Waarom die vertrouenskrisis?
‘KAN ’n mens enigiemand deesdae werklik vertrou?’ Jy het dalk al gehoor hoe ’n gefrustreerde persoon hierdie vraag vra. Of dalk het jy al self die vraag gevra wanneer jy ontsteld was oor ’n ongunstige wending in jou lewe.
Dit is ’n onbetwisbare feit dat daar wêreldwyd ’n gebrek aan vertroue in instellings en in ander mense is. Dikwels is hierdie gebrek aan vertroue geregverdig. Verwag enigiemand werklik dat die meeste politici al hulle verkiesingsbeloftes gaan nakom? ’n Opname in 1990 onder 1000 studente in Duitsland het getoon dat 16,5 persent van hulle vol vertroue was dat politici wêreldprobleme kon oplos, maar dat twee maal soveel studente ernstige bedenkinge uitgespreek het. En die meeste het gesê dat hulle ’n gebrek aan vertroue het in die vermoë van politici om probleme op te los, asook in hulle bereidwilligheid om dit te doen.
Die koerant Stuttgarter Nachrichten het hierdie klagte gehad: “Vir te veel politici kom persoonlike belange eerste en miskien daarna dié van hulle kiesers.” Mense in ander lande stem saam. Die koerant The European het van een land gesê: “Die jeug se siniese houding teenoor die politici is geregverdig en word ook onder ouer mense aangetref.” Dit het gesê dat ‘die kiesers gereeld die politieke partye uitstem’. Die koerant het verder gesê: “Enigiemand wat tyd saam met jongmense [daar] deurbring, word onmiddellik getref deur hulle gebrek aan vertroue en gevoel van ontwrigting.” Maar sonder die vertroue van die publiek kan ’n demokratiese regering min vermag. Die voormalige Amerikaanse president John F. Kennedy het eenkeer gesê: “Die grondslag van ’n doeltreffende regering is die vertroue van die publiek.”
Wat vertroue in die finansiële wêreld betref, het onverwagte ekonomiese ommekere en mislukte kitsrykskemas baie mense huiwerig gemaak. In Oktober 1997 toe effektebeurse regoor die wêreld hewige skommelinge ondergaan het, het ’n nuustydskrif gepraat van “’n onkeerbare en soms sinlose gebrek aan vertroue” en oor “die besmetlike uitwerking van wantroue”. Dit het ook gesê dat “mense [in een Asiatiese land] hulle vertroue so verloor het dat dit lyk of die bestaan van die teenswoordige regering . . . in werklikheid bedreig word”. Ter opsomming het dit hierdie voor die hand liggende gevolgtrekking gemaak: “Ekonomieë maak staat op vertroue.”
Godsdiens slaag ook nie daarin om vertroue in te boesem nie. Die Duitse godsdienstydskrif Christ in der Gegenwart maak die volgende droewige opmerking: “Die vlak van vertroue wat die volksmassa in die Kerk stel, daal steeds.” Tussen 1986 en 1992 het die aantal Duitsers wat baie, of ten minste ’n redelike mate van, vertroue in die kerk het van 40 tot 33 persent afgeneem. Trouens, in die voormalige Oos-Duitsland het dit tot onder 20 persent afgeneem. Aan die ander kant het die aantal mense met min of geen vertroue in die kerk in die voormalige Wes-Duitsland van 56 tot 66 persent toegeneem en in die voormalige Oos-Duitsland tot 71 persent.
’n Afname in vertroue het duidelik geword op gebiede buiten die politiek, finansies en godsdiens—die drie pilare van die mensegemeenskap. ’n Ander voorbeeld is wetstoepassing. Skuiwergate in die strafreg, probleme om die wet regverdig toe te pas en twyfelagtige hofbeslissings het mense se vertroue ernstig geskok. Volgens die tydskrif Time het “die frustrasies van burgers en die polisie ’n punt bereik waar daar geen vertroue in ’n stelsel is wat gevaarlike misdadigers keer op keer na ’n rukkie vrylaat nie”. Weens klagtes van polisiekorrupsie en -wreedheid het vertroue selfs in die polisie skerp gedaal.
Wat die internasionale politiek betref, beklemtoon mislukte vredesonderhandelinge en verbreekte skietstilstande ’n gebrek aan vertroue. Bill Richardson, die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, lê sy vinger op die vernaamste struikelblok in die weg van vrede in die Midde-Ooste deur bloot te sê: “Daar is ’n gebrek aan vertroue.”
Maar baie mense het op ’n meer persoonlike vlak ’n gebrek aan vertroue selfs in familielede en vriende, die einste persone tot wie mense hulle normaalweg wend om begrip en vertroosting wanneer hulle probleme het. Dit is baie soos die situasie wat die Hebreeuse profeet Miga beskryf het: “Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê.”—Miga 7:5.
’n Teken van die tye
Volgens ’n onlangse aanhaling het die Duitse sielkundige Arthur Fischer gesê: “Vertroue in die ontwikkeling van die samelewing en in ’n mens se persoonlike toekoms het om die waarheid te sê op alle terreine dramaties afgeneem. Jongmense is onseker of die instellings van die samelewing hulle kan help. Hulle vertroue bestaan as ’t ware nie meer nie, hetsy in ’n politieke, godsdienstige of enige ander organisasie.” Dit is geen wonder nie dat die sosioloog Ulrich Beck praat van ’n “kultuur van onsekerheid” oor lank bestaande owerhede, instellings en deskundiges.
In so ’n kultuur is mense geneig om hulle te onttrek, om alle vorme van gesag te verwerp en volgens persoonlike standaarde te lewe en besluite te neem sonder om op raad of leiding van ander ag te slaan. Party word oordrewe agterdogtig, moontlik selfs onverskillig, wanneer hulle met diegene te doen het wat hulle na hulle mening nie meer kan vertrou nie. Hierdie gesindheid bevorder ’n ongesonde klimaat, soos in die Bybel beskryf word: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” (2 Timoteus 3:1-5; Spreuke 18:1). Vandag se vertrouenskrisis is waarlik ’n teken van die tye, ’n teken van “die laaste dae”.
In ’n wêreld wat ’n vertrouenskrisis ondervind en vol mense is soos dié wat hierbo beskryf word, kan die lewe nie werklik in die volste sin geniet word nie. Maar is dit realisties om te dink dat dinge sal verander? Kan vandag se vertrouenskrisis te bowe gekom word? Indien wel, hoe en wanneer?