Tyd en ewigheid—Wat weet ons werklik daaromtrent?
“TYD is blykbaar een van die raaiselagtigste vorms van menslike ervaring”, sê ’n ensiklopedie. Ja, om tyd in eenvoudige terme te definieer, is byna onmoontlik. Ons sê dalk dat tyd “verstryk”, “verbygaan”, “vlieg” en selfs dat ons in “die tydstroom” beweeg. Maar ons weet nie eintlik waarvan ons praat nie.
Tyd is al gedefinieer as die “afstand tussen twee gebeure”. En tog wil dit voorkom of ons ondervinding vir ons sê dat tyd nie van gebeure afhanklik is nie; dit lyk of dit voortgaan hetsy iets gebeur of nie. Een filosoof beweer dat tyd nie werklik bestaan nie, maar bloot iets denkbeeldigs is. Kan iets waarop soveel van ons ondervinding berus bloot ’n illusie wees?
Die Bybel se beskouing van tyd
Die Bybel gee nie ’n definisie van tyd nie, wat te kenne gee dat dit dalk bo die mens se vermoë is om dit ten volle te verstaan. Dit is soos die eindelose uitgestrektheid van die ruimte, wat ons ook moeilik vind om te begryp. Tyd is blykbaar een van daardie dinge wat net God ten volle kan verstaan, want hy alleen is “van ewigheid tot ewigheid”.—Psalm 90:2.
Hoewel die Bybel nie tyd definieer nie, praat dit wel van tyd as ’n werklikheid. Om mee te begin, vertel die Bybel ons dat God die “ligte”—die son, maan en sterre—as tydmerkers geskep het, om “as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare” te dien. Baie Bybelverslae verstrek spesifieke inligting oor die tyd wanneer die gebeure plaasgevind het (Genesis 1:14; 5:3-32; 7:11, 12; 11:10-32; Exodus 12:40, 41). Die Bybel praat ook van tyd as iets wat ons wyslik moet gebruik sodat ons God se seëning kan ontvang van ’n ewigheid—die vooruitsig om vir ewig te lewe.—Efesiërs 5:15, 16.
Ewige lewe—Is dit logies?
Net soos dit frustrerend is om te probeer verstaan wat tyd werklik is, is die idee van ewige lewe vir baie mense uiters onverstaanbaar. Een rede hiervoor is moontlik dat ons ondervinding van tyd nog altyd verband gehou het met die siklus van geboorte, ontwikkeling, veroudering en die dood. Ons het dus die verloop van tyd met die verouderingsproses begin vereenselwig. Vir baie sou dit ’n skending van die blote konsep van tyd wees om op enige ander manier te dink. ‘Waarom moet mense ’n uitsondering wees op dít waaraan alle ander lewende wesens blykbaar onderwerp is?’ vra hulle dalk.
Wat dikwels in hierdie redenasie oor die hoof gesien word, is die feit dat mense reeds op ’n hele paar gebiede ’n uitsondering op die res van die skepping is. Diere het byvoorbeeld nie die verstandelike vermoëns wat mense het nie. Hoewel mense die teendeel beweer, tree hulle nie skeppender op as wat hulle instink hulle toelaat nie. Hulle het nie die kunssinnigheid of die vermoë om liefde en waardering te betoon wat mense het nie. As die mens baie meer eienskappe en groter vermoëns gegee is wat die lewe sinvol maak, waarom is dit nie moontlik dat hulle ook meer gegee is wanneer dit by die lewe self kom nie?
Is dit daarenteen nie vreemd dat bome, wat nie kan dink nie, in party gevalle duisende jare lewe, terwyl intelligente mense gemiddeld net 70 tot 80 jaar kan lewe nie? Is dit nie ’n paradoks dat skilpaaie, wat geen skeppings- of kunstige vermoëns het nie, meer as 200 jaar kan lewe, terwyl mense, wat baie van hierdie vermoëns gegee is, nie eers die helfte so lank lewe nie?
Hoewel die mens tyd en ewigheid nie ten volle kan begryp nie, is die belofte van ewige lewe nog steeds ’n hoop wat op die Bybel gegrond is. Die uitdrukking “ewige lewe” verskyn sowat 40 keer daarin. Maar as dit God se voorneme is dat mense vir ewig moet lewe, waarom is dit nog nie verwesenlik nie? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.