Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 6/15 bl. 4-8
  • Hoe het God die Bybel geïnspireer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe het God die Bybel geïnspireer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Groot inspanning was nodig
  • Praktiese raad—Van wie?
  • Menseskrywers—Waarom?
  • Wie is die Outeur van die Bybel?
    Ontwaak!—2007
  • ‘Hulle is deur heilige gees meegevoer’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wysheid in “die woord van God”
    Kom nader aan Jehovah
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 6/15 bl. 4-8

Hoe het God die Bybel geïnspireer?

KOMMUNIKASIE is vandag meer fassinerend as in enige ander tyd in die geskiedenis. Telefone, faksmasjiene, rekenaars—wie sou hulle jare terug ’n tyd kon voorstel wanneer boodskappe in ’n oogwink na feitlik enige plek in die wêreld oorgesend word?

Maar die interessantste soort kommunikasie is ’n soort wat die mens nie kan bemeester nie—Goddelike inspirasie. Jehovah het sowat 40 menseskrywers geïnspireer om sy geskrewe Woord, die Bybel, voort te bring. Net soos mense meer as een kommunikasiemiddel tot hulle beskikking het, net so het Jehovah verskeie kommunikasiemetodes gebruik om die Skrif te inspireer.

Diktering. God het spesifieke boodskappe gekommunikeer wat later in die Bybelverslag opgeneem is.a Neem byvoorbeeld die voorskrifte waaruit die Wetsverbond bestaan. “Skrywe vir jou hierdie woorde op,” het Jehovah vir Moses gesê, “want volgens hierdie woorde het Ek ’n verbond gesluit met jou en met Israel” (Exodus 34:27). Daardie “woorde”, wat ‘deur engele oorgedra’ is, is deur Moses neergeskryf en kan nou in die Bybelboeke Exodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium gevind word.—Handelinge 7:53.

Baie ander profete, onder andere Jesaja, Jeremia, Esegiël, Amos, Nahum en Miga, het spesifieke boodskappe van God deur engele ontvang. Soms het hierdie manne hulle verklarings begin met die uitdrukking: “So spreek [of “sê”] die HERE” (Jesaja 37:6; Jeremia 2:2; Esegiël 11:5; Amos 1:3; Miga 2:3; Nahum 1:12). Dan het hulle wat God gesê het in geskrewe vorm oorgesit.

Visioene, drome en verrukkings. ’n Visioen is ’n gesig, toneel of boodskap wat in ’n persoon se gedagtes geplaas word terwyl hy wakker is, gewoonlik op die een of ander buitengewone manier. Petrus, Jakobus en Johannes het byvoorbeeld, “toe hulle heeltemal wakker word”, ’n visioen gesien van Jesus wat van gedaante verander het (Lukas 9:28-36; 2 Petrus 1:16-21). In party gevalle is ’n boodskap in ’n droom, of naggesig, oorgedra wat in die ontvanger se onderbewuste geplaas is terwyl hy geslaap het. Daniël skryf dus van “die gesigte van my hoof op my bed”—of, soos vertaler Ronald A. Knox dit weergee, “terwyl ek in my droom daarna gelê en kyk het”.—Daniël 4:10.

Iemand oor wie Jehovah ’n verrukking laat kom het, was blykbaar versink in ’n toestand van diepe konsentrasie, hoewel hy ten minste gedeeltelik wakker was. (Vergelyk Handelinge 10:9-16.) In die Bybel beteken die Griekse woord wat as “verrukking” (ekʹsta·sis) vertaal word ‘om iets weg te sit of ’n verplasing’. Dit laat ’n mens dink aan ’n toestand waar die normale gedagtegang gewysig word. Iemand wat in ’n verrukking is, sal dus onbewus van sy omgewing wees terwyl hy die visioen ten volle inneem. Die apostel Paulus was waarskynlik in so ’n verrukking toe hy “tot in die paradys weggeruk is en onuitspreeklike woorde gehoor het wat dit ’n mens nie geoorloof is om te spreek nie”.—2 Korintiërs 12:2-4.

