‘Die dood gaan tot niet gemaak word’
“As laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.” —1 KORINTIËRS 15:26.
1, 2. (a) Watter hoop is daar volgens die apostel Paulus vir die dooies? (b) Aan watter vraag oor die opstanding het Paulus aandag gegee?
“EK GLO aan . . . die opstanding van die liggaam en die ewige lewe.” Dit is wat die apostoliese geloofsbelydenis sê. Katolieke asook Protestante sê dit pligsgetrou op sonder om te besef dat hulle oortuiging nader aan Griekse filosofie is as aan enigiets wat die apostels ooit geglo het. Die apostel Paulus het egter Griekse filosofie verwerp en nie aan ’n onsterflike siel geglo nie. Hy het nogtans vas geglo aan ’n toekomstige lewe en onder inspirasie geskryf: “As laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). Presies wat beteken dit vir die sterwende mensdom?
2 Kom ons keer terug na Paulus se bespreking van die opstanding in 1 Korintiërs hoofstuk 15 om daardie vraag te beantwoord. Jy sal onthou dat Paulus in die inleidingsverse getoon het dat die opstanding ’n noodsaaklike deel van die Christelike leer is. Nou gee hy aandag aan ’n spesifieke vraag: “Nietemin sal iemand sê: ‘Hoe gaan die dooies opgewek word? Ja, met watter soort liggaam kom hulle?’”—1 Korintiërs 15:35.
Watter soort liggaam?
3. Waarom het sommige die opstanding verwerp?
3 Paulus het heel moontlik hierdie vraag geopper om die invloed van Plato se filosofie teë te werk. Plato het geleer dat die mens ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef. Vir diegene wat met hierdie idee grootgeword het, het die Christelike leer ongetwyfeld onnodig gelyk. Wat is die doel van ’n opstanding as die siel ná die dood voortleef? Daarbenewens het die opstanding waarskynlik onlogies gelyk. Hoe kan daar ’n opstanding wees as die liggaam eers stof geword het? Die Bybelkommentator Heinrich Meyer sê dat die verset van party Korintiërs moontlik berus het “op die filosofiese grondslag dat die herstel van die elemente van die liggaam onmoontlik is”.
4, 5. (a) Waarom was die besware van ontroues onredelik? (b) Verduidelik Paulus se illustrasie van die “blote korrel”. (c) Watter soort liggaam gee God aan verrese gesalfdes?
4 Paulus stel hulle leë redenasies aan die kaak: “Jou onredelike mens! Wat jy saai, word nie lewend gemaak tensy dit eers sterf nie; en met betrekking tot wat jy saai: jy saai nie die liggaam wat sal ontwikkel nie, maar ’n blote korrel, miskien koring of enigeen van die ander; maar God gee dit ’n liggaam soos dit hom behaag het, en aan elkeen van die sade sy eie liggaam” (1 Korintiërs 15:36-38). God gaan nie die liggaam opwek wat mense gehad het terwyl hulle op aarde was nie. Daar sal eerder ’n vormverandering wees.
5 Paulus vergelyk die opstanding met die ontkieming van ’n saad. ’n Koringsaadjie lyk glad nie soos die plant wat daaruit sal groei nie. The World Book Encyclopedia sê: “Wanneer ’n saad begin ontkiem, absorbeer dit baie water. Die water veroorsaak baie chemiese veranderinge binne-in die saad. Dit laat ook die saad se interne weefsel swel en deur die saadhuid bars.” Die saad sterf as ’t ware as ’n saad en kom as ’n plant te voorskyn. “God gee dit ’n liggaam” in die sin dat hy die wetenskaplike wette vasgestel het wat die ontwikkeling daarvan beheer, en elke saad ontvang ’n liggaam volgens sy soort (Genesis 1:11). Gesalfde Christene moet insgelyks eers as mense sterf. Op God se bestemde tyd wek hy hulle dan met ’n heeltemal nuwe liggaam op. Soos Paulus vir die Filippense gesê het, sal ‘Jesus Christus ons vernederde liggaam verander om aan sy heerlike liggaam gelykvormig gemaak te word’ (Filippense 3:20, 21; 2 Korintiërs 5:1, 2). Hulle word met geesliggame opgewek en lewe in die geesteryk.—1 Johannes 3:2.
6. Waarom is dit redelik om te glo dat God verresenes geskikte geesliggame kan gee?
6 Is dit te moeilik om te glo? Nee. Paulus redeneer dat diere verskeie soorte liggame het. Daarbenewens stel hy hemelse engele teenoor mense van vlees en bloed en sê: “Daar is hemelse liggame en aardse liggame.” Daar is ook groot verskeidenheid in die lewelose skepping. Lank voordat die wetenskap hemelliggame soos blousterre, rooireuse en witdwerge ontdek het, het Paulus gesê dat ‘die een ster van die ander ster in heerlikheid verskil’. Is dit nie in die lig hiervan redelik dat God verrese gesalfdes geskikte geesliggame kan gee nie?—1 Korintiërs 15:39-41.
7. Wat is die betekenis van onverderflikheid? van onsterflikheid?
7 Paulus sê dan: “So ook is die opstanding van die dooies. Dit word in verderflikheid gesaai, dit word in onverderflikheid opgewek” (1 Korintiërs 15:42). ’n Menslike liggaam, selfs wanneer dit volmaak is, is onderhewig aan verderwing. Dit kan doodgemaak word. Paulus het byvoorbeeld gesê dat die verrese Jesus “bestem [is] om nie meer tot verderwing terug te keer nie” (Handelinge 13:34). Hy sal nooit tot lewe in ’n verderflike menslike liggaam terugkeer nie, selfs al is dit ’n volmaakte liggaam. Die liggaam wat God aan verrese gesalfdes gee, is onverderflik—dit kan nie sterf of agteruitgaan nie. Paulus sê voorts: “Dit word in oneer gesaai, dit word in heerlikheid opgewek. Dit word in swakheid gesaai, dit word in krag opgewek. Dit word as ’n fisiese liggaam gesaai, dit word as ’n geestelike liggaam opgewek” (1 Korintiërs 15:43, 44). Paulus sê verder: “Hierdie sterflike moet hom met onsterflikheid beklee.” Onsterflikheid beteken eindelose, onvernietigbare lewe (1 Korintiërs 15:53; Hebreërs 7:16). Sodoende dra die verresenes “die beeld van die hemelse”, Jesus, wat hulle opstanding moontlik gemaak het.—1 Korintiërs 15:45-49.
8. (a) Hoe weet ons dat verresenes dieselfde persone is as wat hulle was terwyl hulle op die aarde gelewe het? (b) Watter profesieë word vervul wanneer die opstanding plaasvind?
8 Ten spyte van hierdie vormverandering is die verresenes nog steeds dieselfde persone as wat hulle was voor hulle gesterf het. Hulle sal met dieselfde herinneringe en dieselfde voortreflike Christelike eienskappe opgewek word (Maleagi 3:3; Openbaring 21:10, 18). In hierdie opsig kom hulle met Jesus Christus ooreen. Hy het van ’n gees- na ’n menseskepsel verander. Toe het hy gesterf en is hy as ’n gees opgewek. Tog is “Jesus Christus . . . gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde” (Hebreërs 13:8). Wat ’n wonderlike voorreg het gesalfdes tog! Paulus sê: “Maar wanneer hierdie verderflike hom met onverderflikheid beklee en hierdie sterflike hom met onsterflikheid beklee, dan sal die woord vervul word wat geskrywe staan: ‘Die dood is vir ewig verswelg.’ ‘Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?’”—1 Korintiërs 15:54, 55; Jesaja 25:8; Hosea 13:14, NW.
’n Aardse opstanding?
9, 10. (a) Wat is “die einde” waarvan 1 Korintiërs 15:24 praat, en watter gebeure vind in verband daarmee plaas? (b) Wat moet plaasvind sodat die dood tot niet gemaak kan word?
9 Is daar enige toekoms vir die miljoene wat nie die hoop op onsterflike geeslewe in die hemel het nie? Ja, beslis! Nadat Paulus verduidelik het dat die hemelse opstanding gedurende Christus se teenwoordigheid plaasvind, sit hy latere gebeure uiteen en sê: “Vervolgens die einde, wanneer hy die koninkryk aan sy God en Vader oorgee, wanneer hy alle regering en alle gesag en mag tot niet gemaak het.”—1 Korintiërs 15:23, 24.
10 “Die einde” is die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Christus, wanneer Jesus, wat nederig en lojaal is, die Koninkryk aan sy God en Vader oorgee (Openbaring 20:4). God se voorneme “om alle dinge weer byeen te bring in die Christus” sal dan verwesenlik wees (Efesiërs 1:9, 10). Maar Christus sal eers “alle regering en alle gesag en mag” vernietig het wat teen God se Soewereine wil gekant was. Dit behels meer as die vernietiging wat by Armageddon teweeggebring gaan word (Openbaring 16:16; 19:11-21). Paulus sê: “[Christus] moet as koning heers totdat God alle vyande onder sy voete gestel het. As laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:25, 26). Ja, alle tekens van Adamitiese sonde en dood sal uit die weg geruim wees. Dit sal vereis dat God dan al reeds die “gedenkgrafte” leeggemaak het deur die dooies op te wek.—Johannes 5:28.
11. (a) Hoe weet ons dat God dooie siele kan herskep? (b) Watter soort liggaam sal diegene gegee word wat op die aarde opgewek gaan word?
11 Dit beteken dat mensesiele herskep moet word. Onmoontlik? Nee, want Psalm 104:29, 30 verseker ons dat God dit kan doen: “U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur u Gees uit, hulle word geskape.” Hoewel verresenes dieselfde persone sal wees as wat hulle was voordat hulle gesterf het, sal hulle nie dieselfde liggaam hoef te hê nie. Net soos in die geval van diegene wat tot hemelse lewe opgewek word, sal God hulle ’n liggaam gee net soos dit hom behaag. Hulle nuwe liggaam sal ongetwyfeld fisies gesond en feitlik dieselfde as hulle oorspronklike liggaam wees sodat hulle deur hulle geliefdes herken sal word.
12. Wanneer vind die aardse opstanding plaas?
12 Wanneer sal die aardse opstanding plaasvind? Marta het oor haar afgestorwe broer, Lasarus, gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:24). Hoe het sy dit geweet? Die opstanding was ’n twispunt in haar dag, aangesien die Fariseërs daaraan geglo het, maar nie die Sadduseërs nie (Handelinge 23:8). Maar Marta moes van voor-Christelike getuies geweet het wat op die opstanding gehoop het (Hebreërs 11:35). Sy kon dalk ook uit Daniël 12:13 afgelei het dat die opstanding op die laaste dag sal plaasvind. Sy kon dit selfs by Jesus geleer het (Johannes 6:39). Daardie “laaste dag” stem ooreen met die Duisendjarige Heerskappy van Christus (Openbaring 20:6). Stel jou die opgewondenheid voor gedurende daardie “dag” wanneer hierdie wonderlike gebeurtenis begin!—Vergelyk Lukas 24:41.
Wie kom terug?
13. Watter visioen van die opstanding is in Openbaring 20:12-14 opgeteken?
13 In Openbaring 20:12-14 is Johannes se visioen van die aardse opstanding opgeteken: “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en boekrolle is oopgemaak. Maar ’n ander boekrol is oopgemaak; dit is die boekrol van die lewe. En die dooies is geoordeel na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade. En die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en hulle is individueel volgens hulle dade geoordeel. En die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur.”
14. Wie sal onder diegene wees wat opgewek sal word?
14 Die opstanding sal “groot en klein” insluit, vooraanstaande sowel as minder vooraanstaande mense wat gelewe en gesterwe het. Selfs babas sal deel uitmaak van daardie groep! (Jeremia 31:15, 16). In Handelinge 24:15 word nog ’n belangrike besonderheid bekend gemaak: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.” Prominent onder “die regverdiges” is getroue manne en vroue van die ou tyd, soos Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara en Ragab (Hebreërs 11:1-40). Dink net, jy sal met hulle kan praat en ooggetuieverslae kry van Bybelgebeure van lank gelede! “Die regverdiges” sal ook die duisende godvresende mense insluit wat in onlangser tye gesterf het en nie ’n hemelse hoop gehad het nie. Het jy ’n familielid of ’n geliefde wat moontlik een van hulle is? Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat jy hulle weer kan sien! Maar wie is die “onregverdiges” wat ook sal terugkom? Hulle sluit miljoene, miskien miljarde, mense in wat gesterf het sonder dat hulle ’n geleentheid gehad het om Bybelwaarhede te leer en toe te pas.
15. Wat beteken dit dat verresenes “geoordeel [sal word] na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan”?
15 Hoe sal verresenes “geoordeel [word] na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade”? Hierdie boekrolle is nie die verslag van hulle dade van die verlede nie; toe hulle gesterf het, is hulle vrygespreek van die sondes wat hulle gedurende hulle leeftyd gepleeg het (Romeine 6:7, 23). Verresenes sal egter nog steeds onder Adamitiese sonde wees. Dit moet dan wees dat hierdie boekrolle Goddelike instruksies sal bevat wat almal moet volg sodat hulle ten volle kan baat vind by die offerande van Jesus Christus. Wanneer die laaste spoor van Adamitiese sonde uit die weg geruim word, sal die dood in die volste sin “tot niet gemaak word”. Teen die einde van die duisend jaar sal God ‘alles vir elkeen wees’ (1 Korintiërs 15:28). Die mens sal nie meer die hulp van ’n Hoëpriester of Verlosser nodig hê nie. Die hele mensdom sal herstel wees tot die volmaakte toestand wat Adam oorspronklik geniet het.
’n Ordelike opstanding
16. (a) Waarom is dit redelik om te glo dat die opstanding ’n ordelike proses sal wees? (b) Wie sal waarskynlik van die eerstes wees wat opgewek sal word?
16 Aangesien die hemelse opstanding ordelik is, “elkeen in sy eie rangorde”, is dit duidelik dat die aardse opstanding nie ’n chaotiese bevolkingsontploffing sal veroorsaak nie (1 Korintiërs 15:23). Dit is te verstane dat daar na die pasopgewektes omgesien sal moet word. (Vergelyk Lukas 8:55.) Hulle sal fisiese voedsel en—selfs belangriker—geestelike hulp nodig hê om lewegewende kennis van Jehovah God en Jesus Christus op te doen (Johannes 17:3). As almal tegelykertyd opgewek moes word, sou dit onmoontlik gewees het om behoorlik vir hulle te sorg. Dit is redelik om aan te neem dat die opstanding geleidelik sal plaasvind. Getroue Christene wat kort voor die einde van Satan se stelsel gesterf het, sal waarskynlik van die eerstes wees wat opgewek sal word. Ons kan ook ’n vroeë opstanding verwag vir die getroue manne van die ou tyd wat as “vorste” sal dien.—Psalm 45:17.
17. Wat is sommige kwessies in verband met die opstanding waaroor die Bybel swyg, en waarom moet Christene nie te besorg wees oor sulke sake nie?
17 Ons moet nietemin nie dogmaties wees oor sulke sake nie. Daar is baie sake waaroor die Bybel swyg. Dit gee nie besonderhede oor hoe, wanneer of waar mense opgewek sal word nie. Dit sê nie vir ons hoe diegene wat terugkom gehuisves, gevoed en geklee sal word nie. Ons kan ook nie met sekerheid sê hoe Jehovah sulke kwessies soos die grootmaak en versorging van verrese kinders sal reël of hoe hy sekere situasies waarby ons vriende en geliefdes moontlik betrokke is, sal hanteer nie. Dit is weliswaar natuurlik om oor sulke dinge te wonder; maar dit sal onverstandig wees om tyd daaraan te bestee om vrae te probeer beantwoord wat tans onbeantwoordbaar is. Ons moet ons daarop toespits om Jehovah getrou te dien en die ewige lewe te verkry. Gesalfde Christene hoop op ’n glorieryke hemelse opstanding (2 Petrus 1:10, 11). Die “ander skape” hoop op ’n ewige erfenis in die aardse ryk van God se Koninkryk (Johannes 10:16; Matteus 25:33, 34). Wat al die onbekende besonderhede oor die opstanding betref, vertrou ons eenvoudig op Jehovah. Ons toekomstige geluk is veilig in die hande van die Een wat ‘alles wat lewe met welbehae kan versadig’.—Psalm 145:16; Jeremia 17:7.
18. (a) Watter oorwinning beklemtoon Paulus? (b) Waarom het ons ’n vaste vertroue in die opstandingshoop?
18 Paulus sluit sy argument af deur uit te roep: “Aan God die dank, want hy gee ons die oorwinning deur ons Here Jesus Christus!” (1 Korintiërs 15:57). Ja, Adamitiese dood word deur die losprysofferande van Jesus Christus oorwin, en gesalfdes sowel as die “ander skape” neem deel aan daardie oorwinning. “Ander skape” wat vandag lewe, het natuurlik ’n hoop wat uniek aan hierdie geslag is. As deel van ’n immer toenemende “groot skare” kan hulle die naderende “groot verdrukking” oorleef en nooit fisiese dood ondervind nie! (Openbaring 7:9, 14). Maar selfs diegene wat sterf as gevolg van “tyd en lotgeval” of deur die toedoen van Satan se agente kan hulle vertroue in die opstandingshoop stel.—Prediker 9:11.
19. Op watter vermaning moet alle Christene van vandag ag slaan?
19 Ons sien derhalwe gretig uit na daardie wonderlike dag wanneer die dood tot niet gemaak sal word. Ons onwankelbare vertroue in Jehovah se belofte van die opstanding gee ons ’n realistiese beskouing van sake. Wat ook al in hierdie lewe met ons gebeur—selfs al sterf ons—niks kan die beloning wat Jehovah ons beloof het van ons af wegneem nie. Paulus se laaste vermaning aan die Korintiërs is dus vandag net so gepas as wat dit tweeduisend jaar gelede was: “Daarom, my geliefde broers, word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie.”—1 Korintiërs 15:58.
Kan jy verduidelik?
◻ Hoe het Paulus die vraag beantwoord oor watter soort liggaam die gesalfdes sal hê wanneer hulle opgewek word?
◻ Hoe en wanneer sal die dood uiteindelik tot niet gemaak word?
◻ Wie sal onder dié wees wat ’n aardse opstanding ontvang?
◻ Wat moet ons gesindheid wees in verband met sake waaroor die Bybel swyg?
[Prent op bladsy 20]
’n Saad “sterf” deur ’n drastiese verandering te ondergaan
[Prente op bladsy 23]
Getroue manne en vroue van die ou tyd, soos Noag, Abraham, Sara en Ragab, sal onder die verresenes wees
[Prent op bladsy 24]
Die opstanding sal ’n tyd van groot vreugde wees!