en Jesus sover te kry om hulle onkreukbaarheid prys te gee?
• Hoe versterk Jehovah ons om standvastig te bly ondanks sataniese haat?
[Venster/Prent op bladsy 16]
Hulle het onderskei wat die ware geskil is
Een van Jehovah se Getuies in die Oekraïne, waar die Koninkrykspredikingswerk meer as 50 jaar lank verbied was, het gesê: “Die situasie waarin Jehovah se Getuies hulle bevind, moet nie bloot in die konteks van menseverhoudings beoordeel word nie. . . . Die meeste amptenare het eenvoudig hulle werk gedoen. Toe die regering verander het, het die amptenare ook hulle lojaliteit verskuif, maar ons het dieselfde gebly. Ons het besef dat die ware oorsaak van ons probleme in die Bybel geopenbaar is.
“Ons het ons nie bloot as die onskuldige slagoffers van onderdrukkende mense beskou nie. Wat ons gehelp het om te volhard, was ’n duidelike begrip van die geskil wat in die tuin van Eden geopper is—die geskil oor God se reg om te regeer. . . . Ons het ons standpunt ingeneem in ’n geskil wat nie net verband hou met die persoonlike belange van mense nie, maar ook met die belange van die Soewerein van die heelal. Ons het ’n baie duideliker begrip gehad van die ware geskille wat hierby betrokke is. Dit het ons sterk gemaak en ons in staat gestel om ons onkreukbaarheid te handhaaf, selfs onder die moeilikste omstandighede.”
[Prent]
Victor Popovych, wat in 1970 in hegtenis geneem is
[Prent op bladsy 13]
Wie is die oorsaak van die smaad wat Jesus moes verduur?
[Prente op bladsy 15]
Job, Maria en God se knegte in hedendaagse tye, soos Stanley Jones, het Jehovah se soewereiniteit verdedig