Ware veiligheid—nou en vir ewig
DIT ly geen twyfel dat Jehovah God veiligheid aan sy volk kan voorsien nie. Hy is “die Almagtige” (Psalm 68:15). Sy unieke naam beteken “Hy laat word”. Dit identifiseer hom as die enigste Een in die heelal wat enige struikelblok kan oorkom om sy beloftes te vervul en sy wil te laat geskied. God self sê: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:11.
God voorsien veiligheid aan diegene wat op hom vertrou. Sy Woord waarborg dit. “Die Naam van die HERE is ’n sterk toring”, het wyse koning Salomo onder Goddelike inspirasie gesê. “Die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Hy het verder gesê: “Hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.”—Spreuke 18:10; 29:25.
Veiligheid vir God se knegte
Jehovah het nog altyd veiligheid aan diegene voorsien wat op hom vertrou. Byvoorbeeld, die profeet Jeremia het God se beskerming geniet. Toe die Babiloniese leërs afvallige Jerusalem beleër het, moes die mense “brood by die gewig en met kommer eet” (Esegiël 4:16). Die situasie het so kritiek geword dat party vroue hulle eie kinders gekook en geëet het (Klaagliedere 2:20; 4:10). Selfs al was Jeremia destyds in versekerde bewaring weens sy vreeslose predikingswerk, het Jehovah daarvoor gesorg dat ‘daar daagliks aan hom ’n skyf brood uit die Bakkerstraat gegee is, totdat al die brood van die stad op was’.—Jeremia 37:21.
Toe Jerusalem deur die Babiloniërs ingeneem is, is Jeremia nie doodgemaak of as ’n gevangene na Babilon weggevoer nie. In plaas daarvan het “die [Babiloniese] owerste van die lyfwag vir hom padkos en ’n geskenk gegee, en hom laat gaan”.—Jeremia 40:5.
Eeue later het Jesus Christus God se knegte verseker: “Moet . . . nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge streef die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:31-33.
Beteken dit dat Jehovah se knegte Goddelike beskerming teen alle hedendaagse rampspoed sal geniet? Nee, dit is nie wat dit beteken nie. Getroues is nie immuun teen teenspoed nie. Ware Christene word siek, ondervind vervolging, word slagoffers van misdaad, sterf in ongelukke en ly op ander maniere.
Hoewel Jehovah nog nie algehele veiligheid teen teenspoed verskaf nie, toon verslae dat hy wel sy krag gebruik om vir sy knegte te sorg en hulle te beskerm. Christene word ook teen baie probleme beskerm omdat hulle Bybelbeginsels in hulle lewe toepas (Spreuke 22:3). Daarbenewens geniet hulle die veiligheid van ’n wêreldwye gemeenskap van liefdevolle geestelike broers en susters, wat mekaar in tye van nood help (Johannes 13:34, 35; Romeine 8:28). Byvoorbeeld, in reaksie op die haglike toestand van hulle broers in oorloggeteisterde Rwanda, het Jehovah se Getuies in Europa in ’n kort tydjie 65 ton klere sowel as medisyne, voedsel en ander voorrade ter waarde van R5 800 000 geskenk en aan hulle gestuur.—Vergelyk Handelinge 11:28, 29.
Hoewel Jehovah toelaat dat ware Christene beproewinge ondergaan, het hulle die versekering dat hy hulle die krag, bystand en wysheid sal gee om dit te verduur. Die apostel Paulus het aan medegelowiges geskryf en gesê: “Geen versoeking [beproewing] het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek [beproef] word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking [beproewing] sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13; The Emphatic Diaglott.
Wat God vir sy volk doen
Vandag verheug miljoene mense hulle daarin om God se wil te doen. Hulle word nie gedwing om God te dien nie; hulle doen dit omdat hulle hom ken en liefhet. Omdat Jehovah op sy beurt vir sy lojale knegte lief is, is hy van voorneme om die aarde in ’n paradys te omskep waar die gehoorsame mensdom vir ewig vrede, gesondheid en veiligheid sal geniet.—Lukas 23:43.
God sal dit doen deur middel van ’n hemelse regering waarvan sy aangestelde Koning, Jesus Christus, die Heerser is (Daniël 7:13, 14). Die Bybel praat van hierdie regering as “God se koninkryk” en as “die koninkryk van die hemele” (1 Korintiërs 15:50; Matteus 13:44). God se Koninkryk sal alle menseregerings vervang. Pleks van baie regerings op aarde te hê, sal daar net een regering wees. Dit sal in regverdigheid oor die hele aarde heers.—Psalm 72:7, 8; Daniël 2:44.
Jehovah nooi almal uit om onder die Koninkryk te lewe. Een manier waarop hy dit doen, is deur die wye verspreiding van die Bybel, die boek wat verduidelik wat die Koninkryk vir die mensdom gaan doen. Die Bybel is die wêreld se wyds verspreide boek, en dit is nou in sy geheel of ten dele in meer as 2 000 tale beskikbaar.
Jehovah God help mense op liefdevolle wyse om te verstaan wat die Bybel aangaande die Koninkryk leer. Hy doen dit deur mense te onderrig en uit te stuur om die Skrif aan ander te verduidelik. Meer as vyfmiljoen Getuies van Jehovah verkondig nou die goeie nuus van God se Koninkryk in meer as 230 lande.
Ware veiligheid vir almal?
Sal almal die uitnodiging aanneem om ’n onderdaan van God se Koninkryk te word deur hulle na sy regverdige standaarde te skik? Nee, want baie mense stel glad nie daarin belang om God se wil te doen nie. Hulle verwerp pogings om hulle te help om hulle lewe ten goede te verander. Hulle toon inderdaad dat hulle soos diegene is van wie Jesus gesê het: “Die hart van hierdie volk het onontvanklik geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer, en hulle het hulle oë gesluit; sodat hulle nooit met hulle oë sou sien en met hulle ore sou hoor en met hulle hart die sin daarvan sou begryp en terugdraai en [God] hulle genees nie.”—Matteus 13:15.
Hoe kan daar ooit ware veiligheid op die aarde wees te midde van diegene wat weier om in ooreenstemming met God se regverdige weë te lewe? Daar kan nie wees nie. Goddelose mense bedreig die veiligheid van diegene wat Jehovah wil dien.
God dwing mense nie om te verander nie, maar hy sal goddeloosheid ook nie vir altyd verdra nie. Hoewel Jehovah geduldig aanhou om sy Getuies te stuur om mense aangaande sy weë en voornemens te leer, sal hy nie veel langer aanhou om dit te doen nie. Jesus Christus het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.
Wat sal “die einde” vir diegene beteken wat God se standaarde verwerp? Dit sal ’n ongunstige oordeel en vernietiging vir hulle beteken. Die Bybel praat van die uitoefening van “wraak . . . op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Húlle sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan.”—2 Tessalonisense 1:6-9.
Uiteindelik—Ware veiligheid vir ewig!
Ná die vernietiging van diegene wat Jehovah se weë van vrede verwerp, sal God se Koninkryk tot voordeel van die regverdiges op die aarde ’n glorieryke era van veiligheid inlei (Psalm 37:10, 11). Hoe sal daardie nuwe wêreld tog verskil van die wêreld waarin ons vandag lewe!—2 Petrus 3:13.
Daar sal geen hongersnood meer wees nie. Almal sal genoeg hê om te eet. Die Bybel sê dat ‘al die volke ’n maaltyd van vetspyse sal geniet’ (Jesaja 25:6). Daar sal geen tekort aan voedsel wees nie, want “daar [sal] volheid van koring wees in die land, op die top van die berge”.—Psalm 72:16.
Mense sal nie meer in krotte en in plakkersdorpe woon nie. Onder God se Koninkryk sal almal gerieflike huise hê, en hulle sal voedsel eet wat op hulle eie grond gekweek is. Die Bybel belowe: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet.”—Jesaja 65:21.
Pleks van wydverspreide werkloosheid, sal daar produktiewe werk wees, en mense sal die goeie resultate daarvan sien. God se Woord sê: “My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei . . . nie.”—Jesaja 65:22, 23.
Onder Koninkryksheerskappy sal mense nie aan siektes ly en sterf nie. God se Woord verseker ons: “Geen inwoners sal sê: Ek is siek nie.”—Jesaja 33:24.
In die aardse Paradys wat binnekort ’n werklikheid gaan word, sal daar met lyding en pyn, hartseer en die dood weggedoen word. Ja, selfs die dood! Mense sal vir ewig in die Paradys lewe! Die Bybel sê vir ons dat God “elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
Onder die heerskappy van Jesus Christus, die “Vredevors”, sal die lewe op aarde uiteindelik waarlik veilig wees. Wêreldwye veiligheid sal inderdaad onder die regverdige, liefdevolle heerskappy van een regering bestaan—God se Koninkryk.—Jesaja 9:5, 6; Openbaring 7:9, 17.
[Lokteks op bladsy 4]
“Menseveiligheid is ’n aanduiding van geloof in môre, . . . [geloof in die] stabiliteit van die politieke en ekonomiese situasie.”—’n Vrou wat in Asië woon
[Lokteks op bladsy 5]
“Wat ’n mens bowenal onveilig laat voel, is geweld en misdaad.”—’n Man wat in Suid-Amerika woon
[Lokteks op bladsy 6]
“Ek het nie tydens die . . . inval veilig gevoel nie. Hoe kan mense veilig voel as ’n land in ’n oorlog gewikkel is?”—’n Laerskoolleerling in die Midde-Ooste
[Lokteks op bladsy 7]
“Ek sal veilig voel wanneer ek weet dat ek saans in die strate kan loop sonder om verkrag te word.”—’n Skoolmeisie in Afrika