Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 10/1 bl. 20-23
  • Apollos—’n welsprekende verkondiger van Christelike waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Apollos—’n welsprekende verkondiger van Christelike waarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Goed vertroud met die Skrif”
  • Ywerig maar nederig
  • In Korinte
  • Goddelike eienskappe wat geestelike groei bevorder
  • Getuig met die doel om dissipels te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Jehovah se woord ‘groei en word kragtiger’ ondanks vervolging
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Vind ten volle by Bybellees baat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Moenie met mekaar kompeteer nie – Streef vrede na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 10/1 bl. 20-23

Apollos—’n welsprekende verkondiger van Christelike waarheid

ALLE Koninkryksverkondigers moet daarin belangstel om as verkondigers van die goeie nuus vordering te maak, hetsy hulle al baie jare of net ’n paar jaar lede van die Christengemeente is. Dit impliseer dat ons ons kennis van God se Woord moet verbreed en ons vermoë moet vergroot om dit aan ander te leer. Vir sommige beteken dit dalk om uitdagings die hoof te bied, moeilikhede te oorkom of om hulle beskikbaar te stel om meer te kan doen.

Die Bybel bevat verskeie voorbeelde van toegewyde manne en vroue van die ou tyd wat, op verskillende maniere, daarin geslaag het om uitstekende geestelike vordering te maak en die vrugte van hulle inspanning gepluk het. Een van hulle was Apollos. Wanneer die Skrif hom aan ons bekend stel, is hy iemand met ’n onvolledige begrip van die Christelike leer; maar net ’n paar jaar later dien hy as ’n reisende verteenwoordiger van die eerste-eeuse gemeente. Wat het hom in staat gestel om sulke vordering te maak? Hy het eienskappe gehad wat ons almal gerus kan navolg.

“Goed vertroud met die Skrif”

Volgens die Bybelskrywer Lukas het daar omstreeks 52 G.J. “’n sekere Jood met die naam Apollos, ’n boorling van Aleksandrië, ’n welsprekende man, . . . in Efese aangekom; en hy was goed vertroud met die Skrif. Hierdie man is mondeling in die weg van Jehovah onderrig, en aangesien hy gegloei het van die gees, het hy die dinge omtrent Jesus met juistheid gespreek en geleer, hoewel hy net met die doop van Johannes bekend was. En hierdie man het vrymoedig in die sinagoge begin spreek.”—Handelinge 18:24-26.

Aleksandrië, Egipte, was naas Rome die grootste stad ter wêreld en was vir Jode sowel as vir Grieke een van die belangrikste kultuursentrums van daardie tyd. Apollos het waarskynlik sy grondige kennis van die Hebreeuse Geskrifte en ’n sekere welsprekendheid verkry as gevolg van sy opvoeding in die groot Joodse gemeenskap van daardie stad. Waar Apollos omtrent Jesus geleer het, is moeiliker om af te lei. “Hy was blykbaar ’n reisiger—moontlik ’n rondreisende handelaar”, doen die geleerde F. F. Bruce aan die hand, “en hy kon Christenpredikers ontmoet het in enigeen van ’n paar plekke wat hy besoek het.” Hoe dit ook al sy, hoewel hy met juistheid oor Jesus gespreek en geleer het, wil dit voorkom asof daar voor Pinkster 33 G.J. vir hom getuig is, aangesien hy “net met die doop van Johannes bekend was”.

As Jesus se voorloper het Johannes die Doper ’n kragtige getuienis vir die hele Israelitiese nasie gegee, en baie het hulle deur hom laat doop as ’n simbool van berou (Markus 1:5; Lukas 3:15, 16). Volgens ’n aantal geskiedkundiges was baie mense onder die Joodse bevolking se kennis van Jesus beperk tot wat op die oewers van die Jordaan verkondig is. “Hulle Christelikheid was op dieselfde vlak as wat dit was met die aanvang van ons Here se bediening”, sê W. J. Conybeare en J. S. Howson. “Hulle was oningelig oor die volle betekenis van die dood van Christus; hulle het moontlik nie eers kennis gedra van die feit dat Hy opgewek is nie.” Apollos was blykbaar ook oningelig oor die uitstorting van heilige gees op Pinkster 33 G.J. Hy het nietemin juiste inligting oor Jesus verkry, en hy het dit nie vir homself gehou nie. Trouens, hy het moedig na geleenthede gesoek om te praat oor wat hy geweet het. Sy ywer en entoesiasme was egter nog nie ooreenkomstig juiste kennis nie.

Ywerig maar nederig

Lukas se verslag sê voorts: “Toe Priscilla en Aquila hom hoor, het hulle hom in hulle geselskap opgeneem en die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê” (Handelinge 18:26). Aquila en Priscilla moes gesien het dat Apollos se geloof in groot mate met hulle s’n ooreengekom het, maar hulle het wyslik nie sy onvolledige begrip in die openbaar probeer regstel nie. Ons kan ons voorstel hoe hulle ’n aantal persoonlike gesprekke met Apollos gehad het, met die doel om hom te help. Hoe het Apollos, ’n man “kragtig . . . in die Skrif”, gereageer? (Handelinge 18:24, Kingdom Interlinear). Apollos het na alle waarskynlikheid sy onvolledige boodskap al ’n tyd lank in die openbaar verkondig voordat hy Aquila en Priscilla ontmoet het. ’n Trotse persoon kon baie maklik geweier het om regstelling te aanvaar, maar Apollos was nederig en dankbaar vir die geleentheid om sy kennis te verruim.

Dieselfde beskeie gesindheid van Apollos kan ook gesien word in sy gewilligheid om ’n aanbevelingsbrief van die Efesiese broers aan die gemeente in Korinte te aanvaar. Die verslag sê verder: “Verder het die broers, omdat hy na Agaje wou oorgaan, aan die dissipels geskryf en hulle gemaan om hom vriendelik te ontvang” (Handelinge 18:27; 19:1). Apollos het nie daarop aangedring om volgens eie verdienste aanvaar te word nie, maar het hom nederig na die reëlings van die Christengemeente geskik.

In Korinte

Die aanvanklike resultate van Apollos se bediening in Korinte was uitstekend. Die boek Handelinge sê: “Toe hy daar kom, het hy dié wat vanweë God se onverdiende goedhartigheid gelowig geword het grootliks gehelp; want hy het die Jode in die openbaar intensief en deeglik verkeerd bewys, terwyl hy aan die hand van die Skrif getoon het dat Jesus die Christus is.”—Handelinge 18:27, 28.

Apollos het homself aan die gemeente beskikbaar gestel en die broers deur middel van sy voorbereiding en ywer aangemoedig. Wat was die sleutel tot sy sukses? Apollos het ongetwyfeld natuurlike vermoëns gehad en het moedig volgehou om ’n openbare debat met die Jode te voer. Maar wat belangriker is, is dat hy die Skrif in sy redenasie gebruik het.

Hoewel Apollos ’n kragtige invloed onder die Korintiërs gehad het, het sy predikingswerk ongelukkig onverwagte negatiewe gevolge gehad. Hoe so? Paulus sowel as Apollos het baie bereik deur die saad van Koninkrykswaarheid in Korinte te plant en nat te gooi. Paulus het omstreeks 50 G.J. daar gepreek, ongeveer twee jaar voor Apollos se aankoms. Teen die tyd dat Paulus sy eerste brief aan die Korintiërs geskryf het, omstreeks 55 G.J., het faksies ontstaan. Party het Apollos as hulle leier beskou, terwyl ander ten gunste van Paulus of Petrus was of net Christus aanvaar het (1 Korintiërs 1:10-12). Sommige het gesê: ‘Ek behoort aan Apollos.’ Waarom?

Die boodskap wat deur Paulus en Apollos verkondig is, was dieselfde, maar hulle persoonlikhede het verskil. Paulus het self erken dat hy “onbedrewe in spraak” was; Apollos, aan die ander kant, was “welsprekend” (2 Korintiërs 10:10; 11:6). Hy het vermoëns gehad wat sommige in die Joodse gemeenskap in Korinte na hom laat luister het. Hy het daarin geslaag om ‘die Jode deeglik verkeerd te bewys’, terwyl Paulus kort tevore die sinagoge verlaat het.—Handelinge 18:1, 4-6.

Kon dit die rede gewees het waarom party Apollos verkies het? ’n Aantal kommentators teoretiseer dat die ingebore liefde vir filosofiese besprekings onder Grieke moontlik daartoe gelei het dat sommige die stimulerender benadering van Apollos verkies het. Giuseppe Ricciotti doen aan die hand dat Apollos deur “sy kleurryke taal en interessante allegorieë baie se bewondering afgedwing het en dat hulle hom verkies het bo Paulus, ’n pretensielose en onverfynde spreker”. As party wel verkeerdelik toegelaat het dat sulke persoonlike voorkeure verdeeldheid onder die broers veroorsaak het, is dit maklik om te verstaan waarom Paulus die verheerliking van “die wysheid van die wyses” skerp gekritiseer het.—1 Korintiërs 1:17-25.

Sulke kritiek gee egter nie te kenne dat daar enige wrywing tussen Paulus en Apollos was nie. Hoewel party verkeerdelik afgelei het dat hierdie twee predikers bitter teenstanders was wat gewedywer het om die toegeneentheid van die Korintiërs te win, sê die Skrif glad nie so iets nie. Apollos het homself nie die leier van ’n faksie probeer maak nie; inteendeel, hy het Korinte verlaat, na Efese teruggekeer en was saam met Paulus toe hy die eerste brief aan die verdeelde gemeente geskryf het.

Daar was geen onenigheid of wedywering tussen hulle nie; blykbaar het hulle twee eerder saamgewerk om die probleme in Korinte met wedersydse vertroue op te los. Paulus het miskien bedenkinge gehad oor sommige in Korinte, maar beslis nie oor Apollos nie. Die werk van die twee manne was in algehele harmonie; die een se onderrigting het dié van die ander aangevul. Om Paulus se eie woorde aan te haal: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi”, want albei was “God se medewerkers”.—1 Korintiërs 3:6, 9, 21-23.

Soos Paulus het die Korintiërs groot agting vir Apollos gehad, en hulle wou hê dat hy hulle weer moes besoek. Maar toe Paulus Apollos genooi het om na Korinte terug te keer, het die Aleksandryn die uitnodiging van die hand gewys. Paulus sê: “En wat ons broer Apollos betref, ek het hom herhaaldelik dringend versoek om . . . na julle toe te kom, en tog was dit glad nie sy wil om nou te kom nie; maar hy sal kom wanneer hy die geleentheid het” (1 Korintiërs 16:12). Apollos was dalk onwillig om terug te gaan omdat hy bang was dat hy verdere verdeeldheid sou veroorsaak of miskien net omdat hy êrens anders besig was.

Die laaste keer dat Apollos in die Skrif gemeld word, was toe hy na Kreta en miskien verder as dit gereis het. Paulus toon weer hoë agting vir sy vriend en medewerker deur vir Titus te vra om in alles te voorsien wat Apollos en sy reisgesel, Senas, vir hulle reis nodig sou hê (Titus 3:13). Teen hierdie tyd, ná ongeveer tien jaar van Christelike opleiding, het Apollos genoeg vordering gemaak om as ’n reisende verteenwoordiger van die gemeente te dien.

Goddelike eienskappe wat geestelike groei bevorder

Die Aleksandrynse prediker het ’n goeie voorbeeld vir alle hedendaagse verkondigers van die goeie nuus gestel, en in werklikheid vir almal wat graag geestelike vordering wil maak. Ons is miskien nie so welsprekend soos wat hy was nie, maar ons kan beslis sy kennis en sy vermoë om die Skrif te gebruik probeer navolg en sodoende opregte waarheidsoekers help. Deur sy voorbeeld van ywerige werk het Apollos ‘dié wat gelowig geword het grootliks gehelp’ (Handelinge 18:27). Apollos was nederig, selfopofferend en bereid om ander te dien. Hy het goed verstaan dat daar geen plek in die Christengemeente is vir wedywering of ambisie nie, want ons is almal “God se medewerkers”.—1 Korintiërs 3:4-9; Lukas 17:10.

Ons kan, soos Apollos, geestelike vordering maak. Is ons bereid om ons heilige diens te verbeter of uit te brei deur onsself in ’n posisie te stel om in groter mate deur Jehovah en sy organisasie gebruik te word? Dan sal ons ywerige studente en verkondigers van Christelike waarheid wees.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel