Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 2/1 bl. 14-19
  • “Hoewel Julle hom nooit gesien het nie, het julle hom lief”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hoewel Julle hom nooit gesien het nie, het julle hom lief”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die dinge wat hulle gehoor het
  • Die gees wat hy geopenbaar het
  • Sy nederige vertroue op God
  • Hoe ons ons liefde vir hom kan toon
  • Sal jy op Jesus se liefde reageer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • ’n Groot Leermeester openbaar die Skepper duideliker aan ons
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • “Om die liefde van die Christus te ken”
    Kom nader aan Jehovah
  • Opgelei om ’n deeglike getuienis te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 2/1 bl. 14-19

“Hoewel Julle hom nooit gesien het nie, het julle hom lief”

“Hoewel julle hom nooit gesien het nie, het julle hom lief. Hoewel julle hom nie nou aanskou nie, beoefen julle tog geloof in hom en verheug julle julle grootliks.”—1 PETRUS 1:8.

1. Hoe probeer sommige godsdienstige mense toegewydheid aan Jesus betoon, hoewel niemand wat vandag op aarde lewe hom gesien het nie?

NIEMAND wat vandag op aarde lewe, het Jesus Christus ooit gesien nie. Tog sê miljoene mense dat hulle hom liefhet. Elke jaar op 9 Januarie, in Manila, in die Filippyne, word ’n lewensgroot standbeeld van Jesus Christus wat ’n kruis dra deur die strate getrek in wat al as die grootste, skouspelagtigste vertoning van volksgodsdiens in die land beskryf is. Die opgewonde skare stamp en stoot; mense klim selfs oor mekaar in ’n woeste poging om aan die beeld te raak. Baie wat teenwoordig is om dit te sien, word hoofsaaklik deur die feestelike optog aangetrek. Maar sommige van hulle is ongetwyfeld mense wat opreg tot Jesus aangetrokke voel. As bewys hiervan dra hulle dalk ’n kruis of gaan hulle miskien gereeld kerk toe. Maar kan sulke afgodediens as ware aanbidding beskou word?

2, 3. (a) Wie van Jesus se volgelinge het hom persoonlik gesien en gehoor? (b) Wie anders was daar in die eerste eeu wat Jesus liefgehad en geloof in hom gestel het, al het hulle hom nooit self gesien nie?

2 In die eerste eeu was daar duisende mense in die Romeinse provinsies Judea, Samaria, Perea en Galilea wat Jesus Christus persoonlik gesien en gehoor het. Hulle het geluister terwyl hy hartverblydende waarhede oor die Koninkryk van God verduidelik het. Hulle was ooggetuies van die wonderwerke wat hy gedoen het. Sommige van hulle het sy getroue dissipels geword, oortuig dat hy “die Christus, die Seun van die lewende God”, is (Matteus 16:16). Maar diegene aan wie die apostel Petrus sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, was nie onder hulle nie.

3 Diegene tot wie Petrus sy brief gerig het, het in die Romeinse provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië gewoon—wat almal in die gebied van die hedendaagse Turkye geleë is. Aan hulle het Petrus geskryf: “Hoewel julle hom nooit gesien het nie, het julle hom lief. Hoewel julle hom nie nou aanskou nie, beoefen julle tog geloof in hom en verheug julle julle grootliks met ’n onuitspreeklike en verheerlikte vreugde” (1 Petrus 1:1, 8). Hoe het hulle Jesus Christus in dié mate leer ken dat hulle hom liefgehad en geloof in hom beoefen het?

4, 5. Hoe het daardie mense wat Jesus nooit gesien het nie genoeg van hom geleer om hom lief te hê en geloof in hom te stel?

4 Sommige van hulle was klaarblyklik in Jerusalem toe die apostel Petrus vir die skare getuig het wat die Pinksterfees in 33 G.J. bygewoon het. Ná die fees het baie dissipels in Jerusalem gebly om verdere onderrigting van die apostels te ontvang. (Handelinge 2:9, 41, 42; vergelyk 1 Petrus 1:1.) Tydens herhaalde sendingreise het die apostel Paulus sy bediening ook ywerig uitgevoer onder die mense wat in die gebied gewoon het waarheen Petrus later die eerste Bybelse brief gestuur het wat sy naam dra.—Handelinge 18:23; 19:10; Galasiërs 1:1, 2.

5 Waarom het daardie mense, wat Jesus nooit gesien het nie, so sterk aangetrokke tot hom gevoel? Waarom het miljoene ander in ons dag, regoor die aarde, hom innig lief?

Die dinge wat hulle gehoor het

6. (a) Wat sou jy kon leer as jy op Pinkster 33 G.J. gehoor het hoe Petrus oor Jesus getuig? (b) Watter uitwerking het dit op sowat 3000 mense gehad wat teenwoordig was?

6 Wat sou jy van Jesus geleer het as jy in Jerusalem was toe Petrus met daardie skare by die fees in 33 G.J. gepraat het? Die wonderwerke wat hy gedoen het, het bo alle twyfel getoon dat hy deur God gestuur is. Dat Jesus, hoewel sondige mense hom doodgemaak het, nie meer in die graf was nie, maar opgewek is en toe tot die regterhand van God in die hemel verhef is. Dat Jesus inderdaad die Christus, die Messias, was oor wie die profete geskryf het. Dat heilige gees deur middel van Jesus Christus op sy volgelinge uitgestort is sodat hulle onmiddellik vir mense uit baie nasies kon getuig oor die wonderlike dinge wat God deur middel van sy Seun doen. Baie mense wat by daardie geleentheid na Petrus geluister het se hart is diep geraak, en sowat 3000 is as Christendissipels gedoop (Handelinge 2:14-42). Sou jy sulke besliste stappe gedoen het as jy daar was?

7. (a) Wat sou jy dalk geleer het as jy in Antiogië was toe die apostel Paulus daar gepreek het? (b) Waarom het party in die skare gelowiges geword en die goeie nuus aan ander verkondig?

7 Wat anders sou jy dalk van Jesus geleer het as jy teenwoordig was toe die apostel Paulus mense in Antiogië in die Romeinse provinsie Galasië onderrig het? Jy sou gehoor het hoe Paulus verduidelik dat die profete voorspel het dat Jesus deur die heersers in Jerusalem tot die dood veroordeel sou word. Jy sou ook gehoor het dat daar ooggetuies van Jesus se opstanding was. Jy sou beslis beïndruk gewees het deur Paulus se verduideliking dat Jehovah bevestig het dat Jesus waarlik die Seun van God was deur hom uit die dood op te wek. En sou dit jou hart nie verbly het om uit te vind dat die vergifnis van sondes wat deur geloof in Jesus moontlik gemaak is tot die ewige lewe kan lei nie? (Handelinge 13:16-41, 46, 47; Romeine 1:4). Omdat party in Antiogië die belangrikheid besef het van wat hulle gehoor het, het hulle dissipels geword en die goeie nuus ywerig aan ander verkondig, al het dit beteken dat hulle kwaai vervolg sou word.—Handelinge 13:42, 43, 48-52; 14:1-7, 21-23.

8. Wat sou jy kon leer as jy by die vergadering van die gemeente in Efese was toe Paulus se brief aan hulle ontvang is?

8 Sê nou jy was in die Christengemeente in Efese, in die Romeinse provinsie Asië, toe hulle Paulus se geïnspireerde brief aan die dissipels ontvang het? Wat sou jy daaruit kon leer aangaande Jesus se rol in God se voorneme? In daardie brief het Paulus verduidelik dat alle dinge in die hemel en op die aarde deur Christus weer in eenheid met God gebring sou word, dat God se gawe deur Christus mense van alle nasies insluit, dat mense wat in God se oë dood was weens hulle oortredinge lewend gemaak word deur geloof in Christus en dat mense weer geliefde seuns van God kon word danksy hierdie voorsiening.—Efesiërs 1:1, 5-10; 2:4, 5, 11-13.

9. (a) Wat kan jou help om te bepaal of jy persoonlik die belangrikheid besef van wat Paulus aan die Efesiërs geskryf het? (b) Hoe is die broers in die Romeinse provinsies waarvan Petrus melding gemaak het, geraak deur wat hulle oor Jesus geleer het?

9 Sou waardering vir al hierdie dinge jou liefde vir God se Seun versterk het? Sou daardie liefde jou daaglikse lewe beïnvloed het, soos die apostel Paulus ons in hoofstukke 4 tot 6 van Efesiërs aangespoor het? Sou sulke waardering jou beweeg het om jou eie prioriteite in die lewe noukeurig te ondersoek? Sou jy uit liefde vir God en dankbaarheid vir sy Seun die nodige veranderinge aangebring het sodat jou lewe om die uitvoering van God se wil kan draai? (Efesiërs 5:15-17). Die apostel Petrus het die volgende aan Christene in Asië, Galasië en ander Romeinse provinsies geskryf oor die manier waarop hulle geraak is deur wat hulle geleer het: “Hoewel julle [Jesus Christus] nooit gesien het nie, het julle hom lief. . . . [Julle beoefen] geloof in hom en verheug julle . . . grootliks met ’n onuitspreeklike en verheerlikte vreugde.”—1 Petrus 1:8.

10. (a) Wat het ongetwyfeld tot die vroeë Christene se liefde vir Jesus bygedra? (b) Hoe kan ons ook daarby baat vind?

10 Vir daardie vroeë Christene tot wie Petrus sy brief gerig het, was daar ongetwyfeld iets anders wat bygedra het tot die liefde wat hulle vir God se Seun gehad het. Wat was dit? Teen die tyd dat Petrus sy eerste brief geskryf het, was ten minste twee van die Evangelies—Matteus en Lukas—reeds in sirkulasie. Eerste-eeuse Christene wat Jesus nooit gesien het nie, kon hierdie Evangelieverslae lees. Ons kan ook. Die Evangelies is nie verdigte verslae nie; hulle het al die kenmerke van die betroubaarste geskiedenis. In daardie geïnspireerde verslae vind ons baie wat ons liefde vir God se Seun versterk.

Die gees wat hy geopenbaar het

11, 12. Wat is daar omtrent die gees wat Jesus teenoor ander mense geopenbaar het wat daartoe lei dat jy hom liefhet?

11 Daar in die geskrewe verslag van Jesus se lewe leer ons hoe hy ander mense behandel het. Die gees wat hy geopenbaar het, raak die harte van mense selfs nou, meer as 1960 jaar ná sy dood. Almal wat lewe, is belas met die gevolge van sonde. Miljoene mense is slagoffers van ongeregtigheid, ly aan siektes of ervaar om ander redes verpletterende teleurstellings. Aan al sulke mense sê Jesus: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.

12 Jesus het gevoelvolle besorgdheid vir die armes, dié wat honger was en die treurendes getoon. Wanneer omstandighede dit genoodsaak het, het hy selfs groot skares wonderdadig gevoed (Lukas 9:12-17). Hy het hulle van verslawende tradisies bevry. Hy het ook hulle geloof opgebou in God se voorsiening om ’n einde te maak aan politieke en ekonomiese verdrukking. Jesus het nie die gees verbrysel van mense wat reeds vertrap was nie. Hy het die sagmoediges op vaardige wyse met teerheid en liefde opgehelp. Hy het diegene verkwik wat soos beskadigde riete was wat geknak was sowel as diegene wat soos smeulende vlaspitte was wat op die punt gestaan het om geblus te word. Reg tot in ons tyd boesem sy naam hoop in, selfs in die hart van diegene wat hom nog nooit gesien het nie.—Matteus 12:15-21; 15:3-10.

13. Waarom word mense aangetrek deur die manier waarop Jesus sondaars behandel het?

13 Jesus het nie oortredings goedgekeur nie, maar hy het begrip getoon vir mense wat foute in die lewe gemaak het maar berouvol was en hulle tot hom om hulp gewend het (Lukas 7:36-50). Hy sou gaan aansit en ’n maaltyd met mense nuttig wat in die gemeenskap verag is as hy gedink het dat dit ’n geleentheid sou bied om hulle geestelik te help (Matteus 9:9-13). As gevolg van die gees wat hy aan die dag gelê het, is miljoene mense wat hulle in soortgelyke omstandighede bevind en wat Jesus nog nooit gesien het nie, beweeg om hom te leer ken en geloof in hom te stel.

14. Wat vind jy aantreklik in die manier waarop Jesus siek, gestremde of bedroefde mense gehelp het?

14 Die manier waarop Jesus siek of gestremde mense behandel het, getuig van sy hartlikheid en medelye sowel as van sy vermoë om hulle verligting te gee. Toe ’n siek man wat vol melaatsheid was hom dus genader en om hulp gesmeek het, het die gesig Jesus nie in afgryse laat terugdeins nie. En hy het nie vir die man gesê dat hy wel medelye vir hom gevoel het, maar dat die siekte te ver gevorderd was en niks gedoen kon word om hom te help nie. Die man het gesmeek: “Here, as u net wil, kan u my rein maak.” Sonder om te aarsel, het Jesus sy hand uitgesteek, die melaatse man aangeraak en gesê: “Ek wil. Word gereinig” (Matteus 8:2, 3). By ’n ander geleentheid wou ’n vrou genees word deur ongemerk aan die fraiings van sy kleed te raak. Jesus het haar op ’n vriendelike en gerusstellende manier behandel (Lukas 8:43-48). En toe hy ’n lykstoet teëkom, is hy ontroer deur medelye met die treurende weduwee wie se enigste seun gesterf het. Alhoewel Jesus geweier het om sy godgegewe krag wonderdadig te gebruik om kos vir homself te voorsien, het hy dit vryelik gebruik om daardie dooie man op te wek en hom aan sy moeder terug te gee.—Lukas 4:2-4; 7:11-16.

15. Watter uitwerking het dit op jou wanneer jy die verslae oor Jesus lees en daaroor peins?

15 Wanneer ons hierdie verslae lees en peins oor die gees wat Jesus aan die dag gelê het, word ons liefde versterk vir hierdie een wat sy menselewe opgeoffer het sodat ons vir ewig kan lewe. Al het ons hom nog nooit gesien nie, voel ons aangetrokke tot hom en wil ons in sy voetstappe volg.—1 Petrus 2:21.

Sy nederige vertroue op God

16. Op wie het Jesus hoofsaaklik die aandag gevestig, en wat het hy ons aangespoor om te doen?

16 Jesus het bowenal sy aandag en ons s’n op sy hemelse Vader, Jehovah God, gevestig. Hy het die grootste gebod in die Wet geïdentifiseer deur te sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:36, 37). Hy het sy dissipels vermaan: “Julle moet geloof in God hê” (Markus 11:22). Toe hulle voor ’n ernstige toets van hulle geloof te staan gekom het, het hy hulle aangespoor: ‘Hou aan bid.’—Matteus 26:41.

17, 18. (a) Hoe het Jesus sy nederige vertroue in sy Vader geopenbaar? (b) Waarom is wat hy gedoen het so belangrik vir ons?

17 Jesus het self die voorbeeld gestel. Gebed was ’n belangrike deel van sy lewe (Matteus 14:23; Lukas 9:28; 18:1). Toe die tyd vir Jesus aangebreek het om sy apostels te kies, het hy nie bloot op sy eie oordeel staatgemaak nie, hoewel al die engele in die hemel voorheen onder sy toesig was. Hy het nederig ’n hele nag in gebed tot sy Vader deurgebring (Lukas 6:12, 13). Toe hy voor inhegtenisname en ’n pynlike dood te staan gekom het, het Jesus hom weer tot sy Vader gewend en ernstig gebid. Hy het nie die standpunt ingeneem dat hy Satan goed ken en maklik enigiets kan hanteer wat daardie bose persoon dalk sal uitdink nie. Jesus het besef hoe belangrik dit was dat hy nie faal nie. Watter oneer sou dit tog vir sy Vader gewees het as hy gefaal het! En wat ’n verlies vir die mensdom, wie se lewensvooruitsigte afgehang het van die offerande wat Jesus moes bring!

18 Jesu het herhaaldelik gebid—toe hy saam met sy apostels in ’n bovertrek in Jerusalem was en selfs vuriger in die tuin van Getsemane (Matteus 26:36-44; Johannes 17:1-26; Hebreërs 5:7). Toe hy aan die folterpaal gely het, het hy nie diegene uitgeskel wat hom getart het nie. Hy het eerder ten behoewe van diegene wat in onkunde opgetree het, gebid: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Hy het sy denke op sy Vader gerig gehou en “homself . . . toevertrou aan die een wat regverdig oordeel”. Die laaste woorde wat hy aan die folterpaal geuiter het, was ’n gebed tot sy Vader (1 Petrus 2:23; Lukas 23:46). Hoe dankbaar is ons tog dat Jesus, met volkome vertroue in Jehovah, die toewysing wat sy Vader aan hom toevertrou het getrou volbring het! Hoewel ons Jesus Christus nog nooit gesien het nie, het ons hom waarlik innig lief vir wat hy gedoen het!

Hoe ons ons liefde vir hom kan toon

19. Watter gebruike sal ons as heeltemal ongepas vermy om te toon dat ons Jesus liefhet?

19 Hoe kan ons bewys lewer dat die liefde wat ons sê ons vir hom het meer as net woorde is? Aangesien sy Vader, vir wie Jesus lief is, mense verbied het om beelde te maak en dit dan as voorwerpe van verering te gebruik, sal ons Jesus beslis nie eer deur so ’n beeld aan ’n ketting om ons nek te dra of deur een deur die strate te dra nie (Exodus 20:4, 5; Johannes 4:24). Dit sal Jesus geensins tot eer strek as ons kerkdienste bywoon, al doen ons dit ’n paar keer per week, maar nie die res van die week in ooreenstemming met sy leringe lewe nie. Jesus het gesê: “Hy wat my gebooie het en hulle onderhou, dit is hy wat my liefhet. En hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê.”—Johannes 14:21, 23; 15:10.

20. Wat is van die dinge wat sal toon of ons Jesus werklik liefhet?

20 Watter gebooie het hy ons gegee? Allereers, om die ware God, Jehovah, en hom alleen, te aanbid (Matteus 4:10; Johannes 17:3). Weens sy rol in God se voorneme het Jesus ook geleer dat ons geloof in hom as God se Seun moet beoefen en dat ons dit moet toon deur goddelose werke te vermy en deur in die lig te wandel (Johannes 3:16-21). Hy het ons vermaan om eers God se Koninkryk en sy regverdigheid te soek en hierdie dinge voor besorgdheid oor fisiese behoeftes te stel (Matteus 6:31-33). Hy het beveel dat ons mekaar moet liefhê soos hy ons liefgehad het (Johannes 13:34; 1 Petrus 1:22). En hy het ons opdrag gegee om getuies van God se voorneme te wees, net soos hy was (Matteus 24:14; 28:19, 20; Openbaring 3:14). Hoewel hulle Jesus nog nooit gesien het nie, word sowat vyfmiljoen Getuies van Jehovah vandag deur opregte liefde vir hom beweeg om daardie gebooie te onderhou. Die feit dat hulle Jesus nie self gesien het nie, verswak geensins hulle vasbeslotenheid om gehoorsaam te wees nie. Hulle onthou wat hulle Here vir die apostel Tomas gesê het: “Het jy geglo omdat jy my gesien het? Gelukkig is dié wat nie sien nie en nogtans glo.”—Johannes 20:29.

21. Hoe vind ons daarby baat as ons die herdenking van Christus se dood bywoon, wat hierdie jaar op Sondag, 23 Maart, gehou sal word?

21 Ons hoop dat jy onder diegene sal wees wat regoor die wêreld ná sononder op Sondag, 23 Maart 1997, by die Koninkryksale van Jehovah se Getuies bymekaar sal kom om die grootste blyk van God se liefde teenoor die mensdom te herroep en om die dood van sy lojale Seun, Jesus Christus, te herdenk. Wat by daardie geleentheid gesê en gedoen word, behoort ons liefde vir Jehovah en sy Seun te versterk en sodoende die begeerte te vergroot om God se gebooie te onderhou.—1 Johannes 5:3.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe het diegene aan wie die eerste boek van Petrus gerig is Jesus leer ken en leer liefhê?

◻ Wat is party van die dinge wat vroeë Christene gehoor het wat jou beïndruk?

◻ Wat is daar omtrent die gees wat Jesus geopenbaar het, wat jou liefde vir hom versterk?

◻ Waarom is Jesus se nederige vertroue in God so belangrik vir ons?

◻ Hoe kan ons ons liefde vir Jesus Christus toon?

[Prent op bladsy 16, 17]

Ons voel aangetrokke tot Jesus as gevolg van die gees wat hy geopenbaar het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel