Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 9/15 bl. 8-9
  • Petrus preek by die Pinksterfees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Petrus preek by die Pinksterfees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Elkeen hoor sy eie taal
  • Lesse vir ons
  • “Met heilige gees gevul”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Wat is “die sleutels van die koninkryk”?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer
    Volg hulle geloof na
  • Hy was lojaal ondanks beproewinge
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 9/15 bl. 8-9

Hulle het Jehovah se wil gedoen

Petrus preek by die Pinksterfees

DIT was ’n aangename lenteoggend in die jaar 33 G.J. ’n Opgewonde atmosfeer het geheers! ’n Lewendige skare Jode en proseliete het in die strate van Jerusalem bymekaargekom. Hulle was afkomstig van plekke soos Elam, Mesopotamië, Kappadocië, Egipte en Rome. Hoe fassinerend was dit tog om hulle in hulle tradisionele drag te sien en om hulle verskillende tale te hoor! Party het byna tweeduisend kilometer gereis om by hierdie spesiale geleentheid te wees. Wat was dit? Die Pinksterfees—’n vreugdevolle Joodse fees wat die einde van die garsoes aangedui het.—Levitikus 23:15-21.

’n Rookwolk het van die offerandes op die tempelaltaar opgegaan, en die Leviete het die Hallel gesing (Psalm 113 tot 118). Kort voor 9:00 vm. het iets verbasingwekkends gebeur. Uit die hemel het daar ‘’n gedruis soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries’ gekom. Dit het die hele huis gevul waarin die sowat 120 dissipels van Jesus Christus vergader was. Die Bybelverslag sê: “Tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword en is verdeel, en een het op elkeen van hulle gaan sit, en hulle is almal met heilige gees vervul en het in ander tale begin praat, net soos die gees aan hulle gegee het om te spreek.”—Handelinge 2:1-4.

Elkeen hoor sy eie taal

Kort voor lank het baie dissipels uit die huis gestroom. Verbasend genoeg kon hulle in die verskillende tale van die skare praat! Stel jou die verbasing voor toe ’n besoeker van Persië en ’n gebore Egiptenaar hoor hoe hulle eie taal deur Galileërs gepraat word. Dit is verstaanbaar dat die skare met ontsag vervul is. “Wat beteken dit tog?” het hulle gevra. Party het met die dissipels begin spot en gesê: “Hulle is vol soetwyn.”—Handelinge 2:12, 13.

Die apostel Petrus het vervolgens opgestaan en die skare toegespreek. Hy het verduidelik dat hierdie wonderdadige gawe van talespraak die vervulling was van wat God deur middel van die profeet Joël belowe het: “Ek [sal] van my gees op elke soort vlees uitstort” (Handelinge 2:14-21; Joël 2:28-32). Ja, God het so pas sy heilige gees op Jesus se dissipels uitgestort. Dit was ’n duidelike bewys dat Jesus uit die dode opgewek is en nou in die hemel aan God se regterhand was. “Laat die hele huis van Israel dus vir seker weet”, het Petrus gesê, “dat God hom Here sowel as Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle aan die paal gehang het.”—Handelinge 2:22-36.

Hoe het diegene wat na hom geluister het hierop gereageer? “Hulle [is] diep in die hart getref”, sê die verslag, “en hulle het vir Petrus en die res van die apostels gesê: ‘Manne, broers, wat moet ons doen?’” Petrus het geantwoord: ‘Toon berou, en laat elkeen van julle gedoop word.’ Dit is presies wat omtrent 3 000 gedoen het! Daarna “het [hulle] voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels”.—Handelinge 2:37-42.

Deur die leiding te neem by hierdie geskiedkundige geleentheid het Petrus die eerste van “die sleutels van die koninkryk van die hemele” gebruik wat Jesus belowe het om aan hom te gee (Matteus 16:19). Hierdie sleutels het spesiale voorregte vir verskillende groepe mense ontsluit. Hierdie eerste sleutel het dit vir Jode moontlik gemaak om geesgesalfde Christene te word. Later het die tweede en derde sleutel dieselfde geleentheid aan Samaritane en nie-Jode onderskeidelik verskaf.—Handelinge 8:14-17; 10:44-48.

Lesse vir ons

Hoewel hierdie skare Jode en proseliete gemeenskapsaanspreeklikheid vir die dood van God se Seun gedra het, het Petrus hulle met respek toegespreek en hulle “broers” genoem (Handelinge 2:29). Sy oogmerk was om hulle tot berou te beweeg, en nie om hulle te veroordeel nie. Sy benadering was derhalwe positief. Hy het die feite voorgelê en die punte wat hy gestel het met aanhalings uit die Skrif gerugsteun.

Diegene wat vandag die goeie nuus verkondig, kan Petrus se voorbeeld met vrug navolg. Hulle moet ’n gemeenskaplike terrein met hulle luisteraars probeer vind en dan op ’n taktvolle wyse uit die Skrif met hulle redeneer. Wanneer Bybelwaarheid op ’n positiewe wyse aangebied word, sal mense met die regte hartstoestand gunstig reageer.—Handelinge 13:48.

Petrus se ywer en vrymoedigheid op Pinksterdag vorm ’n skerp teenstelling met sy verloëning van Jesus sowat sewe weke vroeër. By daardie geleentheid het mensevrees Petrus ontsenu (Matteus 26:69-75). Maar Jesus het smeekbede vir Petrus gedoen (Lukas 22:31, 32). Die apostel Petrus is ongetwyfeld versterk toe Jesus ná sy opstanding aan hom verskyn het (1 Korintiërs 15:5). Gevolglik het Petrus se geloof hom nie in die steek gelaat nie. Binne ’n kort tydjie het hy met vrymoedigheid gepreek. Hy het derhalwe nie alleen by die Pinksterfees gepreek nie, maar vir die res van sy lewe.

Gestel ons het op die een of ander wyse soos Petrus gesondig, wat moet ons dan doen? Laat ons berou toon, om vergifnis bid en stappe doen om geestelike hulp te kry (Jakobus 5:14-16). Dan kan ons voortgaan om vordering te maak in die vertroue dat ons heilige diens vir ons barmhartige hemelse Vader, Jehovah, aanneemlik is.—Exodus 34:6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel