Toegewy—Aan wie?
“Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.”—EXODUS 24:7.
1, 2. (a) Waaraan is sommige mense toegewy? (b) Is toegewydheid beperk tot dié met godsdiensbande?
IN Februarie 1945 het die vlieëniers van die Zero-vegvliegtuie van Japan se Jatabe-vliegkorps in ’n ouditorium bymekaargekom. Elkeen het ’n stuk papier ontvang waarop hy moes skryf of hy bereid sou wees om ’n lid van die kamikaze-aanvalsmag te word. “Ek het gedink dat dit my roeping is om my lewe in ’n tyd van ’n nasionale krisis op te offer”, sê ’n offisier wat destyds teenwoordig was. “Omdat ek emosioneel verplig gevoel het om my beskikbaar te stel, het ek my vir die sending aangebied.” Hy is opgelei om ’n Ohka (’n selfmoordmissielvliegtuig) te beheer en te vlieg en daarmee in ’n vyandelike oorlogskip vas te vlieg. Die oorlog het egter geëindig voor hy die geleentheid gehad het om dit te doen en sodoende vir sy land en sy keiser te sterf. Toe Japan die oorlog verloor het, is sy geloof in die keiser verwoes.
2 Baie in Japan was vroeër toegewy aan die keiser, wat hulle geglo het ’n lewende god is. In ander lande was daar en is daar steeds ander dinge waaraan mense hulle toewy. Miljoene is toegewyd aan Maria, Boeddha of ander godhede—wat dikwels deur afgode afgebeeld word. Sommige, wat hulle deur sensasionele retoriek laat lei, stort hulle swaar verdiende geld met sulke oorgawe in die sakke van TV-evangeliste dat dit op toegewydheid neerkom. Ná die oorlog het teleurgestelde Japannese iets nuuts gesoek waaraan hulle hulle lewe kon toewy. Vir sommige het dit hulle werk geword. In die Ooste sowel as die Weste wy baie hulle toe aan die versameling van rykdom. Jongmense se lewe draai om musikante, wie se lewenswyse hulle navolg. Baie mense het vandag aanbidders van die eie ek geword, en hulle wy hulle as ’t ware aan hulle persoonlike begeertes toe (Filippense 3:19; 2 Timoteus 3:2). Maar is sulke dinge of mense werklik iemand se heelhartige toegewydheid waardig?
3. Wat toon dat sommige dinge waaraan mense hulle toewy nutteloos is?
3 Afgodedienaars word dikwels ontnugter wanneer hulle die werklikheid onder die oë moet sien. Toegewydheid aan afgode lei tot frustrasie wanneer die aanbidders besef dat hulle afgode niks anders as “’n werk van mensehande” is nie (Psalm 115:4). Wanneer skandale waarin prominente evangeliste betrokke is, oopgevlek word, voel dit vir opregte mense of hulle in die steek gelaat is. Toe die “seepbel-ekonomie” gebars het, het werkers wat ontslaan is geestesversteurings ondervind. Onlangse resessies het aanbidders van Mammon ’n swaar slag toegedien. Skuld wat aangegaan is in die hoop om baie geld te maak, het ’n las geword met min kans dat dit afbetaal sal kan word (Matteus 6:24, vgl. AB). Wanneer verafgode rocksterre en ander vermaaklikheidskunstenaars sterf of van die toneel verdwyn, bly hulle aanbidders alleen agter. En dié wat ’n weg van selfbevrediging bewandel, pluk dikwels die wrange vrugte daarvan.—Galasiërs 6:7.
4. Wat beweeg mense daartoe om hulle lewe aan nuttelose dinge toe te wy?
4 Wat beweeg mense om hulle aan sulke nuttelose dinge toe te wy? Dit is in groot mate die gees van die wêreld onder Satan die Duiwel (Efesiërs 2:2, 3). Die invloed van hierdie gees kan op verskillende maniere gesien word. Iemand is dalk vasgevang in familietradisie wat deur sy voorouers oorgedra is. Onderwys en opvoeding kan ’n sterk invloed op mense se denke uitoefen. Die atmosfeer by die werk kan “maatskappystryders” tot werkverslaafdheid dryf wat lewensgevaarlik kan wees. ’n Begeerte om al hoe meer te hê, word deur die materialistiese gesindheid van die wêreld gewek. Baie mense se harte raak verdorwe sodat hulle hulle as ’t ware aan hulle eie, selfsugtige begeertes toewy. Hulle stel nie ondersoek in of hierdie strewes sulke toegewydheid verdien nie.
’n Toegewyde nasie
5. Watter toewyding is meer as 3 500 jaar gelede aan Jehovah gedoen?
5 Meer as 3 500 jaar gelede het een nasie ’n baie verdiensteliker voorwerp vir hulle toegewydheid gevind. Hulle het hulle aan die soewereine God, Jehovah, toegewy. Die nasie Israel, as ’n groep, het hulle toewyding aan God in die woestyn Sinai verklaar.
6. Wat sou God se naam vir die Israeliete beteken?
6 Wat het die Israeliete tot hierdie optrede beweeg? Toe hulle in slawerny in Egipte was, het Jehovah Moses opdrag gegee om hulle na vryheid te lei. Moses het gevra hoe hy die God moet identifiseer wat hom gestuur het, en God het hom geopenbaar as “Ek sal blyk te wees wat Ek sal blyk te wees”. Hy het Moses beveel om vir die kinders van Israel te sê: “Ek sal blyk te wees het my na julle gestuur” (Exodus 3:13, 14, NW). Hierdie uitdrukking het getoon dat Jehovah word wat ook al nodig is om sy voornemens te vervul. Hy sou hom as die Vervuller van beloftes openbaar op ’n wyse wat vir die Israeliete se voorvaders heeltemal onbekend was.—Exodus 6:2, 3, NW.
7, 8. Watter bewyse het die Israeliete gehad dat Jehovah ’n God was wat hulle toegewydheid waardig was?
7 Die Israeliete het gesien hoe Egipteland en sy mense deur die Tien Plae geteister is (Psalm 78:44-51). Daarna het hulle, moontlik meer as driemiljoen, waaronder vroue en kinders, opgepak en die land Gosen in een nag verlaat, wat op sigself iets merkwaardigs was (Exodus 12:37, 38). Daarna het Jehovah hom by die Rooi See as “’n krygsman” geopenbaar toe hy sy volk van Farao se leër gered het deur die see te verdeel sodat die Israeliete kon deurgaan en deur dit later te laat toegaan sodat die Egiptenaars wat hulle agtervolg het, kon verdrink. Gevolglik “het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE.”—Exodus 14:31; 15:3; Psalm 136:10-15.
8 Asof hulle steeds nie genoeg bewyse gehad het van wat God se naam beteken nie, het die Israeliete teen Jehovah en sy verteenwoordiger Moses oor ’n gebrek aan voedsel en water gemurmureer. Jehovah het kwartels gestuur, manna op hulle laat reën en water by ’n rots by Meriba laat uitstroom (Exodus 16:2-5, 12-15, 31; 17:2-7). Jehovah het die Israeliete ook van die Amalekiete se aanval gered (Exodus 17:8-13). Die Israeliete kon hoegenaamd nie ontken wat Jehovah later aan Moses gesê het nie: “Jehovah‚ Jehovah‚ ’n barmhartige en goedgunstige God‚ stadig om toornig te word en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid‚ wat liefderyke goedhartigheid bewaar vir duisende‚ wat dwaling en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6, 7, NW). Jehovah het inderdaad bewys dat hy hulle toegewydheid waardig was.
9. Waarom het Jehovah die Israeliete die geleentheid gegee om hulle toewyding om hom te dien uit te spreek, en hoe het hulle daarop gereageer?
9 Hoewel Jehovah eiendomsreg op die Israeliete gehad het omdat hy hulle uit Egipte verlos het, het hy, as die goedhartige en barmhartige God, hulle die geleentheid gegee om uit vrye wil hulle begeerte uit te spreek om hom te dien (Deuteronomium 7:7, 8; 30:15-20). Hy het ook die voorwaardes vir die verbond tussen hom en die Israeliete uiteengesit (Exodus 19:3-8; 20:1–23:33). Toe Moses hulle van hierdie voorwaardes in kennis gestel het, het die Israeliete gesê: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister” (Exodus 24:3-7). Hulle het uit vrye wil ’n nasie geword wat aan die Soewereine Heer Jehovah toegewyd was.
Waardering lei tot toewyding
10. Waarop moet ons toewyding aan Jehovah gegrond wees?
10 Jehovah, die Skepper, is altyd ons heelhartige toegewydheid waardig (Maleagi 3:6; Matteus 22:37; Openbaring 4:11). Maar ons toewyding moenie gegrond wees op goedgelowigheid, kortstondige emosies of dwang deur ander nie—selfs nie eers deur ouers nie. Dit moet gegrond wees op juiste kennis van die waarheid omtrent Jehovah en waardering vir wat Jehovah vir ons gedoen het (Romeine 10:2; Kolossense 1:9, 10; 1 Timoteus 2:4). Net soos Jehovah die Israeliete die geleentheid gebied het om hulle toewyding uit vrye wil uit te spreek, gee hy ons die kans om ons uit vrye wil toe te wy en om in die openbaar van daardie toewyding bewys te lewer.—1 Petrus 3:21.
11. Wat het ons studie van die Bybel oor Jehovah geopenbaar?
11 Deur ’n studie van die Bybel leer ons God as persoon ken. Sy Woord help ons om sy eienskappe te onderskei soos dit in die skepping weerspieël word (Psalm 19:2-5). Ons kan uit sy Woord sien dat hy nie ’n geheimsinnige Drie-eenheid is wat nie verstaan kan word nie. Hy verloor nie oorloë nie en hoef daarom nie van sy Godheid afstand te doen nie (Exodus 15:11; 1 Korintiërs 8:5, 6; Openbaring 11:17, 18). Omdat hy sy beloftes vervul het, word ons herinner aan wat sy pragtige naam, Jehovah, beteken. Hy is die Groot Voornemer (Genesis 2:4, voetnoot in NW; Psalm 83:18, NW; Jesaja 46:9-11). Deur die Bybel te bestudeer, verkry ons ’n duidelike begrip van hoe getrou en betroubaar hy is.—Deuteronomium 7:9; Psalm 19:8, 10; 111:7.
12. (a) Wat trek ons tot Jehovah aan? (b) Hoe beweeg werklike ondervindinge wat in die Bybel opgeteken is ’n mens om Jehovah te wil dien? (c) Hoe voel jy oor diens aan Jehovah?
12 Wat ons veral tot Jehovah aantrek, is sy liefdevolle persoonlikheid. Die Bybel toon hoe liefdevol, vergewensgesind en barmhartig hy in sy handelinge met mense is. Dink aan hoe hy Job met voorspoed geseën het nadat Job sy onkreukbaarheid getrou gehandhaaf het. Job se ondervinding beklemtoon dat “Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11; Job 42:12-17). Dink aan hoe Jehovah met Dawid gehandel het toe hy owerspel en moord gepleeg het. Ja, Jehovah is bereid om selfs ernstige sondes te vergewe as die sondaar met “’n gebroke en verslae hart” tot hom nader (Psalm 51:5-13, 19). Dink aan Jehovah se handelinge met Saulus van Tarsus, wat God se volk aanvanklik met mening vervolg het. Hierdie voorbeelde beklemtoon God se barmhartigheid en sy ruimhartige gewilligheid om berouvolle mense te gebruik (1 Korintiërs 15:9; 1 Timoteus 1:15, 16). Paulus het gevoel dat hy sy lewe in die weegskaal kon plaas om hierdie liefdevolle God te dien (Romeine 14:8). Voel jy ook so?
13. Watter groot liefdesblyk van Jehovah dring regskapenes om hulle aan hom toe te wy?
13 Jehovah het die Israeliete van slawerny in Egipte bevry, en hy het ’n middel voorsien om ons van slawerny aan sonde en die dood te bevry—die losprysoffer van Jesus Christus (Johannes 3:16). Paulus sê: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Hierdie liefdevolle reëling dring regskapenes om hulle deur Jesus Christus aan Jehovah toe te wy. “Want die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; almal het dus gesterf; en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”—2 Korintiërs 5:14, 15; Romeine 8:35-39.
14. Is blote kennis van Jehovah se handelinge genoeg om ons te beweeg om ons lewe aan hom toe te wy? Verduidelik.
14 Dit is egter nie genoeg om kennis van Jehovah se persoonlikheid en sy handelinge met die mensdom te hê nie. Persoonlike waardering vir Jehovah moet aangekweek word. Hoe kan dit gedoen word? Deur die Woord van God in ons lewe toe te pas en self te sien dat die beginsels daarin waarlik werk (Jesaja 48:17). Ons moet glo dat Jehovah ons van die modder van hierdie goddelose wêreld onder Satan se heerskappy bevry het. (Vergelyk 1 Korintiërs 6:11.) In ons stryd om te doen wat reg is, leer ons om op Jehovah te vertrou en vind ons self uit dat Jehovah die lewende God, die “Hoorder van die gebed”, is (Psalm 62:9; 65:3). Kort voor lank voel ons baie na aan hom en kan ons ons diepste gevoelens met hom bespreek. Die innige gevoel van liefde vir Jehovah word sterker in ons. Dit sal ongetwyfeld daartoe lei dat ons ons lewe aan hom toewy.
15. Wat het een man, wat voorheen aan sy werk toegewy was, beweeg om Jehovah te dien?
15 Talle het hierdie liefdevolle God, Jehovah, leer ken en hulle lewe aan sy diens toegewy. Neem byvoorbeeld ’n elektrisiën wat ’n florerende sakeonderneming gehad het. Daar was tye dat hy in die oggend begin en dwarsdeur die dag tot in die nag gewerk het en dan vyfuur die volgende oggend by die huis gekom het. Nadat hy ongeveer ’n uur lank gerus het, het hy na sy volgende werk gegaan. “Ek was aan my werk toegewy”, sê hy. Toe sy vrou die Bybel begin bestudeer het, het hy by haar aangesluit. Hy sê: “Al die gode wat ek tot op daardie tydstip geken het, het net gewag om gedien te word en hulle het niks gedoen om ons te help nie. Maar Jehovah het die inisiatief geneem en sy enigverwekte Seun na die aarde toe gestuur, wat vir Hom ’n groot opoffering was” (1 Johannes 4:10, 19). Hierdie man het hom binne tien maande aan Jehovah toegewy. Daarna het hy hom daarop toegelê om die lewende God te dien. Hy het die voltydse bediening betree en verhuis na waar daar hulp nodig was. Soos die apostels het hy ‘alles verlaat en Jesus gevolg’ (Matteus 19:27). Ná twee maande is hy en sy vrou ingeroep om by die tak van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap te dien in die land waar hulle gewoon het sodat hy met die elektriese werk kon help. Hy werk al oor die 20 jaar by die tak, waar hy die werk doen waarvan hy hou—nie vir homself nie maar vir Jehovah.
Openbare bekendmaking van jou toewyding
16. Wat is van die stappe wat ’n mens sal doen om jou aan Jehovah toe te wy?
16 Wanneer hulle die Bybel ’n tyd lank bestudeer het, sal oud en jonk Jehovah en dít wat hy vir hulle gedoen het, begin waardeer. Dit behoort hulle te beweeg om hulle ter wille van God in te span. Jy is moontlik een van hulle. Hoe kan jy jou aan Jehovah toewy? Nadat jy juiste kennis van die Bybel ingeneem het, moet jy in ooreenstemming met daardie kennis optree en geloof in Jehovah en Jesus Christus beoefen (Johannes 17:3). Toon berou en draai weg van enige vorige sondige weg (Handelinge 3:19). Dit bring jou by die stap van toewyding, wat in ’n ernstige gebed tot Jehovah gedoen word. Hierdie gebed sal ongetwyfeld ’n blywende indruk op jou verstand maak, aangesien dit die begin van ’n nuwe verhouding met Jehovah is.
17. (a) Waarom hersien die ouere manne voorbereide vrae met pastoegewydes? (b) Watter belangrike stap moet gedoen word kort ná jy jou toegewy het, en waarom?
17 Net soos Moses aan die Israeliete verduidelik het wat die voorwaardes is om ’n verbondsverhouding met Jehovah te betree, help ouere manne in die gemeentes van Jehovah se Getuies pastoegewydes om noukeurig te oorweeg presies wat hulle toewyding behels. Hulle gebruik voorbereide vrae om vas te stel of elkeen die basiese Bybelleerstellings ten volle verstaan en weet wat dit behels om ’n Getuie van Jehovah te wees. Daarna is ’n seremonie om in die openbaar van die toewyding bewys te lewer uiters gepas. ’n Pas toegewyde persoon is natuurlik gretig om ander te laat sien dat hy in hierdie bevoorregte verhouding met Jehovah gekom het. (Vergelyk Jeremia 9:24.) Dit word gepas gedoen deur hierdie toewyding deur waterdoop te simboliseer. Wanneer iemand in water ondergedompel en dan daaruit opgelig word, simboliseer dit dat hy ten opsigte van sy vorige selfsugtige lewenswyse sterf en tot ’n nuwe lewenswyse opgewek word, naamlik om God se wil te doen. Dit is nie ’n sakrament nie, en dit is ook nie ’n ritueel soos die Sjinto-ritus misogi nie, waartydens ’n persoon veronderstel is om deur water gereinig te word.a Doop is eerder die openbare bekendmaking van ’n toewyding wat reeds in gebed gedoen is.
18. Waarom kan ons daarvan oortuig wees dat ons toewyding nie tevergeefs sal wees nie?
18 Hierdie ernstige geleentheid is ’n onvergeetlike ondervinding, wat die nuwe dienaar van God herinner aan die blywende verhouding wat hy nou met Jehovah het. In teenstelling met die toewyding van die kamikaze-vlieënier aan sy land en sy keiser, sal hierdie toewyding aan Jehovah nie tevergeefs wees nie, aangesien hy die ewige almagtige God is wat doen wat hy hom ook al voorneem. Hy, en hy alleen, is ons heelhartige toegewydheid waardig.—Jesaja 55:9-11.
19. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Maar toewyding behels meer. Watter uitwerking het toewyding byvoorbeeld op ons daaglikse lewe? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Sien Die mensdom se soeke na God, bladsye 194-5, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
Onthou jy?
◻ Waarom het toewyding soos dit in die wêreld gesien word op teleurstelling uitgeloop?
◻ Wat het die Israeliete beweeg om hulle aan Jehovah toe te wy?
◻ Wat beweeg ons om ons vandag aan Jehovah toe te wy?
◻ Hoe wy ons ons aan God toe?
◻ Wat is die betekenis van waterdoop?
[Prent op bladsy 10]
Israel wy hulle in Sinai aan Jehovah toe