In teenstelling met diegene wat gedikteerde boodskappe van God oorgeskryf het, het Bybelskrywers wat visioene of drome ontvang of verrukkings beleef het dikwels ’n mate van vryheid gehad om in hulle eie woorde te beskryf wat hulle gesien het. Daar is vir Habakuk gesê: “Skryf die visioen op, en sit dit duidelik op tafels uiteen, sodat die een wat daaruit voorlees dit vlot kan doen.”—Habakuk 2:2, NW.

Beteken dit dat hierdie dele van die Bybel enigsins minder geïnspireerd is as gedeeltes wat gedikteer is? Glad nie. Deur sy gees het Jehovah sy boodskap diep in die verstand van elke skrywer ingeprent, sodat God se gedagtes oorgedra is, en nie ’n mens s’n nie. Hoewel Jehovah die skrywer toegelaat het om gepaste woorde te kies, het hy die skrywer se verstand en hart gerig sodat geen noodsaaklike inligting uitgelaat is nie en sodat die woorde uiteindelik tereg as die woorde van God beskou is.—1 Tessalonisense 2:13.

Goddelike openbaring. Die Bybel bevat profesieë—geskiedenis wat vooruit geopenbaar en geskryf is—wat ver bo blote menslike vermoë is. Een voorbeeld is die opkoms en ondergang van “die koning van Griekeland”, Aleksander die Grote, wat sowat 200 jaar vooruit voorspel is! (Daniël 8:1-8, 20-22). Die Bybel openbaar ook dinge wat nooit deur die oë van mense gesien is nie. Die skepping van die hemel en die aarde is een voorbeeld (Genesis 1:1-27; 2:7, 8). Dan is daar gesprekke wat in die hemel plaasgevind het, soos dié wat in die boek Job opgeteken is.—Job 1:6-12; 2:1-6.

As dit nie regstreeks deur God aan die skrywer geopenbaar is nie, is sulke gebeure deur God aan iemand bekend gemaak sodat dit deel geword het van die mondelinge of geskrewe geskiedenis, wat van een geslag aan die volgende oorgedra is totdat dit deel van die Bybelverslag geword het. (Sien venster op bladsy 7.) Ons kan nogtans seker wees dat Jehovah die Bron van al sulke inligting was en dat hy die skrywers gerig het sodat hulle verslae nie onjuisthede, oordrywings of mites bevat het nie. Petrus het oor profesieë geskryf: “Mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”b—2 Petrus 1:21.

Groot inspanning was nodig

Hoewel die Bybelskrywers “deur heilige gees meegevoer is”, was dit nietemin vir hulle nodig om ernstige oorweging te skenk aan wat hulle geskryf het. Salomo het byvoorbeeld “oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel. [Hy] het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid.”—Prediker 12:9, 10.

Party Bybelskrywers moes baie navorsing doen voordat hulle hulle stof op skrif kon stel. Lukas het byvoorbeeld van sy Evangelieverslag geskryf: ‘Ek het alles van die begin af noukeurig nagespeur om dit in logiese volgorde te skryf.’ God se gees het natuurlik Lukas se pogings geseën en hom ongetwyfeld beweeg om geloofwaardige geskiedskrifte te vind en onderhoude met betroubare ooggetuies te voer, mense soos die dissipels wat nog gelewe het en moontlik Jesus se moeder, Maria. God se gees sou Lukas dan rig om die inligting akkuraat neer te skryf.—Lukas 1:1-4.

In teenstelling met Lukas se Evangelie, was Johannes s’n ’n ooggetuieverslag, wat ongeveer 65 jaar ná Jesus se dood geskryf is. Jehovah se gees het ongetwyfeld Johannes se geheue verskerp sodat dit nie deur die verloop van tyd verswak sou word nie. Dit sou in ooreenstemming wees met wat Jesus sy volgelinge belowe het: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, dié sal julle alles leer en julle weer gedagtig maak aan alles wat ek julle vertel het.”—Johannes 14:26.

In party gevalle het Bybelskrywers versamelings van ooggetuiegeskrifte van vroeëre geskiedskrywers ingesluit, wat nie almal geïnspireer was nie. Jeremia het Eerste en Tweede Konings hoofsaaklik so saamgestel (2 Konings 1:18). Esra het ten minste 14 niegeïnspireerde bronne geraadpleeg om inligting te versamel vir Eerste en Tweede Kronieke, onder meer “die verslag van die aangeleenthede van die dae van koning Dawid” en “die Boek van die konings van Juda en Israel” (1 Kronieke 27:24, NW; 2 Kronieke 16:11). Moses het selfs aangehaal uit “die Boek van die Oorloë van die HERE”—blykbaar ’n betroubare verslag van die oorloë van God se volk.—Numeri 21:14, 15.

In sulke gevalle was heilige gees daadwerklik daarby betrokke om die Bybelskrywers te beweeg om slegs betroubare materiaal te kies, wat dan deel geword het van die geïnspireerde Bybelverslag.

Praktiese raad—Van wie?

Die Bybel bevat ’n oorvloed praktiese raad wat op insigryke persoonlike waarnemings gegrond is. Salomo het byvoorbeeld geskryf: “In die geval van ’n mens is daar niks beters as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk nie. Ook dit het ek gesien‚ ja ek‚ dat dit uit die hand van die ware God is” (Prediker 2:24, NW). Paulus het gesê dat sy raad aangaande die huwelik “na [sy] mening” is, hoewel hy bygevoeg het: “Ek dink beslis dat ek ook God se gees het” (1 Korintiërs 7:25, 39, 40). Paulus het beslis God se gees gehad, want soos die apostel Petrus gesê het, was dít wat Paulus geskryf het “ooreenkomstig die wysheid wat aan hom gegee is” (2 Petrus 3:15, 16). Hy is dus deur God se gees gerig om sy mening te gee.

Wanneer Bybelskrywers sulke persoonlike oortuigings uitgespreek het, het hulle dit gedoen teen ’n agtergrond van Bybelstudie en toepassing van die dele van die Skrif wat tot hulle beskikking was. Ons kan seker wees dat wat hulle geskryf het met God se sienswyse ooreengestem het. Wat hulle neergeskryf het, het deel van God se Woord geword.

Die Bybel bevat natuurlik ook die stellings van sommige wie se beskouing oor sake verkeerd was. (Vergelyk Job 15:15 met 42:7.) Dit bevat ook ’n paar uitinge wat die beangste gevoelens van God se knegte beskryf, hoewel dit nie die geheelbeeld van die situasie oorgedra het nie.c Terwyl die skrywer sulke persoonlike opmerkings gemaak het, is hy nietemin deur God se gees gerig om ’n akkurate verslag op te stel, wat ons gehelp het om verkeerde denke te identifiseer en aan die kaak te stel. Daarbenewens maak die verband dit in elke geval vir enige redelike leser duidelik of die skrywer se sienswyse geldig is.

Kortom, ons kan vol vertroue wees dat die hele Bybel God se boodskap is. Jehovah het waarlik toegesien dat alles wat daarin opgeteken is by sy voorneme gepas het en noodsaaklike onderrigting voorsien het vir diegene wat hom wil dien.—Romeine 15:4.

Menseskrywers—Waarom?

Die feit dat Jehovah mense gebruik het om die Bybel te skryf, is ’n blyk van sy groot wysheid. Dink hieraan: Sou die Bybel dieselfde trefkrag gehad het as God dit aan engele oorgelaat het om dit te skryf? Dit sou weliswaar baie interessant wees om van God se eienskappe en handelinge uit die oogpunt van ’n engel te lees. Maar as die menslike element heeltemal ontbreek het, sou dit dalk vir ons moeilik gewees het om die Bybel se boodskap te verstaan.

