Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 7/1 bl. 23-28
  • Vreugdevolle onderworpenheid aan gesag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vreugdevolle onderworpenheid aan gesag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gewillige onderworpenheid aan Jehovah se soewereiniteit
  • Vreugdevolle onderdanigheid aan ons Koning
  • Opsieners gehoorsaam met vreugde
  • Teokratiese onderworpenheid
  • Dien met vreugde
  • Die vrede wat uit vreugdevolle onderworpenheid spruit
  • Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Onderwerp jou lojaal aan teokratiese orde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Herders en skape in ’n teokrasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Waarom moet ons gesag respekteer?
    ‘Hou julle in God se liefde’
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 7/1 bl. 23-28

Vreugdevolle onderworpenheid aan gesag

‘Julle het van harte gehoorsaam geword.’—ROMEINE 6:17.

1, 2. (a) Watter gees kan vandag duidelik in die wêreld gesien word, en wat is die bron sowel as die gevolg daarvan? (b) Hoe toon Jehovah se toegewyde knegte dat hulle anders is?

“DIE gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”, kan vandag baie duidelik gesien word. Dit is ’n gees van bandelose onafhanklikheid wat van Satan, “die owerste van die mag van die lug”, uitgaan. Hierdie gees, hierdie “lug”, of heersende gesindheid van selfsug en ongehoorsaamheid, oefen “mag”, oftewel gesag, uit oor die meeste mense. Dit is een rede waarom die wêreld ’n so genoemde gesagskrisis ondervind.—Efesiërs 2:2.

2 Gelukkig vul Jehovah se hedendaagse, toegewyde knegte nie hulle geestelike longe met hierdie besoedelde “lug”, of gees van opstandigheid, nie. Hulle weet dat ‘die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom’. Die apostel Paulus voeg by: “Wees dan nie hulle deelgenote nie” (Efesiërs 5:6, 7). Ware Christene probeer eerder om “met die Gees [van Jehovah] vervul” te wees en hulle drink “die wysheid van bo” in, wat “kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam”, is.—Efesiërs 5:17, 18; Jakobus 3:17, NW.

Gewillige onderworpenheid aan Jehovah se soewereiniteit

3. Wat is die sleutel tot gewillige onderworpenheid, en watter groot les leer die geskiedenis ons?

3 Die sleutel tot gewillige onderworpenheid, oftewel onderdanigheid, is die erkenning van wettige gesag. Die mensegeskiedenis toon dat die verwerping van Jehovah se soewereiniteit nie tot geluk bydra nie. Dit het nie tot Adam en Eva se geluk bygedra nie en ook nie tot die aanstigter van hulle opstand, Satan die Duiwel, s’n nie (Genesis 3:16-19). In sy huidige verlaagde toestand het Satan “groot woede” omdat hy weet dat hy min tyd het (Openbaring 12:12). Die vrede en geluk van die mensdom, ja, van die ganse heelal, hang af van die universele erkenning van Jehovah se regverdige soewereiniteit.—Psalm 103:19-22.

4. (a) Watter soort onderworpenheid en gehoorsaamheid verlang Jehovah van sy knegte? (b) Waarvan moet ons oortuig wees, en hoe stel die psalmis dit?

4 Maar vanweë Jehovah se wonderlik gebalanseerde eienskappe is hy nie met willose gehoorsaamheid tevrede nie. Hy is beslis magtig! Maar hy is nie ’n tiran nie. Hy is ’n God van liefde, en hy wil hê dat sy intelligente skepsele hom gewillig, uit liefde, dien. Hy wil hê dat hulle hulle aan sy soewereiniteit onderwerp omdat hulle heelhartig kies om onder sy regverdige en wettige gesag te staan en oortuig is dat daar vir hulle niks beters kan wees as om hom vir ewig te gehoorsaam nie. Die soort persoon wat Jehovah in sy wêreld wil hê, voel soos die psalmis wat geskryf het: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig” (Psalm 19:8-10). Volkome vertroue in die regmatigheid en die regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit—dít moet ons gesindheid wees as ons in Jehovah se nuwe wêreld wil lewe.

Vreugdevolle onderdanigheid aan ons Koning

5. Hoe is Jesus vir sy gehoorsaamheid beloon, en wat bely ons gewillig?

5 Christus Jesus is self ’n prysenswaardige voorbeeld van onderdanigheid aan sy hemelse Vader. Ons lees dat “Hy Homself verneder [het] deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die [“folterpaal”, NW]”. Paulus voeg by: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:8-11). Ja, ons buig vreugdevol die knie voor ons Leier en heersende Koning, Christus Jesus.—Mattheüs 23:10, NAV.

6. Hoe was en is Jesus ’n getuie en ’n leier vir nasies, en hoe sal sy “heerskappy” ná die groot verdrukking voortduur?

6 Oor Christus as ons Leier het Jehovah voorspel: “Kyk, Ek het hom tot ’n getuie van die volke gemaak, tot ’n vors en gebieder van die nasies” (Jesaja 55:4). Deur sy aardse bediening en deurdat hy die predikingswerk sedert sy dood en opstanding uit die hemel rig, het Jesus getoon dat hy ’n “getroue en waaragtige Getuie” van sy Vader voor mense van alle nasies is (Openbaring 3:14; Mattheüs 28:18-20). Sulke nasies word nou in toenemende getalle deur die “groot menigte” verteenwoordig wat die “groot verdrukking” onder Christus se leierskap sal oorleef (Openbaring 7:9, 14). Maar Jesus se leierskap eindig nie hier nie. Sy “heerskappy” sal duisend jaar duur. Vir gehoorsame mense sal hy sy naam gestand doen, naamlik “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”.—Jesaja 9:5, 6; Openbaring 20:6.

7. Wat moet ons sonder versuim doen as ons wil hê dat Christus Jesus ons na “lewende waterfonteine” toe moet lei, en wat sal maak dat Jesus en Jehovah ons liefhet?

7 As ons baat wil vind by die “lewende waterfonteine” waarheen die Lam, Christus Jesus, regskape mense lei, moet ons sonder versuim deur ons handelswyse toon dat ons ons met vreugde aan sy gesag as Koning onderwerp. (Openbaring 7:17; 22:1, 2; vergelyk Psalm 2:12.) Jesus het gesê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie. Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê” (Johannes 14:15, 21). Wil jy hê dat Jesus en sy Vader jou moet liefhê? Dan moet jy jou aan hulle gesag onderwerp.

Opsieners gehoorsaam met vreugde

8, 9. (a) Wat het Christus tot opbouing van die gemeente voorsien, en in watter opsig moet hierdie manne voorbeelde vir die kudde wees? (b) Hoe word die onderworpenheid van Christenopsieners in die boek Openbaring gesimboliseer, en hoe moet hulle ’n ‘gehoorsame hart’ soek wanneer hulle regterlike sake hanteer?

8 ‘Die gemeente is aan Christus onderdanig.’ As die Opsiener daarvan het hy ‘gawes in mense’ gegee tot “opbouing” van die gemeente (Efesiërs 4:8, 11, 12, vgl. NW; 5:24). Hierdie geestelik ouer manne word aangesê om ‘as herders toesig te hou oor die kudde van God onder hulle’, nie “as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:1-3). Die kudde behoort aan Jehovah, en Christus is die “goeie herder” daarvan (Johannes 10:14). Aangesien die opsieners tereg gewillige samewerking verwag van die skape wat Jehovah en Christus aan hulle sorg toevertrou het, moet hulle self goeie voorbeelde van onderdanigheid wees.—Handelinge 20:28.

9 In die eerste eeu is gesalfde opsieners simbolies voorgestel asof hulle “in” Christus se regterhand was—’n aanduiding van hulle onderworpenheid aan hom as die Hoof van die gemeente (Openbaring 1:16, 20; 2:1). Vandag moet opsieners in die gemeentes van Jehovah se Getuies hulle eweneens aan Christus se leiding onderwerp en ‘hulle onder die kragtige hand van God verneder’ (1 Petrus 5:6). Wanneer hulle gevra word om regterlike sake te hanteer, moet hulle, soos Salomo gedurende die jare toe hy getrou was, tot Jehovah bid: ‘Gee aan u kneg ’n gehoorsame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei’ (1 Konings 3:9, vgl. NW). ’n Gehoorsame hart sal ’n ouere man beweeg om dinge te probeer sien soos Jehovah en Christus Jesus dit sien sodat die besluit wat op die aarde geneem word so goed as moontlik ooreenstem met die besluit wat in die hemel geneem word.—Mattheüs 18:18-20.

10. Hoe moet alle opsieners Jesus probeer navolg in die wyse waarop hy die skape behandel het?

10 Reisende opsieners en gemeentelike ouere manne sal Christus eweneens probeer navolg in die wyse waarop hy die skape behandel het. In teenstelling met die Fariseërs het Jesus nie ’n menigte reëls voorgeskryf wat moeilik was om na te kom nie (Mattheüs 23:2-11). Hy het vir skaapgeaardes gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mattheüs 11:28-30). Hoewel dit so is dat elke Christen ‘sy eie pak moet dra’, moet die opsieners Jesus se voorbeeld onthou en hulle broers help om te voel dat hulle pak van Christelike verantwoordelikheid “sag” en “lig” is en ’n vreugde is om te dra.—Galasiërs 6:5.

Teokratiese onderworpenheid

11. (a) Hoe kan iemand hoofskap eerbiedig en nogtans nie werklik teokraties wees nie? Lig dit toe. (b) Wat beteken dit om waarlik teokraties te wees?

11 Teokrasie is heerskappy deur God. Dit behels die beginsel van hoofskap waarvan 1 Korinthiërs 11:3 praat. Maar dit beteken meer as dit. Iemand kan oënskynlik eerbied vir hoofskap hê en nogtans nie in die volle sin van die woord teokraties wees nie. Hoe kan dit wees? Ter toeligting: Demokrasie is ’n regering deur die mense, en ’n demokraat is al omskryf as “iemand wat in die ideale van demokrasie glo”. ’n Man beweer moontlik dat hy demokraties is, neem aan verkiesings deel en is moontlik selfs ’n aktiewe politikus. Maar kan daar gesê word dat hy waarlik demokraties is as sy handel en wandel die gees van demokrasie en al die beginsels wat daarby betrokke is bespotlik maak? Om waarlik teokraties te wees, moet iemand eweneens meer doen as om hom in naam aan hoofskap te onderwerp. Hy moet Jehovah se weë en eienskappe navolg. Hy moet werklik in alle opsigte deur Jehovah gerig word. En aangesien Jehovah sy Seun met volle gesag beklee het, beteken dit ook dat ons Jesus moet navolg as ons teokraties wil wees.

12, 13. (a) Wat behels dit veral om teokraties te wees? (b) Beteken teokratiese onderworpenheid dat ons ’n menigte reëls moet gehoorsaam? Lig dit toe.

12 Onthou, Jehovah verlang gewillige onderworpenheid wat uit liefde spruit. Dit is hoe hy die heelal regeer. Hy is die verpersoonliking van liefde (1 Johannes 4:8). Christus Jesus is “die afskynsel . . . van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:3). Hy vereis dat sy ware dissipels mekaar moet liefhê (Johannes 15:17). Om teokraties te wees, beteken dat ons nie net onderdanig moet wees nie, maar ook liefdevol. Dit kan soos volg opgesom word: Teokrasie is heerskappy deur God; God is liefde; teokrasie is dus heerskappy deur liefde.

13 ’n Ouere man kan dink dat die broers allerhande reëls moet gehoorsaam om teokraties te wees. Party ouere manne het reëls gemaak van wenke wat van tyd tot tyd deur “die getroue en verstandige dienskneg” gegee word (Mattheüs 24:45). Daar is byvoorbeeld eenkeer voorgestel dat dit goed is om nie altyd op dieselfde plek in die Koninkryksaal te sit nie sodat ons die broers in die gemeente gouer kan leer ken. Dit was ’n praktiese wenk, nie ’n bindende reël nie. Maar sommige ouere manne is dalk geneig om dit in ’n reël te verander en te dink dat mense nie teokraties is as hulle dit nie nakom nie. Tog kan daar talle goeie redes wees waarom ’n broer of suster dit verkies om op ’n sekere plek te sit. Is ’n ouere man self waarlik teokraties as hy sulke dinge nie liefdevol in aanmerking neem nie? Om teokraties te wees, moet “alles by julle in liefde geskied”.—1 Korinthiërs 16:14.

Dien met vreugde

14, 15. (a) Hoe kan ’n ouere man sekere broers of susters van hulle vreugde in Jehovah se diens beroof, en waarom sal dit nie teokraties wees nie? (b) Hoe het Jesus getoon dat hy eerder die liefde waardeer waarmee ons ons diens verrig as die hoeveelheid wat ons doen? (c) Wat moet ouere manne in aanmerking neem?

14 Om teokraties te wees, beteken ook dat ons Jehovah met vreugde dien. Jehovah is “die gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW). Hy wil hê dat sy aanbidders hom met vreugde dien. Diegene wat baie gesteld op reëls is, moet onthou dat een van die voorskrifte wat Israel ‘sorgvuldig moes hou’ die volgende was: “Jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan” (Deuteronomium 12:1, 18). Wat ons ook al in Jehovah se diens onderneem, moet ’n vreugde wees en nie ’n las nie. Opsieners kan baie daartoe bydra dat broers gelukkig is wanneer hulle doen wat hulle kan in Jehovah se diens. Daarenteen kan ouere manne, as hulle nie versigtig is nie, sommige broers van hulle vreugde beroof. As hulle byvoorbeeld vergelykings trek en diegene prys wat die gemeente se gemiddelde ure in die getuieniswerk bereik of oortref het en indirek diegene kritiseer wat dit nie bereik het nie, hoe sal dié dan voel wat dalk ’n geldige rede gehad het om baie minder tyd te rapporteer? Kan dit hulle nie onnodig skuldig laat voel en hulle van hulle vreugde beroof nie?

15 Die paar uur wat sommige aan die openbare getuieniswerk kan bestee, verteenwoordig moontlik ’n groter poging as die baie ure wat ander aan die predikingswerk bestee weens die feit dat hulle jonger en gesonder is en weens ander omstandighede. In hierdie opsig mag ouere manne hulle nie oordeel nie. Die Vader het Jesus immers die “mag gegee om . . . te oordeel” (Johannes 5:27). Het Jesus die arm weduwee gekritiseer omdat haar offerande minder as die gemiddelde was? Nee, hy het besef wat daardie twee geldstukkies haar werklik gekos het. Dit was “alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud”. Wat ’n blyk van innige liefde vir Jehovah was dit tog nie! (Markus 12:41-44). Moet ouere manne enigsins minder ingestel wees op die liefdevolle pogings van diegene wie se alles, wat syfers betref, onder die “gemiddelde” is? Wat liefde vir Jehovah betref, is sulke pogings bo die gemiddelde!

16. (a) Waarom moet ouere manne onderskeidingsvermoë en goeie balans aan die dag lê wanneer hulle syfers in hulle toesprake gebruik? (b) Wat is die beste manier waarop die broers gehelp kan word om hulle diens uit te brei?

16 Moet hierdie opmerkings nou in ’n nuwe “reël” verander word waarvolgens syfers—selfs gemiddeldes—nooit genoem mag word nie? Glad nie! Dit gaan daaroor dat opsieners ’n balans moet handhaaf wanneer hulle die broers aanmoedig om hulle bediening uit te brei en hulle help om dit wat hulle kan doen met vreugde te doen (Galasiërs 6:4). In Jesus se gelykenis van die talente het die heer sy besittings aan sy diensknegte toevertrou “elkeen na sy vermoë” (Mattheüs 25:14, 15). Ouere manne moet eweneens die vermoëns van elke Koninkryksverkondiger in ag neem. Dit verg onderskeidingsvermoë. Sommige moet weliswaar dalk aangemoedig word om meer te doen. Hulle sal moontlik hulp waardeer om hulle bedrywighede beter te organiseer. Hoe dit ook al sy, as hulle gehelp kan word om wat hulle kan doen met vreugde te doen, sal daardie vreugde hulle waarskynlik aanspoor om hulle Christenbedrywighede waar moontlik uit te brei.—Nehemia 8:11; Psalm 59:17; Jeremia 20:9.

Die vrede wat uit vreugdevolle onderworpenheid spruit

17, 18. (a) Hoe kan vreugdevolle onderworpenheid vir ons vrede en regverdigheid bring? (b) Wat kan ons verkry as ons werklik na God se gebooie luister?

17 Vreugdevolle onderworpenheid aan Jehovah se wettige soewereiniteit bring vir ons groot vrede. Die psalmis het in gebed tot Jehovah gesê: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Psalm 119:165). As ons God se wet gehoorsaam, vind ons self daarby baat. Jehovah het vir Israel gesê: “So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18.

18 Christus se losprysoffer bring vir ons vrede met God (2 Korinthiërs 5:18, 19). As ons geloof in Christus se soenbloed het en nougeset probeer om teen ons swakhede te stry en God se wil te doen, word ons van skuldgevoelens bevry (1 Johannes 3:19-23). Sulke geloof, wat deur werke gerugsteun word, gee ons ’n regverdige posisie voor Jehovah en die wonderlike hoop om “die groot verdrukking” te oorleef en vir ewig in Jehovah se nuwe wêreld te lewe (Openbaring 7:14-17; Johannes 3:36; Jakobus 2:22, 23). Ons kan al hierdie dinge verkry ‘as ons maar na God se gebooie luister’.

19. Waarvan hang ons huidige geluk en ons hoop op die ewige lewe af, en hoe het Dawid ons hartgrondige oortuiging weergegee?

19 Ja, ons geluk nou en ons hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde hang af van ons vreugdevolle onderworpenheid aan Jehovah se gesag as die Soewereine Heer van die heelal. Mag ons altyd voel soos Dawid wat gesê het: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.”—1 Kronieke 29:11, 13.

Punte om te onthou

◻ Watter soort onderworpenheid en gehoorsaamheid verlang Jehovah van sy knegte?

◻ Hoe is Jesus vir sy gehoorsaamheid beloon, en waarvan moet ons deur ons optrede bewys lewer?

◻ Hoe moet alle opsieners Jesus navolg in die wyse waarop hy die skape behandel het?

◻ Wat is daarby betrokke om teokraties te wees?

◻ Watter seëninge bring vreugdevolle onderworpenheid vir ons mee?

[Prent op bladsy 24]

Ouere manne moedig die kudde aan om wat hulle ook al kan doen met vreugde te doen

[Prent op bladsy 26]

Jehovah skep behae in diegene wat hom van ganser harte dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel