Hoe om ‘Jehovah se dag’ te oorleef
“Die dag van Jehovah is groot en baie vreesinboesemend, en wie kan daaronder standhou?”—JOËL 2:11, NW.
1. Waarom behoort ‘die vreesinboesemende dag van Jehovah’ ’n vreugdevolle geleentheid te wees?
“VREESINBOESEMEND”! Dit is hoe God se profeet Joël die groot “dag van Jehovah” beskryf. Maar ons wat Jehovah liefhet en ons aan hom toegewy het op grond van Jesus se losprysofferande hoef nie met vrees vervul te wees namate Jehovah se dag nader kom nie. Dit sal inderdaad ’n verskriklike dag wees, maar ook ’n dag van groot redding, die dag van bevryding van ’n goddelose stelsel van dinge wat die mens deur millenniums heen geteister het. Met daardie dag in die vooruitsig doen Joël ’n beroep op God se volk om te ‘juig en bly te wees, want die HERE doen groot dinge’, en dan gee hy die versekering: “Elkeen wat die Naam van [Jehovah] aanroep, sal gered word.” Onder God se Koninkryksreëling sal daar dan “ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep”.—Joël 2:11, 21, 22, 32, vgl. NW.
2. In die uitvoering van God se voornemens, wat gebeur (a) in “die dag van die Here” (b) in “die dag van Jehovah”?
2 Jehovah se vreesinboesemende dag moenie met “die dag van die Here” in Openbaring 1:10 verwar word nie. Hierdie laasgenoemde dag sluit die vervulling in van die 16 visioene wat in Openbaring hoofstukke 1 tot 22 beskryf word. Dit sluit die tyd in van die vervulling van al die gebeure wat Jesus voorspel het in antwoord op sy dissipels se vraag: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Jesus se hemelse teenwoordigheid word op aarde gekenmerk deur verskriklike ‘oorloë, voedseltekorte, haat, peste en wetteloosheid’. Terwyl hierdie smarte toegeneem het, het Jesus vertroosting aan godvresende mense gebied deur sy hedendaagse dissipels uit te stuur om “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde [te] verkondig . . . tot ’n getuienis vir al die nasies”. Dan, as ’n hoogtepunt van die Here se dag, sal “die einde” van die huidige stelsel van dinge, Jehovah se vreesinboesemende dag, aanbreek (Matteus 24:3-14; Lukas 21:11). Dit sal Jehovah se dag wees waarop hy vinnig oordeel gaan voltrek aan Satan se verdorwe wêreld. “Hemel en aarde [sal] bewe. Maar die HERE sal ’n toevlug wees vir sy volk.”—Joël 3:16.
Jehovah tree op in die dae van Noag
3. Hoe kom vandag se toestande ooreen met dié van Noag se dag?
3 Vandag kom wêreldtoestande ooreen met dié in “die dae van Noag” meer as 4000 jaar gelede (Lukas 17:26, 27). In Genesis 6:5 lees ons: “Die HERE [het gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.” Dit is presies soos die wêreld vandag is! Goddeloosheid, hebsug en liefdeloosheid kom oral voor. Soms dink ons dalk dat die mens se verdorwenheid die laagste punt bereik het. Maar die apostel Paulus se profesie aangaande “die laaste dae” word steeds vervul: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word.”—2 Timoteus 3:1, 13.
4. Watter uitwerking het valse godsdiens in vroeë tye gehad?
4 Kon godsdiens verligting gebring het vir die mensdom in Noag se dag? Inteendeel, afvallige godsdiens soos wat destyds bestaan het, het seer seker in groot mate tot die verdorwe toestande bygedra. Ons eerste ouers het geswig voor die valse lering van “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word”. In die tweede geslag van Adam af het mense “die naam van Jehovah begin aanroep”, blykbaar op godslasterlike wyse (Openbaring 12:9; Genesis 3:3-6; 4:26, NW). Later het opstandige engele, wat nie hulle uitsluitlike toegewydheid teenoor God gehandhaaf het nie, menseliggame aangeneem om ongeoorloofde geslagsgemeenskap met die mooi dogters van die mens te hê. Hierdie vrouens het ’n bastergeslag van reuse, wat Nefilim genoem is, in die wêreld gebring wat die mense onderdruk en mishandel het. Onder hierdie demoniese invloed het ‘alle vlees hulle wandel op die aarde verderwe’.—Genesis 6:1-12.
5. Watter waarskuwende vermaning gee Jesus ons met verwysing na gebeure in Noag se dag?
5 Een gesin het egter hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf. Gevolglik het God “Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar . . . toe hy ’n sondvloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het” (2 Petrus 2:5). Daardie Vloed het die vreesinboesemende dag van Jehovah voorafgeskadu, wat die einde van hierdie stelsel van dinge beteken en waarvan Jesus geprofeteer het: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. Want net soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:36-39). Ons is vandag in ’n soortgelyke situasie, daarom vermaan Jesus ons om ‘op onsself te let en wakker te bly, asook om te alle tye smeekbedes te doen dat ons daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur’.—Lukas 21:34-36.
Jehovah se regterlike straf van Sodom en Gomorra
6, 7. (a) Wat is voorafgeskadu deur die gebeure in Lot se tyd? (b) Watter duidelike waarskuwing dra dit aan ons oor?
6 ’n Paar honderd jaar ná die Vloed, toe Noag se nageslag op die aarde vermeerder het, was die getroue Abraham en sy neef Lot ooggetuies van ’n ander vreesinboesemende dag van Jehovah. Lot en sy gesin het in die stad Sodom gewoon. Tesame met die naburige Gomorra was hierdie stad deurtrek van afskuwelike onsedelikheid. Groot klem is ook op materialisme gelê, wat uiteindelik selfs Lot se vrou beïnvloed het. Jehovah het vir Abraham gesê: “Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar” (Genesis 18:20). Abraham het Jehovah gesmeek om daardie stede te spaar ter wille van die regverdiges wat daarin is, maar Jehovah het gesê dat hy nie eers tien regverdiges daarin kon vind nie. Engele van God af het Lot en sy twee dogters gehelp om na die nabygeleë stad Soar te vlug.
7 Wat het daarna gebeur? Lukas 17:28-30 vergelyk ons “laaste dae” met dié van Lot en sê: “Net soos dit ook in die dae van Lot gebeur het: hulle het geëet, hulle het gedrink, hulle het gekoop, hulle het verkoop, hulle het geplant, hulle het gebou. Maar op die dag dat Lot uit Sodom uitgekom het, het dit vuur en swael uit die hemel gereën en hulle almal vernietig. Net so sal dit wees op daardie dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar gaan word.” Die lot van Sodom en Gomorra op daardie verskriklike dag van Jehovah is ’n duidelike waarskuwing vir ons in hierdie tyd van Jesus se teenwoordigheid. Die hedendaagse mensegeslag het ook “uitermate hoerery gepleeg en vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop” (Judas 7). Wat meer is, die onsedelike gesindheid van ons tyd is verantwoordelik vir baie van die “peste” wat Jesus vir hierdie dag voorspel het.—Lukas 21:11.
Israel maai ‘storms’
8. In watter mate het Israel die verbond met Jehovah gehou?
8 Mettertyd het Jehovah Israel gekies om sy “eiendom uit al die volke [te] wees, . . . ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie”. Maar dit het daarvan afgehang of hulle ‘terdeë na sy stem luister en sy verbond hou’ (Exodus 19:5, 6). Het hulle daardie groot voorreg in ere gehou? Hoegenaamd nie! Getroue individue van daardie nasie het hom weliswaar lojaal gedien—Moses, Samuel, Dawid, Josafat, Hiskia, Josia, asook toegewyde profete en profetesse. Maar die nasie as ’n geheel was ontrou. Na verloop van tyd het die koninkryk in twee verdeel—Israel en Juda. Oor die algemeen het albei nasies verstrik geraak in heidense godsdiens en ander godonterende gebruike van die naburige nasies.—Esegiël 23:49.
9. Hoe het Jehovah die opstandige tienstammeryk geoordeel?
9 Hoe het Jehovah sake geoordeel? Hy het soos altyd ’n waarskuwing tot hulle gerig in ooreenstemming met die beginsel in Amos: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Amos self het wee vir die noordelike koninkryk van Israel verkondig: “Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie” (Amos 3:7; 5:18). Daarbenewens het Amos se medeprofeet Hosea gesê: “Hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (Hosea 8:7). In 740 v.G.J. het Jehovah die Assiriese leër gebruik om die noordelike koninkryk van Israel eens en vir altyd te vernietig.
Jehovah reken af met afvallige Juda
10, 11. (a) Waarom wou Jehovah Juda nie vergewe nie? (b) Watter verfoeilike dinge het die nasie verdorwe gemaak?
10 Jehovah het ook sy profete na die suidelike koninkryk van Juda gestuur. Tog het konings van Juda, soos Manasse en sy opvolger, Amon, voortgegaan om te doen wat sleg was in Sy oë deur ‘vreeslik baie onskuldige bloed te vergiet en die drekgode te dien en voor hulle neer te buig’. Hoewel Amon se seun Josia gedoen het wat reg was in Jehovah se oë, het die konings wat hom opgevolg het sowel as die volk weer eens diep betrokke geraak by goddeloosheid sodat ‘Jehovah hulle nie wou vergewe nie’.—2 Konings 21:16-21; 24:3, 4.
11 Jehovah het deur middel van sy profeet Jeremia gesê: “’n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” Die nasie Juda het uitermate bloedskuldig geword, en sy mense het verdorwe geraak deur te steel, te moor, owerspel te bedryf, vals te sweer, agter ander gode aan te loop en ander verfoeilike dinge te doen. God se tempel het ’n “rowerspelonk” geword.—Jeremia 2:34; 5:30, 31; 7:8-12, vgl. NAV.
12. Hoe het Jehovah afvallige Jerusalem gestraf?
12 Jehovah het verklaar: “Ek bring ’n onheil uit die Noorde [Chaldea] en ’n groot verwoesting” (Jeremia 4:6). Hy het derhalwe die Babiloniese Wêreldmoondheid, op daardie stadium “die hamer van die hele aarde”, gestuur om afvallige Jerusalem en sy tempel te vernietig (Jeremia 50:23). In 607 v.G.J., ná ’n meedoënlose beleëring, het die stad voor die magtige leër van Nebukadnesar geval. “En die koning van Babel het die seuns van [koning] Sedekia voor sy oë in Ribla geslag; ook het die koning van Babel al die edeles van Juda geslag. En hy het die oë van Sedekia laat verblind en hom met koperkettings geboei om hom na Babel te bring. En die Chaldeërs het die paleis van die koning en die huise van die volk met vuur verbrand; en die mure van Jerusalem het hulle omgegooi. En die deel van die volk wat nog in die stad oorgebly het en die oorlopers wat na hom oorgeloop het, en die deel van die volk wat nog oorgebly het, het Nebusaradan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer na Babel toe.”—Jeremia 39:6-9.
13. Wie is in Jehovah se dag van 607 v.G.J. gered, en waarom?
13 Inderdaad ’n vreesinboesemende dag! Maar ’n paar siele wat Jehovah gehoorsaam het, was onder diegene wat van daardie vurige oordeel gered is. Hulle het die nie-Israelitiese Regabiete ingesluit, wat in teenstelling met die Judeërs ’n nederige en gehoorsame gees geopenbaar het. Ook is die getroue eunug Ebed-Meleg, wat Jeremia van die dood in ’n modderige put gered het, en Jeremia se lojale sekretaris, Barug, gered (Jeremia 35:18, 19; 38:7-13; 39:15-18; 45:1-5). Dit was aan sulke persone wat Jehovah gesê het: “Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, . . . gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.” Daardie belofte het ’n kleinskaalse vervulling in 539 v.G.J. gehad toe godvresende Jode deur Babilon se veroweraar, koning Kores, vrygelaat is en hulle teruggekeer het om die stad Jerusalem en sy tempel te herbou. Diegene wat vandag uit Babiloniese godsdiens kom en in Jehovah se ware aanbidding herstel word, kan eweneens uitsien na ’n wonderlike toekoms van ewige vrede in Jehovah se herstelde Paradys.—Jeremia 29:11; Psalm 37:34; Openbaring 18:2, 4.
Eerste-eeuse “groot verdrukking”
14. Waarom het Jehovah Israel permanent verwerp?
14 Laat ons voortgaan na die eerste eeu G.J. Teen daardie tyd het die herstelde Jode weer eens afvallig geword. Jehovah het sy enigverwekte Seun na die aarde gestuur om sy Gesalfde, oftewel Messias, te wees. Gedurende die jare 29 tot 33 G.J. het Jesus deur die hele land van Israel gepreek en gesê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Daarbenewens het hy dissipels bymekaargemaak en opgelei om saam met hom aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deel te neem. Hoe het die leiers van die Jode gereageer? Hulle het Jesus belaster en uiteindelik die afskuwelike misdaad gepleeg om hom ’n pynlike dood aan ’n folterpaal te laat sterf. Jehovah het die Jode as sy volk verwerp. Nou was die verwerping van daardie nasie permanent.
15. Wat was berouvolle Jode bevoorreg om te doen?
15 Op Pinkster 33 G.J. het die verrese Jesus heilige gees uitgegiet, en dit het sy dissipels in staat gestel om in tale te praat met die Jode en proseliete wat in ’n kort tydjie daar byeengekom het. Die apostel Petrus het die skare toegespreek en gesê: “Hierdie Jesus het God opgewek, ’n feit waarvan ons almal getuies is. . . . Laat die hele huis van Israel dus vir seker weet dat God hom Here sowel as Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle aan die paal gehang het.” Hoe het opregte Jode daarop gereageer? “Hulle [is] diep in die hart getref”, het berou oor hulle sondes getoon en het hulle laat doop (Handelinge 2:32-41). Die Koninkrykspredikingswerk het vinnig toegeneem, en binne 30 jaar het dit versprei deur “die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.
16. Hoe het Jehovah gebeure bewerk wat daartoe gelei het dat hy oordeel aan natuurlike Israel voltrek het?
16 Die tyd het toe aangebreek vir Jehovah om oordeel te voltrek aan sy verwerpte volk, natuurlike Israel. Derduisende, uit die nasies regdeur die destydse bekende wêreld, het na die Christengemeente gestroom en was as die geestelike “Israel van God” gesalf (Galasiërs 6:16). Die destydse Jodedom het egter in ’n weg van haat en sektariese geweld verval. In teenstelling met wat Paulus oor ‘onderdanigheid aan die hoër owerhede’ geskryf het, het hulle openlik in opstand gekom teen die Romeinse moondheid wat oor hulle geheers het (Romeine 13:1). Jehovah het blykbaar die gebeure bewerk wat gevolg het. In die jaar 66 G.J. het die Romeinse legioene onder generaal Gallus opgetrek om Jerusalem te beleër. Die aanvallende Romeine het die stad so ver binnegedring dat hulle die tempelmuur ondergrawe het. Volgens Josefus se geskiedenisverslag het daar werklik verdrukking oor die stad en oor die mense gekom.a Maar skielik het die aanvallende soldate gevlug. Dit het Jesus se dissipels toegelaat om ‘na die berge te vlug’, soos hulle in sy profesie in Matteus 24:15, 16 vermaan is.
17, 18. (a) Deur middel van watter verdrukking het Jehovah die reg toegepas teenoor die Jodedom? (b) Watter vlees ‘het veilig weggekom’, en waarvan was dit ’n skaduwee?
17 Maar die algehele voltrekking van Jehovah se oordeel tydens die hoogtepunt van die verdrukking sou nog kom. In 70 G.J. het die Romeinse legioene, wat toe onder generaal Titus was, teruggekom en weer ’n aanval geloods. Hierdie keer was dit ’n beslissende stryd! Die Jode, wat selfs onder mekaar oorlog gevoer het, was nie opgewasse teen die Romeine nie. Die stad en sy tempel is met die grond gelykgemaak. Meer as ’n miljoen uitgeteerde Jode het gely en gesterf, en ongeveer 600 000 lyke is by die stadspoorte uitgegooi. Ná die vernietiging van die stad is 97 000 Jode as gevangenes weggevoer, en baie het later in gladiatorgevegte gesterf. Waarlik, die enigste vlees wat gedurende die jare van daardie verdrukking gered is, was dié van die gehoorsame Christene wat na die berge oorkant die Jordaan gevlug het.—Matteus 24:21, 22; Lukas 21:20-22.
18 Jesus se groot profesie aangaande “die voleinding van die stelsel van dinge” het derhalwe sy eerste vervulling gehad en sy hoogtepunt bereik toe Jehovah se dag in 66-70 G.J. aangebreek het om die reg toe te pas teenoor die opstandige Joodse nasie (Matteus 24:3-22). Tog was dit bloot ’n skaduwee van “die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”, die finale verdrukking wat binnekort oor die hele wêreld gaan kom (Joël 2:31, NW). Hoe kan jy “veilig wegkom”? Die volgende artikel sal dit verduidelik.
[Voetnoot]
a Josefus sê dat die aanvallende Romeine die stad omsingel het, deel van die muur ondermyn het en op die punt was om die poort van Jehovah se tempel aan die brand te steek. Dit het verskriklike vrees laat ontstaan onder baie Jode wat daarbinne vasgevang was, want hulle kon sien dat die dood hulle in die gesig gestaar het.—Wars of the Jews, Boek II, hoofstuk 19.
Vrae ter hersiening
◻ Hoe hou “die dag van die Here” verband met “die dag van Jehovah”?
◻ Op watter waarskuwing moet ons ag slaan wanneer ons oor Noag se dag nadink?
◻ Hoe voorsien Sodom en Gomorra ’n kragtige les?
◻ Wie is in die eerste-eeuse “groot verdrukking” gered?
[Prente op bladsy 15]
Jehovah het verlossing gebring vir die gesinne van Noag en Lot, asook in 607 v.G.J. en 70 G.J.