Ek kom my belofte na om God te dien
SOOS VERTEL DEUR FRANZ GUDLIKIES
Net vier van ons eenheid van meer as honderd soldate het nog gelewe. Die dood het my in die gesig gestaar, en ek het op my knieë geval en God belowe: ‘As ek die oorlog oorleef, sal ek u vir altyd dien.’
EK HET daardie belofte 54 jaar gelede gemaak, in April 1945, toe ek ’n soldaat in die Duitse leër was. Dit was kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, en die Sowjetleër het met alle mag na Berlyn opgeruk. Ons manne het naby die dorp Seelow op die Oderrivier stelling geneem, minder as 65 kilometer van Berlyn. Daar is ons dag en nag onder swaar geskut gesteek, en die soldate in ons eenheid is afgemaai.
Dit was op daardie oomblik dat ek, vir die eerste keer in my lewe, in trane uitgebars het en tot God gebid het. Ek het aan ’n Bybelteks gedink wat my godvresende ma baie maal aangehaal het: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer” (Psalm 50:15). Ek het daar in die loopgraaf, en weens vrees vir my lewe, die belofte hierbo aan God gemaak. Hoe het ek dit nagekom? En hoe het ek ’n lid van die Duitse leër geword?
Ek het in Litaue grootgeword
In 1918, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, het Litaue sy onafhanklikheid verklaar en ’n demokratiese regeringstelsel ingestel. Ek is in 1925 gebore in die streek Memel (Klaipeda) naby die Baltiese See. Die streek is die jaar voor my geboorte by Litaue ingelyf.
Ek en my vyf susters het gelukkige kinderjare gehad. My pa was soos ’n goeie vriend en het altyd dinge saam met ons as kinders gedoen. Ons ouers was lidmate van die Evangeliese Kerk, maar hulle het nie die dienste bygewoon nie omdat my ma die huigelagtigheid van die predikant gesien het. Maar sy was lief vir God en sy Woord, die Bybel, wat sy gereeld gelees het.
In 1939 het Duitsland daardie deel van Litaue ingeneem waar ons gewoon het. Toe, vroeg in 1943, is ek vir militêre diens in die Duitse leër opgeroep. Ek is in een van die veldslae gewond, maar nadat ek van my beserings herstel het, het ek na die Oostelike front teruggekeer. Teen dié tyd het die oorlogsituasie verander, en die Sowjetleër het die Duitsers op die vlug gejaag. Dit was tóé dat ek ternouernood ontkom het, soos ek aan die begin vertel het.
Ek kom my belofte na
Tydens die oorlog het my ouers na Oschatz, Duitsland, net suidoos van Leipzig, verhuis. Ná die oorlog was dit moeilik om hulle te vind. Maar hoe bly was ek tog toe ons uiteindelik herenig is! Nie lank daarna nie, in April 1947, het ek saam met my ma na ’n openbare toespraak gaan luister wat deur Max Schubert, een van Jehovah se Getuies, gehou is. My ma het geglo dat sy die ware godsdiens gevind het, en nadat ek ’n paar vergaderinge bygewoon het, het ek met haar saamgestem.
Kort daarna het my ma van ’n leer afgeval en beserings opgedoen waaraan sy ’n paar maande later gesterf het. Terwyl sy voor haar dood in die hospitaal was, het sy my opreg aangemoedig: “Ek het baie maal gebid dat ten minste een van my kinders die weg na God toe kan vind. Nou sien ek dat my gebede verhoor is, en ek kan in vrede sterf.” Hoe sien ek tog uit na die tyd wanneer my ma uit die dood sal opstaan en uitvind dat haar grootste wens vervul is!—Johannes 5:28.
Op 8 Augustus 1947, net vier maande nadat ek broer Schubert se toespraak gehoor het, is ek by ’n byeenkoms in Leipzig gedoop om my toewyding aan Jehovah God te simboliseer. Uiteindelik het ek stappe gedoen om my belofte aan God na te kom. Ek het weldra ’n pionier geword, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Op daardie stadium was daar omtrent 400 pioniers in wat later die Duitse Demokratiese Republiek, of Oos-Duitsland, sou word.
Vroeë toetse van geloof
Een van ons bure in Oschatz het my belangstelling probeer wek in Marxisme en het my ’n staatsgesubsidieerde universiteitsopleiding aangebied as ek by die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED) sou aansluit. Ek het die aanbod van die hand gewys, net soos Jesus Satan se aanbod verwerp het.—Matteus 4:8-10.
Eendag in April 1949 het twee polisiemanne na my werksplek gekom en beveel dat ek saam met hulle gaan. Ek is na die plaaslike kantoor van die Sowjet- geheime inligtingsdiens geneem waar ek daarvan beskuldig is dat ek vir kapitaliste in die Weste werk. Ek kon my onskuld bewys, het hulle gesê, deur met my huis-tot-huis-werk voort te gaan maar vir hulle die name te gee van enigeen wat iets negatiefs oor die Sowjetunie of die SED sê of enigeen wat na die vergaderinge van Jehovah se Getuies kom. Toe ek geweier het om my samewerking te gee, het hulle my in ’n sel opgesluit. Later moes ek verskyn voor wat na ’n krygshof gelyk het. My vonnis was: 15 jaar dwangarbeid in Siberië!
Ek het kalm gebly, en dit het die offisiere beïndruk. Daarna het hulle vir my gesê dat my vonnis nog steeds van krag sou wees, maar dat ek my net een keer per week sou hoef aan te meld totdat ek gereed was om my samewerking te gee. Ek wou graag die raad van bekwamer Getuies hê, en daarom het ek na Maagdenburg gereis waar die Wagtoringgenootskap se takkantoor destyds geleë was. Die reis was nie maklik nie, want ek is dopgehou. Ernst Wauer, wat in die Regsdepartement in Maagdenburg gedien het, het vir my gesê: “Veg en jy sal wen. Gee toe en jy sal oorwin word. Dit is wat ons in die konsentrasiekamp geleer het.”a Daardie raad het my gehelp om my belofte om God te dien na te kom.
Verbod en herarrestasie
In Julie 1950 is daar aanbeveel dat ek as reisende opsiener dien. Maar op 30 Augustus het die polisie ’n klopjag op ons kantore in Maagdenburg uitgevoer, en ons predikingswerk is verbied. My toewysing het dus verander. Ek en Paul Hirschberger moes omtrent 50 gemeentes besoek, twee of drie dae met elkeen van hulle deurbring en die broers help om georganiseerd te wees om hulle bediening tydens die verbod uit te voer. In die daaropvolgende maande het die polisie my ses keer amper in hegtenis geneem!
Iemand het een van die gemeentes geïnfiltreer en ons aan die Stasi, die Staatsveiligheidsdiens, verraai. Gevolglik is ek en Paul, in Julie 1951, deur vyf gewapende mans op straat in hegtenis geneem. As ons nou terugkyk, kan ons sien dat ons nie soveel op Jehovah se organisasie vertrou het soos ons moes nie. Ons ouer broers het ons aangeraai om nooit saam êrens heen te gaan nie. Te veel selfvertroue het veroorsaak dat ons ons vryheid verloor het! Boonop het ons nie voor die tyd bespreek wat ons sal sê as ons in hegtenis geneem sou word nie.
Alleen in my sel het ek Jehovah in trane gesmeek om my te help sodat ek nie my broers verraai of my geloof prysgee nie. Nadat ek aan die slaap geraak het, het ek skielik wakker geword toe ek my vriend Paul se stem hoor. Net bokant my sel was die vertrek waar die Stasi hom ondervra het. Aangesien dit ’n warm, bedompige aand was, was die balkondeur oop, en ek kon vaagweg alles hoor. Later, toe ek ondervra is, het ek dieselfde antwoorde gegee, en dit het die offisiere verbaas. My ma se geliefkoosde Bybelteks: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp”, het by my opgekom en my grootliks versterk.—Psalm 50:15.
Ná die ondervraging was ek en Paul vyf maande lank verhoorafwagtend in die Stasi se tronk in Halle en later in Maagdenburg. Terwyl ons in Maagdenburg was, het ek soms vlugtig ons takkantoor gesien wat op daardie tyd gesluit was. Ek het gewens dat ek eerder daar kon werk as om in die tronk te wees! In Februarie 1952 is ons vonnis aangekondig: “10 jaar in die tronk en 20 jaar sonder enige burgerregte.”
Ek behou my geloof in die tronk
Jehovah se Getuies wat tot ten minste tien jaar tronkstraf gevonnis is, het ’n tyd lank in die tronk spesiale identifikasie gedra. ’n Stukkie rooi materiaal is aan een van ons broekspype en aan een van ons baadjiemoue vasgewerk. Ook is ’n ronde stukkie rooi karton buite aan ons seldeur geplak om wagte te waarsku dat ons gevaarlike misdadigers was.
Die owerheid het ons in werklikheid as die grootste misdadigers beskou. Ons is nie toegelaat om ’n Bybel te hê nie, want soos ’n wag verduidelik het: “Een van Jehovah se Getuies met ’n Bybel in sy hand is soos ’n misdadiger met ’n geweer in sy hand.” Om verse uit die Bybel te versamel, het ons die werke van die Russiese skrywer Leo Tolstoy gelees wat dikwels Bybeltekste in sy boeke aangehaal het. Ons het hierdie Bybeltekste uit ons kop geleer.
Voor my inhegtenisname in 1951 het ek aan Elsa Riemer verloof geraak. Sy het my so dikwels as moontlik in die tronk besoek en een keer per maand ’n kospakkie gestuur. Sy het ook geestelike voedsel in haar pakkies versteek. Eenkeer het sy artikels uit Die Wagtoring in ’n paar worsies gedruk. Wagte het dikwels worsies oopgesny om te sien of enigiets daarin weggesteek was, maar hierdie keer het die pakkie net voor die einde van die werksdag daar aangekom, en dit is nie nagegaan nie.
Op daardie stadium het ek en Karl Heinz Kleber ’n klein sel met drie gevangenes gedeel wat nie Getuies was nie. Hoe kon ons Die Wagtoring lees sonder om gesien te word? Wel, ons het gemaak asof ons ’n boek lees en daarin het ons die artikels uit Die Wagtoring versteek. Ons het hierdie kosbare geestelike voedsel ook vir mede-Getuies in die tronk gegee.
Terwyl ons in die tronk was, het ons ook geleenthede benut om ander van God se Koninkryk te vertel. Ek was verheug om te sien dat een van my medegevangenes as gevolg daarvan ’n gelowige geword het.—Matteus 24:14.
Weer in die voltydse bediening
Op 1 April 1957, ná byna ses jaar agter die tralies, is ek vrygelaat. Minder as twee weke later het ek met Elsa getrou. Toe die Stasi van my vrylating hoor, het hulle ’n rede gesoek om my weer in die tronk te kry. Om te voorkom dat dit gebeur, het ek en Elsa oor die grens gegaan en in Wes-Berlyn gaan woon.
Toe ons in Wes-Berlyn aankom, wou die Genootskap weet wat ons planne was. Ons het verduidelik dat een van ons pionierdiens sou doen terwyl die ander een sekulêre werk sou kry.
“Hoe sal julle daarvan hou as julle albei pioniers kan word?” is ons gevra.
“As dit moontlik is”, het ons geantwoord, “sal ons onmiddellik begin.”
Ons het dus elke maand ’n klein toelaag ontvang sodat ons ons kon onderhou, en ons het in 1958 as spesiale pioniers begin dien. Watter vreugde het dit ons tog verskaf om te sien hoe persone met wie ons die Bybel gestudeer het hulle lewe verander om knegte van Jehovah te word! Die daaropvolgende tien jaar as spesiale pioniers het ons geleer om nou saam te werk as man en vrou. Elsa was altyd aan my sy, selfs wanneer ek aan die motor gewerk het. Ons het ook saam gelees, gestudeer en gebid.
In 1969 het ons in die reisende werk begin, wat behels het dat ons elke week ’n ander gemeente besoek en na gemeentelede se behoeftes omsien. Josef Barth, wat ervare in die reisende werk was, het my hierdie raad gegee: “As jy in jou toewysing suksesvol wil wees, moet jy net ’n broer vir die broers wees.” Ek het daardie raad probeer toepas. Gevolglik het ons ’n baie hegte en eensgesinde verhouding met mede-Getuies ontwikkel, wat dit maklik gemaak het om raad te gee wanneer dit nodig was.
In 1972 is daar vasgestel dat Elsa kanker het, en sy het ’n operasie ondergaan. Later het sy ook rumatiek ontwikkel. Hoewel sy baie pyn gehad het, het sy my nog steeds elke week vergesel, die gemeentes gedien en soveel as wat sy kon saam met die susters in die bediening gewerk.
Veranderde behoeftes
Van 1984 het my skoonouers voltyds versorging nodig gehad, en ons het dus die reisende werk verlaat om hulle te versorg tot hulle dood vier jaar later (1 Timoteus 5:8). Toe, in 1989, het Elsa baie siek geword. Gelukkig het sy in ’n mate herstel, maar dit beteken dat ek nou na al die huishoudelike take moet omsien. Ek leer nog steeds hoe om saam met iemand te lewe wat gedurig pyn het. Maar ten spyte van al die spanning en druk het ons ons liefde vir geestelike dinge behou.
Vandag kan ons gelukkig nog as pioniers dien. Ons het egter tot die besef gekom dat dit nie ons posisie is of hoeveel ons kan doen wat belangrik is nie, maar dat ons getrou bly. Ons wil ons God, Jehovah, nie net ’n paar jaar lank dien nie, maar tot in alle ewigheid. Ons ondervinding was vir ons wonderlike opleiding vir die toekoms. En Jehovah het ons die krag gegee om hom selfs onder die moeilikste omstandighede te loof.—Filippense 4:13.
[Voetnoot]
a Ernst Wauer se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 Augustus 1991, bladsye 25 tot 29, verskyn.
[Prent op bladsy 23]
Ek was hier in Maagdenburg in die tronk
[Erkenning]
Gedenkstätte Moritzplatz Magdeburg für die Opfer politischer Gewalt; Foto: Fredi Fröschki, Maagdenburg
[Prent op bladsy 23]
Toe ons in 1957 getroud is
[Prent op bladsy 23]
Saam met Elsa vandag