Ter toeligting: Die Bybel kon eenvoudig gesê het dat koning Dawid egbreuk en moord gepleeg het en daarna berou getoon het. Maar hoeveel beter is dit tog om Dawid se eie woorde te hê toe hy sy smart oor sy handelswyse op hartroerende wyse uitgespreek het en om Jehovah se vergifnis gesmeek het! “My sonde is altyddeur voor my”, het hy geskryf. “’n Gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:5, 19). Die Bybel het dus die hartlikheid, verskeidenheid en bekoring wat die menslike element dit gee.

Ja, Jehovah het die beste manier gekies om ons sy Woord te gee. Hoewel mense met swakhede en foute gebruik is, is hulle deur heilige gees meegevoer sodat daar geen dwalinge in hulle geskrifte sou wees nie. Die Bybel is dus van die allergrootste waarde. Die raad daarin is betroubaar, en die profesieë daarin oor die toekomstige Paradys op die aarde is geloofwaardig.—Psalm 119:105; 2 Petrus 3:13.

Maak dit gerus ’n gewoonte om elke dag ’n gedeelte van God se Woord te lees. Petrus het geskryf: “Ontwikkel . . . ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei” (1 Petrus 2:2). Aangesien dit deur God geïnspireer is, sal jy vind dat die hele Skrif “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Timoteus 3:16, 17.

[Voetnote]

a In ten minste een geval, dié van die Tien Gebooie, is die inligting regstreeks “met die vinger van God” geskryf. Moses het toe bloot daardie woorde op boekrolle of ander materiaal oorgeskryf.—Exodus 31:18; Deuteronomium 10:1-5.

b Die Griekse woord wat hier as “meegevoer is” vertaal is, feʹro, word in Handelinge 27:15, 17 in ’n ander vorm gebruik om ’n skip te beskryf wat deur die wind voortbeweeg word. Heilige gees het dus die Bybelskrywers op hulle ‘koers gestuur’. Dit het hulle beweeg om enige inligting te verwerp wat vals was en net in te sluit wat op feite gegrond was.

c Vergelyk byvoorbeeld 1 Konings 19:4 met verse 14 en 18; Job 10:1-3; Psalm 73:12, 13, 21; Jona 4:1-3, 9; Habakuk 1:1-4, 13.

[Venster op bladsy 7]

Waar Het moses Sy inligting Gekry?

MOSES het die Bybelboek Genesis geskryf, maar alles wat hy opgeteken het, het lank voor sy geboorte plaasgevind. Waarvandaan het hy dan hierdie inligting gekry? God kon dit regstreeks aan hom geopenbaar het, of inligting oor party van die gebeure kon mondelings van een geslag aan die ander oorgedra gewees het. Aangesien mense in vroeë tye langer geleef het, kon baie van die dinge wat Moses in Genesis opgeteken het deur net vyf menslike skakels van Adam tot Moses oorgedra gewees het—Metusalag, Sem, Isak, Levi en Amram.

Daarbenewens het Moses dalk geskrewe verslae geraadpleeg. In hierdie verband is dit opmerklik dat Moses dikwels die uitdrukking “dit is die geskiedenis van” gebruik voordat hy die persoon noem wat bespreek word. (Genesis 6:9; 10:1, NW; 11:10, 27, NW; 25:12, 19, NW; 36:1, 9; 37:2; ons kursiveer.) Party geleerdes sê dat die Hebreeuse woord too·le·dhoothʹ wat hier as “geskiedenis” vertaal word, verwys na ’n reeds bestaande geskiedskrif wat Moses as bron gebruik het vir wat hy geskryf het. Dit kan natuurlik nie met sekerheid gesê word nie.

Dit kan wees dat die inligting in die boek Genesis op al drie die bogenoemde maniere verkry is—’n deel daarvan deur regstreekse openbaring, ’n deel daarvan deur mondelinge oordrag en ’n deel daarvan uit geskrewe verslae. Die belangrike punt is dat Jehovah se gees Moses geïnspireer het. Wat hy geskryf het, word dus tereg as die woord van God beskou.

[Prent op bladsy 4]

God het op verskillende maniere mense geïnspireer om die Bybel te skryf

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel