Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 8/1 bl. 4-6
  • Hoe om jou gewete op te lei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om jou gewete op te lei
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verstand, die hart en jou gewete
  • Wanneer ons verkeerd doen
  • “Behou ’n goeie gewete”
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Is jou gewete ’n betroubare gids?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 8/1 bl. 4-6

Hoe om jou gewete op te lei

“’NGOEIE gewete is ’n sagte oorkussing.” Hierdie ou gesegde beklemtoon ’n belangrike feit: Wanneer ons na die stem van ons gewete luister, geniet ons innerlike vrede en gemoedsrus.

Maar nie almal kies om dit te doen nie. Adolf Hitler het gesê dat hy op ’n sending is om die mens te bevry van die vernederende hersenskim, of illusie, wat as die gewete bekend staan. Sy skrikbewind het ’n ysingwekkende blik gegee van hoe wreed mense kan wees wanneer hulle hulle gewete ignoreer. Baie van vandag se gewelddadige misdadigers—dié wat verkrag en moor sonder berou—is net so genadeloos. Toenemende getalle van hierdie oortreders is nog baie jonk. ’n Boek wat hierdie verskynsel bespreek het, het gevolglik die ondertitel Children Without a Conscience (Kinders sonder ’n gewete) gehad.

Hoewel die meeste mense nooit daaraan sou dink om ’n geweldsmisdaad te pleeg nie, maak baie mense hulle sonder enige gewetenskwelling aan geslagsonsedelikheid, leuentaal of bedrog skuldig. Daar is wêreldwyd ’n sedelike verval. Met verwysing na die groot afval van ware aanbidding het die apostel Paulus geskryf dat party Christene voor die wêreld se invloed sou swig en gevolglik word hulle “in hulle gewete gemerk . . . soos met ’n brandyster” (1 Timoteus 4:2). Die gevaar om verdorwe te raak, is vandag gedurende hierdie “laaste dae” selfs groter (2 Timoteus 3:1). Christene moet hulle gevolglik ernstig inspan om hulle gewete te beveilig. Ons kan dit doen deur ons gewete op te lei en te vorm.

Die verstand, die hart en jou gewete

Die apostel Paulus het gesê: “Ek vertel die waarheid in Christus; ek lieg nie, aangesien my gewete saam met my getuig in heilige gees” (Romeine 9:1). Die gewete kan dus getuig. Dit kan ’n gedragswyse ondersoek en dit óf goedkeur óf veroordeel. ’n Groot deel van ons sin vir wat reg en verkeerd is, is deur ons Skepper in ons geplaas. Ons gewete kan nietemin gevorm en opgelei word. Hoe? Deur juiste kennis uit God se Woord in te neem. “Word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis”, sê die apostel Paulus (Romeine 12:2). Namate ’n mens jou gedagtes met God se denke en wil voed, begin jou gewete op ’n godvrugtiger manier funksioneer.

Jehovah se Getuies het al miljoene mense oor die hele wêreld gehelp om ‘kennis van Jehovah God en Jesus Christus in te neem’ (Johannes 17:3). Deur middel van hulle gratis tuisbybelstudieprogram leer hulle opregtes van hart wat Jehovah God se standaarde is met betrekking tot seks, sterk drank, die huwelik, sakebedrywighede en ’n menigte ander onderwerpe (Spreuke 11:1; Markus 10:6-12; 1 Korintiërs 6:9, 10; Efesiërs 5:28-33).a Die inneem van hierdie “juiste kennis” is ’n belangrike stap om ’n godvrugtige gewete aan te kweek (Filippense 1:9). ’n Christen moet natuurlik selfs nadat hy ’n volwasse begrip van die Bybel verkry het, voortgaan om sy verstand gereeld met God se Woord te voed as hy ’n gesonde gewete wil behou.—Psalm 1:1-3.

Die Bybel verbind ook die gewete met die figuurlike hart, wat ons gevoelens en emosies insluit (Romeine 2:15). Die verstand en die hart moet eensgesind saamwerk om die gewete sy werk behoorlik te laat doen. Dit behels dat jy meer moet doen as om jou verstand met inligting te vul. Jy moet ook jou hart vorm—jou innerlike gevoelens, begeertes en drange. Die boek Spreuke gebruik gevolglik uitdrukkings soos ‘neig jou hart’, “rig jou hart” en “lei jou hart” (Spreuke 2:2; 23:19, vgl. NW; 27:23, vgl. NW). Een manier waarop jy dit kan doen, is om oor die Skrif te peins en na te dink. “[Ek wil] al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade”, sê Psalm 77:13. Bepeinsing help ons om ’n indruk te maak op ons diepste gevoelens en beweegredes.

Gestel byvoorbeeld dat jy ’n onrein gewoonte het soos verslaafdheid aan tabak. Soos die meeste mense is jy ongetwyfeld deeglik bewus van die gesondheidsgevare wat dit inhou. Maar ten spyte van die aansporing van vriende en familielede vind jy dit moeilik om op te hou. Hoe kan jou gewete in hierdie verband versterk word as jy oor die Bybel se boodskap peins?

Probeer byvoorbeeld om oor die apostel Paulus se woorde in 2 Korintiërs 7:1 te peins: “Aangesien ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en in die vrees van God heiligheid vervolmaak.” Kry die sin van hierdie woorde. Vra jou af: ‘Presies wat is “hierdie beloftes” waarna Paulus verwys?’ As jy die konteks lees, sal jy oplet dat die vorige verse sê: “‘“Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af”, sê Jehovah, “en hou op om wat onrein is aan te raak”’; ‘“en ek sal julle inneem”’. ‘“En ek sal vir julle ’n vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees”, sê Jehovah die Almagtige.’”—2 Korintiërs 6:17, 18.

Paulus se bevel om ‘ons van verontreiniging te reinig’, het nou groter trefkrag! As ’n kragtige aansporing om dit te doen, belowe God om ‘ons in te neem’, met ander woorde, om ons onder sy beskermende sorg te plaas. Jy kan jou afvra: ‘Sal ek ’n hegte verhouding met hom geniet—soos dié van ’n seun of ’n dogter met ’n vader?’ Is die gedagte om deur ’n wyse, liefdevolle God ‘ingeneem te word’ nie baie aantreklik nie? As daardie gedagte vir jou iets vreemds is, kyk gerus hoe liefdevolle vaders hulle kinders met liefde en toegeneentheid behandel. Stel jou nou voor dat daar so ’n band tussen jou en Jehovah is! Hoe meer jy hieroor peins, hoe groter word die begeerte na so ’n verhouding.

Maar let op: ’n Hegte verhouding met God is slegs moontlik indien jy ‘ophou om wat onrein is aan te raak’. Vra jou af: ‘Is verslaafdheid aan tabak nie een van die “onrein” dinge wat God veroordeel nie? Sou die gebruik daarvan nie ’n “verontreiniging van die vlees” wees wat my aan allerhande gesondheidsgevare blootstel nie? Kan dit, in die lig van die feit dat Jehovah ’n rein, of “heilige”, God is, sy goedkeuring wegdra dat ek my op hierdie manier opsetlik verontreinig?’ (1 Petrus 1:15, 16). Merk dat Paulus ons ook waarsku teen die ‘verontreiniging van ons gees’, of geestesneiging. Vra jou af: ‘Oorheers hierdie verslawing my denke? Sal ek groot moeite doen om my drang te bevredig, miskien ten koste van my gesondheid, my gesin of selfs my verhouding met God? In watter mate het ek toegelaat dat my verslaafdheid aan tabak my lewe skaad?’ Die antwoorde op hierdie ontstellende vrae sal jou heel moontlik die moed gee om op te hou!

Jy sal natuurlik die hulp en ondersteuning van ander nodig hê om die stryd teen tabak te wen. As jy oor die Bybel peins, kan dit nogtans baie daartoe bydra om jou gewete op te lei en te versterk sodat jy jou van hierdie verslawing kan bevry.

Wanneer ons verkeerd doen

Ten spyte van ons beste pogings om te doen wat reg is, kry ons onvolmaaktheid soms die oorhand oor ons en sondig ons. Ons gewete sal ons dan kwel, maar die versoeking is daar om dit te probeer ignoreer. Of ons word moontlik so mismoedig dat ons alle pogings om God te dien, wil laat vaar. Maar dink aan die geval van koning Dawid. Nadat hy met Batseba egbreuk gepleeg het, het sy gewete hom geteister. Hy het sy sielslyding beskryf: “U hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed” (Psalm 32:4). Pynlik? Beslis! Maar hierdie godvrugtige droefheid het Dawid beweeg om berou te toon en met God versoen te raak. (Vergelyk 2 Korintiërs 7:10.) Dawid se smartlike smeking om vergifnis het oorgenoeg bewys van sy opregte berou gelewer. Omdat Dawid op sy gewete ag geslaan het, is hy gehelp om te verander en het hy uiteindelik sy vreugde herwin.—Psalm 51.

Dieselfde kan vandag gebeur. Party het in die verlede die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, maar het opgehou toe hulle gesien het dat hulle lewe nie in harmonie met God se hoë standaarde is nie. Miskien het hulle saam met iemand van die ander geslag gelewe sonder die voordeel van die huwelik of moontlik was hulle slawe van onrein gewoontes. Hulle gewete het hulle gepynig!

As jy jou in so ’n situasie bevind, moet jy let op die woorde van die apostel Petrus op Pinksterdag. Toe hy die sondes van sy Joodse landgenote blootgelê het, “is hulle diep in die hart getref”. Pleks van moed te verloor, het hulle ag geslaan op Petrus se raad om berou te toon en het hulle God se guns verkry (Handelinge 2:37-41). Jy kan dieselfde doen! In plaas van die waarheid te verlaat omdat jou gewete jou pynig, moet jy na jou gewete luister en ‘berou toon en omdraai’ (Handelinge 3:19). Met vasbeslotenheid en inspanning kan jy die nodige veranderinge aanbring om God se guns te verkry.

“Behou ’n goeie gewete”

Hetsy jy pas begin het om Jehovah se weë te leer of al baie jare se ondervinding as ’n volwasse Christen het, Petrus se vermaning is gepas: “Behou ’n goeie gewete” (1 Petrus 3:16). Dit is ’n aanwins, nie ’n las nie. Lei dit op deur jou verstand en hart te voed met die wysheid in God se Woord, die Bybel. Slaan ag op jou gewete wanneer dit jou waarsku. Geniet die innerlike gemoedsrus wat gehoorsaamheid aan jou gewete kan bring.

Die opleiding en vorming van jou gewete is weliswaar nie ’n maklike taak nie. Maar jy kan tot Jehovah God bid om jou by te staan. Met sy hulp, sal jy God “uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary” kan dien.—1 Timoteus 1:5.

[Voetnoot]

a Kom gerus met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in aanraking of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif as jy in ’n gratis tuisbybelstudie belangstel.

[Prent op bladsy 6]

Om God se Woord te lees en te bepeins, help ons om ons gewete op te lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel