Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w01 4/15 bl. 14-16
  • Nie alleen toe ons geloof getoets is nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nie alleen toe ons geloof getoets is nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons geloof word getoets
  • Finansiële probleme
  • Mediese kundigheid in aksie
  • Ons geloof is versterk
  • ’n Dokter se roeping
    Ontwaak!—1992
  • Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep
    Ontwaak!—1993
  • Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Ek kom voor ’n mediese noodgeval te staan
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
w01 4/15 bl. 14-16

Nie alleen toe ons geloof getoets is nie

Vicky was ’n pragtige babadogtertjie—gesond, oulik en lewendig. Ja, toe sy in die lente van 1993 gebore is, was ons die gelukkigste mense op aarde. Ons het in ’n klein dorpie in die suide van Swede gewoon, en die lewe was wonderlik.

MAAR toe Vicky ’n jaar en ’n half was, het dit gevoel of ons wêreld in duie stort. Sy was ’n ruk lank siekerig, en daarom het ons haar hospitaal toe geneem. Ons sal nooit die oomblik vergeet toe die dokter vir ons gesê het dat ons dogtertjie aan akute limfoblastiese leukemie ly nie, ’n kankervorm wat veral by kinders voorkom en die wit bloedselle aantas.

Dit was moeilik om te aanvaar dat ons babadogtertjie hierdie verskriklike siekte het. Sy het maar so pas bewus geword van die wêreld om haar, en nou kon sy sterf. Die dokter het ons probeer troos deur te sê dat ’n redelik suksesvolle behandelingsmetode gebruik kon word, wat chemoterapie tesame met etlike bloedoortappings behels het. Dit was ons volgende skok.

Ons geloof word getoets

Ons was beslis lief vir ons dogtertjie en wou die beste mediese sorg vir haar hê. Maar bloedoortappings was heeltemal buite die kwessie. Ons glo vas aan God se Woord, die Bybel, wat duidelik sê dat Christene hulle ‘van bloed moet onthou’ (Handelinge 15:28, 29). Ons het ook geweet dat bloedoortappings op sigself gevare inhou. Duisende mense het al siektes opgedoen en gesterf weens bloedoortappings. Die enigste alternatief was om die beste behandeling te kry wat nie bloedoortappings ingesluit het nie. Wat dít betref, het ons stryd vir die geloof nou begin.

Wat kon ons doen? Ons het in aanraking gekom met die Hospitaalinligtingsdienste by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Swede om hulp te vra.a Fakse is onmiddellik na verskillende hospitale in Europa gestuur om na ’n hospitaal en ’n dokter te soek wat bereid sou wees om chemoterapie sonder bloedoortappings toe te dien. Die ywer en liefde waarmee ons Christenbroers ons gehelp het, het ons só versterk. Ons was nie alleen in ons stryd vir die geloof nie.

Binne ure is ’n hospitaal en ’n dokter in Homburg/Saar, Duitsland, gevind. Reëlings is getref om die volgende dag daarheen te vlieg sodat Vicky ondersoek kon word. Toe ons daar aankom, was ons Christenbroers van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in Homburg, sowel as ’n paar van ons familielede, daar om ons te ontmoet. En ’n verteenwoordiger van die plaaslike Hospitaalskakelkomitee het ons hartlik verwelkom. Hy het ons na die hospitaal vergesel en ons al die ondersteuning moontlik gegee. Dit het ons bemoedig om te sien dat ons selfs in ’n vreemde land deur ons geestelike broers bygestaan word.

Toe ons dr. Graf by die hospitaal ontmoet het, het ons weer eens moed geskep. Hy was baie simpatiek en het ons verseker dat hy alles in sy vermoë sou doen om Vicky sonder bloedoortappings te behandel. Selfs as haar hemoglobienvlak tot 5 g/dl daal, sou hy gewillig wees om sonder bloedoortappings met die behandeling voort te gaan. Hy het ook gesê dat die vroeë diagnose en die vinnige optrede om Vicky daar te kry, haar ’n goeie kans op suksesvolle behandeling gegee het. Hy het erken dat dit die eerste keer sou wees dat hy in ’n geval soos Vicky s’n chemoterapie sonder bloedoortappings sou toedien. Ons was baie dankbaar en het dr. Graf se moed en vasbeslotenheid om te help, bewonder.

Finansiële probleme

Nou het die vraag ontstaan: Hoe sou ons vir Vicky se behandeling betaal? Ons was geskok om uit te vind dat dit ongeveer 150 000 Duitse mark (R520 000) sou kos om haar twee jaar lank te behandel. Ons het nie naastenby soveel geld gehad nie, maar dit was noodsaaklik dat ons onmiddellik met Vicky se behandeling moes begin. Aangesien ons van Swede na Duitsland gegaan het vir behandeling, was ons nie geregtig op enige gesondheidsversekering van die staat nie. Daar was ons toe met ’n baie siek dogtertjie en die mediese kundigheid tot ons beskikking, maar nie genoeg geld nie.

Die hospitaal het tot ons redding gekom en gesê dat die behandeling onmiddellik sou begin as ons ’n deposito van 20 000 mark (R70 000) gee en ’n waarborg vir die res onderteken. Ons het ’n bietjie spaargeld gehad, en met die liefdevolle hulp van vriende en familielede kon ons die 20 000 mark betaal. Maar wat van die res?

Ons is weer eens herinner aan die feit dat ons nie alleen in ons stryd vir die geloof was nie. ’n Geestelike broer, wat toe onbekend aan ons was, was bereid om verantwoordelikheid vir die balans te aanvaar. Dit was egter nie nodig om sy milddadige aanbod te aanvaar nie, aangesien ons ander reëlings kon tref.

Mediese kundigheid in aksie

Die chemoterapie het begin. Dae en weke het verbygegaan. Soms was dit baie moeilik en veeleisend vir ons dogtertjie en vir ons. Daarenteen was ons ontsettend bly en dankbaar elke keer as sy tekens van verbetering getoon het. Die chemoterapie het agt maande geduur. Vicky se laagste hemoglobienvlak was 6 g/dl, en dr. Graf het sy belofte gehou.

Meer as ses jaar het verloop, en ’n laaste ondersoek van haar rugmurgvog toon geen spore van leukemie nie. Sy is nou ’n gelukkige dogtertjie sonder enige tekens van die siekte. Ja, dit lyk na ’n wonderwerk dat Vicky so volkome herstel het. Ons is daarvan bewus dat baie kinders wat hierdie selfde siekte het, sterf, al ontvang hulle chemoterapie en bloedoortappings.

Ons het oorwin in ons stryd vir die geloof, maar nie sonder die hulp van ons familielede, Christenbroers en -susters en mediese deskundiges nie. Hospitaalinligtingsdienste het ons dag en nag hulle volle ondersteuning gegee. Dr. Graf en sy kollegas het hulle vaardighede gebruik om Vicky te help herstel. Vir dit alles is ons innig dankbaar.

Ons geloof is versterk

Maar bowenal dank ons ons God, Jehovah, vir sy liefdevolle sorg en die krag wat ons uit sy Woord, die Bybel, ontvang het. As ons terugkyk, besef ons hoeveel ons geleer het en hoe hierdie moeilike ondervinding in ons lewe ons geloof versterk het.

Nou is ons hartsbegeerte om ons intieme verhouding met Jehovah God te behou en ons dogter die waarde daarvan te leer om in ooreenstemming met sy vereistes te lewe. Ja, ons wil haar ’n goeie geestelike erfenis van die ewige lewe in die komende Paradys hier op aarde gee.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Hospitaalinligtingsdienste hou toesig oor ’n internasionale netwerk van Hospitaalskakelkomitees. Hierdie komitees bestaan weer uit Christenvrywilligers wat opgelei is om samewerking tussen geneeskundiges en hulle Getuiepasiënte te bevorder. Daar is meer as 1 400 Hospitaalskakelkomitees wat pasiënte in meer as 200 lande bystaan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel